HIPPO-KONNERS EN AL DAAI DONNERS

Lekker Wildtuinskets deur T.O. Honiball

Naand uit Melkbos

Net ses slapies – dan Kulula ons. Saterdagoggend vroeg vat ons die pad.

Sabiepark, hier kom die Van Deventers vir hul tweede “duisend” dae. Dit sal so plus-minus ons 40ste vakansie daar in die Laeveldse bos wees sedert ons in 1998 ons boshuis in Sabiepark bekom het.

Watter vreugde!

Aan die vooraand van die besoek het die “bos-lus” my so gepak dat ek al my ou bosversies op allerlei plekkie gaan uitgrawe het. Die resultaat is ‘n bundeltjie vir elke kleinkind, een vir Sabiepark se boekrak en een vir Melkbos.

Die meeste is so ietwat afgestof en geskaaf. As ‘n voorsmakie hier’s drie van die versies (met al die nodige ekskuse aan mense wat dit ken):

Hippo-konners!

Een oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê ure
aan’t skommel en slaap;
waaraan ly daai luie donners?
Wrintiewaar .. dis hippo-konners!

Bang vir ‘n slang

Groot krokodil maak hierdie ou ril,
spinnekop trek sy maag op ‘n krul,
maar, mens, skrik ek my nie bevange
vir al daai slange van Mpumalange!

Snuf in die neus

“Wena hiëna” is ekstra snoep,
jy hoor al van doer af
haar huilstem wat roep:
“Nnnu .. Nnnnu… Nnnnnu!
Gooi vir my bene
of ek pie op jou stoep!”

Saterdagaand hoor ek haar as die vuurtjie se eerste vlammetjies begin lek in die heerlike Bosveldse winterweer. Wie wil wed?

(hvd)

`N YSLIKE SPRONG

Môre uit Melkbos

Nederigheid is `n mooi, eerbare deug en alles maar ek stem saam met Kenneth Galbraith dat dit oordryf kan word. ‘n Mens kan ook TE nederig wees. Dan verbeur jy heelwat lewensplesier.

Al sal die hiper-nederiges seker sidder, glo ek jy kan jou veroorloof om jou eie monumentjies, hoe beskeie of gering ook al, onbevange te geniet. Veral as jy ouer word. Jy raak al hoe meer verplig om vir jouself te lag. Dit verskaf net ewewig as jy nie wat jy bereik onder die spreekwoordelike maatemmer hoef te verberg om vir ander minsaam of eerbaar voor te kom nie.

Oor die verskyning van die uwe se e-boek, Spore in die bos – swerftog van `n olifant, voel ek nogal danig in my skik, en hoekom sal ek nie `n bietjie breë bors daaroor wees nie? Die waarheid is immers dat ek aan die begin van die 90’s nog absoluut getroud was met my tikmasjien – “tot die dood ons skei”.

Trouens, so negatief en traag was ek oor die oorskakeling van daardie getroue ou werkslaaf tot die nuwe, ondeurgrondelike rekenaartegnologie dat ek in `n stadium besorgd gewonder het oor my verdere loopbaan in die perswese.

Oorskakeling was, ook in in my eie geval, in die praktyk nie altyd glad en pynloos nie. Gelukkig het ek darem nie, soos Oom Baffie Coetzee, Ficksburgse korrespondent van Die Volksblad, ooit `n hele manuskrip in die droewe dieptes van verlorenheid laat verdwyn nie, maar hoofartikels en Willemrubrieke wel, en ook op ‘n Saterdagoggend `n hoofstuk van my eerste boekie, Scoops en skandes, wat in 1993 by Tafelberg die lig gesien het. `n Tegnikus is vergeefs ontbied.

Oom Baffie, terloops, het as ‘t ware sy ganse bestaan met die delete-knoppie uitgewis. Die ou man het in sy gryse 70’s begin werk aan `n outobiografie en was iets oor die 80 toe hy tevrede was dat dit blink genoeg geslyp is. Toe …… poef! Ramp en ellende!

