NAT KOL, MODDERKOL

More uit Melkbos

Moenie van ‘n nat kol ‘n modder kol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.

Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.

Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.

Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.

Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.

Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. As jyself aan die ontvangkant is, sien jy egter nie die humor raak nie.

‘n Vriendin, Esbe Krynauw van Melkbosstrand, is oorlede en namens die gesin hanteer ek die kennisgewing in die koerant. Ek waarsku: Onthou, Krynauw kry ‘n umaut op die y.

Tot sy eer, kry Die Burger die umlaut reg. Maar anders as wat die patroon is, skryf hy Krynauw toe in kleinletters, terwyl al die ander vanne op die blad in hoofletters is.

Hoekom, wil ek weet.

Dis die umlaut, beduie die meisie. Hulle het nie so ‘n funksie met ‘n hoofletter-Y nie.

Wel, my rekenaar wat sekerlik minder gesofistikeerd is as Die Burger se rekenaars het wel daardie funksie, skop ek vas.

Later laat weet sy: Nee dis reg. Sy het die funksie gekry. KRYNAUW sal die volgende dag in hoofletters ingaan, met umlaut en al.

Toe staan daar op dag twee: KR*NAUW (met ‘n swart kol waar hier ‘n sterretjie is).

Nat kol, modder kol?

Natuurlik, maar ek aanvaar medeverantwoordelikheid. Die Krynauw in kleinletters was immers beter as Kr*nauw met ‘n swart kol. Ek moes liewer nie gekarring het nie. (HvD)

VROU OM TE ONTHOU

More uit Melkbos

Zoveel malen is men man
Als men talen spreken kan.

Ter ere van wyle Esbe Krynauw van Melkbos wil ek hierdie bekende woorde van Karel V, keiser van heilige Romeinse Ryk meer as 500 jaar gelede, vandag effens ombuig:

Soveel male is mens vrou
As hoeveel mense jou sal onthou.

Wat beteken dit? Eenvoudig dat jou stoffasie bepaal word deur die hoeveelheid lewens wat jy konstruktief aangeraak het. Dat Esbe ‘n grondige impak op baie mense gehad het, kan niemand ontken nie – mense oor die hele spektrum: jonk en oud.

Sy was onderwysmens in murg en been, o.m. as grondlegger en eerste hoof van die Primêre Skool Tableview. As pedagoog het sy gesonde waardes vir generasies ontvanklike kinders ingeprent. Dit behels basiese Christen-deugde soos geloof, hoop en liefde, maar ook ordentlikheid, dissipline en respek: vir mekaar, vir die natuur in al sy verskeidenheid, en vir die eie.

Haar eie dors na kennis en inligting het sy entoesiasties aan die kinders oorgedra. Ek kan my voorstel hoe hulle gretig aan die voete van die wyse Gamaliël gesit het.

Tot aan die einde van dae was Esbe die voorbeeld van ‘n gesonde waardestelsel. Sy was geen selektiewe respekbetoner nie. Almal kon te alle tye op hoflikheid reken. Hoeveel kinders vergeet nie eenvoudig van oorlede ouers nie? Esbe en haar manhet nie vergeet nie. Al in gevorderde jare is hulle nog gereeld met die Honda vol vars blomme al die pad na Beaufort-Wes om dit op hul grafte te gaan sit.

Esbe se dors na inligting, kennis en begrip vir die wêreld om haar het tot aan die einde springlewendig gebly. Haar koerant het sy elke dag van van hoek tot kant verslind. Sy is gereeld met stapels boeke onder die arm by die biblioteek weg. Hoe ironies dat die laaste stapeltjie ongelees langs haar hospitaalbed moes bly lê …..

As burgemeeestersvrou van Milnerton was sy ‘n rots aan haar burgemeesterman, Danie, se sy. Sy het waardigheid, uitgestraal; ook bekwaamheid, innemendheid en sjarme. Haar deernis vir oumense het toe al ‘n fokuspunt geword. By haar bugemeesterlike onthale was die bejaardes van die gemeenskap meesal die eregaste. Daardie goue hart vir oumense het sy behou deur bv. gereeld met ‘n pakkie lekkers by een op te daag.

