Is die eerste foto van Catherine, prinses van Wallis, na haar operasie gedokter of nie? Terwyl nuusagentskappe daaroor kopkrap, bied die storie van Die Burger en die wit duif ‘n interessante konteks om die kwessie in te beoordeel.Met die foto van die duif in sierlike vlug ’n meter of wat bokant die uitgestrekte arms van Nelson Mandela het Die Burger sy mededingers op 10 Mei 1994 laat skeef opkyk. ’n Treffender voorbladfoto van Suid-Afrika se nuwe president op die dag van sy inhuldiging sou jy kwalik kon bedink.
Maar ’n vraagteken het dadelik daaroor gehang. Was die foto eg of vals? Ongelukkig nie honderd persent eg nie. Op die foto wat fotograaf Henk Blom die vorige dag by die Kaapstadse stadsaal geneem het, was die duif al ’n ent in die lug. Vir visuele impak is hy, danksy veerkragtige nuwe tegnologie, digitaal in as’t ware trurat geplaas en ’n meter of wat laer geskuif. Kortom: Die beeld is vernuftig ge-“photoshop” om die prentjie groter trefkrag te gee.
Wat maak ’n meter tog saak? Eintlik niks, het die hoof-subredakteur, Stephanie Hefer, geredeneer. ’n Breukdeel van ’n sekonde voordat Blom die knoppie gedruk het, was die duif immers presies op daardie strategiese plek waar sy hom nou neergesit het. Aikôna, het puriste in die redaksie teruggekap. Jy peuter nie aan prentjies nie. As jy manipuleer, jok jy. Hoe eties is dit?
Soos verwag kon word, het twee kampe dadelik by Die Burger ontstaan: vir en teen. Die turksvy is – hoe dan anders? – pylreguit na Ebbe Dommisse, redakteur, se lessenaar. Ná oorweging het hy die beswaarmakers gelyk gegee. Die besluit om aan die foto te torring was ’n fout, het hy geoordeel. In ’n memorandum aan die redaksie het hy as voorwaarde gestel dat lesers volledig ingelig word wanneer wesenlik aan ’n foto verander word. (Natuurlik darem nie as byvoorbeeld net aan kleur of helderheid verstel word nie.)
Die duif-insident het in joernalistieke en fotografiese vaktydskrifte wêreldwyd opslae gemaak. Dit het selfs ’n naam gekry: “The lowering of the dove”. Aan universiteite reg oor die wêreld word die laat sak van die duif steeds as gevallestudie in etiekklasse gebruik.
Die rede is voor die hand liggend. “Photoshop” was ’n splinternuwe speelding. Internasionaal was riglyne nog vaag. Antwoorde is oral gesoek oor wat behoorlik is en wat konkelwerk is. Die duif-episode het gehelp om riglyne te definieer.
Ironies was Die Burger se banieropskrif daardie dag: “Die nuwe era begin”. ’n Nuwe era inderdaad: ’n nuwe politieke era vir Suid-Afrika; ook ’n nuwe era in die etiek van moderne koerantfotografie.