Nov 8, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Goeie more uit Melkbos
Berigte te velde is dat mense vergeefs hier soek na die blog “‘n Belhar-scenario” waarin ek op grond van die boek “Belhar Geweeg” ‘n somber toekomsprojeksie skets oor die moontlike “kronkelpad” wat daardie VGK-belydenis in my oë kan loop. Dit is die blog van 29 OKTOBER. Hou net aan blaai. Dis die vierde, vyfde blog van bo. Dankie vir die belangstelling. (hvd)
Nov 7, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Op Woensdag 2 Januarie 1963 het ek as groentjieverslaggewer by Die Volksblad ingestap. By die 50ste “herdenking” van die begin van my formele Persloopbaan (net twee maande ver) het ek oor my loopbaan uitgewei in ‘n dokument van amper 35 bladsye wat ek ‘n kykie deur ‘n ek-bril noem.
Die ek-bril voorveronderstel vooroordeel en dalk oordrewe simpatie vir my onderwerp! Ander sal dinge dalk heel anders onthou – in Volksblad se eeufeesboek, “‘n Lewe van sy eie”, was ‘n nogal pynlike voorsmakie daarvan!
Geen spesifieke teikengehoor was in gedagte nie. Eintlik was dit ‘n oefening vir eie vermaak, maar darem ook met die HvD-versameling by Ineg (PV 677) in die agterkop.
Ek deel dit ná nadenke graag met blogvriende. Die pad daarheen is via my webblad www.hennievandeventer.com Op die tuisblad is ‘n skakel vyftig jaar.
Ek het nerens doelbewus oneerlik probeer wees nie. Ek draai ook nie doekies om nie.
Ek aanvaar dat nie elke aspek oral guns sal vind nie.
Die relaas sal natuurlik nie vir almal ewe relevant, ter sake of boeiend wees nie. Om dit te lees, is harde werk. Die maklike uitweg as dit te lank, te vervelig of te onhoudbaar raak, is om die wysvinger vinnig in te span om daaraan te ontsnap.
Wees gegroet. (hvd)
Nov 6, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Iewers in Salt Lake City of elders in Utah sal my vriend Rod Decker seker vandag sy kruisie vir Mitt Romney gaan trek. Rod was die enigste Mormoon in ons klas van Nieman Fellows in 1976/77 aan die Harvard-universiteit aan die wal van die Charlesrivier in Cambridge, Massachusetts.
Ons nuwe klas het nog skaars ons vere ingeskud in Cambridge, toe was dit ook sulke tyd: Amerika is stembus toe. Die kandidate in 1976 was Jimmy Carter vir die Demokrate; Gerald Ford, die ingesetene in die Wit Huis, vir die Republikeine. Die Suid-Afrikaner, Hennie van Deventer, en die Mormoon, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in daardie Niemanklas. Ons man, Gerald Ford, het ‘n goeie drag slae gekry by die oninspirerende Jimmy Carter, grondboontjieboer van Plains, Georgia – ‘n latere (vir my nogal verrassende) wenner van die Nobel-Vredesprys in 2002.
Uitslagnag was ‘n groot gedoente met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel. John Painter van Portland, Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!
Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) –is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Sneeu was byvoorbeeld vir hom “white shit”. Hy het nog leliker name vir ander goed. Painter sal ongetwyfeld aan die Amerikaanse Weskus naby Portland, Oregon, waar hy in ‘n aangename houthuis langs die see afgetree het, sy kruisie vir Barack Obama gaan trek. Hy is ‘n onwankelbare Obama-entoesias.
Met Obama se eerste verkiesing het John vir my ‘n dringende e-pos gestuur: “Are the people of Cape Town also dancing in the streets?” Ek moes hom ongelukkig teleurstel dat ek hier op Melkbos nie eens van ‘n paar danspassies in die strate bewus sou gewees het as daar wel was nie.