Vir my en Tokkie se eie Ouma Marietjie in haar “koshuis” hier op Melkbos, soos sy Seepark genoem het, was Vrydae Esbe-dag – altyd ‘n hoogtepunt waarna sy reikhalsend uitgesien het, en wat altyd ‘n pakkie lekkers opgelewer het.

In haar vriendekring was sy beroemd/berug – afhangende van persoonlike voorkeur – weens haar legendariese liefde vir katte. Haar reputasie vir die onoortreflike bereiding van boontjiesop het wyd gestrek. Sy is geag as ‘n omgeemens, wat met navrae, gelukwensings en bemoedigende woorde innigheid uitgestraal het. Op spesiale dae het sy graag met ‘n suurlemoentert opgedaag – ‘n saligheid op die verhemelte wat, volgens haar, die soet en die suur van die lewe gesimboliseer het.

Waarskynlik haar sterkste lewensmissie was ‘n rol wat sy met passie en toewyding vervul het: dié van eggenote en moeder. Vir Danie senior, Danita in Amerika, Danie en Marina en Daniel in Thaiand was sy altyd ‘n vaste anker, ondanks watter uitdagings ook al.

Die liefde vir, en die kennis van God het Danita en Danie aan moedersknie, ewe seer as aan vadersknie, geleer. Ook haar honger na boeke, gesteldheid op haar eie taal, Afrikaans, en liefde vir diere is aan hulle oorgedra.

Danie se eiesoortige humor – onder meer al die spesiale meisies, verloofdes en dies meer wat die galante heer en hand-kusser kammakastig op sy kerfstok sou hê – moes by geleentheid seker maar hare op die tande verg.

Selfs as hy ‘n verdwaasde winkelklerk sou meedeel dat sy vrou hom mottegif vir ”vitmaninepilletjies”, sou voer, het Esbe dit gelate, filosofies en met ‘n skewe glimlag aanvaar. Meermale het sy haar platjieman pittig met ‘n eie stukkie droë humor getroef – dan het ek altyd gedink: “Skote, Esbe!”

Danie en Esbe is op Saterdag 9 Junie 1956 getroud na ‘n skoolromanse wat floreer het. Hulle het in Junie 2006 goue bruilof gevier, en was op pad na 55 jaar se huwelikslewe in ‘n verhouding wat vir hul vriende al hoe meer soos ‘n Siamese verbintenis gelyk het.

Hulle was klaarblyklik op hul gelukkigste in mekaar se geselskap en hulle was kinderlik opgewonde as hulle die kans kry om saam na uitverkore bestemmings, soos die Tsitsikamma-park, weg te glip. Boshut R26, met sy weergalose see-uitsig, was vir hulle soos heilige grond.

Oor Tini Vorster, eggenote van ‘n vorige Eerste Minister en Staatspresident, het ek elders die volgende woorde gebruik:
“In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid , liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit.”

Ek sal daardie eienskappe bly bewonder – baie bepaald ook in die lewe van Esbe Krynauw. (HvD)

ONTVOERING VAN FANUS

Jool 1962

More uit Melkbos

Die President van die Republiek van Flinkveria – dit sou ek vir vyf glorieryke minute wees.

Die plan is daar in 1961/62 rond in Tukkies se Kollegetehuis uitgebroei. Ons sou as reklame vir die jool Fanus Rautenbach in sy ateljee gaan kaap. Terwyl my makkers die gewilde uitsaaier uitboender, sou HvD die mikrofoon opneem en dit landwyd uitdawer: Tukkies jool ….

So ‘n ambisieuse onderneming verg omvattende logistiese beplanning. Die beste sou wees om die slagoffer se samewerking in te win.

‘n Deputasie is van Kollege af met die “Skoolbus” – die uwe se Fiat 500-stasiewaentjie – Aucklandpark toe en die plan is aan Fanus voorgelê. Tot ons opgewondenheid reageer hy entoesiasties.

‘n Komplot word gesmee.

Ek sien al voor die gees die koerantopskrifte en foto’s – HvD die nuwe uitsaaitreus, oornag gebore.

Triomf! Triomf!

Twee dae voor K-dag (kapingsdag) bel Fanus. Hy klink waarlik teleurgesteld. Dit was ‘n oulike plan en als, maar nou’s Pieter de Waal (die omroeper wat die Kopffiehuiskonserte destyds op die “map” gesit het) skielik oorlede.

