‘KOERANT-BAAS’

BO: Volksblad-era, 1980’s. ONDER: My hemp!

More uit Melkbos

Ontmoet HvD – “koerant-baas”.

As dit alte vernaam klink, lees liewer verder. Die waarheid is dat ek nie Media24 oorgeneem het of een van die paddastoel-ponies in daardie stal aangeskaf het nie. Nie eens Melkbos se Easi-Ads nie.

Ek borg net voortaan die woord “koerant” in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op permanente grondslag. “Koerant” is nou my woord, net my woord, vir altyd en altyd. Onomkeerbaar. Eksklusief.

Oud-kollega Ollie Olwagen meen dit maak my ‘n volwaardige koerant-baas, of nee, eintlik die enigste koerant-baas op aarde. Die woord “koerant”, presies so gespel, kom immers net in Afrikaans voor. Die naaste eweknie is die Engelse “courant”.

Tot op hede het ek die woorde “koerant” en “joernalis” by die WAT geborg – maar nie so waterdig nie. Ander borge kon na willekeur bykom. Iemand kon die woorde selfs wegraap deur meer te betaal.

Gister het ek (met my vrou duisend se aanmoediging) besluit om die bul by die horings te pak. Ek sou opgradeer.

Koerante was immers my lewe. Ek het 36 jaar vir koerante gewerk: eers by Die Volksblad, toe by Beeld (eerste nuusredakteur), toe weer Volksblad (redakteur vir 12 jaar) en daarna Naspers (uitvoerende hoof: koerante). Media24 is eers later gestig. Eintlik langer as 36 jaar. Van 1958 tot 1962 het ek vyf jaar as beurshouer vakansiewerk by Die Volksblad gedoen. Op Tukkies was ek in 1961 al redakteur van Die Perdeby.

Ek stuur terstond my geldjies per internet na die WAT se rekening op Stellenbosch, en maak doodseker dat die alleen-borgskap in beton gegiet is.

Die heuglike sensasie daarna kan ek kwalik beskryf. Ten minste voel ek ek het iets betekenisvols gedoen. Iets blywends. Iets wat ‘n mens dalk kon verwag het deur ‘n groot koerante-konglomeraat soos Media24 gedoen kon gewees het, Gedoen behoort te gewees het.

Maar ek is dankbaar vir die gaping om dit namens hulle te kan doen – vir plus-minus die prys van ‘n bootvaart na Walvisbaai en Lüderitz. Dié genotvolle ervaring had ek pas. Maar die onbetwiste baas van ‘n woord was ek nog nooit. Boonop so ‘n dierbare woord.

Kyk, die dag as ek begrawe word, wil ek graag in die eerste instansie as trotse koerantman begrawe word. As koerantman in hart en niere wat sy loopbaanboek, “Kroniek van Koerantman”, afgesluit het met die woorde uit die hart: “Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie”.

As eksklusiewe borg van die woord “koerant” hys ek daardie vlag. Hier staan ek. By die koerant, soos ek dit ken. Laat “Het daghet digitaal” maar sy vlerke sprei. Laat allerlei “apps” aangelap word. Laat die sosiale media maar al hoe dieper op die tradisionele koerant se lewensruimte invreet. Aan HvD en sy woord in die WAT sal dit niks doen nie.

Selfs as die dag sou aanbreek dat die woord “koerant” net in die verlede tyd geskryf word – wanneer eendag in die verre verskiet, wonder ek – sal MY woord in die WAT bly. Dit sal MYNE bly.

Selfs as ek al lank in my nis ge-kis is langs die NGK Melkbos (dis nis nommer 11, vir dié wat wil weet), sal dit leef en oorleef.

Koerant. HvD. Ons hoort mos saam. Ek en my passie. Nou is ons. Vir altyd.
(hvd)

‘N SUURLEMOEN, ‘N SKERPIOEN

More uit Melkbos

Al Debbo was vir jou oulik en snaaks of onuitstaanbaar (na persoonlike smaak), maar vir ons generasie was hy ‘n huishoudelike naam. As komediant, akteur en sanger kon jy oral in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld sy voetspore vind – diep spore.

