May 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Môre uit Melkbos
In die voorportaal of voorhuis van die eie huis of in die huise van familie en vriende het in ons jongdae redelik algemeen, dreigend of belofteryk (hang af hoe jy kyk), `n afbeelding van “De breede en de smalle weg” gehang.
Die “breede weg” is `n vrolike, verleidelike pad met vele verlokkinge en versoekinge. Die pad van die minste weerstand. Die onvermydelike bestemming, helaas, is vuur en verderf. Die hel.
Die “smalle pad” is `n vasbytpad. Jy beweeg daarop volgens Christelike waardes, beginsels en riglyne. Die eindelike prys is groots en heerlik. Jou bestemming: die reënboog-reinheid van die hemel en die ewige saligheid.
Die meeste kinders het seker met `n mate van trepidasie voor so `n geraamde prentjie gestaan, sidderend oor die immerteenwoordige gevaar dat die swakke natuur voor die lekker van die oomblik swig. Dit is so verdeksels maklik om die rug op die “nauwe poort”, die toegang tot die “smalle weg”, te keer … en daar gaan jy!
“Moer toe!” soos die ou op die fiets sonder remme uitgeroep het toe dit die afdraende vat.
Die effens vreemde Nederlands – die land waar die plakkaat blykbaar 130 jaar gelede sy oorsprong gehad het – het vir my begedra tot die gevoel van misterie wat die beelde in jou laat opwel. Onderaan was die Skrifverwysing: Mat. 7:13: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”(Nuwe vertaling).
Dis onse Bybelstudie Woensdagaande wat ons ou klomp o.l.v. Francois Hanekom by die “poorte” bring. Ons trek by Spreuke 4 en steek vas by die pad van wysheid wat jou in die regte koers laat loop. Volgens oomblik toe soek ons net almal padmetafore vir `n vale.
Onder die moderne metafore is onvermydelik slaggate, stilhouplekkies, padtekens, padreëls, waaksaamheid en gehoorsaamheid agter die wiel, spietkops, tolhekke en dies meer.
Ek meen as ek nou `n moderne plakkaat moet ontwerp, sal ek die “smalle weg” vol “poorte” soos tolhekke maak, oral padtekens opsit oor hoe jy moet ry en hoe nie, en agter die bosse spietkops plaas om jou vas te vat as jy oortree. Iemand moet afdwalers immers op spoor hou.
Die spietskops op die “smalle weg” is ouers, onderwysers, leraars en almal in posisies wat ‘n positiewe invloed op soekende jong mense se keuses kan uitoefen, kom ons ooreen. Dis die Groot Owerheid daarbo wat hulle in hul ampte aanstel.
Ek is vuur en vlam oor my “moderne” weergawe van die “breede en smalle” weg. Wil net begin potlode skerp maak vir ‘n HvD-meesterstuk. Toe: ontnugtering, ontnugtering. Op Google moet ek lees ek is te laat. Ene Fokke de Vries uit Urk het reeds `n moderne variant ontwerp, wat fluks bemark word:
“Daarop zijn moderne beelden te zien als een computer en een auto, en zijn ook andersgelovigen te zien, zoals een vrouw met een hoofddoek. Mensen worden met een roltrap naar de hel gevoerd.” Op die nuwe “breede weg” sien ek ook o.m. `n TV-skerm – dit beeld die seksualisering uit wat die samelewing ontwrig. En daardie flertsie in die hoek, is dit nie dalk `n poniekoerant nie? Nee, ek speel sommer.
Wat nie speletjies is nie, is daardie “roltrap naar de hel”. Dit is nogal `n beeld wat aan die ou man vat. Voor my geestesoog word ons ou sondaars, ry op ry, as ‘t ware in die vlamme uitgespoeg!
(hvd)
May 1, 2012 | Hennie van Deventer se Blog


Môre uit Melkbos
Opgewonde toeriste wag hul beurt af om by die bord afgeneem te word met die towerwoorde: “KAAP DIE GOEIE HOOP – die mees suidwestelike (sic) punt van die vasteland van Afrika”.