‘n Somberheid heers in die SAUK se gange. Vir sulke grappies sal in sulke omstandighede nie veel waardering wees nie.

Ai, Flink uit die Vere het darem amper joolgeskiedenis gemaak … of dalk andersom. (HvD)

AI, NEEF BERTUS!

Die egpaar Van Deventer en my neef, ds. Bertus

More uit Melkbos

Die “neef wat links geneuk het”.

So sal my neef Bertus du Plessis se kinders my onthou, deel my niggie, Susanet, Bertus se suster, my mee toe ek haar verlede week bel om meegevoel oor sy dood te betuig.

Bertus het op 73, meen ek, op Potchefstroom agter die stuur van sy motor ‘n hartaanval gekry. Hy sou op Migdol begrawe word waar hy geruime tyd predikant was, eers in die NG Kerk en toe, met entoesiasme, in die APK.

In laasgenoemde skuif is ‘n lang storie opgesluit. Genoeg om te sê dat die politiek wat ek in die jare 80 as koerantredakteur verkondig het, hoegenaamd nie met Bertus se sienswyses geklop het nie. ‘n Toenemende verwydering het ontstaan.

Toe ek Susanet bel, het ek haar gevra om my meegevoel ook aan Bertus se kinders oor te dra – sy vrou, Martie, is al oorlede,

“Weet nie of die kinders sal weet wie Oom Hennie is nie,” het ek bygevoeg.

“Hulle sal goed weet,” het sy geantwoord. “Oom Hennie is die neef wat links geneuk het.” Ek kon die glimlag in haar stem hoor.

Agterna het ek gepeins oor hoe ek Bertus sal onthou. Ongetwyfeld was hy die “neef wat regs geneuk het” – en ook nie net effentjies regs nie. ‘n Primêre herinnering is egter ver van die politiek verwyder. Bertus was naamlik die predikant wat my en Tokkie op 31 Desember 1966 op Bultfontein in die eg verbind het.

‘n Ietwat onwettige handeling was daardie huweliksbevestiging, moet ek meld, want die vereiste dokumente, insluitende die gebooiebrief wat daardie dae ‘n noodsaaklike voorvereiste was, het ontbreek.

Die een of ander kwaaddoener het op die vooraand van die troue in my koffer gekrap, met watter bose motief weet ek nie, en van die dokumente is weke na die huwelik in my skoonma se buurvrou se erf gevind waar dit nat en verkreukel teen die draad vasgewaai het.

Dankie, ou Bertus, dat jou “linkse neef” se geloofwaardigheid by jou in daardie stadium nog voldoende was om met die huwelik voort te gaan.

Ek sal Bertus ook onthou vir allerlei ongewone en onortodokse dinge, veral vir ‘n predikant. Hy het byvoorbeeld in sy emeritusdjare ‘n Uno’tjie gery wat slegs met ‘n knipmes aangeskakel kon word.

Bertus het nie daaraan geglo om ‘n motor te was nie. Water en seep sou so ‘n skok op die Uno se gestel wees dat selfs die knipmes sy kar nie aan die gang sou kry nie, was sy oortuiging.

Op ‘n keer vat hy die Uno vir ‘n versiening. Moenie die kar was nie, waarsku hy die garagemense. Maar toe hy sy rug draai, lag hulle ha-ha vir die dominee en was sy kar. Bertus moes laat haal word om met ‘n groot gesukkel sy Uno weer aan die gang te kry.

Of dit in daardie Uno is dat Bertus sy laaste asem uitgeblaas het, weet ek nie. As dit was, wonder ek hoe die karretjie daarna aan die gang gekry is. Sou iemand die knipmes-prosedure onthou het? (HvD)

HELDER STEM VAN FM (EN AM)

Middag uit Melkbos

Die radio is in my lewe vandat ek as pikkie vroeg in die 40’s by Oom Danie en Tant Susie du Plessis by Kaallaagte, distrik Paul Roux, my aan dié wonder kon verlustig. Ek kan nie onthou dat ons enkelouer-gesinnetjie toe al ‘n “draadloos” gehad het in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, nie.

