Aug 13, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


Wyle Ema Strydom by my 70ste. Die mense by haar is oud-Bloemfonteiners Johan en Zandra van Wyk en Herman le Roux.
More uit Melkbos
Begrafnisse kom onvermydelik meer in jou lewe voor namate jy ouer word. Van die gaste by my 70ste wat op 8 Januarie gevier is, is twee nou al te ruste gelê: Esbé Krynauw van Melkbos en Ema Strydom van Welgemoed, wat op Vrouedag skielik dood is.
Die gedenkdiens vir Ema Donderdag in die NG kerk Welgemoed, en alles daaromheen, bevestig die indruk wat ek toenemend kry: dat ‘n byderwetse element die moderne begrafnis, om die modewoord te gebruik, nogal sterk getransformeer het.
Humor kry al hoe groter plek in die verrigtinge. Jy hoor beslis meer proeslaggies as gedempte snikke, soos die viering van die lewe van die oorledene toenemend sterker beklemtoning kry. Hartseer wyk nie, maar dis ‘n getemperde hartseer. Somberheid en rou is meer op die agtergrond.
Ema is, in die woorde van ds. Heerden van Niekerk, gedenk as fees-mens. Een wat vrolikheid en feestelikheid in ander se lewens gebring het. Ook een wat die feestelikheid van die Here se ryke voorsiening in haar eie lewe ervaar het. Sy teksvers was uit Psalm 23: “U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teenstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid” (vers 5).
Uitstekende keuse! En het die welsprekende dominee nie reg aan sy onderwerp laat geskied nie!
Toe volg ‘n huldeblyk deur die dogter, Uvain, wat agterna deur ds. Heerden as “besonders” getipeer is. Ek dink sy woordkeuse was in hierdie opsig konserwatief. Eintlik was dit ‘n kragtoer waarin sy, ook met ‘n goeie skeut humor, haar ma se lewe en eienskappe aan die hand van ‘n indrukwekkende reeks tekste uit ‘n tiental Bybelboeke uitgelig het.
Ek het vir albei loop sê: Die diens was ook ‘n fees van welsprekendheid.
Ná die diens het ons verdaag na die huis van dogter Corli,en haar man, Leon, waar Ema ook gelukkig gewoon het: eers, ná hul skuif uit Bloemfontein, saam met haar man, Steve, Vrystaat se Mnr. Rugby vir baie jare, en ná sy dood alleen. Ons was terug op die toneel van vele feestelike byeenkomste. Een daarvan, Ema en Corli se gesamentlike Kersfees-fees, was beroemd weens sy kreunende tafels met elke denkbare lekkerny en genoeg van alles om die vriendinne (dié okkasie was streng net vir vroue, hoor!) lank en vrolik te laat kuier.
Die feestelikheid van Ema se gedenkdiens het nou nuwe hoogtes bereik – ver, ver verwyder van die tradisonele tee en toebroodjies deur die susters voorgesit. Die gasheer, Leon en Joubert, seun van Ema, het die beste wyne geskink. Die vonkelwyn se proppe het geskiet. Skottels keurige kos het hul verskyning gemaak.
Oor die omvang van geregte sal ‘n kulinêre ongeletterde soos die uwe liefs swyg. Ek weet egter daar was salm en garnale, ook gekerfde biltong, bobotie toegevou in deeg, skaapboud, gebakte vark en … wag daarvoor … skaapstertjies, wat, soos verwag kon word, gevlieg het.
In die braaiplek het ‘n vuurtjie gesellig geknetter. Ema sou tevrede geglimlag het as sy kon sien en hoor HOE die Kapenaars van haar afskeid neem. More is dit die Vrystaters se beurt by Grey in Bloemfontein, waar Steve se as ook in die muur van herhinnering geplaas is.
