HAPOOR – PLEK VAN OLIFANTE

Die Hapoordam kry sy naam by ‘n legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers het. Sy naam is onuitwisbaar in Addo-folklore oor die genadedood wat hy ‘n gedaan ou olifantkoei, Ouma, toegedien het. Hapoor het haar skedel vier keer met dodelike presisie deurboor om haar van haar pyn te verlos, as ek reg onthou.

Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n boekie van jare gelede, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou.

Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.

Destyds met die Ouma-insident in die jare sestig het ‘n Volksblad-kollega Ollie Olwagen ‘n liedjie gekomponeer wat ons jonger garde seker maar uit die een of ander verdorwenheid hartlik saamgesing het: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…

Dit net terloops. ‘n Waarheid moet uit. Dit is dat hierdie Wildtuin-verknogte na dese moet erken dat Addo in die algemeen, en Hapoordam, in die besonder, plekke is waar olifante wemel. ‘n Mens kan maar met groot verwagting na hulle gaan soek.

Sondagmiddag het ons ure lank, wyntjie in die hand, sewe Grootvoete van die stoep van ons huisie, nommer 33, dopgehou. Twee was in ‘n langdurige slurpgesprek. Daarna is ons op ‘n wildsrit.

By die Gwarriepan kry ons toe weer olifante: sewe grotes en twee kleintjies. Na ‘n ruk het die twee suigelinge hulle uit die beskutting van die olifante se voorbene – soos boomstamme rondom hulle – gewikkel, teen die pan se rant af gegly en heerlik in die modder geplas, soos varkies. Wat ‘n genot vir ons en vir hulle!

Toe kom vriende verby met die nuus dat ‘n trop olifante by Hapoordam saamdrom. Ons is vort in daardie rigting. Net toe ons die laaste draaitjie vat, sien ons die rye karre, en daarna die olifante. Daar was seker twintig of so, lyf styf teen lyf vasgebondel, terwyl hulle ‘n middag-verfrissing geniet met slurpe wat in gelid sak en opslurp, sak en opslurp. Ook daar was ‘n paar kleintjies – wat gewis op ‘n geil jaar vir Addo se olifantbevolking dui.

By die kamp aangekom, laai ek gou ‘n klompie e-posse op my koffiemeule-drarekenaartjie af. Een kom van my broer Christo Malan uit Australie. Wat soek ons in Addo, wil hy weet. Sy enigste besoek was ‘n mis-lukking. Hy het net mis gesien!

Ek kon dadelik met genoegdoening ons gelukkiger ervaring rapporteer – en toe was die plesierigste olifant-geleentheid van ons kort besoekie nog voor.

Die het die volgende oggend gewag toe ons deur die park na die nuwe (relatief nuwe) Matyholwenihek naby Colchester, minder as 50 km van Port Elizabeth, ry en besluit om vir oulaas by Hapoordam te gaan loer.

Ons tydsberekening was perfek. Toe ons aankom, sien ons skielik net stof en hoor ons die dreunende voete. ‘n Horde olifante, groot en klein, bestorm die dam asof ‘n Groot Dors hulle dryf.

Party bondel by die groot dam. Ander sak toe op die kleiner enetjie langsaan. Dit bad en drink, stoot mekaar rond en rol in die modder. Die mae grom van lekkerte.

Ons het vasgenael bly sit en kyk, onbewus van die horlosie. Maar so skielik soos die trop gekom het, het hulle weer padgegee. Amper geruisloos. Eensklaps was die olifante net weg en die dam verlate.

Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto hierbo is van ‘n groepie wat by die klein dammetjie drink. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.

Addo, ons kom weer! Hapoordam, jou doodlekker dam! (HvD)

TOT SIENS TOT WEDEROM

Die hortjies word ‘n wyle laat sak hier op HvD se blog.

Ons ry Maandag Oos-Kaap toe – ‘n lekker groep van 25. Op ons reisplan is die Karoopark, Bergkwaggapark, Hogsback, Addo en Tsitsikamma. Dalk kry ons nog sneeu by Hogsback!

Daarna gaan ek en Tokkie George en Mosselbaai aandoen. Baie ou vriende (bedoelende vriende vir lank en nie lank in die tand nie!) in daardie kontrei! Ons mik om 21/22 Mei terug te wees in ons Melk- (en heuning-)bos.

Die blog is dus toe omdat hy nie oop is nie – soos die kroeg op die foto hierbo.