Nietemin, ek is nou 71 en weet van rekenaars nog net voldoende om redelik oor die weg te kom. Die kinders en allerlei spesialiste moet maar gedurig help met raad en daad. Dus was dit vir die ouman pure plesier om gister sy eie-eie e-boekie vir $6,99 (spotgoedkoop!) by Amazon aan te skaf en op sy Kindle af te laai. Vir almal wat leef en beef, wou ek net hierdie “wonder” op die klein skerm wys.

Die gevoel was nie minder behaaglik nie as die middag op pad terug van `n vergadering op Worcester toe wyle Werner Wager, hoofbestuurder van die Pers se fabrieke, in sy koffertjie delf en die eerste eksemplaar van “Scoops” in my hand prop.

Glimlag dus gerus maar ‘n bietjie uit die hoogte oor my kinderlike opgewondenheid. Frons maar oor my onbeskeidenheid. Vir my is dié klein buiginkie in `n nuwe digitale wêreld ‘n heerlike avontuur, iets soos `n beslissende veldslag, `n verowering. Ek is oud maar ek is DAAR!

Mayafudi, die hoofkarakter in “Spore” is die nimlike maaifoedie van my vorige olifantboekies, Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant wat in die middel van die eerste dekade van die nuwe millennium gepubliseer is. Nie al die resensente was ewe gaande oor my olifante nie. Een het my na die woordeboek gedryf met die beskuldiging dat ek my aan ”antropoformologie” besondig. Eerste keer dat ek met daardie groot woord kennis gemaak het!

In die herverpakking van die storie het ek o.m. ook getrag om van haar besware uit die weg te ruim!

Hier is die skakel, sou sy of iemand anders wou gaan kyk of ‘n proeseltjie van die boek van Amazon wil aflaai: http://www.amazon.com/dp/B0087B7DOU .

Vir diegene wat nie daardie olifantpaadjie wil loop nie, herhaal ek graag hier wat Amazon oor “Spore” meedeel:

Stropers, storms, brande, uitdunning, konfrontasie met mense – gelouter deur rampe, durf Mayafudi `n n epiese swerftog aan op die voetspore van sy beroemde oupa, Mafunyane, berugte kwaai bul met die manjifieke tande. Rou herinneringe bring Mayafudi tot `n gewelddadige uitbarsting. Die groot olifant storm `n safarivoertuig. As hy vir sy lewe moet vlug dryf sy oudag-herinneringe hom terug na sy kleindae-kontrei.

Die lewensmoë olifant vind rus vir sy onstuimige hart langs die graf van sy kloeke moeder, Ukuthula. Hier in die oewerbos langs die Sabierivier wag ook `n heerlike ontdekking …

Volgens Amazon (of die uitgewer e-Boeke vir Afrika, seker) is dit “plek-plek `n hartverskeurende storie wat oud en jonk met nuwe oë na olifante sal laat kyk.”

Hoop werklik dis nie te “antropoformologies” nie! (hvd)

SOLO-AVONTUUR

Op sy ysterperd en … woerts … weg is Jacko op sy eerste groot solo-avontuur met sy Gold Wing

Môre uit Melkbos

OP 75 stroop die meeste Ridders van die Ysterperd hul leerbaadjies af en hang hul valhelms op. Die 75-jarige Jacko Maree van Melkbos het vanoggend op sy glimswart Honda Gold Wing Kwazulu-Natal toe vertrek op sy eerste groot solo-avontuur met sy kragtige nuwe ryding.

Gereelde lesers van hierdie blog sal weet Jacko het na sy vrou, Barbi, se dood in Februarie die nuwe glinstering in die oog begin kry. Hy het die manifieke Honda uitgesoek en is Motorfietsakademie toe om te leer ry…. eers op ‘n kleiner oefen-model toe met aanvanklike huiwering op die Gold Wing self.

Na sowat 500 kilometer in die Gold Wing se saal hier in Wes-Kaapland rond voel Jacko nou ervare, oorgehaal, ontspanne en vol selfvertroue genoeg vir die lang rit. Vandag wil hy die eerste 500 kilometers teerpad vreet en vannag op Beaufort-Wes slaap.

