KOEVERTE VAN BE-TEKEN-IS

Was dit Piet Koornhof, altyd reg met ‘n grappie ten koste van homself, wat vertel het dat ‘n seuntjie hom eendag gevra het vir 12 handtekeninge. In sy skik, wou Dr. Piet toe weet: ”Hoekom twaalf?” “Omdat ek twaalf van Oom s’n kan verruil vir een van Mannetjies Roux!”

Sporthelde is natuurlik van die voorste teikens vir handtekening-jagters, en beroemde Springbok-rugbyspelers soos Mannetjies was in sy tyd buitengewoon in aanvraag (sien my vorige blog: “Teken tog net hier, toe!”).

My vriend Herman le Roux het hom as skoolseun selfs nie deur ‘n heining van minstens twee meter by die swembad in Durban laat stuit nie om Joan Harrison se handtekening te kry. Of ure in 1948 voor die Handelshuis op Villiers vir Johnny Ralph gewag het om syne te kry. Ralph was ‘n handlsreisiger vir beskuitjies.

Maar moenie dink dat die handtekeninge van presidente (of waarnemende presidente soos die kleurryke dr. Piet inderdaad in ‘n stadium was), militêre swaargewigte en selfs maatskaplike en godsdienstige leiers nie ook versamelwaarde het nie. Party is sommer baie waardevol, pappa!

Pas net op, nie elke handtekening is wat dit voorgee om te wees nie. So word ‘n mens in Wikiipedia op die internet met vers en kapittel gewaarsku.

Sommige belangrike mense gebruik sekretarisse of sekretaresses om namens hulle te teken. In die eerste maande van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse stafhoof George C. Marshall byvoorbeeld nog verplig gevoel om elk brief van deelneming na die dood van ‘n soldaat self te teken. Later het die sterfgevalle hopeloos te veel geword. Een of twee assistente moes instaan met goeie namaaksels van die generaal se handtekening.

In 1952 het die Amerikaanse presidentskandidaat Dwight Eisenhower sonder skroom sekretarisse gebruik om sy handtekening te “vervals”. Toe hy in die jare 40 nog akteur was, het Ronald Reagan selfs sy ma namens hom briewe aan bewonderaars laat teken. Wonder wat hy gedoen het toe hy president was!

Sedert die vroeë 50’s het Amerikaanse presidente in elk geval reeds ‘n sogenaamde “autopen” of klein robotmannetjie gehad om hul briewe, foto’s, boeke en selfs sekere amptelike dokumente te teken, lees ek in Wikipedia. Sedert die 60’s het daardie gebruik vinnig uitgebrei onder belangrike mense met ‘n hoë volume korrespondensie.

‘n “Autopen” is nie die enigste kortpad nie. Joseph Stalin het sommer ‘n laai vol rubberstempels met sy handtekening gehad. Nikita Chroesjtsjof ook.

Maar waarheen is ek met hierdie inligting op pad? Dis maar net om weer te spog met nog ‘n (vermeende) versamelstuk van waarde. In die vorige blog het ek vertel van die klomp rugbykapteins wat op die vooraand van 1995 se wêreldbeker-rugbytoernooi vir Herman (en vir my) die spyskaart geteken het. Maar ek het ook eerstedagkoeverte van pres. Nelson Mandela se inhuldiging op 10 Mei 1994, geteken nie net deur die Groot Man self nie; ook deur sy twee adjunkte, F.W. de Klerk (wat sy voorganger was) en Thabo Mbeki (wat hom opgevolg het). Dis voorwaar koeverte van be-teken-is!

Nols Nieman wat in daardie stadium parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was (ek meen sy titel is nou assistent-redakteur of senior assistent-redakteur) het op die uwe se versoek ewe fluks met die koeverte van presidensiële kantoor tot presidensiële kantoor geloop en die vername handtekeninge daarop versamel.

Op die een koevert is die R1,15-seël van daardie tyd (foto van die Uniegebou), asook die 95c-seël (die nuwe landsvlag), die 70c-seël (die Stem en Nkosi Sikelel I’Afrika langs mekaar) en die 45c-seël (‘n glimlaggende Mandela). Die tweede het die R1,15-seël plus die spesiale R5-munt wat met die oog op die inhuldiging geslaan is.