Leesgieriges kan o.m. verwys word na die laaste drie joernale:

7 Mei – herinneringe aan die jaar 1961 in Die Perdeby van Tukkies se redakteurstoel;

4 Mei – Moedersdagbydrae oor my ma, haar trapfiets en haar werk in die sentrale in Kimberley;

1 Mei – Nationwide het die Van Deventers ‘n nare streep getrek!

Maar daar is 150 of meer ou blogs om na hartelus tussen rond te kerjakker terwyl HvD ‘n blaaskans vat.

Groete (HvD).

DIE PERDEBY WORD 70

Links: Mej. Perdeby 1961 Regs: Mnr Asterhof 1961

Links: Mej. Perdeby 1961 Regs: Mnr Asterhof 1961

Ons draai vandag die horlosie ver-ver terug – tot in 1961 toe die uwe redakteur van die Tukkie-studentekoerant, Die Perdeby, was. Daardie bytjie zoem nou al 70 jaar, en aanstaande week word daardie verjaardag saam met U.P. se eeufees gevier. Dis ‘n feesprogram om oor huis toe te skryf.

Daan van der Merwe, Studenteraadsvoorsitter en latere L.V. van die Konserwatiewe Party, ontbied my aan die begin van 1961 na sy kamer in Sonop-tehuis en gee my die nuus. Ek willig dadelik in, wetende dat ek vir my kursus B.A.(Hons) in Sielkunde net Donderdagaande klas sou hê. Lekker baie tyd om koerantman te speel.

Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer — die Maandag voor die referendum en toe weer op 29 Mei om ‘n gedenkplaat te onthul. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen, en kom ontvang die eerste uitgawe van die jaarblad, Trek, (op die foto ook ‘n jong Frits Gaum, redakteur van Die Kerkbode; destyds lid van die Trek-redaksie).

Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering” en stel, in botsing met Verwoerd, nywerheidsvennootskap met onderontwikkelde Bantoegebiede voor. N.P. van Wyk Louw praat op gradedag oor wie en wat ‘n intellektueel is. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Oor Cottesloe word op Woensdagaand 8 Maart ‘n monstervergadering gehou, waarheen etlike honderde Tukkies opruk. Ferdi Hartzenberg, latere KP-leier, stel ‘n mosie dat die Bantoe geleer moet word hy sal nooit op direkte politieke regte kan aanspraak maak nie, en dat die enigste blywende oplossing vir die land geleë is in “uiteindelike totale skeiding van blankes en nie-blankes en ‘n gedifferensïeerde ekonomiese ontwikkeling van die naturel in sy gebied”.

Die meerderheid stem ten gunste van die Hartzenberg-mosie en Die Perdeby bevind: “Hiermee het die vergadering ‘n magtige mandaat in die hand van die VSR. (Verteenwoordigende Studenteraad) gelê om namens die studente van UP, deur middel van die ASB. (Afrikaanse Studentebond), sterk aan te dring op selfs drastiese maatreëls ten einde die apartheidsbeleid ten volle te verwesenlik.”

Onthou: Dit was 1961 en die redakteur was nog nie mondig nie!

In dieselfde uitgawe van 17 Maart, verskyn ‘n voorblad-hoofartikel wat Tukkies oproep om op die lughawe Jan Smuts (nou die O.R. Tambo) aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premierskonferensie in Londen ingeneem het.” Die Tukkies ruk drie dae later met tien munisipale busse na die lughawe op, en Die Perdeby van 24 Maart jubel dit uit: “Magtige skare verwelkom ons premier — grootste uittog in geskiedenis.”

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie ‘n verliefde redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Op die sportblad duik ‘n speler sierlik oor die doellyn nadat hy uit ‘n lynstaan weggebars het in ‘n naelbyt-wedstryd teen Diggers van Johannesburg. Dis niemand minder nie as Hans Smith, later die grootbaas by Yskor, ‘n ratse slot wat ook vir Transvaal uitgedraf het. Tukkies het daardie ene gewen met 25 teen 20.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Namens vele Tukkies wil ek u geluk wens met die wyse waarop u gevlieg het: soms so hoog dat die President daar kon bykom, soms so laag dat selfs ‘n ienk dit kon verstaan. “Laat nagte was vir u nie te veel moeite nie, laat bydraes kon nog altyd iewers ingedruk word. “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Dat 47 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig. (HvD)

VIR MOEDERSDAG

Moedersdag en daardie klas van ding was nooit juis vir my nie. Selfs verjaardae glip amper ongesiens by my verby.

