Jul 20, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Allerlei boskunstenaars waag graag die hand aan natuurtonele en die dierelewe – soos nou ook weer Abbey Ndlovu (27), hekwag van Sabiepark, hier by sy kunstige waarskuwing teen luiperds en bobbejane op ‘n swartbord by die hek.
Abbey is van verlede November hekwag. Hy het geen formele opleiding as kunstenaar nie. Hy teken wel van laerskooldae af. Altyd daarmee die beste in sy klas gewees.
Hy doen opdragwerke teen R350,00. Vir my het hy darem gratis en verniet ‘n skop-en-skouers geskets. Sy geskenk hang nou geraam teen ons slaapkamermuur in Tarlehoet tussen al die familiefoto’s, spotprentjies en wat nog wat identiteit aan daardie vertrek verleen.
So het elke vertrek van Tarlehoet sy eie identiteit. In die woonkamer oorheers diere, in die gastekamer voëls: foto’s wat deur die jare in Sabiepark en die Wildtuin geneem is, en kunswerke (hoofsaaklik darem afdrukke) van Zakkie Eloff, Maré Bruwer van Melkbos, John Coetzer van Oudtshoorn en Elize Genis van Windhoek.
Nuwe aanwinste in die woonkamer is vier geraamde glas-kunswerke van ‘n luiperd, renoster, rooibok en sebra (elk met ‘n groot spoor in die glas daarby) deur daardie knap Melkbosse glasblaser Petro Swart.
Abbey se kuns is in goeie geselskap!
Hy is die derde Sabiepark-kunstenaar uit eie bodem met wie ons paaie gekruis het. Die ander twee was die talentvolle Frederick Nel wat op sy 16de verjaardagparty treurig oorlede is aan komplikasies weens ‘n beenproblem verwant aan marmersiekte, en Lordick Sibuyi wat, interessant genoeg, ook ‘n hekwag was. Hy is by Sabiepark weg nadat hy een aand in die kampong in ‘n rusie ‘n vuurwapen uitgepluk het. Was werklik jammer daaroor. Sy liefde vir die natuur was aansteeklik, soos sy wittand-glimlag.
In ‘n soort negosiekis bêre ek al baie jare ‘n 2001-almanak van die mond-en voetskilders. By ‘n mondskildery deur T. Webster is ‘n anonieme aanhaling wat my telkens tref: “ In elke vorm van die natuur is ‘n klank. Luister net met jou hart.”
Dit is klaarblyklik wat mense soos Abbey doen, ook al die ander kunstenaars wat jy van tyd tot tyd vol inspirasie en in diepe konsentrasie met hul doeke en esels in die bos sien sit.
Hulle hoor nie net die klanke nie, maar word daardeur so aan die hart gegryp dat hulle dit met kreatiwiteit en vernuf op papier moet uitstort. Tot vreugde van ons wat nie met daardie talent geseën is nie. Dankie, julle!
(hvd)
Jul 13, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Op Woensdag 10 Julie kry ons ‘n oproep van die piekniekplek: Die groot luiperd is hier. Toe ons daar kom, is die ou al weer tussen die riete in. Maar ons sien hom op die kameraskerms van gelukkiger eienaars: Fors staan hy daar langs die groot wit rots langs die Sabierivier – die baas van die plaas.
Nie sonder rede nie noem Sabieparkers die ou grote deesdae The Boss. Herkenbaar aan sy nekband om sy dik nek, stap hy waar hy wil. Pragtige foto’s verskyn op die Sabieparkgroep se blad op Facebook van “The Boss” wat in Jakkalsbessielaan op jag is. Op een foto sit hy enkele dae gelede by die straatnaam Rooibos. Dit is by Lukas en Martie van der Merwe se huis. Hulle vermoed hy was onder die dek terwyl die kleinkinders bo gespeel het.