Hoe treurig dat so ‘n ster twee jaar gelede op 87 as ‘n brandarm man graf toe is.

Oor ou Al met sy rol-oë en bossie-wimpers is ek aan die dink gesit deur Herman Lategan se lekker artikel in Sondag se Rapport oor die weghôl-treffer “Hasie” van Anton de Waal en Nico Carstens. Dit het een van Al Debbo se handelsmerke geword.

Dankie, Herman – dis die eerste keer dat ek daardie lirieke van voor tot agter te lese gekry het – en pertinent gewys is op al die verrassende, wulpse “double entendres”: “my pannekoek, my heuningnes….”

Van Hasie is in ‘n japtrap 50 000 plate verkoop in die dae toe 50 000 nog amper so onbereikbaar soos die maan was. In Amerika sou net een so ‘n voltreffer soos “Hasie” Debbo ‘n ryk man gemaak het – onthou watter goudmyn was die blondine Farah Fawcett-Majors se “sexy” plakkaat.

Dan was daar nog Debbo-uitskieters soos “Sonbrilletjies” wat die rande (of destyds nog die ponde) moes laat inrol het. En sy rol in lekkerlag-flieks soos “Fratse in die Vloot” saam met Frederik Burgers.

Maar toe eindig hy as ‘n motorwag by ‘n Bloemfonteinse inkoopsentrum – afhanklik van fooitjies. Goeie genade!

Debbo se storie was bepaald ene met ‘n stertjie, soos Rapport se opskrif gelui het. Maar ‘n ander soort stertjie – een waaroor hy graag teenoor wie ook al wou luister, sy hart uitgestort het.

Reg of verkeerd, het Al Debbo geglo hy is “ingeloop”, “verneuk”, “vir ‘n raaid gevat”. Ander het die geld uit sy sukses gemaak, nie hyself nie, het hy herhaaldelik by jou gekla. Miskien het hy maar net te veel en te maklik geld uitgegee – hoe sou ‘n mens nou weet?

In daardie inkoopsentrum had Tokkie ‘n rukkie lank – voor ons verhuising Kaap toe – ‘n geskenkewinkeltjie. As ek by haar gaan inloer, kon ek nie anders nie as om die toenmalige bekoorder van skares hangskouers tussen die motors te sien rondloop vir ‘n genadebroodjie.

En te wonder …

Later het hy tog weer voor klein gehoortjies opgetree. Ek was nie lank in die Kaap nie (vroeg in die 90’s) toe die Pers se veiligheidsmense inBloemfonteinkonferensie hou. Die uwe is genooi om ‘n toespraak te kom lewer. Ons het die aand gekuier soos tradisioneel by Die Volksblad gekuier is: met braaivleis en pap in die binnehof by Voortrekkerstraat 79 (nou Nelson Mandelarylaan).

Debbo het “Hasie” gesing, en “Sonbrilletjies” en ander bekendes uit die jare her. Hy het sy oë gerol en sy tandeborsel te voorskyn gebring om sy wimpers te “kam”. Applous het weer opgeklink, en weer. HvD het laat aan die woord gekom. Hy moes kort praat sodat die vleis nie te koud raak en die bier te warm nie.

Ek was oorweldig met ‘n diepe jammerte vir die man. Die Al Debbo-era was toe al so tasbaar verby dat dit die hart week gemaak het: sy weerloosheid en sy hard probeer om die ou glorie te laat herleef. Dit was die laaste keer dat ons paaie gekruis het. In 2011 (as ek reg onthou) was die berig nogal op die voorblaaie van hierdie “ikoon” se dood.

‘n Storie met ‘n stertjie, ja. Die “heuningnes” het vir Al persoonlik ook ‘n “suurlemoen” geword – ‘n “spinnekop”, ‘n “skerpioen”.
(hvd)

BRUID SE SINTUIG NO. 7

Uit Melkbos

VAN ‘n sesde sintuig hoor ‘n mens dikwels. Ek is seker van die bestaan van ‘n sewende. Dit kom eksklusief by moderne bruide voor. Ek praat van hul verstommende vermoë om huwelikbestemmings uit te snuffel wat perfek by hul persoonlikhede en drome vir hul Groot Dag pas.