Die twee getekende koeverte is geraam en hang bokant my boekrak met my uitsoekboeke. Iemand wat meer van hierdie klas ding as ek weet, sal waarskynlik ‘n waarde daarop kan plaas. Ek dink darem ek behoort minstens twaalf van Mannetjies Roux vir een hiervan te kry – nie andersom nie!

Miskien is hierdie ou gryse blogger nog onwetend ‘n versamelaar van faam en sit ek al die tyd op ‘n pot goud hier in Melkbosstrand! (HvD)

TEKEN NET GOU HIER, TOE!

Oor handtekeninge en die waarde daarvan wonder ek al dae lank nadat my oog geval het op ‘n berigge in die koerant oor die een of ander getekende rugbyprogram wat vir ‘n frisserige bedraggie in Engeland opgeveil is.

Ek wonder onder meer waar sou die stokperdie filografie – die versameling van handtekeninge – vandaan kom. Wat maak ‘n beroemde se handtekening so spesiaal en gesog dat selfs groot mense hulle soms soos kinders gedra om ‘n spesifieke handtekening te bekom?

Sal ek ooit vergeet die dag met die ondertekening van die Verdrag van Nkomati in ‘n tent naby die Mosambiekse grens? Wagte wou my en prof. Wynand Mouton by die formele feesmaal voorkeer, maar hy was vasbeslote om by P.W. Botha en Samora Machel se tafel te kom ten einde, as aandenking, hul handtekeninge op die amptelike dokument te kry. Uiteindelik roep Botha ons toe, stel ons aan die Mosambiekse president voor as sy vriende, en help dat ons kry wat ons soek.

Prof. Mouton was opgewonde soos ‘n seuntjie toe hy daardie twee handtekeninge kry. Hy was toe rektor van die Vrystaatse Universiteit en voorsitter van die SAUK-Raad. Die uwe was redakteur van Die Volksblad.

Een ding van n handtekening is natuurlik dat dit iets uniek aan ‘n mens is. Kenners lees in daardie swierige pennestreep, sierlike kalligrafiese meesterstuk of amper onleesbare gekrap veel oor jou opvoeding, karaktertrekke, gesondheid en nog wat.

Net drie voorbeelde:

Ek lees in die Wikipdeia op die internet die Blues-sanger John Lee Hooker (ken die man nie) het ‘n beperkte opvoeding gehad. Sy handtekening verklap dit. Die bokser Muhammad Ali se Parkinson’s-siekte en die gevorderheid daarvan kan jy aan sy handtekening bepaal. Die Amerikaanze Indiane-hoofman Geronimo het geen konsep van die alfabet gehad nie; hy het sy handtekening soos ‘n prentjie geteken.

Party mense se handtekening verander heelwat gedurende hul leeftyd. John F. Kennedy’s s’n het amper sommer elke keer as hy teken anders daar uitgesien! Sulke verkleurmannetjie-gewoontes moet die ontleders nogal laat kopkrap.

‘n Tweede ding van ‘n handtekening is dat jy dit vir iemand kan present gee vir wie dit baie beteken sonder dat dit jou iets kos – net die bietjie moeite om ‘n pen oop te skroef. (Maar wag, moenie dink dat alle sogenaamde “celebrities” hul handtekeninge verniet uitdeel nie; vir party moet jy glo taamlik opdok!)

Hoe beroemder jy is, des te gesogter (waardevoller?) is jou handtekening vanselfsprekend. Maar die dokument waarop die handtekening voorkom, kan natuurlik in sigself groot historiese of ander waarde hê. Ek sien, ook op die internet, ‘n sekere garde beroemde skoonhede verkwansel hul handtekeninge op kordate kaalbasfoto’s van hulleself. Party teken strategies om darem ietsie te bedek: ander teken aspris so dat die geheeluitsig geensins belemmer word nie!

Teen my kroegtoonbank hang ‘n geraamde spyskaart van die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.

Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.

Die lys is nie naasteny chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven en andere.

Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was en deur dr. Danie Craven uitgesonder is as een van die beste. Hy het van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie.

Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.

Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet:: Herman syne en myne. Weens die uniekheid moet hulle seker ‘n taamlike geldwaarde hê. Na die nuus oor daardie veiling in Engeland wonder ek in alle eerlikheid ook oor daardie aspek, maar ek gaan liewer nie die moeite doen om uit te vind nie. Ek soek ook nie hier ‘n bod nie, dankie (tensy dit ‘n buitensporigheid is). Ai, gierigheid is ‘n nare streep by ‘n mens. (HvD)

WIE GRYP, KRY ‘N HAND VOL

As ek reg onthou is dit in Danie Craven se “Ek speel vir Suid-Afrika” waarin die storie opgeteken is van die onthaal vir die Springbokke van 1931 in die burgemeester van Londen se deftige kamers.

‘n Kelner met ‘n wit baadjie en strikdas loop rond met ‘n tros druiwe op ‘n silwerskinkbord, met langsaan ‘n elegante skertjie waarmee elke gas veronderstel is om een (net een!) korreltjie fyntjies af te sny. Toe die skinkbord by een van die ondeunde Bokke kom, gryp hy die hele tros. Die ontstelde kelner het glo amper die skinkbod uit sy bewende hande laat val.

Die storie het skielik in my geheue uitgedop so met die geselsery oor allerlei verleenthede oor kos, spyskaarte, restaurante en dies meer in die laaste paar blogs op hierdie werf. Toe onthou ek skielik ook ‘n eie dusdanige stelletjie wat jare gelede afgetrap is.

Dit was nuwe jaar 1977 en die Van Deventers was in die Amerikaanse “sonskynstaat” Florida op reis. Ons doen onder andere ‘n plek genaamd Silver Springs aan, waar een van die attraksies is om die onderwaterlewe uit glasbodembote gade te slaan (foto links).

‘n Bordjie met stukkies brood (soos Nagmaalbroodjies) word omgestuur sodat die opgewonde toeriste die oulike vissies kan voer. Maar ‘n honger Marisa (vandag die ma van ‘n tweeling van vier en die amper-ma van nog ‘n seuntjie, maar toe net ‘n tenger twee jaar oud) vertolk die bordjie as ‘n welkome versnapering en prop ‘n hele handvol (plus-minus die hele kaboedel) in haar mond. Niemand het gedink sy (wat op die foto regs langs boetie Johan staan asof botter nie in haar mond kan smelt nie) is oulik nie!

Naskrif: Is daar nie ook ‘n lekker storie van die Nagmaalbeker wat in die een of ander gemeente van die ou Sendingkerk vasgesteek het by ‘n dorstige lidmaat wat nie die krag had om soveel versoeking te weerstaan nie?

Toe ledig hy maar die beker tot die droesem! (HvD)

KOS-KENADES

Ons leef in ‘n seisoen met vele tradisies. Een lekker feestyd-tradisie is uiteet. Gesinne draf in strepe op op vir Desember-“bederfies”. Restaurante bars uit hul nate. Kombuise kook letterlik. Kelners draf behoorlik met boordensvol borde (plus ‘n wittetjie of ‘n rooietjie of albei) vir die honger (en dors) menigtes.

Uiteet-stories varieer van vonkelwyn wat weens onverskillige gebruik eerbiedwaardige gaste sopnat en druppend bespuit, tot sjokoladesouse wat oor tabberds en toppies stort en hul loperige weg klewerig vind deur die slagoffer se berge en dale as’t ware.

‘n Persoonlike verleentheid van daardie kategorie het hierdie ou een aand in die gewilde restaurant Crickets (Cricketts?) in Chicago oorgekom. Ek is stoksielalleen die aand daarheen vir ‘n lekker stuk beesvleis. Dit was winter en vrek koud en ek was bejas.

Crickets (Cricketts?) was daardie aand propvol en beweegruimte skraps. Terwyl ek inskuif na my klein tafeltjie in die hoek gryp my jaspant ‘n elegante dame aan die buurtafel se parfait en dompel dit in haar skoot op die swart fluweelnommertjie wat klaarblyklik vir n uitstappie teater toe of so iets bestem was.

Berge bedek my! Hoekom ek nie die verdekselse jas uitgetrek en opgehang het nie, kan ek nie verklaar nie. Feit is: ek het nie. En daar staan ek toe, arme stommerik, en stamel ‘n ekskuus vir my lompheid uit wat in my eie ore bra simpel en onoortuigend aandoen.

Sy was ‘n dame, hoor. Na die aanvanklike gilletjie toe die spulletjie op haar mooi tabberd omdop, was sy kalm en bedagsaam, selfs vertroostend. “Could have happened to anyone. Don’t know why they pack the place like this. Don’t worry. I’m ok, dearie.”

Diep beswaard het ek daardie vlesie afgewurg met my oë stokstyf op my bord vasgenael.

Van my gunsteling restaurant- stories is van die slim-vang-sy-baas-soort – waar ek, dankie tog, nie weer die gek is nie. Nou kyk, tussen al die carpaccios en coc au vins op die spyskaart van ‘n duur, pretensieuse restaurant moet ‘n man maar fyn trap dat jy nie ‘n ontnugtering op jou bord kry nie. (Onthou die be-roerde eier van nou anderdag!) Slim van sy baas voorwaar selde in ‘n verraderliker strik as wat so ‘n spyskaart in die hand van ‘n oningewyde is.

‘n Voorste Suid-Afrikaanse sakeman (Armani-uitgevat en Italiaans beskoen) het glo op ‘n slag ‘n deftige Amerikaanse kelner momenteel totaal uit die veld geslaan met sy bestelling van steak tartare – “well done”.

Die strikdasdraer het na ‘n oomblik se weifeling netjies uit die een gekom deur uitdrukkingloos op te merk: “For well done I would rather recommend our excellent sirloin, sir.” (Klem op die sir!)

‘n Suid-Afrikaanse egpaar met vakansie aan die Kaliforniese kus het by ‘n Meksikaanse restaurant ingestap en vol selfvertroue hul bestelling geplaas: “Two turkey sandwich todas, please.”

Die kelnerin was sigbaar nie op dieselfde golflengte nie.

Die vrou dag dis haar man se buitengewoon swaar Afrikaanse aksent wat vir die onbegrip verantwoordelik is, en herhaal stadig: t-u-r-k-e-y s-a-n-d-w-i-c-h t-o-d-a”.

Die kelnerin was steeds studie in verwarring.

Die man gryp toe weer in, wys met sy voorvinger na die bord by die restaurant se deur, en sê half ongeduldig: “We want that food.”

Die kelnertin se gesig verhelder dadelik. Taamlik dik van die lag, stap sy na die bord, tel ‘n “y” op wat op die grond beland het en sit dit op die regte plek. Die kennisgewing was eintlik bedoel om te lui: “Have you tried our turkey sandwich today?”

Maar terug na HvD. Ek was die eerste oggend aan onbyttafel in Ottawa, Kanada, nogal geskud deur die “dik tee” wat bra stadig uit die deursigtige fles in die koppie loop. Die onsekerheid was des te groter nadat ek melk en suiker bygevoeg het en sonder welslae die konkoksie probeer roer het.

“Kelner, kelner!”

“ Thick tea? No, man, actually it’s the maple syrup!”

Esdoringstroop op die ontbyttafel – dit het ek, in daardie stadium ‘n oningewyde in Amerikaanse ontbytgebruike, nie verwag nie. (HvD)

PRAAT-PRAAT IN ‘TOMEITO’-STRAAT

Praat-praat land jy maklik in Tamatiestraat – of is dit nou ‘Tomeito’-straat? Ja-nee, die slaggate in kommunikasie met vreemdes is velerlei. Party praat in vreemde tale. Ander praat (in naam) ‘n bekende taal, maar verfomfaai dit so met hul aardige aksente dat ‘n doodgewone kooptransaksie in ‘n koeterwaalse konstrernasie kan ontaard.

Op die nog nuwerige webwerf www.lekkerafrikaans.com vertel Ben Coetzee van Collierville, Tennessee, wat al byna 10 jaar in die VSA woon – hy en Jeanette is al burgers – vrolik oor kommunikasiegapings wat steeds ontstaan.