Om ‘n kragwoord te gebruik rakende ‘n gedenkdiens is seker onvanpas. Oor die Ema-fees by Kommissaristraat 154, Welgemoed, Donderdag sou dit nie onvanpas wees nie om entoesiasties uit te roep: “Bliksem!”
Herman le Roux, jarelange vriend, wat van Randburg Bloemfontein toe gaan ry, is nogal lief vir die woord. Ek is seker die word “bliksem!” gaan stilletjies oor sy lippe rol. Baie ander sal die sentiment beaam, moontlik darem met ‘n stemmiger woord. (HvD)
Aug 11, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die radioprgram Dieremaniere was op ‘n tyd een van my gunstelinge met sy boeiende stories oor honde en katte … selfs oor perde, mak hasies en witrotte. Die program het ongelukkig nie sy suksesresep behou nie.
Praat iemand van dieremaniere, dink hy gewoonlik aan troeteldiere. Wilde diere het ook maar hul gewoontetjies.
‘n Vlakvark wat hom blykbaar papnat skrik, het ek in Augustus 2011 die eerste keer gesien. Vier van die dierasies het op Tarlehoet se werf rondgestaan. Skielik stap ‘n hiëna uit die bos. Die ou die naaste aan haar, het eenvoudig sy kraantjie oopgedraai. Dit was soos ‘n bodemlose tenk. Ek sou graag ‘n kenner wou vra of die groot nommer een en die verskyning van die roofdier (dalk kwylend van lus vir ‘n vlakvarkboudjie) verwant kon wees, of maar net ‘n sameloop van omstandighede.
By die voerplek – Sabiepark begin Juliemaande droog raak en die eerste somerreën is nog ver – het ek eienaardige koedoegedrag waargeneem.
Koedoes het my en Tokkie natuurlik al vantevore uitermate verras met hul voorliefde vir die saadjies in die voëls se kosbakke, en hul slim-skuldige plundertoggies as hulle, ietwat ooroptimisties, dink jy sien hulle nie. Hierdie keer was die verrassing iets in ‘n teenoorgestelde rigting: ‘n vreemde onderdanigheid teenoor, van alle dinge, sebras.
Die sebras was lustig aan die bale voer aan die weglê toe ons daar verbystap piekniekplek toe. Die koedoes het, trippelend van haastigheid, op ‘n afstand staan en wag. Was dit wel onderdanigheid of respek? Dalk ‘n ingebore hoflikheid: “Eet julle gerus eers klaar”. Sou dit dui op ‘n stem vir segregasie of selektiewe assosiasie?
‘n Bosbok-ram is voorheen deur ons uitgevang dat hy ons watergat se waterlelie (gekoop by Skukuza se gawe kwekery) geheel opgevreet het. Hierdie vakansie het een ons verras met sy manier van water drink. Hy is eers na die voëls se badjie toe, wat nie vreemd is nie. Koedoes, sebras, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke en wat nog het dieselfde voorliefde. Toe dié leeg is, slenter hy aan na die watergat – steeds doodnormaal.
Maar toe die watervlak laag is, sak hy knielend op sy voorpote om by te kom, kompleet soos ‘n vlakvark wat wei. Sou dit gewone bosbokgedrag wees?

‘n Seekoeibul het ons in die Nyamundwadam naby die Phabenihek verras met sy stamina as minnaar. Tokkie dag eers hy’s asmaties weens sy hortende asemhaling (maar toemaar, sy het al voorheen, tot groot vermaak van die ander in die motor, ‘n olifant met ‘n “seer been” identifiseer).
Minute het verbygetik. Ons kom eers agter dié dieremaniere is eintlik diereplesiere toe die koei se neesvleuels, snakkend na asem, bo die wateroppervlak verskyn. Dis egter maar momenteel en kortstondig. Dan raak sy weer ondergedompel – soos by ‘n groot doop.
Die operasie word die bron van bespiegeling. Sou dit gemaklik wees só onder die water? Wie verdien eintlik die prys vir stamina: die bul of die koei? Haar posisie lyk vir een van die toeskouers veeleisender as onderwater-hokkie!