Die uwe is 46 jaar gelede in die NG kerk Bultfontein getroud. Agterna was in die kerksaal ‘n ietsie te ete en te drinke en ‘n paar toesprakies. Studentemaats het die bruidegom onseremonieel geborsel. Met ons kinders 30, 35 jaar later was dit al ietwat van ‘n ander storie. Pa was nog hulpvaardig besig om ‘n trouplek te help soek, groot genoeg vir al sy vriende, toe het seun en skoondogter al ‘n intieme gasteplasie vasgeknoop. Dogter en skoonseun is weer na ‘n wynplaas 70 km van die ouerhuis.

Sedertdien het troues nog meer eksoties geraak, soos ons gereeld in Huisgenoot se uitvoerige huweliksdekkings sien. Glansmense hak die knoop deur op die strand, tussen wilde diere in ‘n reservaat, tussen wynvate, op bergspitse, onder die geritsel van blare in populierbosse en nog wat. Saterdag is die Van D’s diep die Weskus in agter so ‘n huwelik aan.

Google was nie van veel nut met die uitwerk van die beste roete nie. Elke keer as hierdie ou hoopvol die trouplek se naam intik, word net ‘n klomp nuttelose Australiese besonderhede uitgegooi. Maar met dese en gene se hulp en advies is ons op die R27 af, deur Vredenburg, verby St. Helenabaai, Bittaniabaai se kant toe. Ek sien toe sommer ook hoe lyk Lampiesbaai en Shelly Point.

Die huwelik vind plaas met die dreunende Atlantiese Oseaan as agtergrond, langs ‘n skilderagtige strandjie met tamaaie rotse. Die stralende bruidspaar sweef af strand toe tussen ‘n erewag deur van bruilofsgaste wat met kinderlike plesier die lug met seepborreltjies vul. Almal (buiten dié met heupe, rûe en knieë) is naderhand saam op die strand. Als in als ‘n “borrelende” okkasie.

Die bruid wat haar droomplek met sorg uitgesoek en alles haarfyn uitgewerk het, is die skone Helen Jansen van Rensburg (kyk die foto!), dogter van ons vriende Philip en Nancé Jansen van Rensburg van Sunset Beach, Blouberg (en mede-Sabieparkers). Helen is getroud met Nicholas Muirhead. Sy is ‘n raakvat-meisie. Met ‘n bruid se sintuig nommer sewe het sy ook raakgevat met haar keuse van trouplek – ondanks Google se onkunde. Die bruid en hierdie afgesonderde strandjie lyk of hulle vir mekaar bedoel is.

Sy kon sweer Helen het akkuraat bepaal hoe laat dit hoogwater sou wees, het Tokkie later opgemerk. Met die laaste troufoto op die rotse het die woelige branders al gevaarlik naby die stralende egpaar gebreek. Helen het sweerlik ook akkuraat vasgestel hoe laat die wondermooie sonsondergang sou aanbreek, meen ek. Hoe anders kon die die natuur so volmaak saamspeel om die program soos ‘n moderne feëverhaal te laat ontvou?

Geluk, Helen en Nicholas, van die bejaarde Oom Hennie en Tannie Tokkie (nie so bejaard nie!) van Melkbos. Onthou, voorkoms kan bedrieglik wees. Onder die spierwitte haredos is hierdie skynbare ou suurpruim se hart darem nog jonk genoeg om sulke onortodokse plesiere saam te geniet. En TvD? Nog uitgeknip vir ‘n kaalvoet-bruidjie iewers op ‘n stukkie wit sand, meen ek. Ek sien my vrou so in my verbeelding. (hvd)

‘N LEEU SE KOS

More uit Melkbos

Vir my vriende in die noorde: Die lekker spotprent in vanoggend se Burger oor ‘n leeutjie wat sy lippe aflek vir die Spur-spyskaart!