Veral die Oosterse toergroepe is groot en en die kameras in hul geledere talryk. Ons moet maar geduldig wag, baie paraat ook, want hier is dit soos vanoggend soos by die waters van Bethesda: as dit roer moet jy ook roer!
Uiteindelik het ons ons foto’s – vide hierbo. Dit is, moet ek bely, ons eerste besoek aan dié baken. Vorige kere was dit by Kaappunt vinnig op tot bo, woerts en weg. Hierdie keer bestee ons tyd en geniet elke oomblik. Ook die reuse-branders wat skuimend oor Kaap die goeie hoop se rotse breek en in watervalletjies terugtuimel in die Atlantiese Oseaan in. En die fotonemery.
Sulke bakens is natuurlik vir elke toeris die bewys: ek was daar! Foto’s lieg mos nie. So word die baken ‘n trekpleisters uit eie reg. Skielik besef ek dat my eie “bakenfoto’s” maar bra minnerig is. Was ek in my lewe wel by bloedmin bakens of het ek net nie daarop gekonsentreer om sulke foto’s te versamel nie? Goeie vraag.
Ek praat nou nie van `n foto by `n padbord buite Deventer of `n foto in Harvard se hek of `n foto op die veerboot na Staten Island met Manhattan op die agtergrond of `n foto op die Rooi Plein in Moskou nie, maar foto’s van die ware Jakob: by borde wat aankondig dis die hoogste, die laagste, die langste, die verste of wat ook al.
Kan my herinner aan`n foto op die suidelikste punt van die Floridase eilandjie Key West, wat terselfdertyd die suidelikste punt van die VSA is. Daar is ook `n bordjie wat beduie jy kan nie nader aan Havana, Kuba, kom in die ganse VSA nie. Dan het ek foto’s by borde wat spog: “Most magnificent ….”, “Steepest ….” En wat nog. Maar dis pure reklametaal – iets waarin die Amerikaners uitblink. Hoe bepaal jy in elk geval watter sewe myl of ses of vyf al die ander soortgelyke afstande ter wêreld uitstof?
Is in Europa bakens waar ‘n mens eenvoudig net MOET afgeneem word? Verbeel my toe ons in die Alpe deur die Grossglocknerpas in Oostenryk is, het ek bewus geraak van sy vele onderskeidings: die hoogste (?), die steilste (?), die bekendste (?). Maar waar’s my foto’s van die borde?
In die Verre-Ooste? Ons was in Kobe in Japan vir `n koerante-konferensie – `n wonderwerk van herstel na `n verpletterende aardbewing – maar ek weet werklik nie of ons `n “bakenfoto” het nie. In die Nabye-Ooste in Jerusalem is die Via Dolorosa – net een Via Dolorosa op die aardbol. Die Piramides – is een die oudste, grootste, hoogste, ens. ?
In Suid-Afrika: wat het ons hier wat so gedenk word? Kimberley se Groot Gat? Tafelberg – `n “moderne Wonder” maar is hy die platste of iets? Die Vredefort-koepel? Koeberg!
Hoe ook al. Wat ek eintlik wou kwytraak, is dat “bakenfoto’s” klaarblyklik groot impak het. Dus as jy enigsins met `n “baken” kan spog – hetsy land, provinsie, munispaliteit, stad of wat, kap jou bordjie strategies in. Lig die toeriste in op watter stukke ekslusiewe grond hulle staan. Die mense sal soontoe bly stroom. Die kameras sal nie ophou klik of flits nie. Veral die Oosterse toeriste s’n.
“Ek was hier”…. en hier’s die bewys. (hvd)
Apr 27, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Hy tuur oor die hawe …

Blommetjies by sy graf.
Môre uit Melkbos
Slim honde, sjarmante honde, skattige honde … ondernemende honde, onverskrokke honde, onhebbelike honde … dan ook nog doodgewone honde wat, met permissie gesê, skoon bedinges kan raak. Dis die klas natneus-nuusmakers waaroor ek in “`n Vriend vir altyd” (Human & Rousseau, 2000) geskryf het.
Net soos by mense, moet jy nie in een hond al die beste eienskappe soek nie. Just Nuisance, die Deense hond, waarvan `n fiere, lewensgetroue bronsbeeld al hondegeslagte lank oor die hawe van Simonstad uittuur, is een “vriend vir altyd” wat op vele onderskeidende eienskappe aanspraak kan maak.
Verlede week was ek nie net by Just Nuisance se beeld nie. Ek was ook langs sy netjiese graf op die kronkelpad oor die berge Scarborough se kant toe. Iemand het proteas daar gelos. Al was die blomme al verdroog, was dit `n mooi huldeblyk. Ek was spyt ek het met leë hande gekom.
Just Nuisance het in sy kort lewe van gewone matrooshond tot internasionale hondelegende gegroei. Daardie merkwaardige lewe van hierdie unieke gelukbringer van die vloot in die Tweede Wêreldoorlog word ook in die Simonstadse museum en elders op die dorp uitgebeeld, onder meer in die sakesentrum op die karaktervolle Jubileeplein, die Deen se laaste staanplek.
Die ou grote met die slobbergesig was volwaardige lid van die vloot: ‘n bevare seeman op die betaalstaat van die H. M.S. Afrikander. Van: Nuisance. Naam: Just. Hy had, soos die ander matrose, sy eie slaapbank. Ongematigdes is gou uitgesleep!
Nuisance is dikwels saam met sy matroosmakkers van kroeg tot kroeg. Oral is ook ‘n drankie uit sy eie “kroegbakkie” geniet. Hy kon sy drank vat. Kyk ‘n makker te diep in die bottel, was dit hy wat hom veilig by sy kaserne of op die laaste trein besorg het. As `n inspekteur die hond uit die trein boender, het hy eenvoudig die volgende een gehaal. Die tydtafels was blykbaar aan hom bekend!
`n Keer is hy saam met ‘n matroos na George. Sy terugtog was te voet. Toe `n makker in ‘n Kaapse stegie met `n mes aangeval is, het hy by `n taxidrywer in Adderleystraat hulp gaan soek. Hy is saam met die gewonde in die ambulans hospitaal toe – het sy gesig bly lek en verseg om pad te gee totdat sy maat, na verskeie bloedoortappings, buite gevaar was.
Hy was `n hond vir seremonie en lief vir parades. Wannneer “God save the king” aangehef is, het hy luid saamgeblaf – na bewering in perfekte harmonie. Wederstrewiges tydens die verpligte tweeminuut-bidpouse elke dag is deur hom bestorm en tot gehoorsaamheid gedwing.
Ook maar hond, ook maar lus. Twee nakomelinge is in Benoni verwek. Hul ma was die teef Adinda. Hul aankoms in die Kaap was vir jou `n okkasie. Lede van die Griekse koningsgesin, ambassadeurs en die burgemeester was aan weerskante van die strate. Daar was vlae, rooi tapyte en golwe van applous.
Soos elke legende wat sy sout werd is, was Nuisance geen engeltjie nie. Hy kon hom bloediglik vererg. Dan AWOL hy sommer drie weke. Hy het weerstand gebied wanneer hy by klubs uitgegooi word, kleiner gelukbringers van ander skepe gebyt en sy halsband telkens verloor.
`n Foto waarby Tokkie op Simonstad lank stilgestaan het, was van Nuisance in `n hosptaalbed, omring deur verpleegsters. Die voorpoot is uitgestrek vir `n bloedoortapping of iets. Ja, die ou was ook maar net vlees en bloed.