Ek noem 10 Julie spesifiek omdat dit Marcus Malan, seun van my jongste broer, Cules Malan, se verjaardag is. Verlede jaar was hy 30. Die spesiale verjaardag is in Sabiepark gevier. Sal dit nie vergeet nie. Dis in die geheue ingekerf weens die luiperds langs die Sabie.
10 Julie 2012, 10 Julie 2013. Sulke datum-speletjies amuseer hierdie waarnemer vir wat dit werd is, indien enigiets.
More ry ons Balule toe vir drie dae saam met ‘n span Kollegemanne. Kan net lekker wees. Die eerste maand van die wintervakansie van 2013 – ons 40-en-iets-ste besoek aan Sabiepark – loop ten einde. Te vinnig, soos altyd. Nog vinniger, soos ‘n mens ouer word.
Sedert die vorige bulletin het onder meer die eerste duiker in ‘n jaar of langer by die voëlbadjie opgeduik vir ‘n paar slukkies water. Ongelukkig was my kamera in die motor. Ons wag al lank op ‘n opvolger vir die legendariese Witnek met sy grys lyf en, later, net een horinkie.
By die piekniekplek was twee keer groot troppe buffels. Een trop het die Sabie oorgesteek. Tony Park, Australiese spanningsromanskrywer, het die oortog afgeneem. Dis ook op die Sabieparkblad.
Op voëlgebied het ‘n gebande sperwer (glo die volopste!) op ‘n sandbank in die Sabie ons aanvanklik laat kopkrap. Tokkie het hom van die brug af gewaar – in ‘n vreemde sitposisie.
By die huis het vyf gekroonde neushorings in die knoppiesdoring by die agterdeur kom verwyl. Geruisloos opgedaag en geruisloos vertrek.
Glo nie die Kollegemanne se kuietjie sal so geruisloos verloop nie.
(hvd)
Jul 11, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Soos die tyd aanstap, word onvermydelik elke jaar nuwe name op Sabieparklyste doodgevee en op grafstene onder die langboompies ingekerf. By die jaarvergadering die eerste Saterdag in Julie elke jaar word ‘n oomblik van stilte vir die afgestorwenes gehandhaaf.
Vanjaar se in-memoriam-lysie was kort. Dit bevat net vier name. Die verlies was egter gewigtig. Al vier op die lys het onuitwisbare voetspore op Sabiepark se bodem gelaat. Met hul dood is ‘n hoofstuk in die geskiedenis afgesluit.
Vier Bosveld-“seders” is uit ons bos gekap.
Sabiepark was die droom van die sakeman Werner Ackerman van ‘n wegvlugplek ver van die stad se gewoel en rumoer. Toe die moontlikheid van Sabiepark ontstaan, het hy ‘n gedugte kernspan om hom versamel om die droom te verwesenlik: Jan de Necker, Albert Wessels, Daantjie du Preez en ‘n Klerksdorpse landmeter Phil Jooste wat by die konsortium betrek is om die beplanning van Sabiepark te doen.
Stigters Ackerman en Wessels is voorheen oorlede. In die afgelope boekjaar van Sabiepark het De Necker, Du Preez en Jooste ook na beter oorde verhuis. Al vyf lstigters wat in die Sabiepark-fotoalbum op bladsy 64 so fors in hul kakie-bosdrag vir die kamera poseer, is nou nie meer met ons nie.
Toe Sabiepark in 1979 tot stand kom, was die uitdagings enorm. Lastige owerhede, stropers en wilde diere was van die veeleisende faktore. Gesoute sakeman Daantjie du Preez, is as eerste voorsitter aangewys. Hy het verbeeldingryk leiding gegee – met wysheid, entoesiasme en toewyding.
Jan de Necker was uit die staanspoor ’n sleutelfiguur. Hierdie top-Afrikanernyweraar en -entrepreneur was stigter of medestigter van o.m. Toyota SA (saam met Albert Wessels), die klerereus Veka, die Randse Aksepbank, die Wêreldwye Natuurlewefonds en, natuurlik, Sabiepark wat hy lank met oorgawe en lojaliteit gedien het.