‘n Spotprentjie in 1976. ‘n Selfvoldane Jimmy Carter – die ene tande.
Terug in 1976. Toe die aankondiging kom Jimmy Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood.
Ja, die Amerikaners voel ernstig oor hul politiek. Só ernstig dat selfs kindertjies hul kruisies kan trek, soos op bogenoemde stembriefie met ‘n keuse tussen Jimmy Dolphin en Jerry Seal. Dit was vir ons alte oulik en is dadelik plakboek toe ná ‘n besoek van die Niemans aan die beroemde Boston-akwarium vir ‘n onthaal – ‘n aand wat om ‘n andere rede as die stembriefie nogal vir ons gedenkwaardig geraak het.
Ek en Tokkie is saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die akwarium. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na benede te ry – onstuitbaar op pad na “Jimmy Seal” in die robbepoel in die middel! Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.
Met die deurblaai van my pak Amerika-albums kry een klein foto’tjie nuwe relevansie Dit is geneem van die veerboot van Manhattan na Staten Island (wat nou so onder Sandy deurgeloop het) – die beste winskopie daardie dae vir ‘n besoeker aan New York wat sy dollars tel. In hul volle glorie troon die tweelingtorings van die Wereldhandelsentrum agter Tokkie en Marisa bo die ander geboue uit. Op 11 September 2001 gebeur die ondenkbare egter. Hulle was gelyk met die grond – “Ground Zero”.
Dit bring herinneringe aan ‘n ete een aand by die gemelde Rod Decker en sy Katolieke vrou, Christine – ‘n aand sonder vleis, maar dit net terloops. “Julle moet Suid-Afrika ophou druk,” waarsku ek in ‘n stadium in ‘n oomblik van bravade. Maar julle kan ons tog niks doen nie,” sê Rod. “Moenie so seker wees nie. Ons sit eenvoudig ‘n bom in een van SAL se Boeings en gooi hom op New York.” Ek wonder of Decker en die ander teenwoordiges na 11 September ook daardie lighartige, ligsinnige opmerking onthou het.
In elk geval, die arme Decker. Soos met die verkiesing van Jimmy Carter gaan hy vandag weer aan die verloorkant wees, vrees ek, Painter gaan die een wat in die strate van Portland kan dans! James Thomson sal nie eens ‘n traantjie kan wegpink nie – hy is lankal langboompies toe in Boston. (hvd)
Nov 4, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

1Time .. Last Time. Koebaai Meraai.
Naand uit Melkbos
Sunair, Interlink, Nationwide, Velvet, 1 Time ….. dis ‘n droewige geskiedenis. Soos Suid-Afrika se laekoste-lugdienste vou, laat dit ‘n mens dink aan die kinderrympie oor die tien klein paddatjies (in Engels steeds Ten Little Niggers):
Tien klein lugdiensies
Klief deur die lug,
Een raak bankrot
En verdwyn met ‘n sug;
Nege klein lugdiensies
Veg vir bestaan,
Nog ene tuimel
En net agt sukkel aan ….
Simpatie, empatie, deernis – my hart loop oor met alles vir al die duisende die in-die-steek-gelate 1Timers (LastTimers). Veral die ouens wat weens die soveelste lugdiens-bankrotskap begrafnisse, bruilofte en belangrike verjaardae gemis het.
Ook daardie arme drommels wat lank gespaar het om oplaas ‘n vliegkaartjie te kan bekostig. Nou is elke sent spaargeldjies saam met hul drome daarmee heen terwyl hulle met Jan Tuisbly se vliegtuigie vlieg.
Kiepie het op 8 Julie 2008 vier vliegkaartjies Nelspruit toe by Nationwide gekoop vir R5 500. Volgende: Nationwide is hopeloos bankrot. Moet maar weer opdok of die kleinkinders teleurstel.
