IMG_3185

Ek en my kardoesie – een van die swetterjoel boererate teen hik.

More uit Melkbos

Kaduks gehik, amper 96 uur oor ‘n boeg, prewel ek skuins ná eenuur in nog ‘n rustelose nag vir die moedelose Tokkie: “Dalk moet ek ietsie probeer eet”. Kou ‘n kossie is ‘n raat wat voorheen wel vir my gewerk het.

Sy gaan sny ‘n stuk papaja in blokkies. Ek verslind dit gretig. Waaragtig … die skisofreniese diafragma hyg-hyg vir oulaas. Toe kom dit tot rus. In 36 uur nog nie weer gehik nie. Genade onbeskryflik groot.

Kaduks is die regte word. Kan jy, liewe leser, raai hoe voos ‘n mens voel as jou lyf so onbeheersd sonder ophou hik, stik, snik, ruk en pluk? Voel so eindeloos soos daardie Noag-reën: Veertig dae het dit gereën, veertig nagte agtereen ….

By oud-kollega Ollie Olwagen verneem ek van arme mense wat inderdaad jare gehik het. Die wêreldrekord vir ’n marathon-hikkery is, aldus Ollie, sowat 65 jaar!

Vanwaar Gehasi? Met lang mediese redenasies gaan ek nie die leser beproef nie. Myne was klaarblyklik narkose-verwant. Die diafragma se ritme is erg (maar erg) versteur. Soos ‘n ou dieselenjin op ‘n koue wintersoggend het dit eenvoudig bly weier om te vat. En bly weier. En bly weier.

Het verskeie boererate probeer – en daar is ‘n swetterjoel hoor, van gedagtes aan ‘n witperd tot jou gruwelik vererg. Dalk die beroemdste van almal: laat iemand onverwags iewers uitspring en jou skrikmaak. Wees egter gewaarsku dat so ’n skokeffek nie altyd sal werk soos dit moet nie. Die staaltjie word byvoorbeeld vertel van ’n man wat sy apteker vra om hom iets vir sy hikkery te gee. Die apteker is ook nie links nie en gee die man ’n klap. ‘‘Hoekom doen jy dit?’’ vra die man. ‘‘Wel,’’ sê die apteker, ‘‘jy hik mos nou nie meer nie, of hoe?’’ ‘‘Man, jy’s besimpeld,’’ gil die man, ‘‘dis nie ek wat hik nie, dis my vrou!’’

Die beste vir my, het ek gevind (buiten nou die middernaghappie van papaja), is die volgende: Haal ’n halfuur lank asem in ’n papierkardoes— beslis nie te lank nie en ook nie in ’n plastieksak wat oor jou kop getrek is nie, jy sal versmoor, liewe mens. Die betroubare Jan van Elfen onderskryf die raat. Ook al die matrones in die kenniskring wat Tokkie landwyd opgespoor het om advies in te win. Dit bring ten minste tydelike verligting.

‘n Pynlikheid van so ‘n jollie-hik is dat dit skynbaar vir sekere mense lagwekkend klink. Vir die slagoffer is sy beproewing gewis nooit snaaks nie. Hoekom iemand glimlag as hy daarvan hoor eerder as om in trane van meegevoel uit te bars, slaan hierdie hikker dronk.

Juis in die akuutste periode kry ek van Herman Toerien van Bloemfontein die volgende storie wat stof tot nadenke bied: “Toe nog baie klein was, het ek eenkeer vreeslik gehik en die boererate wou nie een help nie. My ma en pa vertel my toe van ‘n pous wat van hikkery oorlede is. Glo elke nou en dan met die radio oorgeskakel na die hospitaal om te hoor hoe dit gaan. Ek stry nog toe sê my pa ek moet gaan speel, die hikkery het opgehou. En sowaar… ”

Tokkie is gistermiddag kombuis toe. Vreeslik gewoel en gewerskaf. Uiteindelik die een pan geurige beskuit na die ander uit die oond. As dit ‘n dag tevore was, het ek sweerlik gedink die beskuit is vir die begrafnis.

Deel dit: