Nov 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Van ‘n joernaliste-egpaar van ‘n jonger generasie is hul pragtige, talentvolle 13-jarige enigste kind weggeruk – die slagoffer van ‘n intense, pikdonker depressie, wat haar haar vonk en lus om te lewe ontneem het.
Oumense is nie in die wieg gelê om kinders se begrafnisse by te woon, en magteloos die rou smart van gebroke ouers, van swaar getrefde vriende en familie en van onbegrypende skoolmaats waar te neem nie. Die ervaring wurg in jou keel.
Die drang om deur jou teenwoordigheid tog ‘n simboliese hand van vertroosting uit te reik wat jy sukkel om in sinryke woorde op ander maniere uit te druk, dwing jou egter om nie, soos ‘n lafaard, liewer die somber byeenkoms te vermy nie.
Die leraar op die kansel, praat sag, maar met diepe erns, meelewing, emosie en egtheid. Die boodskap wat hy bring, getuig van die sakke sout wat klaarblyklik met die familie-in-beproewing, en ook, voor haar keuse om haar eie lewe te neem, met hul oogappel-kind opgeëet is. Die gesin en die leraar is sonder twyfel saam deur diepe waters, wat ook vir hom onmiskenbaar gelouter het.
Juis daardie intieme binnekennis gee aan sy prediking ‘n deurleefdheid wat die jong depressielyertjie se begrafnis onderskei van sovele wat vinnig-vinnig met vae algemeenhede en – durf ek sê? – amperse oppervlakkighede afgerammel word.
Die treffende prediking dwing my om my agterna, waar die leraar alleen met sy koppie tee staan, aan hom te gaan voorstel. Ek wil met hom deel hoe diep sy woorde hierdie begrafnisganger geraak het en watter kosbare diepte en identiteit daardeur aan die troosdiens verleen is.
Vir ouer mense – seniors, bejaardes, noem ons wat jy wil – is my belewenis buitengewoon relevant, omdat ons, sonder om smartvrate te wees, vanselfsprekend toenemend oor die werklikheid van begrafnisse in eie kring dink en praat.
Opvallend, word veral een vrees deesdae meermale gelug. Ouer mense is bekommerd dat daardie soort egtheid en diepte van die kansel af, wanneer dit vir hulle ten diepste sal saak maak, afwesig sal wees, eenvoudig omdat intieme binnekennis van die oorledene se lewe en werklike meelewing met die bedroefde naasbestaandes ontbreek.
Die waarheid is immers dat bedieningspatrone in talle gemeentes hand oor hand verander. Leraars het dikwels soveel ysters in die vuur dat hulle hot en haar draf en al hoe moeiliker oral kan bykom. Die amper vanselfsprekende beskikbaarheid van dominee A om oom so-en-so of tannie sus te begrawe kom weens die diversifikasie van herderlike pligte en take toenemend onder druk.
Ongelukkig eindig jarelange vertrouensverhoudings tussen bepaalde lidmate en hul persoonlike herders in al hoe meer gevalle stomp en onvoltooid deurdat die leraar weens sy program nie, soos die verwagting van die oorledene en sy/haar geliefdes was, ‘n bepaalde begrafnis kan behartig nie. Die taak val dan op ‘n beskikbare plaasvervanger wat – al probeer hy hoe hard – eintlik nooit meer as noodshulp kan wees nie.
Nie alle plaasvervangers doen boonop ewe veel moeite met hul huiswerk nie.
Vir hierdie penarie van ons tyd het ek nie raad nie. Ek wens iemand het. (HvD)
Nov 5, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Nog ‘n naweek-versie, hierdie keer nie oor ‘n dier nie, maar ‘n vrou: Lot se vrou. ‘n Bekende Bybelverhaal kry ‘n nuwe baadjie:
Lotz se vrou
het regs gewys
maar links gehou,
nou is haar tjor
om ‘n houtpilaar
gevou.
(HvD)
Nov 4, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Alles waaraan die mitologiese Griekse koning Midas (foto bo) geraak het, het in goud verander.