Hy was ‘n geesdriftige, besorgde en deelnemende eienaar tot onlangs. Baie Sabieparkers onthou hierdie Bosveldboom van ‘n man en sy lewe van diens baie deeglik. Ek het voorheen oor hom ‘n huldigingsblog geskryf. Dit verskyn ook in die jongste Sabiepark-nuusbrief.
Ek wil nie op dieselfde spore stap nie, maar by die jaarvergadering het ek mede-eienaars gevra: Kom ons salueer Jan de Necker vir laas – ook sy bydrae oor drie dekades tot die Sabiepark wat ons vandag kan waardeer en geniet.
Phil Jooste is die man wat Sabiepark aangelê het: elke versteekte pypsteelerf en draaitjie in sy kronkelpaadjies. Hy het ook gesorg vir ‘n sterk Klerksdorpse band wat tot vandag voortduur. My eie buurmense, die Van Heerdens van 155, is Klerksdorpers.
Ons het Saterdag ook gehuldig Eckson Mathebula, hoofindoena, wat Sabiepark getrou, lojaal en met onderskeiding gedien het, soos sy oom, hoofman Shibiti wat in 1989 deur ‘n buffel doodgegaffel is. Buffels was toe nog aanvaarde deel van die Sabiepark-landskap.
Hierdie waardige, aristokratiese en diep godvresende mens het in Sabiepark baanbrekerswerk vir die plaaslike gemeenskap gedoen, en verdiend eienaars se hoogste respek en waardering geniet. Ook met sy dood is onder ‘n stukkie geskiedenis ‘n finale streep getrek.
Ons eer hul nagedagtenis. (hvd)
Jul 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Sabieparkers is ‘n taamlik diverse gemeenskap. Diversiteit kom voor in taal, kultuur en herkoms. Generasieverskille is teenwoordig. Party eienaars is in die 80. Ander is skaars 30. Standpunte oor en aspirasies en ideale vir Sabiepark bots soms lynreg.
Tog word ons, as ons hier is, gebind deur een oorkoepelende nasionalisme – liefde vir die bos. Ons is almal natuurmense. Ons is innig verknog aan Sabiepark.
‘n Mens wens as jy Sabieparkers toespreek, soos Saterdag my voorreg was toe ek gevra is om die 30ste jaarvergadering te open, dat jy dit in een, inklusiewe, verenigende taal van die bos kon doen. Dat jy almal gelyk met dieselfde boodskap in dieselfde woorde kon bereik. So ‘n taal bestaan ongelukkig nie.
Die naasbeste is om verteenwoordigend te probeer wees. ‘n Sabieparkgewoonte is (of was) dat by spesiale okkasies die Skriflesing in drie tale gedoen word. In ons Sabiepark-foto-album verskyn ‘n foto van Rinza Venter (Engelse Bybel), Gerrie van Niekerk (Afrikaanse Bybel) en Eckson Mathebula (Tsonga-Bybel), ‘n vorige era se bestuursgeslag, wat die die Kersverhaal in die drie tale by ‘n Kersbyeenkoms van die personeel voorlees.
In dieselfde gees het ek toe maar ‘n stukkie uit die Engelse Bybel (King James Version) gelees. Daarna enkele verse uit ‘n Afrikaanse gediggie, Mymeringe oor Job 39, wat jare gelede in Sabiepark in kerslig geskryf is. Daarna het ek, helaas, net vyf woordjies in Tsonga gesê. Ten slotte het ek ‘n kort gebed gedoen in Afrikaans, my moedertaal en die enigste taal waarin ek my tot die Here kan wend.