Vandag, meer as vier jaar later, stuur ek steeds boodskappe om te verneem wat dan van my eis geword het. Nie eens die hoflikheid van ‘n “het jou brief ontvang” val my te beurt nie.
Die Tshwane-trust (likwidateurs) stel blykbaar nie in passasiers se navrae belang nie.
Die SAL (SAA) vlieg voort – die belastingbetaler is ‘n wonderlike melkkoei. Die ander lugdienste beur teen ‘n neuswind. Watter een is is volgende wat koerantopskrifte haal?
As ek raad het: Pas maar op vir die “flaai baai naaits”!
(hvd)
Nov 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Mellkbos
Racheltjie Beer se heldedaad in die hartjie van die winter in die barre sneeulandskap aan die voet die Drakensberg is, volgens oorlewering, iewers in die 1840′s verrig. In 1920 – ‘n ronde 80 jaar later – raak dit die eerste keer opgeteken danksy Eugene N. Marais, ‘n digter-dromer, romansier, woordkunstenaar, kenner van bobbejane en miere, wonderwerker …. noem hierdie begaafde man wat jy wil. Maar ‘n historikus is hy nie.
Dis ‘n genade dat die Trek enkele jare tevore – ook die oortog van die Voortrekkers met hul kakebeenwaens, Afrikanerosse en (kaalvoet?) vroue van durf oor die nimlike Drakensberg – nie dekades lê en stof vergaar het nie. Hoe bloedarmoedig sou die Afrikanergeskiedenis dan nie gewees het en hoe jammerlik dun Gustav Preller-hulle se vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke nie.
Ollie Olwagen het in vanoggend se BY in sy brief, ”Rachel de Beer is bloot ‘n afspieëling van Hazel Miner”, waarskynlik ‘n paar hardnekkige vasskoppers stof tot nadenke gegee. Verre sy dit van die uwe om verdere sout in hul wonde te vryf. Die gedagte kom egter maar net by my op:
By koerante word soms met verfrissende selfspot opgemerk: Moenie dat die feite ‘n goeie storie bederf nie. Dit is nogal onthullend hoeveel briefskrywers die laaste paar weke dieselfde volhardende geringskatting vir feite openbaar het as wat kritici soms aan joernaliste toedig. Hou ons nie maar almal van ‘n goeie storie nie?
(hvd)
Nov 1, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Een keer per maand vergader ‘n klomp oumansklier-veterane in Bloemfontein om nuwe lede in hul klub te verwelkom en hul rillerverhale as ‘t ware aan die groot klok te hang. Die naam is die (Jakob) Regop-groep.
My vriend Sarel Venter is informeel as nuwe voorsitter benoem in die lig van resente ysingwekkende ervarings waarvan hy vriende in ontsenuende e-pos-boodskappe ingelig het. Geen foto’s was aangeheg nie .. maar Sarel is nie ‘n man wat lieg nie. Sy woord is sy eer. Geluk, nietemin, Sarel met jou voorsitterskap. Hou hulle maar so kordaat en paraat as jy kan – die lede van die klub, bedoel ek.
Synde die eerbare man wat hy is, het Sarel vinnig na die versending van sy eerste e-pos met sy “blaasrelaas” ‘n korreksie aangebring, wat ‘n ietwat ander perspektief gee. Aanvanklik het hy weggeval met: “Toe ek verlede Sondagnag in my hospitaalbed lê met vier verpleegsusters ….” Sy nuwe weergawe lyk so: ”Toe ek verlede Sondagnag in my hospitaalbed lê terwyl vier verpleegsusters met my werk …..” Nuanseverskil, nie waar nie!
Dis nie die punt nie. Erger dinge volg in daardie eensame hospitaalbed met die genoemde vier aan’t woel na die voetenent se kant toe, en ander verpleegsters wat om die gordyn loer, wat ‘n kompliment kan wees of nie.