Een oggend het die visarende by Lake Panic begin roep soos ons nog nie gehoor het nie. Hul roep en roep hul harte uit. Die middag duur dit voort … en die volgende oggend. Sou dit ‘n melodie van die liefde kon wees? Of sommer net speelse lughartigheid oor die lekker sonskyn ná ‘n paar buitengewoon triestige dae?
By die nimlike Lake Panic het ‘n visarend ons ‘n tweede keer laat skeef opkyk met ‘n skynbare afknouerigheid jeens ‘n veel kleiner lid van die veervolk.
‘n Reusevisvanger duik vir hom ‘n vissie uit die water en gaan sit op ‘n boomstomp vir sy omega-maal. Terwyl hy die prooi oudergewoonte voorberei deur hom aanhoudend teen die stomp te kap, swiep ‘n visarend op hom neer, kloue gesprei om die vissie te gryp. Die visvanger was net ‘n oomblik die toonbeeld van verslaenheid. Toe skiet hy weg, vissie en al. Die visarend moes, bra afgehaal, die aftog blaas.
By die Orpendam het ons ‘n keer gesien hoe ‘n visarend ‘n bloureier van sy middagete beroof. Toe het ek al gedink: “Ag sies man, dit betaam nie só ‘n vorstelike voël nie. Vang jou eie kos, demmit!” (HvD)
Aug 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag van O.R. Tambo
Die waarde van ‘n “seisoenskaartjie” vir die Krugerwildtuin is ver bo korale. Ek huil dat die stelsel van ‘n lewenslange Wildkaart ná bereiking van 70 drie dae te gou vir hierdie ou gryse afgeskaf is, maar dat die Wildkaart self nie afgeskaf is nie, is darem ‘n troos.
Ek aanvaar maar berustend dat die ouderdom van 70 in my leeftyd te laat opgedaag het!
Ek sluk swaar, maar berus ook daarin dat die Wildkaart vir ‘n egpaar vir alle parke skielik van R450 tot R560 geklim het. Het nie ‘n sompompie byderhand nie, maar dit lyk vir my gevaarlik naby aan 25% – ‘n soort styging wat vir ‘n pensioentrekker se begroting bitter medisyne is.
Die voordele van ‘n Wildkaart is groot. Met die Wildkaart woon ‘n Sabieparker as ‘t ware in die Krugerwildtuin. Jy kan in en uit by die hek soos jy lus het. Selfs teen R560 is dit ‘n kopie. ‘n Ekstra bonus is die tydskrif Wild wat, volgens belofte, voortaan aan elke Wildkaarthouer gepos gaan word.
My nuwe Wildkaart en eerste tydskrif is nog “in die pos”. Intussen lees ek maar die promosie-eksemplare wat by die Krugerhek by die dosyne met komplimente beskikbaar is.
Voor my is vanjaar se winter-uitgawe met ‘n steenbokkie op die voorblad. In dié blad het ek lekker gelees aan artikels oor o.m. die formidabele jagarend – met ‘n vlerkspan van tot 2,4 meter! – oor die lewe in en om ‘n jakkalsbessieboom – op Wildevy 154 is drie stewige jong jakkalsbessies – oor wetenswaardighede van die drie klein bokkies, steenbok, duiker en klipspringer, en oor ‘n spookvoël wat vinnig met ‘n trapsuutjies klaargespeel het.
Laasgenoemde herinner aan ‘n eie belewenis in Sabiepark. ‘n Takslang was die slagoffer. Die spookvoël – sierlik in sy geel en groen veredos – was te vinnig vir die slang se aanslae. Telkens as dié na sy kant pik, kap die voël hom agter sy kop. Die silwer slang se hals was later soos ‘n bloederige sif. Takslang was teen die einde van die stryd voos gepik. Dood was ‘n verlossing.