Uit die KJV het ek ‘n paar verse uit daardie klein juweel in alle tale, Psalm 23 , gelees: The LORD is my shepherd; I shall not want. 2 He maketh me to lie down in green pastures: he leadeth me beside the still waters. 3 He restoreth my soul: he leadeth me in the paths of righteousness for his name’s sake … 5 Thou preparest a table before me in the presence of mine enemies: thou anointest my head with oil; my cup runneth over. 6 Surely goodness and mercy shall follow me all the days of my life: and I will dwell in the house of the LORD for ever.
Mymeringe oor Job 39 is deur Die digter is Fanus Venter, oud-skoolhoof van Piet Retief op die stoep van Leeuplesier (240) in Apiesdoringlaan geskryf. Sy gasheer, Humpty du Toit, het die oorspronklike sorgvuldig bewaar. Ek het net vier van die ses versies gelees. Dit dra die kernboodskap van mens en natuur se afhanklikheid van God se Vaderhand oor.
Wie jag die prooi vir die jong leeuin/En wie bring saans haar ete in/Wie maak snags die jong leeus stil/As hulle hard om voedsel brul?
Wie gee vir die kraai sy kos/As hy sy kinders honger los/Sorg vir die steenbokkie se kind/Tot hy sy eie rigting vind?
Wie weet dat die buffel vry wil wees/En nie jou dienskneg soos die bees? Hy’s nie bereid om jou te dien/Omdat hy net die vryheid sien.
Ek sal soos Job ook ophou twis/In die besef hoe klein ek is/Ook in hierdie ruwe land/Leef mens en dier net uit U hand.
Mikhongelo a yi hi hlanganiseni. (Kom ons verenig in gebed).
Toe het ek gebid: Hemelse Vader, ons noep U aan as gewer van alle goeie dinge; ook as skepper van die ganse aarde in sy grote verskeidenheid, en as skepper van die natuurprag rondom ons.
Of ons hier in die groot tent langs die Sabierivier vergader is of by ons kampvuurtjies sit, is ons elke dag intens van u teenwoordigheid bewus. Ons hoor u stem in die gedruis van die rivier oor die klippe op pad na Mosambiek, in die geroep van die visarend in die lug, die geproes van die bokkies in die veld.
Dankie Vader, vir al hierdie genadegawes…. en veel meer. Ons verenig vandag in gebed om U te vra: Hou steeds U hand van ontferming en genade oor elkeen – oor ons land, ons leiers, ook ‘n ikoniese oud-leier wat afgetakel en baie siek in die hospitaal is; oor ons geliefde Sabiepark en hulle wat primêr die verantwoordelikheid op hul skouers dra om hierdie kosbare erfenis vir die nageslag te bewaar.
Lei ons, Here, langs groen weivelde na stille waters, gebied oor ons steeds U goedheid en guns, giet steeds U genade soos kosbare olie oor ons uit uit ‘n bodemlose fles.
Amen.
(hvd)
Jul 8, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Met die verstaanbare verkorting van my Mandelabrief (gister in Rapport) – ‘n gat is so groot en nie groter nie – het twee aspekte in die slag gebly.
Met hernoeming van die NKP sal sommer ook gesorg word (hopelik) dat ons geliefde wildtuin mooi opgepas word, het ek betoog.
Verder het ek in aansluiting by John Tungay ook weer as alternatiewe op die tafel gesit die hernoeming van Cathkin Peak (sy voorstel) of sommer die hele Drakensberg (my voorstel) na Madiba.
‘n Idee waaraan ek ongelukkig te laat gedink het, is om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).
Onthou, Johannesburg Internasionaal heet reeds O.R. Tambo. Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.
Hier is my volledige brief, soos aan Rapport aangebied:
Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees? Amper 11 jaar gelede, in Augustus 2002, het ek in ‘n brief in “Rapport” hardop gewonder of ‘n groter en unieker eer vir dié internasionale ikoon moontlik is as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-Vryheidspark.
‘n Vriend het voorgestel dat ek van daardie knipsel ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word”. Hy was een van bloedmin wat instemming betuig het. Uit verskeie oorde is my brief as moedswillig, onbekook of selfs verraad bestempel.