Die eerste keer toe die ma van my skool- en Tukkiemaat Giel de Swardt – by wie ek gekuier het – my dwing om op Moedersdag huis toe te bel, was ek ongemaklik. Ek het geweet my ma sou die oproep vreemd vind omdat sy haar kind ken. Ek het nie werklik geweet wat om te se nie. Toe prewel ek maar iets soos: “Gelukkige Moedersdag, Ma.”

Teen daardie agtergrond is ek nogal verbaas dat ek voel om die stukkie hieronder vir Moedersdag op my webjoernaal te sit. My ma is ook al amper 15 jaar oorlede. Die foto hierby is in 1946 geneem. Sy was toe n weduwee van 26 en ek n seuntjie van vyf. Ons was daardie tyd in Kimberley waar my pa kort tevore skielik dood is. (HvD)

EERS BAIE JARE LATER HET EK BESEF …

Toe Pa Seun in 1946 dood is, moes Ma Baby moet uitspring en gaan werk. Dit was in Kimberley se sentrale. Sy het tussen ons skakelhuisie in Diagonalstraat en die poskantoor fiets getrap, want motor kon sy nie bestuur nie. Sy het botweg geweier om eers te probeer leer – al was sy ‘n bekwame vrou.

Verwese is die seuntjie Hennie ses maande na die begrafnis skool toe – die Laerskool Diamantveld oorkant die ou begraafplaas met die baie sipresse; die lang wit skool met die inspirerende leuse: “Concordia res parvae crescunt” (Deur gesamentlike inspanning kom groot dinge tot stand.). Vandag is dit verkort tot: “Van krag tot krag deur samewerking”.

Op my eerste skooldag gee Ma Baby my vroegoggend ‘n vinnige drukkie, klim op haar fiets en ry in Diagonalstraat af stad se kant toe vir ‘n vroeë skof by die telefoonsentrale. ‘n Ouer boetie of sussie om my hand vas te hou, is daar nie. Ek is alleen. Ek het haar kwalik geneem.

Weeskind of nie, skool akkordeer met die jonge Jakob, soos ek deur my eerste onderwyseresse op grond van my doopname genoem word. Spel en lees is my kos. Na ses maande is ek een van die twee of drie “spring-kaantjies” wat vroegtydig na die Sub B-klassie promoveer. Toe ek trots by die huis opdaag met die rapport en die groot nuus, is ma by die werk. Ek het haar n tweede keer kwalik geneem.

Aan die einde van die eerste skooljaar bring ek twee diploma’s huis toe: een vir tweede hoogste klasprestasie in Standerd B1, die ander vir vordering en (onverklaarbaar) vir kuns. Ek is later bed toe sonder om die blye nuus met haar te kan deel. Ek was opnuut bitter ongelukkig.

Eers baie, baie jare later het ek besef: sy het dit vir my gedoen – vir my kos en my klere, dat ek ook so netjies kon aantrek soos my klasmaatjies. Ek sou graag vir haar wou dankie se. Maar dit was te laat. Sy was toe ook al dood.

* Maria Petronella (Baby) Malan is op 1/11/1993 oorlede (HvD).

AI, NATIONWIDE, AI …..

Vir die tweeling Jacob en Thomas Claassens se vierde verjaardag het elkeen ‘n kaart soos die een op die foto hierbo van Oupa Hennie en Ouma Tokkie gekry. Dis sommer deur Oupa op die rekenaar saamgeflans.

Agter daardie speel-speel-kaartjies is egter ‘n storie wat iemand by Nationwide soos ‘n skurk behoort te laat voel.

Jacob en Thomas sou op 2 Julie saam met Oupa en Ouma van Kaapstad na Kruger Mpumalanga vlieg vir ‘n vakansie in Sabiepark. Die Nationwide-kaartjies was hul regte, egte presente vir hul vierde verjaardag op 26 April.

Die kaartjies is al op 15 Oktober 2007 gekoop en per kredietkaart betaal. Die bewyse is in Oupa se sogenaamde “Saamvat Sabiepark”- legger in sy kabinet in die studeerkamer.