Die spookvoël heet in Engels die “grey-headed bush-strike”. Die outeur, Albie Venter, verduidelik vir sy lesers die Afrikaanse naam, spookvoël, is eintlik meer in die kol. In die bos hoor jy gereeld sy “foeee, foeee, foeee-iet”. Jy sien hom egter selde.
Venter se vermelding van die Afrikaanse naam het my skielik laat raaksien hoe Afrikaanse name oral in die tydskrif opduik. Op die voorblad is bv. ‘n verwysing na die bekende olifant-watergat Hapoor in Addo, waar deesdae ook leeus rondloop. Binne word gevra: “Why Hapoor?” Dan word verduidelik: “The dam is named after a legendary elephant bull that had a nick in his ear. Hapoor is the Afrikaans for ‘notched ear’.”
Steenbok, duiker en klipspringer is natuurlik almal Afrikaanse name. Ter inligting van Engelse lesers word volgende betekenis van die duiker se naam aangebied: “The name duiker is derived from the Afrikaans word ‘duik’ meaning ‘to dive’ due to its characteristic porpoising flight pattern.”
Op ‘n ander bladsy lees ek van die skilpadjie bekend as die “Namaqua speckled ‘padloper’”.
Waarskynlik sal jy nog meer Afrikaanse name in Wild kry as jy soek. ‘n Afrikaanse naam is immers dikwels beskrywender as die Engelse eweknie. In die natuur, soos op vele ander terreine, is ons taal se wortels diep ingegrawe. Doodkry is min! (HvD)
Aug 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
By ons Sabieparkvriende uit Nederland, die wellewende Gert en Caroline Pols van Heerhugowaard en hul kinders, is Woensdagmiddag heerlike Hollandse happies (ook Suid-Afrikaanse biltong!) op hul ekstra-ruim stoep in Gwarrieboslaan geniet – met Hollandse rookwors en “ge-importeerde” mosterd ongetwyfeld die pièce de rèsistance (verskoon die Frans as Sabiepark die dag Hollands is!)
Die middag kry vir die uwe des te meer gedenkwaardigheid toe Marleen, skoondogter, ‘n pakkie Deventerkoek te voorskyn bring, wat sy al die pad via Amsterdam en Londen vir dié Deventer-“emigrant” saamgebring het.
Sommer sulke hierjy-koekies is hierdie Deventer-lekkernytjie geensins. As ‘n Van Deventer wil roem op iets van die stad waarvan die familie die naam dra, is die keuse amper vanselfsprekend. “Wie Deventer zegd, noem ook die koek.” Só spog die Deventeraars met hul bekende uitvoerproduk.
Die Van Deventers se se stamvader, Gerrit Jansz, het hom in 1687 as vryburger by Stellenbosch gevestig, net 35 jaar nà Van Riebeeck se historiese suidwaartse vaart. Toe was Deventer Koek en die bakker, J.B. Bussink al ou nuus in Deventer en elders. Bussinks bak dit self sedert 1593. Voor 1593 is egter al tienduisende Deventer Koeke o.m. na Noorweë, Duitsland, Portugal en Engeland uitgevoer.
Dit is nogal ‘n versoberende gedagte as jy aan ‘n koekie met sy pikante kruiesmaak hap: haai, my ou voorvader, Gerrit, seun van Jan, kon dalk presies dieselfde smakie geproe het terwyl hy 350 jaar gelede op die keisteentjies van hierdie “gastvrije Hanzestad” aan die Ijsselrivier rondgestap het!
Trouens, het oupa Gerrit nie altemit selwers by die sjarmante Deventer Koekhuisje aan die Brink (een van die mooiste stadspleintjies in Holland) vir koffie en koek aangesit nie – nes hierdie afstammeling toe ek self in die 80’s? Ek het in die bekoorlike Deventer ‘n draai gaan maak om my wortels te soek? Toe was daar nog ‘n Deventer-dagblad (nou’t hy ‘n ander naam). Daar was ook ‘n Jacob van Deventerstraat (ongelukkig Jacob met ‘n c!). Ek het my ewe breed by albei laat afneem. Maar dit terloops.