(hvd)

‘N MAN VIR O-DAG



FOTO EEN: ‘n Glasie op ons eerste ponie. Die span agter die poging: HvD, Herman le Roux, assistent-redakteur, Nols Nieman, hoofsubredakteur, en Chris Karsten (ja die skrywer), nuusredakteur.

Middag uit Melkbos

Niks wat jou so energiek in ou foto’s laat indolwe as die heengaan van mense met wie jy ‘n paar sakke sout saam opgeëet het nie. So ‘n mens is vanoggend oorlede: Nols Nieman, wat as hoofsubredakteur een van my regterhande by Die Volksblad (nou Volksblad) in die jare 80 was.

Ek het die kreatiewe Nols uit Port Elizabeth laat terughaal omdat ek uit alle oorde gehoor het hoe ‘n voorslag hy was. Die Volksblad het juis daardie tyd behoefte gehad aan ‘n kookwater-hoofsub (die man in die voorste linie wat die koerant aanmekaarsit). Ons had die beeld van “die vaal Boertjie” wat ek as nuwe redakteur vasbeslote was om af te skud.

Saam het ek en Nols in ‘n goue dekade heelparty goue dae gedeel: o.m. die eerste Volksblad in volkleur in 1983, die eerste Saterdagponie in 1985 en die grote, die eerste oggend-Volksblad op Maandag 4 Maart 1991…

FOTO 2: O-dag! HvD, Nols Nieman en Philip van Rensburg, nuusredakteur.

Laasgenoemde was ná ‘n aanloop van maande se beplanning en weke van reklame waarby Nols ook sterk betrokke was. Nadat sowat 40 000 lisensieplakkers, 5 000 sonpette, T-hemde, nuwe voertuig- en kafeeplakkers, 23 000 reklameplakkate, 83 radio-reklameflitse, berig op berig, foto op foto, banier op banier en advertensie op avertensie die voordele van ‘n oggendkoerant aan lesers uitgespel het, het D-dag – eintlik O-dag – aangebreek; uit die staanspoor ‘n uiters geslaagde sprong in die duister.

Aan die Van Deventer-Nieman-kombinasie dink ek ook in ander opsigte met welbehae. Ons het skouer aan skouer gewerk in vele groot en gedenkwaardige nuusgebeure wat spesiale hantering op die voorblad geverg het. Daardie era het o.m. opgelewer die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Vrystaatse vloedramp van 1988, die Westdene-busramp, die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

Al hierdie stories het hulle tot sterk aanbieding geleen. Die meeste van daardie voorblaaie het deur die meesterhand van Nols Nieman gegaan Hulle was treffers. Ek was tevrede dat Die Volksblad die beeldjie van “vaal Boertjie” vir goed afgeskud het.

Laat my erkentlik wees: Die vervanging van die rolpers met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë in 1983 was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor. Daarvoor durf ‘n redakteur nie eer opeis nie (hy het darem deeglik gekerm!). Maar die aanstelling van Nols het ook ‘n vername rol gespeel. Dit was my troefkaart.

Aanbieding het onder Nols vinnig ingrypend verander. Met enkele uitsonderings kon ons koerant gou op tipografiese gebied met die grotes saamgesels. Hy kon nuus hard slaan. Daarom dat ek hom vanoggend op Facebook beskryf het as DIE hoofsub van sy era. Geen kwessie daaroor nie.

Ek skryf verder: “Sy treffer-ontwerpe was passievol, sterk visueel en verbeeldingryk. Geen koerant was vir hom maar net nog ‘n uitgawe of sommer ‘n roetine-joppie nie. Elkeen was ‘n nuwe uitdaging wat hy met kenmerkende Nols-deeglikheid aangedurf het.

“Aansteeklik was sy entoesiasme en sy kinderlike opgewondenheid oor ‘n kloppie op die skouer – waarvan hy baie gekry het, geeneen onverdiend nie.

“Nols se lojaliteit was vir my persoonlik waardevol en ons (te ongereelde) kontak oor die laaste 20 jaar nadat ek uit Bloemfontein weg is, altyd verfrissend.

