Die geheim is uit: die naamlose resensent agter die mooi woorde oor Wag-’n-bietjie (Naledi, 2025) is Marlies Taljard.En hoor net: sy is ‘n letterkunde-proffie.
Die resensie het oorspronklik op Die Boekboetiek verskyn, ‘n boekeblad wat deur Marlies en Nini Bennet-Moll bestuur word. Om die een of ander raaiselagtige rede het ek dit misgekyk; ontdek dit nou eers na ‘n jaar.
Marlies is inhoudsbestuurder van die webwerf Versindaba. Sy was voorheen verbonde aan die departement Afrikaans van die Universiteit van Fort Hare waar sy professor in Afrikaanse letterkunde en literêre teorie was, asook aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom se Skool vir Tale.
Talryke artikels van haar het in geakkrediteerde vaktydskrifte verskyn en sy het hoofstukke in verskeie versamelbundels gelewer wat plaaslik en internasionaal verskyn het. Sy tree op as artikelkeurder vir nasionale en internasionale akademiese tydskrifte en as manuskripkeurder vir uitgewers en skrywers.
Meer as 200 resensies oor Afrikaanse publikasies het uit haar pen verskyn. My gunsteling is natuurlik haar resensie van Wag-’n-bietjie.
Ten slotte: sy is vanselfsprekend nou loshande ook HvD se gunsteling-resensent.