Jeanette het net daardie oggend weer omtrent gesukkel om aan die outjie by die “Fresh Market” se verstand te bring sy soek “a quarter pound of pastrami”. Die terme is presies reg, maar die vreemde klankie in die stem bly hom ontspoor. Daarna is dit selle storie met elementere “ham”. Dis nie eens of sy ‘n Engelse “banana” i.p.v. Amerikaanse “benena” vra nie, “tomato” i.p.v. “tomeito”, of “butter” i.p.v. “budduh” nie, bekla Ben sy lot.

Ben se Amerikaanse kollegas was stomgeslaan en geamuseerd om te verneem hy het vanjaar ‘n bietjie lank gesloer om sy “deck” skoon te maak en te verseel, vertel hy. Nadat die verwarring uit die weg geruim is, het hulle aanbeveel dat hy, met sy uitspraak, liewer van sy houtplatform moet praat. Diegene wat hulle “deck” (“dick”) wel jaarliks aldus sou moet behandel, moet dit gerus liewer stil hou!

“Deck”… “dick”, nou–ja. In Nederland gebruik hulle vir daardie stukkie van die manlike anatomie ‘n drieletterwoordjie wat die rede was waarom die Nederlandse koerante konsekwent na ons minister van buitelandse sake in die ou bedeling as min. Roelof Botha verwys het!

In daardie stamdland moet onse mense maar bepaald ons woorde tel – anders verstaan hulle ons verkeerd. Juis Saterdag was in By ‘n brief van Gerie de Waal van Kuilsrivier wat in Amsterdam plesierigheid veroorsaak het met haar beleefde navraag waar hulle op die bus moet “klim”. Die reaksie het haar verstom, maar die ander passasuers laat kraai. Mevroutje, u mag oweral opklimmen. U mag zelfs op het dak klimmen. Bent u een aap? In Nederland stappen wij op de bus, hoor!”

Name skep allerlei komplikasies. Ene Gerhard Venter wat nou in Australie woon, vertel op www.beeld.com sy Gerhard het nie lank Gerhard gebly nie, want hy het gou opgegee om vir almal, van kollegas tot staatsamptenare, telefoonbemarkers en deur-tot-deur-verkoopsmense, te probeer verduidelik dat ‘n “v” ‘n “f” is waar hy vandaan kom en dat ‘n “g” ‘n “gee” is, nie ‘n “gh” nie. Mettertyd raak jy gewoond aan die nuwe naam, en kort voor lank dra jy trots aan” Ghe-haa-hd Wen-tor”, soos jy dit half-foneties sou se, laat hy weet.

Toe die Van Deventers in 1976 in die VSA was, bel ek ‘n klasmaat Bill Wheatley (later een van NBC se grootbase). “Hello Bill.” “Hi, Hello Hennie.” “Oh you recognized my voice?” “I did not recognize your voice, but you’re the only man in the world that calls me Bull.”

Anneke Pelser berig uit Doebai (ook op www.beeld.com) om van agter af vorentoe te lees, is doodeenvoudig vir haar Arabies.Sy weet daarvan soveel as “‘n kameel van saffraan”. Vingertaal of handgebare, selfs lyfstaal, is daar meer werd.

Omdat padaanwysings niksseggend is (Al Dabei’a en Rawdat),dieselfde plekname verskillende spellings het en die GPS die meeste van die tyd nie eens die nuutste paaie aandui nie, gebeur dit dat die Pelsers gereeld agter hul neuse aanry. Wolkekrabbers en snelwegwisselaars verskyn mos oornag. G’n GPS – al is hy ook sy gewig in olie werd – kan tred hou nie.

Nou die dag ry hulle agter ‘n tenkwa. Agterop word ewe ernstig in vet wit letters verkondig: ” NON HAZAR DOOS WASTE LIQUID”. Klink gevaarlik, meen sy!

Wat my om die een of ander rede bring by die mooi storie waaraan die flukse kondoomuitdelery op Vigsdag my weer herinner het.

My storie is oor ‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, wat met ‘n Spanjaard, Jose Antonio Martinez D’Soler, getroud is. In haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette stap sy by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop.

Sy vra toe vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.

“‘n Aarbeigeur, mevrou?”

“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”

“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”

“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”

“Haai, mevrou.”