Om die regte stasie in te stel, was destyds dikwels vir lomp vingers ‘n aansienlike uitdaging. Al wat jy aanvanklik kon hoor, was ‘n geruis en ‘n gekrap. As jy uiteindelik die stasie het, trek die nuusbulletin al ‘n ent ver. Die batterye vir die radio is nog met ‘n windlaaier gelaai.

In 1948 is die flitsberigte oor die verrassende NP-sege in die algemene verkiesing opgeslurp in ons voorhuis in Kimberley, waar ek saam met ‘n opgewonde Oupa Herklaas Visser geluister het.

Van die eerste sportuitsendings wat my behoorlik beetgepak het, was stoei: Willie Liebenberg vs. die Amerikaner Sky High Lee. Ek het ook graag na boks geluister. Vic Toweel was my man.

Die Springbokke se rugbytoerdeur die Britse Eilande in 1951/52 (die Hennie Muller-era) het ek in Botanic Grove, Durban, gretig gevolg. Die dag toe die Bokke teen die Londense Graafskappe verloor, het ek in die laaste minute betraand om en om die huis gehardloop.

Krieket het later gekom – ai, die wonderlike veldwerk van daardie swiepende arend Colin Bland het die kommentators na woorde laat tas.

En musiek – eers die “Hit Parade” op LM-Radio (Lourenco Marques) – Doris Day se “Que Sera, Sera” en daardie klas ding. Later “U Eie Keuse” van Kosie Jooste se tyd af. Toe ek in 1959 Kollegetehuis op Tukkies toe is, was een van my trotse besittings ‘n radio en platespeler in ‘n yslike houtkas. In daardie tyd het ek operamusiek ontdek.

Die radio is ‘n magtige, magnetiese medium. Deur die jare kon ek na pakkende uitsendings luister: van staatsbegrafnisse, die Kennedy-moord, die koms van die Republiek in 1961…

In my jare as redakteur van Die Volksblad en hoof van Naspers se koerante was ek bevoorreg om soms my eie stem oor die radio te hoor met uitsprake oor die een en die ander. Laat my maar bely: dit het my ego nogal gestreel.

Radio Oranje het my ‘n keer kans gegee om oor die middaguur op ‘n Sondagmiddag my eie gunstelingmusiek voor te speel. Bietjie praat, bietjie musiek (“Milord” van Edith Piaf, die “Largo”-gedeelte uit die Eerste Wêreldsimfonie van Dvorak, “O Holy Night”: van George Beverly Shea en so aan voort) – ek het die program iewers op band.

Een radio-onderhoud, met wyle Chris Louw van “Monitor”, oor my omstrede voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie, het ek in my nagklere uit my slaapkamer op Melkbos gevoer. Ek was toe hoof van Naspers se koerante. Dit het so vuurwarm geword dat ek uit die bed gespring en met die telefoon in die hand op en af in die kamer gemarsjeer het.

Na aftrede het my stem vanselfsprekend mettertyd geheel van die lug verdwyn – tot verlede Woensdagaand toe Amanda Olivier in haar program “Kopskuif” op RSG met my ‘n gesprek gevoer het oor o.m. my nuwe humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat”.

Verskeie aspekte was vir hierdie gryse genotvol (laat ek dit maar pront erken). Die heel-heel lekkerste was om van ‘n string ou vriende te hoor.

Ek was in 1962 huisvoorsitter van Kollege-tehuis, Willem van Niekerk voorsitter van Sonop en Tom Gunning van Voortrekker. Van Willem het ek net na die gesprek ‘n SMS gekry en van Tom ‘n e-pos. Is dit nie merkwaardig nie, soveel solidariteit van drie huisvoorsitters van drie strydende koshuise in 1962!

Van Koos Reinecke wat saam met my in Kollege was, was daar ‘n oproep van sy plaas in die distrik Schweizer-Reneke. Hy het die middag in sy bakkie gehoor “Van Deventer praat vanaand”. By die huis sê hy toe vir “die vrou” : “Ter wille van die ou dae wil ek na die man luister “

Van my matriekmaat, Willem Hartzenberg, was daar ‘n SMS, asook van ander studentemaats, oud-kollegas, ou bure in Bloemfontein, nuwe vriende wat in die aftreejare bygekom het, vreemdes.

Nogal onverwags was die oproepe van skynbaar eensames wat net gou ‘n woordjie met die verre vreemdeling wou wissel.