Soos gras is ons almal se dae. Op 1 April 1944 – sy sewende verjaardag – is bevare seeman Just Nuisance in die skeepshospitaal die genadedood gegee. Hy is met volle militêre eer ter ruste gelê, gedrapeer in die vlag van die vloot. Sy graf is netjies reggemaak en word waardig onderhou.
`n Poot-saluut vir jou, baas se honne. (HvD)
Apr 26, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Môre uit Melkbos
Dis die beroemde Boulders-pikkewyne, maar, geheimpie-geheimpie, jy sien die kolonie swart-en-wit voëls die beste op die buurbaaitjie langsaan, Foxystrand, waar jy binne `n paar meter van die regop gestaltetjies met hul eienaardige wiegel-waggelstappie kom.
Ons was gelukkig om `n fris lot van die kolonie van sowat 3 000 op die strand te kry; ook heelwat aktwiteit te beleef. Voorwaarts … mars! Induik vir `n vinnge swem. Daardie klas dinge. Die liefde het by verskeie pare nogal geblom, en hulle lyk sielsalig gelukkig as hulle mekaar met hulk skerp bekkies verken. “Bliss”, noem die Engelse daardie uitdrukking op die pikkewyn-gelate.
Simonstad se nommer-een-toeristrekpleister is gewis sy pikkewyne. Op voortreflike plankiespaaie tussen Boulders en Foxy kan jy rustig drentel, op bankies gaan sit met jou koffiefles en foto’s neem na hartelus. Een verdwaalde ou het hom skielik saam met ons op die paadjie bevind. Sy onbehae met ons teenwoordigheid was uit sy haastige wegskarrel so duidelik soos daglig.
Sanparke het hier ‘n ontwikkeling tot stand gebring waarop ‘n mens trots kan wees. Ek en Tokkie, wat jare laas daar was, was verstom. Vir ‘n slag aangenaam verstom, nie teleurgesteld en ontnugter nie.
Die brosjure’tjie wat jy by die ingang kry, maak daarop aanspraak dat Boulders se pikkewynkolonie “wêreldberoemd” is. Dalk is hulle. Verdien om te wees. Die baaitjies is heerlik windbeskut. Al is aan die een kant huise en geboue beleef jy aan die kuskant die ongerepte natuur van Valsbaai.
Onthou om jou kamera met jou beste lense en jou Wildkaart te vat. Laasgenoemde verleen gratis toegang. Soos in daardie Checkersadvertensie van die meisietjie wat saam met haar ma gaan inkopies doen het, spaar jy baie!
Naskrif: Waar kom Pik Botha se naam vandaan? Een storie is dat hy Pikkewyn Botha geword het toe hy in die 50’s Tukkies se intervarsitydirigent was. ‘n Ou met ‘n “gatjapon” lyk nogal na ‘n pikkewyn …. of is dit nou andersom?
(HvD)
Apr 24, 2012 | Hennie van Deventer se Blog



Môre uit Melkbos
Jacob en Thomas Claassens, ons tweeling-kleinseuns, word Donderdag 26 April 8. Nou die dag nog was hulle babatjies in doeke.
Nou sool hulle `n rugbybal! Die tema van die partytjie Saterdag was rugby. Die manne was uitgevat in hul groen-en-goud. Die Springbokkie was oral by – tot op die koek.
Dis reg, manne, stel julle visiere hoog! (HvD)
Apr 23, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Mayafudi, my bloubloed-olifant, gaan nou e-spore trap! Die storie van daardie “maaifoedie” van `n olifantbul se swerftog in die bos is afgestof, getimmer, vernuwe en herverpak. Dit gaan binnekort as e-boek by eBoeke vir Afrika verskyn.
Die kontrak is vanoggend geteken. Die ou man is dalk te opgewonde vir sy 71-jarige hart oor die eerste tree op onbekende nuwe e-weë.
Op die foto is die ou Mayafudi (2005-model). Die skilder is David Cubbin, bekende skilder van SA se wild- en voëllewe.
Toe nou al julle mense met julle Kindles, laat van julle hoor! (HvD)