Eers toe blyk dit sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het verwarring gekom. Die verlee apteker dag sy soek kondome! (HvD)

ALLESANDRO DOMENICO STEFANO

Ek was gister by ‘n doop-seremonie van ‘n seuntjie met die gewigtige name Allesandro Domenico Stefano Broccehetto. Die Stefano kom van die Stephanus van my swaer Fanie van Wyk, trotse oupa van die knaap.

Stephanus (Fanie) het Stefano in sy familiedooprok wat al geslagte lank kom, met groot sorg die twintig tree of wat van die motor af teen steilerige trappies gedra na die houtdek onder groot bome waar die plegtigheid plaasgevind het. Ondanks sy amper 70 somers is die “naamgenoot” my swaer se eerste kleinkind. Sy hempsknope was kwaai onder druk met die kosbare vraggie in sy arms! Ouma Maretha is nie minder ingenome nie.

Die moeder van die baba is Corlie, Fanie en Maretha se dogter. Die vader is Lorenzo Broccehetto – so Italiaans van afkoms soos ‘n Alpha-Romeo. As jy met hom praat, sal jy egter nie agterkom hy is minder Afrikaans as sy vrou, skoonouers of hierdie oom nie. Hy sou ‘n Bronkhorst (klink nogal Broccehetto-rig) kon gewees het – selfs ‘n Van der Merwe.

Hierdie familie-agtergrond maar net om by die vraag uit te kom waaroor ek agterna oor die vonkelwyn en oesters en ander lekkernye so in my enigheid gesit en tob het. Dit is: wat gaan van al daardie welluidende name word? Wat gaan die klein Allesandro Domenico Stefano se noemnaam eendag wees?

My gade, Gesina Susara (sy is Fanie se suster), het Tokkie geword het – die afkorting vir Tokkelossie, wat haar vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar was omdat sy so ‘n klein kortetjie was. Toe sy in 1962 by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege aankom, was daar ‘n abortiewe poging om Tokkie te vervang met Donsie – gelukkig abortief, want ek sou darem nie graag op my oudag met ‘n Donsie van 60-plus getroud wou gewees het nie!

Ewenwel, dis geskiedenis. Maar wat dit relevant maak, is dat Broccehetto junior dalk – ondanks die indrukwekkende stapel name – maklik ook nog weens die een of ander fisieke eienskap of om ‘n ander rede iets totaal onverwant aan sy doopname kan word, soos Buksie of Bles. Of Porky, Shorty of Whitey. Tokkie deel mee hy is ge-oormerk vir Allesandro. Skoolmaats kan dalk besluit om hom Al of Broch te noem, en dit kan bly vassteek.

Die weë van name is soms onpeilbaar en ingewikkeld. My neef Ben Smith is daarenteen ‘n man met ‘n naam wat ‘n eenvoudige pad geloop het. Geen onvoorspelbare of verrassende kronkelweë nie. Hy is Benjamin gedoop, wat gou in sy lewe Ben geword het. Sy ma, my Tant Minnie, het hom net Benjamin genoem as hy iets aangevang het waaroor sy “haar hare uit haar kop kon trek” (haar gunsteling-gesegde). Ditto wat sy vrou, Hannetjie, betref – bedoelende nie dat hare uit die kop trek ook haar gunsteling-gesegde is nie, maar dat Ben eweneens haar geduld soms seer beproef en dat sy hom dan ook Benjamin noem.

Maar eintlik is Ben Ben. Hy was dit vir sy personeel; hy is dit vir sy kinders, kleinkinders en die huishulp. Dit is soos hy dit wil hê.

Hannetjie is ook nie ‘n vrou wat op formaliteit staan nie. Tog, om een of ander rede,het haar skoondogter Michelle (Brent se vrou) haar altyd ge-missus Smith. Nog altyd. Die komplikasie daarmee het eers ontstaan toe die klein Smithies, dis nou Brent en Michelle se kinders, Teegan en Kyle, begin praat.

Oupa is Ben, kort en klaar. Maar wat noem hulle ‘n ouma wat hul ma Mrs. Smith noem? Granny Smith sou om klaarblyklike redes nie deug nie.

Toe word sy, heel vindingryk en kreatief, Apples. (HvD)