Ton Vosloo van Naspers het gepraat van ‘n Sanitêre Midas. Alles waaraan die arme ou geraak het, het ook in iets anders verander – na voorkoms en reuk van ver van goud!
Elke mens wonder seker maar soms of hy/sy nie ‘n streep van Ton se ander soort Midas in hom het nie. Jy koop eiendom met pryse op ‘n hoogtepunt. Net daarna maak die grafiek ‘n duik. Of ‘n sekere aandeelprys vuurpyl boontoe. Die oomblik as jy koop, begin die “regstelling”.
Die uwe het meermale sy vingers so verbrand.
Op die oomblik is daardie besigheid met die Wildkaart die dinges in die drinkwater. Sanparke neem die Wildkaart (wat toegang tot nasionale en ander parke verleen) uit die bloute by Infinity oor, met klaarblik heelwat onmin in die lug.
Hoe lank sien ek nie al daarna uit om 70 te word nie, die magiese ouderdom vir die verkryging van ‘n lewenslange Wildkaart – ‘n voordeel wat verskeie natuurliefhebber-vriende reeds korter of langer geniet.
Maar nou, met HvD70 in sig (nog net twee maande van 69 wees!), kan ek dit op my maag skryf en met my hemp doodvee, soos my Ouma Visser altyd gesê het. Die lewenslange Wildkaart is een van die eerste voordele wat met Sanparke se oorname sneuwel.
Dus: kyk noord en betaal voort – dis mos die Wet van Transvaal, en klaarblyklik ook nou die Wet van Sanparke.
HvD verjaar op 3 Januarie. Hy mis uit met net drie dae. Drie dae! Hemel, pa en ma!
Fluister iemand iets van ‘n Sanitêre Midas? (HvD)
Nov 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Haai, ons is nie blompotte sonder ore nie, weet julle? As ek ‘n kelner was, sou ek ‘n bord om my nek wou hang met hierdie woorde op.
Iets waaroor ek my verstom, is hoe mense in ‘n restaurant of ander eetplekke lustig en luidrugtig dinge kan kwytraak wat bepaald nie vir die die kelners se ore bedoel is nie.
Ek praat nie nou van sakegeheime nie – meermale is dit opmerkings van seksistiese of rassistiese aard. Vandeesweek was ek weer aan ‘n tafel waar blatante rasse-vooroordeel die arme bruin kelnerin se ore moes laat gloei het.
Maar wat kan sy doen? Moet sy die borde neersmyt en uithardloop? Of moet sy maar in nederige stilte die beledigings aanhoor?
Hierdie ding pla my al lank. Dit was in die apartheidsdae in ‘n stadium nogal akuut. In Bloemfontein se President-hotel was dit een aand amper absurd om te sien hoe die swart kelners in hul netjiese monderings langs die ornate onthaalsaal se mure met hul skinkborde wag, terwyl die bekkige seremoniemeester sy grappies met hul rassegeurtjies inryg.
Daardie aand het my sensitief gemaak vir hierdie onsensitiwiteit by ons mense.
Asseblief, ek is nie een van diegene wat rassisme agter elke bos soek nie, en ek raak ewe sat daarvan om alewig daarvan verdink of verwyt te word. Maar regtig, daar is mense wat sal moet leer om ‘n wag voor hul monde te plaas.
‘n Mens kan nie jou “kampvuurpraatjies” in die openbaar voer nie –
ook nie op Facebook nie, my liewe Sunette Bridges. (HvD)
Nov 1, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die selfoon kry skielik lewe in my hempsak. Dit bir-bir en tril asof iets dit gebyt het. Dis die aankondiging van ‘n boodskap op die doodgewone, ortodokse manier, soos die Nokia-tjie “uit die boks gekom” het.
Op die skerm word aangedui ek moet 100 skakel, wat ek terstond doen.