Nols was nog nie eens sestig nie, as ek reg onthou. Die Byl is die laaste ruk helaas erg bedrywig in ons bos. En daardie bos is vandag sommer heelwat kaler nadat hierdie boom in Bloemfontein gevel is.

(Naskrif: Philip van Rensburg wat nuusredakteur was met die oorskakeling na die oggendgleuf (foto 2), en sy vrou, Nance, se dogter Helen trou Saterdag op Brittaniabaai. Terwyl ek treur oor Nols, deel ek hierdie naweek ook in Philip – oud-kollega en al geruime tyd boonop Sabieparkmaat – se vreugde.)

(hvd)

‘N MA SE LIEFDE?

Aitsa! Painter en die uwe uitgevat in hul Harvard-baadjies – Melkbos, 1997

Middag uit Melkbos

Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Jy kry joernaliste en prokureurs van die alleredelste inbors. Ek was dan self ‘n joernalis!

Laat my egter maar erken: Jy kry wel siniese koerantmense – soos skelm prokureurs. Vra my na een wat in my oë as sinies kwalifiseer, duik die naam John Painter heel eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal. Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie.

Ek slyp nie byltjies nie. Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77. Hy het al vir my op Melkbos kom kuier en ‘n pad deur my rooiwyn gedrink. Hy het my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet.

Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) – het pas in Portland, Oregon, aan die Amerikaanse weskus, sy memoires te boek gestel. Die titel het my nogal laat glimlag – dis tipies van die man. Dis ook kos vir diegene wat graag die s-woord t.o.v. koerantmense inpan. Die titel is: If your mother says she loves you, check it out!

Ek dink ek weet wat hy bedoel: dat ‘n koerantman wat sy sout werd is, nie sommer alles vir soetkoek moet opeet nie. Maak dubbel, dubbel seker jy word nie om die bos gelei nie! Maar om juis moederliefde in hierdie konteks by te sleep, laat hom bepaald klink soos iemand wat vir sentiment en soetsappigheid geen tyd het nie. In daardie opsig is dit nogal onthullend en nie onjuis nie.

Ek het al voorheen John Painter in ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar vermeld. Wil vandag weer by die ou maaifoedie ‘n draai maak, en weet dat hy uit sy keel sou lag as hy sy maat van Melkbos se herinneringe sou kon lees en verstaan.

Painter is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken.Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel. Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het.

Hy het hard probeer om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Oregon moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!

In November het die eerste sneeu geval. Komende van Oregon was dit vir hom omtrent so vreemd as vir die Suid-Afrikaner. Vir my was dit ‘n vreemde nuwe wonderwêreld. Maar hy was altyd vies was as dit begin sneeu. Hy kon daardie “white shit”, soos hy dit disrespekvol genoem het, nie op sy kop verdra nie!

Ek en Tokkie is een aand saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die Bostonse akwarium vir ‘n onthaal. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na die opelug-robbepoel benede te ry. Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.

Hoe dit gekom het, kan ek nie meer onthou nie, maar hy het ons daardie aand vertel van ‘n belangrike lewensles wat hy by sy pa geleer het. Painter senior het vir Painter junior vermaan: Ek kan jou nie dwing om te doen wat ek vir jou sê nie. Ek kan jou egter baie spyt maak dat jy nie geluister het nie.

Twintig jaar later het hy hy my aan sy pa se woorde herinner toe juis tydens sy en Susan se besoek aan die Kaap die storm om Naspers-betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie losbars. Painter het my aangemoedig om vir die 127 jongeliede wat WVK toe is om hulle van apartheid los te maak, sy vader se vermaning te herhaal: Dat ek hulle spyt kan maak as hulle nie wil luister nie. Vir my verduidelikings oor hoe politiek sensitief die saak is, had hy min begrip. “Bullshit,” het hy my verweer afgemaak.

Hy het my ook die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” op die dissidente toe te slaan.

“Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie. Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.”

Snaaks, hoe meer ek van John onthou, des te minder verras sy boek se titel my!
(hvd)