Die koekies wat die mooie Marleen (eggenote van Nick) gebring het, is pragtig verpak. Jammer dat die ontvanger op die foto aan die kleurryke “boksje” afbreuk doen! Die presiese resep is ‘n geheim, maar wel word verklap dat heuning, rog, lemoensnippers , kruie en speserye tot die ietwat onverwagte smaak bydra. Die Koekhuisje beveel dit sterk aan omdat “Deventer Koek een product is dat enorm lekker is, praktisch geen VET bevat en een delicatesse is om te krijgen maar ook te geven”.
Die “geen vet” maak dit ideaal vir hierdie ou man! Ek gaan weldra enetjie smeer vir ‘n “spesiale tractatie”, wat Bussink soos volg aanbeveel: “Besmeer een plakje Deventerkruidkoek met roomboter. Snijd het plakje diagonaal door, en leg de besmeerde kanten tegen elkaar. U hebt dan een Deventer Koeksandwich, waarmee u eer inlegt by uw huisgenoten en gasten.”
Net ‘n paar dae tevore had ons die voorreg om by ander Sabieparkers uit die verre tuisland, Anne en Ria Weilandt, die heerlikste krokette (‘n rolletjie murgsagte beesveisies in ‘n krummelkors, wat vinnig in kokende olie gedoop word) te geniet.
Gert Pols vertel my jy kry kroketjies ook in ronde bolletjies soos frikkadelletjies. In hierdie vorm is hulle bekend as bitterballe. Vir ‘n kroegkuiertjie in Amsterdam, Rotterdam, Deventer, Heerhugowaard, Utrect, Groningen of waar ook al, is Bols en bitterballetjies net die regte ding vir die skemeruurtjie! (HvD)
Aug 1, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Dertien jaar lank – en ‘n hele entjie in ons tweede duisend dae langs die Sabie in – moes die Van Deventers wag vir ons eerste vangs in Sabiepark. Op Woensdag 27 Julie 2011 was ek en Tokkie toeskouers toe ‘n luiperd ‘n vlakvarkie in die Hongonyi-drif in Maroelaan plattrek.
Die weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie, sê hulle. Dié vangs was egter presies op die plek waar ‘n luiperd twee jaar en ‘n dag gelede, op 28 Julie 2009, ‘n vorige vlakvark-maal geniet het. Daardie maal, in ‘n jakkalsbessieboom vlak langs die straat, het ons lank uit die motor dopgehou. Die vangs self was ons egter nie bevooreg om te sien nie.

“Bevoorreg” is dalk nie die beste woordkeuse vir die drama wat hom op 27 Julie voor ons oë afgespeel het nie. Die vlakvarkie se einde het nie net vir ‘n goeie definisie van die begrip “déjà-vu” gesorg nie, maar ook van die begrip “gemengde gevoelens”.
Die slagoffer was een van “ons eie” vlakvarkies – een van viertjies wat in Desember in Sabiepark gebore is en talryke kere saam met hul ma vir ons en die tweeling Jacob en Thomas Claassens by Tarlehoet diereplesier kom verskaf het. In my albums is foto’s van die kleingoed langs ons huis aan’t drinke, en diep in droomland met hul vol magies langs hul ma ingeryg.
Oor ‘gemengde gevoelens” bestaan die effens ligsinnige definisie dat dit is soos om jou skoonma in jou nuwe Mercedes oor ‘n afgrond te sien verdwyn. Ek is nie ‘n ou vir skoonmagrappe nie, maar ek verstaan die verskeurdheid. Ons was ewe verskeurd. Dit was nou opwinding met ‘n traan, hoor!