Sarel skryf hy het homself lê en bejammer, want hy het pyn en lyding deurgemaak weens ‘n blaas vol gestolde bloed. ‘n “Bloedstollende” belewenis. Drie weke tevore het hy ‘n prostaatoperasie ondergaan. Dit het gou beter gegaan. Op ‘n Sondagoggend begin hy egter massief bloei en is laatmiddag noodgevalle toe gebring.
“Daar lê ek toe en kyk na my weerkaatsing in die afgeskakelde TV-stel bokant my bed. Met ontblote onderlyf, kaal, naak, gekoppel aan ‘n kateter wat vroeër die aand in noodgevalle ingesit is. Ek is in die Kardiologie-saal opgeneem omdat Urologie/Ginekologie vol was. ‘n Senior suster van Urologie/Ginekologie (maar met ‘n naamplaatjie waarop net haar naam en in groter letters GYNAECOLOGY staan; nogal!!), het kom help. Die susters by Kardiologie werk mos nie met my soort probleem nie. Suster Nel was duidelik baie bekwaam en in beheer. Drie Kardiologie-suster het toegekyk hoe dit gedoen word. Soms hand gegee. Nog nuuskieriges het telkens om die gordyn kom loer.
”Vier keer daardie nag het suster Nel my blaas gespoel. Wat ‘n baie ongemaklike en pynlike ervaring! Met ‘n dik spuit het sy deur ‘n vertakking van die kateter water tot in die blaas gespuit en dan met dieselfde spuit onttrek en in ‘n emmer leeggemaak. Keer op keer, terwyl ek wriemel en bibber. Deur ‘n inlaatpypie is sakke vol water na my blaas ingevoer en deur die kateter uitgetap. Maar kort-kort het die kateter weer verstop geraak. Dan moes ‘n suster die plastiekpyp kom frommel en buig totdat die water met bloedstolsels weer vrylik uitgeloop het.
”Teen die volgende oggend – ná ‘n nag waarin ek nie geslaap het nie (en my medepasiënte dalk ook nie) – was die bloedstolsels min of meer uitgetap, en kon ek teater toe geneem word. Daar is die bloeding met kouterisering (toeskroei) gestop.”
Nou-ja, die uwe is maar ‘n sensitiewe siel. Vir Sarel het ek laat weet: Ek lees sy relaas deur skrefiesoë om aan die volle impak te ontsnap. Ek sidder. Hoe broos is ons arme manlike spesie nie….
Maar vroue kry ook hul beurt. By die geboorte van Johan, ons seun, het ‘n klomp leerlingverpleegsters kom inloer. Een van die toeskouers vra later vir my vrou: “‘Onthou jy my, ek is Wolf se suster?”” Wolf was saam met haar in matriek. Vroutjie se lakonieke kommentaar: “Sy kon Jakkals se niggie gewees het sover dit my toe aangaan het!”
In hospitale verrig die medici en hul verpleegspanne deesdae natuurlik wondere met die menslike lyf. Ek verkies egter maar om nie te weet wat alles onder narkose gebeur nie. Selfs die skeerproses is ‘n vagevuur. En ‘n kateter!
Dr. Goehart (dr. Ryno Verster) wat tot 80 ‘n mediese rubriek vir Die Volksblad geskryf het, het op ‘n keer gelamenteer: “Hulle sit ‘n pypie deur elke gaatjie en as jy nie genoeg gaatjies het nie, verskaf hulle vir jou meer!”
Dit alles laat my dink aan ‘n moontlike parodie op ‘n versie oor die ouderdom wat in my hekelboekie “Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof” verskyn het: Deur elke denkbare kanaal/van anaal tot urinaal/ druk die dokters ‘n naald /so dik soos ‘n paal!
Naskrif: In Die Volksblad is ‘n keer berig van ‘n kerk se buitengewone kateter (pleks van kateder). Die lakonieke Paul Marais het opgemerk: “Baie gerieflik vir lidmate met blaasprobleme!”
(hvd)