Soos afgespreek het hy, deftig in sy fiets-uitrusting, `n vinnige koppie koffie vir die pad by die uwe kom sluk voordat hy die grootpad noorde toe aangedurf het.

Een ding wat die Gold Wing hom tot dusver geleer het, is groter padbewustheid, meen hy. As die naald so opkruip en die enjin grom hier onder jou, durf jy jou nie afsluit van die verkeer rondom jou nie. Motorfietsry maak ook van jou `n beter motorbestuurder juis omdat jy skielik wakkerder begin inneem wat rondom jou gebeur, is sy indruk.

Dit was `n hele okkasie toe Jacko skuins na 09:00 by die Van D’s weg is. Ek was by met die kamera en Tokkie het kom wuif. By een buurhuis het ek die gordyne voor die venster sien roer. As al die aandag Jacko ietwat ontsenu het, het hy nie dit hoegenaamd nie gewys nie. Hy is hier in Penguin Place op asof hy met `n Gold Wind onder sy sitvlak gebore is.

Bayete, my vriend. Mooi loop. Weet dat hierdie 71-jarige jou avontuurlus en ondernemingsgees bewonder. Maar darem nie dermate dat ek self begin jeuk nie.
(HvD)

SY LAASTE GRAPPIE ….

Pieter, Wena en hul boesemvriend, Herman le Roux, in Sabiepark in die winter van 2011.

Môre uit Melkbos

Om as t ware met `n laaste skalkse grappie op jou lippe, die klink van `n glasie en `n vonkel in die oog rustig jou laaste asem uit te blaas, is nie elkeen beskore nie. Pieter de Kock – die opgeruimde mens met die slag om altyd vir elke geleentheid ‘n kleurryke storie met ‘n stewige skeut humor op te diep – was een van die uitverkorenes.

Sy dogter Sonja het uit Australië `n merkwaardige e-pos gestuur oor haar pa se laaste ure, op grond van inligting van haar broer, Hennie, wat saam met sy ma, Wena, in die hospitaal in Pretoria by hom was tot die einde.

Sterfbedstories is natuurlik uiters privaat. ‘n Mens respekteer die naasbestaandes se diepe leed en behoefte om sekere intimiteite in hul harte te bewaar. Daarom het ek eers lank besin voordat ek huiwerig by Wena aangeklop het met die vraag: “Mag ek maar Sonja se roerende weergawe deel?”

Wena het die groen lig gegee. Met haar goedkeurende medewete dan Sonja se brief, volledig:

“Diê van julle wat nie weet nie.

“Nadat die bloedklonte uit Pa se niere verwyder is, was sy bloeddruk baie laag. Hul kon nie dadelik die dialisemasjien weer koppel nie. Sy hartritme was uit en hulle moes hom skok. Pa was 100% by. Ma, Estelle en Hennie was by hom. Hulle het langs die bed gestaan terwyl hulle hom geskok het.

“Nadat hulle hom geskok het, het my Pa gese dit was erger as Guy Fawkes. Hy het om die bed gekyk, gesê hy dink almal daar is oud genoeg en toe ‘n grap begin vertel.

“Hennie sê sy bloeddruk was nie goed nie. Die personeel was baie besig om nog medikasie aan sy drup te koppel, ens. Pa sê toe vir Hennie: ‘Bokbout, ek dink nie hulle luister vir my nie.’ Hennie antwoord: ‘Pa, hulle is bietjie besig nou. Pa moet maar later die grap klaar vertel.’

“Die hartritme en bloeddruk het genoeg verbeter en Pa is weer aan die dialisemasjien gekoppel – maar met ‘n bloeddruk van 60/20 wat nie goed is nie.

“Hennie het die suster gevra en hy is ingelig dat Pa se prognose nie goed is nie. Sy het vir hom gesê as iemand hom wil sien, moet hulle nou kom. Ons het klaar gereel dat sy broer – Oom Henré – van die Kaap af sou vlieg Saterdagoggend. Coba (sy ander dogter) sou weer deurry van Nelspruit. Hennie het vir Ma ingelig sodat sy op hoogte van die situasie was. Dank die Vader, my Pa self het niks geweet nie.