Tokkie wou net uitroep om die vlakvarkies te waarsku toe hulle niksvermoedend aangestap kom. Ek moes paai. Die luiperd was versteek in ‘n skadu onder ‘n bos. Skielik het die hele soepel liggaam se spiere onder die kollevel begin tril.
Toe die groot kat met een kragtige sprong uit sy skuilplek kom, het net een gedempte skreeugeluid opgeklink, soos diè wat ek een keer gehoor het toe ‘n jong man te laat rem trap voordat hy met sy klein motortjie onder ‘n staalvragmotor inry.
Toe word dit doodstil. Die luide protes van die drie oorlewendes was al wat jy kon hoor. Die volgende oomblik sien ons die luiperd, slap prooi in sy bek, doelgerig die huis van ds. Hannes Els van Kroonstad (Giraffe, nommer 186) nader. Dit is by ds. Hannes stoep waar ek die foto hierbo geneem het. Op die stoeptrappies was die ene bloed.
Klaarblyklik wou die luiperd op die stoep rustig met die vlakvarkie gaan klaarspeel. Toe die kamera klik, het hy vies opgekyk. Ons oë het ontmoet. Daarna het 2011 se luiperd met trofee en al in die bos verdwyn. Dit was die laaste sien van ongetwyfeld die hoofkarakter van ons 35ste bosvakansie sedert 1998. (HvD)
Jul 31, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Toonbeeld van rustigheid
Middag uit Sabiepark
KORT ná ‘n droomvakansie in die verre Suid-Afrikaanse wildernis begin ‘n Amerikaanse vrou blind word. Haar besorgde man wil haar vir oulaas iets laat beleef wat in haar geheue ingeprent sal bly nadat die Groot Donker toegesak het. Haar begeerte is om terug te keer na die Kruger-Wildtuin wat diep in haar hart gekruip het. Haar tweede wens is om op die herbesoek leeus te sien. Die koning van die diereryk het hulle die vorige keer ontwyk.

Balule-en-suite
Die Amerikaners tref ylings reëlings, vlieg na Suid-Afrika en kom laatmiddag in die Pretoriuskopkamp aan. Hul gids vertel vir die beamptes haar aangrypende verhaal. “Julle is gelukkig,” laat ‘n veldwagter hoor, “’n trop leeus lê net ‘n paar kilometer hiervandaan op die teerpad.” Haar droom was vervul.
‘n Eie Wildtuindroom is op Dinsdagaand 20 Julie 2011 vervul. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf in die klein ruskampie Balule, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n lank gekoesterde wens. Die betowering van Balule is beslis nie onbekend aan ander Wildtuin-tradisionaliste nie!
Enige datum in Julie. Dit was my versoek in April aan die besprekingsbeampte in Skukuza. Op 20 Julie is een van die ses – net ses – rondaweltjies toe gelukkig beskikbaar. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy (net Engelse) reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Anderkant ‘n draadheining is vyftien kampeerplekke, ewe gewild by ‘n vaste klandisie, van wie baie al saam met hul ouers in Balule kom kamp het toe enorme ou “karavane” agter kragtige Amerikaanse Fords, Chevs, Buicks, Pontiacs en Dodges nog die in-ding was. Tente was doodgewone khaki-weermag-eksemplare. Vandag is dit net duur 4 x 4’s en ontwerperstente oral.
Nêrens in Balule is elektrisiteit nie. In sy hutte sal jy lank soek as jy, soos ‘n nuwe generasie, jou mikrogolfoond, ysmasjien of groentestomer wil inprop. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.
Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die dak wat, op sy beurt, só laag is dat jy gemaklik met een hand op die deurknop en die ander op die dekgras kan staan.
Die vrieskaste en stowe in die ruim gemeenskaplike kombuis is aan gasbottels gekoppel. ‘n Reuseketel op ‘n gasplaat sorg vir genoeg kookwater vir almal.