Iemand trek los met ‘n monotone njo-njo-njo-gemompel. Al wat ek hoor, is my adres, Penguin Place 11, ‘n tyd wat klink soos 3:15, en ‘n afgerammelde nommer om te skakel waarvan die laaste die syfers in gorrelende onhoorbaarheid verdrink.
‘n Tweede, derde en vierde poging is ewe vrugteloos. Tokkie moet help. Maar die njo-njo-njo en die gorrelgeluid ten slotte slaan haar ewe dronk.
Gelukkig is ons in ‘n groot sakesentrum. My diensverskaffer, MTN. het daarin ‘n dienssentrum met ‘n ry hulpvaardige konsultante agter ‘n lang toonbank. Ek beduie my probleem vir nommer vier. Die jong man glimlag bemoedigend vir die bedremmelde oubasie.
Ek sien hoe sy glimlag verstar toe sy eie ore die werklikheid van die beweerde onontsyferbaarheid tot hom laat deurdring. “Nee, meneer”, hulle het g’n wondermasjien wat sulke koeterwaals kan deurpriem om die ware bedoeling daarvan te ontbloot nie.
Nou loop ek maar die hele dag en wonder, en verknies my daaroor dat dit moontlik ‘n belangrike boodskap kon wees.
Gelukkig is ons 3: 15 (eintlik 15:15) tuis. Ek wag dat die voordeurlokkie lui. “Penguin Place 11, 3: 15 … njo-njo-njo,” sien. Niks gebeur nie.
Ek skakel weer 100. Die geheim bly onontrafel.
Seker die 20ste keer toe ek die Nokia teen my oor druk, luidspreker oopgedraai, hoor ek vaagweg iets van “Armed Response”. ‘n Vermoede vat pos, wat deur ‘n geskribbelde nota’tjie in die posbus bevestig word. Om 09:15 is die alarm ge-aktiveer.
Gelukkig was dit nie ‘n inbraak nie – alles is mooi op hul plek.
Maar ek sou darem graag vroeer wou geweet het – al was dit net om ‘n buurman te bel.
Waarom praat sommige mense op selfone of hul warm aartappels in die kies het? Waarom rammel hulle hul kontaknommers af of hulle mededingers in die een of ander spoed-praattoets is?
Hierdie vrae stel ek beleefd toe ek die sekuriteitsfirma skakel en by ‘n besorgde meisie met ‘n helder stem en verstaanbare aksent uitkom. Dit, meen sy, is so ‘n ernstige saak dat dit by die “management” gerapporteer sal word as ek wil.
Ek wil.
Dit was die laaste hoor van die blik-konfoor. (HvD)
Oct 29, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Noem iemand die naam van die digter-dokter van Pretoria Theo Wassenaar dink ek aan sy bruisende See-sonnet wat hy op ‘n boot van Engeland af Kaap toe geskryf het:

“O magtige oseaan, jy wydgestrekte,
Omsirkel deur die ongemetenheid,
Diep in jou boesem rus die onontdekte:
Alleen jou swaar gehyg verneem die tyd ……”
Gaan lees daardie vers sommer nou. Hy is in omtrent elke Verseboek. Jy proe, ruik en hoor die see in elke woord.
By ‘n verjaardag op Melkbos was gisteraand ook na-familie van Wassenaar, Corinne Riphagen en haar man, Rip. Ons is vergas op mooi Oom Theo-stories, en ek en Corinne het See-sonnet sommer spontaan in ‘n tweemens-spreekkoor begin voordra. Daardie woorde is onvergeetlik.
Maar dis eintlik Rip se storie wat ek vandag wil vertel. Hy onthou dat ene Adrianus Pyper doerie tye dikwels met Oom Theo oorhoops was. Om sy irritasie uit te druk kom Wassenaar toe met die volgende ongepubliseerde juweeltjie vorendag:
“Sy naam is Pyper Adrianus,
Wat daarvan nie te verstaan is –
Die Adri kom voor die anus.”
‘n Vindingryke manier om vir Adrianus Pypers ‘n beskrywende woord toe te voeg wat nie in ordentlike geselskap sal deug nie! (HvD)