Jacob en Thomas tel al hoe lank die slapies. Hulle ken Sabiepark en is lief vir die plek. Die bos is ook in hul hartjies soos in Oupa en Ouma s’n. Toe hulle verlede Julie saam met Oupa en Ouma daar was, was dit ‘n fees: Witnek die duiker het gereeld kom pitjies soek, elke aand het die nagapies by die pendoringboom langs die stoep aangeswerm gekom vir hul skyfies piesang, by die pieknieplek langs die Sabierivier is die tweetjies ewe kordaat by twee olifante afgeneem…

Elkeen het met sy eie albumpie propvol dierefoto’s by hul speelskooltjie opgedaag – sebras, kameelperde, koedoes, bobbejane, bokkies. Noem maar op. Daardie foto’s is nou nog van hul kosbaarste besittings.

Toe het ons met Nationwide gevlieg. Vlug CE0803. Die kamera het geklik van ons aankoms op Kaapstad se lughawe tot by die afklimslag in Mpumalanga. Op dosyne foto’s is die Nationwide-embleem breed op die agtergrond. Trouens, die afbeelding op Oupa se speel-speel-kaartjie kom juis van een van daardie foto’s.

Thomas was selfs in die stuurkajuit (Jacob was effens lugtig). Hy is selfvoldaan afgeneem by die glimlaggende vlieëniers (seker nou werkloos).

Nationwide is vir Jacob en Thomas ‘n towerwoord. Elke vliegtuig wat oor Pappa en Mamma se huis in Welgemoed dreun, word deeglik bekyk. Daar’s ook SAL, Kulula, Mango en wat nog. Hulle ken almal. As hulle die Nationwide-stert herken, hoor jy egter ‘n vreugdekreet.

Daardie vreugde is nou weg uit hul lewens. Vir altyd. Vir die Julievakansie moet ander planne gemaak word. Hoe verduidelik jy immers aan kindertjies dat van al jou beloftes en al hul droompies niks gaan kom nie oor iets soos ‘n lugdiens se “likwidasie”? Al “likwi” wat hulle ken, is Liqui- Fruit!

Watter planne ons al maak (en hoeveel duisende ekstra Oupa en Ouma nou sal moet opdok) gaan iets oorlaat om te verduidelik – hoe weet ek nie. Dit is: Hoekom is dit nie Nationwide nie, Oupa?”

“Omdat Nationwide ‘gevou’ het, my seuntjies”. Dit klink mos simpel.

Nationwide, weet dat van al julle teleurgestelde passasiers Jacob en Thomas Claassens julle dalk die heel meeste gaan mis.

“Trane rol oor Nationwide,” berig Die Burger vanoggend op sy voorblad.

Ja, trane rol inderdaad oor Nationwide. (HvD)

O, DIE GRAP KOM WEER

Van der Merwegrappe is nie dood nie. Hulle was net in ‘n winterslaap. So lees ek in die Duwweltjie-rubriek van die saketydskrif Finweek. Grappe hiberneer inderdaad. Soos die kat kom hulle egter weer en weer, en weer. Soos ‘n slang wat na sy winterslaap sy ou vel afgooi, kom party in ‘n splinternuwe gedaante. Party gaan maak oorsee ‘n draai en word daar in ‘n nuwe idioom verpak.

Van grappies wat uit winterslape wakker word en soos wafferse Rip van Winkels in ‘n nuwe era opduik, kry ek nou die dag in Rapport se Pollux-rubriek ‘n sprekende voorbeeld. Dis van die omie wat protesteer toe die leerling-verpleegster die skeermes en kwas uithaal. Hy: “Nee, maar ek’s dan hier vir n oogoperasie. Sy: “Oom, hier staan dit op jou kaart. Dis vir jou horingvlies.”

Ek en ander 60-plussers ken daardie grappie dekades. Nou lag nuwe generasies opnuut daarvoor. Iewers moet ‘n soort grap-“skrêpjaart” wees waar ou modelle soos dié lank geberg word of hoe?

‘n Voorbeeld van ‘n storie wat ver paaie geloop het, ken ek al van die jare tagtig van die vorige eeu. Dit was oorspronklik in Beeld se politieke hekelrubriek Lood – ‘n Suid-Afrikaanse anekdote in murg en gebeente. Nou die dag – voila! – verskyn dit op my rekenaarskerm so Iers soos John Robbie.

Die karakters is almal Iere – dis Paddy en sy maats en nie meer Oom At Badenhorst en sy maats nie – en hulle praat Ierse Ingels dat jou ore jeuk.