“Nadat Pa geskok is, was hy baie dors. Hy het baie water gedrink en so twee keer vir Ma gese dat `n koue bier darem nou lekker sal afgaan. Ma het gevra dat Estelle (Hennie se vrou) vir die suster gaan vra of `n bier in orde sal wees. Die suster het gesê hul kan vir hom enigiets gee wat hy wil hê. Estelle reël toe dat Hennie (wat ‘n rukkie uit is) met `n bier en twee glase by die hospitaal opdaag. Hennie het die bier in die twee glase gedeel. Hulle het glase geklink. Pa het sy bier deur `n strootjie gedrink.

“‘Dit was darem nou lekker,” het hy sy genoegdoening te kenne gegee. Sy bloeddruk het so effe opgetel en nie lank daarna nie heeltemal geval. Toe maak hy sy oë vir die laaste keer toe. Hennie, Estelle en Ma was heeltyd by hom.

“Vir dié van julle wat wonder wat het dan van die grappie geword: My Pa het sy grappie vir die suster klaar vertel!

“Pa wou nie in `n bed eindig soos sy eie Ma nie. Pa wou nie aan masjiene gekoppel wees nie. Pa wou net sy groot ‘bang’ gehad het. Die ‘bang’ was toe nie só groot nie, maar hy het rustig en sonder pyn gegaan.

“”Enig in sy soort. `n Fantastiese Pa en wonderlike man vir my Ma. Ek het besluit om troos te vind in my 8-jarige Lechel se woorde. Ons het onlangs twee van ons troeteldiere verloor. Lechel het besluit dat Oupa nou mooi na Barney en Ginger kan kyk. Liefdegroete, Sonja.”

Aangrypend vir my dat Pieter tot op die laaste só aan homself getrou gebly het. In Bloemfontein het ons ‘n dokter geken wat altyd gesê het: soos jy gelewe het, sal jy sterwe. Pieter – immer die opgeruimde, opbeurende een – kon werklik op geen ander manier gesterf het nie.

Hy was hy tot die bittereinde. (hvd)

ZOEMA MET WOEMA

Môre uit Melkbos

Allerlei variasies bestaan van die storie oor die seuntjies en meisietjies wat kaal gekerjakker het. Mamma wil by haar dogtertjie weet: “Was julle almal dogtertjies of was daar seuntjies by?” Dogtertjie, doodonskuldig: “Weettie, mamma , ons het nie kleertjies aangehad nie.”

Wel die een of ander tyd groei bewustheid, en word juis die gebrek aan “kleertjies” `n soms problematiese onderskeiding. Lank lewe die verskil!

Presies wanneer die bewuswording van die eie toerusting begin, verskil waarskynlik van geval tot geval. Soms, skat ek, tree dit vroegerig in.

Nou die dag n.a.v. die storie van John Wayne Bobbitt se verlies aan die hand van `n vleismes (seker meer korrek: aan die hand van sy wraakgierige vrou, Lorena!) die storietjie vertel van die Randse seuntjie wat in die bad by sy pappa wou weet watse dingetjie is dit hierdie?

Pa kon die name afrits, in alfabetiese volgorde. Min ander goeters het soveel name (en naampies), vleiend en onvleiend. In die gees van die tyd was daardie pa se antwoord: “Hulle noem dit sommer `n bobbitt, my seun.”

In die moderne idioom sou `n vader seker kon antwoord: “Daai ding is `n zoema” (of `n toti, soos in Amazimtoti, soos ek vanoggend op Die Burger se brieweblad lees).

`n Zoema val nogal lekker op die oor. Vervaardigers van allerlei hulpmiddels vir, soos dit elegant genoem word, “erektiele disfunksie” en daardie klas teenspoed, sou met slagspreuke soos die volgende kon toor:

Sit nuwe woema in jou zoema!

(hvd)

PENIS-PENARIES

More uit Melkbos

As iemand dink daar word baie geskryf oor Jacob Zuma se gereedskap moet ek hierdie verrassende nuus meedeel: die Zuma-sage is eintlik maar `n vulletjie onder die penis-penaries. Die Groot Bul was ongetwyfeld mev. Lorena Bobbitt se bloederige stukkie chirurgie met `n vleismes op haar man John – uit wraak oor seksuele mishandeling vroeër die aand.