Ek was nooit ‘n kampeermens nie, maar begrippe soos “rudimentêr”, “stoer” en “outentiek” vind by my sterk aanklank. Dit herinner aan die “ou Wildtuin” wat ek as kind leer ken en as jong volwassene leer lief kry het: ‘n aardse plek – hoe nader aan die aarde des te beter – en waarlik ‘n natuurtuin – hoe nader aan die natuur des te beter. Dit is immers tog die magnete wat ‘n mens keer op keer Wildtuin toe lok, en nie vyfster-geriewe, eksotiese geregte of oorgeorganiseerde programme nie.
Maar kyk, nou praat ons werklik van toeka, lank voor die hoogwaterbrug oor die Sabierivier veertig jaar gelede, in 1972, gebou en die bekende Paul Krugerhek op 21 Maart 1973 geopen is. (Coert Steynberg het sy granietbeeld van die bebaarde ou “vader van die Wildtuin” in 1976 by dié hek staan gemaak.)
Vir ons was die poort tot die Wildtuin toe nog die Numbihek, naby Pretoriuskop, met sy naam teen ‘n hardekoolstomp en ‘n karaktervolle grasdak-rondawel-kantoortjie, wat jou dadelik laat voel het jy is nou in die Wildtuin, anders as deesdae se lelike Chinese pagoda-goeters. Hekwagte met kortbroeke, langkouse en opslaanhoede het jou met ‘n flinke saluut verwelkom.
Op pad na Skukuza is by die “Hippopoel” in Sabierivier stilgehou vir ‘n toebroodjie en koffie uit die padkosmandjie – dalk ‘n koue frikkadel en gekookte eier. Gewapende swart wagte het die insittendes van een stowwerige motor na die ander na die rivieroewer vergesel terwyl die seekoeie snork.
Jou rondawel se deur is nooit gesluit nie. Trouens, die bestaan van sleutels was in die Wildtuin onbekend. Die beddens was staaldivans. Beddegoed is op tweewiel-trollies afgelewer, soos dié wat stasieportiere gebruik het. Dit is al lank vervang met gholfkarretjies, selfs 4 x 4’s.
Grasperke was asof gemanikuur, en is dwarsdeur die dag met dik strale rivierwater besproei. Welige tuine was ‘n lushof, en in elegante, koloniale restaurants het kelners met wit baadjies en wit kepse tradisionele viergang-maaltye bedien.
Van 04:00 soggens kon jy lê en luister hoe die personeel die koolstowe begin stook vir warm water vir die toeriste se eerste koppie boeretroos sodra hulle ontwaak. Die reuk van houtvure en antrasiet het in die lug gehang. Dit was voor die tyd van kombuisies in elke rondawel. Gespikkel in die kamp was enkele gemeenskaplike kombuise, soos die ene in Balule. Saans het die kampvuurtjies by haas elke rondawel in ‘n gesellige kring geflikker. Nou word oop vure al hoe minder.
By piekniekplekke soos Tshokwane het hardekoolstompe heeldag gegloei. As jy kole nodig het, kon jy na hartelus met langsteelgrawe kom skep. Roomys op Onder-Sabie se stoep (voordat die dek gebou is) was ‘n heerlikheid waarna uitgesien is van die oomblik dat die vakansie aangebreek het.
Vir almal wat smag na die herbelewing van sulke toeka se dinge, kan ek Balule – die oorspronklike Olifantskamp – van harte aanbeveel. Mense wat verlang om gepamperlang te word, bly egter weg!
As jy Balule toe wil mik, en gelukkig genoeg is om plek te kry, moet jy jou in Satara of Olifants gaan aanmeld. Dáár ontvang jy jou beddegoed-papiertjie (ja, werklik, nes in die ou dae!). Met daardie klein dokumentjie in die hand, begin jou avontuur: ‘n sentimentele geestesreis die verlede in. Só kan ook jou Wildtuin-droom bewaarheid word. (HvD)