Die Suid-Afrikaanse weergawe is so mooi dat ek dit graag hier herhaal. Hier kom dit:

Oom At Badenhorst – ‘n legendariese LV van hier voor, tydens en na die Tweede Wereldoorlog – en ‘ n paar ander Volksraadslede het ‘n mooi staanhorlosie present gekry. Hulle besluit toe die een wat die beste storie kan vertel oor wat die lekkerste ding op aarde is, kan die horlosie vir hom vat.

Een sê ‘n dag langs die viswaters is die lekkerste, ‘n ander besing die heerlikheid van ‘n topwyntjie, ‘n derde vertel niks gee hom groter plesier nie as die gebrul van ‘n gehoor wanneer ‘n politikus ‘n treffer-kwinkslag los.

Toe Oom At se beurt kom, praat hy inniglik oor hoe onoortreflik lekker dit vir hom is wanneer hy in die winter so luierig onder die komberse wakker word, en hy trek sy ou vrou so styf teen hom aan…

Hy word eenparig as die wenner aangewys.

By die huis gekom met die horlosie, reken hy dit sal raadsaam wees om vir sy vrou ‘n aangepaste weergawe van sy wenstorie te vertel. Hy sê die manne het hom bekroon vir sy vertelling hoe lekker dit is om sy vrou kerk toe te vat en dan so styf teen haar te sit en luister na die predikant.

Op ‘n dag eet hy en sy vrou in die Volksraad se eetkamer. Sy maats kom nader en sê vir haar Oom At het darem met ‘n pragtige storie die horlosie losgepraat. “Ja,” antwoord sy, “die At darem. Hy kom so min daar en as hy die slag daar kom, raak hy aan die slaap!”

‘n Soortgelyke geskiedenis sit agter die storie van die vrou wat moet ginekoloog toe en by die huis vinnig haar waslappie in ‘n sakkie druk om vir oulaas net gou weer die nodige te kan doen. Maar, o wee, sy gryp per abuis sussie se sakkie vol blinkers van die skoolkonsert.

Kom ons los maar die detail. Aan die einde sê die ginekoloog eenvoudig: “Ai mevrou, jy hoef darem nie soveel moeite te gedoen het nie!”

Tokkie, my vrou, het van die arme vrou se verleentheid ook al in die jare 80 in Bloemfontein gehoor. Toe het dit gebeur met ‘n vriend van die bure se seun wat besig was om in Obstetrie en Ginekologie te spesialiseer.

Nou die aand herontdek sy die storie in ‘n Omnibus van die bekende Barbara Johnson –sogenaamde Koningin van Bemoediging. Die bure se seun se vriend is heel uit die prentjie. Nee, in die Barabara J-boek is dit – natuurlik! – ‘n Yank-dame en ‘n Yank-arts. Selfs die blinkers is blinker!

Maar laat ons ons nie hoogheilig hou nie. In hierdie dae kom die volgende Jacob Zuma-storie per e-pos hier by my aan:

Jacob Zuma while visiting a Primary school, visits one of the classrooms.

The class are in the middle of a discussion related to words and their meanings. The teacher asks the new ANC leader if he would like to lead the discussion on the word “tragedy”. So the leader asks the class for an example of a tragedy.

Josiah stands up and offers: “If my friend, who lives on a farm, is playing in the field and a runaway tractor comes along and knocks him dead, that would be a tragedy”. “No” says Zuma, “That would be an accident”.

Beauty raises her hand: “If a school bus, carrying 50 children, drove over a cliff, killing everyone inside, that would be a tragedy.” “I’m afraid not” explains Zuma, “That’s what we would call a “great loss”.

The room goes silent. No other children volunteer. Jacob Zuma searches the room. “Isn’t there someone here who can give me an example of a tragedy?”

Finally at the back of the class Sipho raises his hand. In a quiet voice he says: “If a jet, carrying you, your wives and most of the ANC Ministers, is struck by a missile and blown to smithereens, that would be a tragedy.”

“Fantastic!” exclaims Zuma, “that’s right. Now can you tell me why that would be a tragedy?.

“Well says Sipho, “because it wouldn’t be a great loss, and it probably wouldn’t be an accident either.”

In sy oorspronklike weergawe was hierdie ‘n Britse storie waarin twee Engelse politici – bekendes, maar ek het hul name vergeet – figureer. Maar wat, kom ons leen maar so oor-en-weer bymekaar, stof af, duikklop en herwin. Uiteindelik is die skat van grappe internasionaal tog maar die wenner! (HvD)