Letterlik miljoene woorde oor elke aspek van die opspraakwekkende aangeleentheid het in 1993 uit rekenaars en die laaste generasie outydse tikmasjiene gevloei. Meer as dertig media-organisasies, ook uit die buiteland, het die sogenaamde “plattelandse hofsaak van die eeu” in Manassas, buite Washington, bygewoon. “The case of the unkindest cut” is behoorlik in die kollektiewe Amerikaanse geheue uitgekerf.

Selfs ernstige koerante het lustig op die tradisionele terrein van die ponies rondgalop. Die New York Times het `n volblad afgestaan aan die operasie om mnr. Bobbitt se orgaan weer te heg – kompleet met grafiese diagramme. Die Washington Times het `n bylae van 24 bladsye gepubliseer oor mans oor die hele Amerika wat soortgelyke amputasies aan die hand van hul vroue of jaloerse minnaars moes verduur.

Die ganse Amerika het penorent voor die TV vasgenael gesit om elke woord uit Manassas in te drink. John, `n fris uitsmyter by `n nagklub, het voor die kameras gespog hy sou in die toekoms nog beter bedeel wees as voor Lorena se destruksie. ‘n Aanbod om vir `n koele R50 000 uit te haal en te wys, is oorweeg maar van die hand gewys.

Entrepreneurs het `n geil tyd beleef. Voor die hof is T-hempies verkoop met slagtersmesse waarvan bloed drup daarop. Die Courthouse Deli het `n spesiale middagete aangebied: ‘n worsbroodjie van agt duim, glo die presiese lengte van die stuk Bobbitt-anatomie wat na die nagtelike operasie so minagtend by `n motor se venster uitgewerp is.

`n Toestel bekend as die BPP (Bobbitt Penis Protector) is in New York bekend gestel met … wie anders? … as seremoniemeester as die man wat die beskeie “penis” soveel reklame besorg het. Die “Protector” is vervaardig uit klipharde akriel en aanspraak is gemaak dat dit volkome kombuismes-bestand is ten einde `n goeie nagrus te verseker. `n Pornografiese rolprent is uiteindelik vervaardig – waarin die skou-perd Bobbitt selfvoldaan alle twyfel uit die weg geruim het dat hy iets kort kom.

In Johannesburg wou `n seuntjie in die bad glo in daardie bewoë dae by sy pa weet wat is daardie dingetjie van hom se naam. “Seun,” het die pa geantwoord, “dit word `n bobbitt genoem”. Daardie naam het nie juis inslag gevind nie, maar een ding is nou maar wors: die geval Bobbitt het, meer as enigiets anders, die woord “penis” laat penetreer tot die algemene gebruikstaal van die media wêreldwyd. Trouens, in die gekattemaai oor die Zuma-skildery is in Suid-Afrikaanse koerante `n vindingryke verskeidenheid ander name opgerakel wat nie in doktersboeke voorkom nie.

Laat my skielik aan iets helemaal anders dink: die vroulike eweknie. Soos “penis” is “vagina” geen gefluisterde woord meer nie. As ek reg onthou, was daar selfs al `n toneelstuk met “vagina” in die titel (tietel?). Wat my oë (my oë) ietwat laat laat rek het, was toe ek die eerste keer die minder wetenspalike en veel minder elegante ekwivalent in `n koerant sien – daardie vierletterwoord wat nie met `n “d” begin nie. `n Onverskrokke skryfster het dit daglig gegee in `n resensie van Koos Prinsloo se skokboek Slagplaas

Die skryfster is nou, soos almal van ons, ‘n paar jaar ouer. Sonder om haar naam te laat glip, sal ek haar dit egter ter ere nagee: selfs met `n grys haredos en enkele rimpels hier en daar (so lyk dit op foto’s) veroorsaak sy nou nog meermale, sal ons maar sê, trillings van skok met haar pront manier van `n ding (manlik, vroulik of andersins) op die naam noem. (hvd)