Dankie, radio. Dankie, RSG. Dankie, Amanda Olivier. Op 70 beteken al hierdie dinge vir ‘n ou se selfbeeld ’n lot. (HvD)

Naskrif: As iemand wil weet, die skakel vir die podcast is, volgens ‘n mede-Litnet-blogger, www.rsg.co.za/podcast.asp?id=10.

MELK EN HEUNING

Marlene van der Westhuizen, Philip en Nance van Rensburg, Jaap Duvenage , HvD, Carl en Sarah Louwrens.

Sakkie en Helmien Bruwer, Henri en Moonyeen van Biljon

Middag uit Melkbos

Uit Melkbos was 20 lede van my geliefde Probusklub by HvD70. Sakkie Bruwer het my die eerste keer saamgevat Probus toe in 1998. Ek is Sakkie ewig dankbaar.

Probus is ‘n uiteenlopende kring – van die medisyne tot die mynwese – maar ‘n hegte kring. Hulle staan saam soos min.

Ek was bevoorreg om president van Probus te wees van 2007 tot 2009. Op die oomblik is die klub onder die presidentskap van die Namibiese regsman, perde-ghoeroe, vlieënier en wat nog, Henri van Biljon.

Ek het heerlike Probus-herinneringe soos besoeke aan Namibië en die Wildtuin, en bittersoet herinneringe soos aan Jan se Gat. Oor laasgenoemde rep ek niks. Die geproes wat die noem van die naam in Probusgeledere uitlok, is ‘n leidraad.

Al die Melbos-vriende by my verjaardagviering was nie Probus-manne nie. Ek bejeën die nie-Probusmense met ewe veel warmte.

Plus-minus dieselfde tyd dat ons Melkbossers geword het, het ek en Tokkie Sabieparkers geword. Salige Melkbos en Salige Sabiepark – albei plekke van melk en heuning.

Sabiepark is die plek waar ons groot ure by groot vure deurbring. Een Bosveldvuur staan in die Van Deventer-annale uit. Dit was op 11 Augustus 2001. ’n Groep van Probusvriende het die aand van Melkbos “oorgekom vir ’n braai”. In ’n konvooi het hulle opgeruk, die hele 2 000 kilometer. Die volgende oggend is hulle Wildtuin toe.

Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.

“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra.

Carl Louwrens, leraar van Skukuza, is my pastor in Sabiepark. Hoe wonderlik was dit nie om Carl en Sarah by my verjaardag te kon hê. Ek, Tokkie, Carl en Sarah het al wonderlike tye in die bos saam beleef. Drie weke gelede het ons teenaan ‘n nuuskierige renoster ‘n Wildtuin-piekniek gehou.

Die Louwrense was verreweg nie al gaste wat Sabiepark ken nie. My seun. Johan, het gevra dat almal wat al op Sabiepark was, hand opsteek. ‘n See van hande is lugwaarts gehys.

Van die gaste het spesiale konneksies met Sabiepark.

Danie en Kathleen Krynauw het jare by die deftige Kruger Park Lodge, buite Hazyview, ‘n pragplek besit. Dit is Danie en Kathleen wat die Van Deventers se lus vir ‘n swaeltjiebestaan geprikkel het.

Philip en Nancé van Rensburg het, soos gemeld, op my aanbeveling ‘n huis in Sabiepark gekoop sonder om dit ooit met hul eie oë te sien.

Van die vriende kom weer en weer na Tarlehoet, soos Herman en Rina le Roux van Randburg wat in Maart 2008 spesiaal gekom om tien goue jare te gedenk – hul tiende besoek en boonop Tokkie se verjaardag. Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met dieselfde blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies net soos dit ‘n dekade gelede was – buiten, natuurlik, vir die toename in grys hare en ander tekens van die tye aan die onderskeie lywe.

Naas die Melkbos-era en die Sabiepark-era is in die laaste jare nog een nuwe era by die Van Deventer-reis van Babanago tot Melkbosstrand gevoeg. Dit is die kuber-era. Die verteenwoordiger van hierdie era by my verjaardag was my mede-blogger dr. Kobus Victor, oud-predikant, wat ek op Litnet leer ken het.

Blogvriende het werklike vriende in lewende lywe geword. Dankie, Kobus en Cecile, vir julle teenwoordigheid. (HvD)