In Maart 2011 het John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoor, met die gedagte gekom dat Cathkin Peak Madiba se naam kry. Ook sy plan is met skrale geesdrif begroet.
As reuse-beelde van voorste Amerikaanse presidente teen Mount Rushmore uitgekap kan word, kwalifiseer die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie seker vir ‘n groter eer as net sy gesig op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra.
Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.
Mag ek maar weer in hierdie kolom die naam van die Wildtuin, Tungay se voorstel oor Cathkin Peak of, in aansluiting, selfs die naam van die hele Drakensberg-reeks as aansporing vir ernstige nadenke op die tafel sit?
Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels. Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebinding kan wees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word. Die Krugerhek kan mos die Krugerhek bly en Coert Steynberg se reuse-beeld, wat wel al in ‘n stadium in ‘n politieke maalstroom was, kan as erkenning vir die versiendheid van die stigter bly staan waar dit is. Vir altyd.
Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers, in ‘n spogtoestand gehou word?
(hvd)
Jul 5, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Een dosyn reiers, asseblief. Die “bestelling” is enkele dae gelede, laatmiddag, by Lake Panic presies uitgevoer.
By die gewilde voëlskuiling naby Skukuza is reier-aktiwiteit gereeld deel van die waterlewe. Ons het selfs al die skaam ralreier, die seldsame woudapie (klein rietreier) en die nagreier daar raakgeloop.
Die groot menere soos die reusereier,die bloureier die grootwitte en die rooie kom gereeld voor saam met al die visvangerspesies, slanghalse, rietduikers, grootlangtone, riethane, waterdikkkoppe en bontkieweiete wat die langste van lang lense van die toegewydste voëlkykers in strome lok.
In die somer van 2010 het ek en Tokkie twee reusereiers ‘n paringsdans langs die water sien uitvoer, grasieus soos ‘n outydse minuet.
Maar twaalf reiers tesame? Nog nie voorheen gesien nie. Oral in die bome was hulle, op broeineste, op die grond naas die skuiling, of swewende in die lug. Party was mekaar aan’t opdollie. Ander het net sit en staar. Een het met ‘n slanghals oor die besit van ‘n droë boomtak rusie gesoek.
Twee reusereiers het ons daar gesien, nege bloues en een witte. Verskuil agter takke, was daar dalk nog ‘n paar. Die witte het twee vangste kort na mekaar uitgevoer. Eers ‘n vet vis. Toe ons dink die ou wurg nog aan sy hoofgereg, deurboor hy met sy snawel ‘n nuuskierige padda vir poeding.
Die gewone tros seeekoeie het, eienaardig genoeg, ontbreek. Hul aandag was seker elders vereis. ‘n Krokodil het wel in die loom middagson lê en bak.
Ons is opnuut getref deur die salwende stilte van die plek. Al geluide wat gehoor is, was die klak-klak-klak van die kamera-snelvuur, die flap-flap-flap van die vlerke en die plong-plong-plong (ploems-ploems-ploems?) van die mis op die water.

‘n Dag of wat tevore had ons ‘n ander vermeldenswaardige voël-ervaring. Ons ry van Balule af huis toe met die ou hoofpad en daarna die S100 langs die Nwanetsirivier – vir diegene wat vergeet het: my gunstelingpad.
Juis by ‘n poeletjie in die Nwanetsi sien ons die groot voël met die houding van ‘n saalbek, maar oorwegend grys en wit. Ons dag eers ons het iets beet vir aanmelding by die SA Komitee vir Seldsame Voëls en dat die Van D’s waarskynlik net ‘n hanetreetjie daarvan weg is om hul name in die eksklusiewe ‘Africa: Birds & Birding’ gepubliseer te sien.
Toe help meer ervare kykers ons: Daardie vaal weergawe van ‘n saalbek is inderdaad ‘n saalbek, maar ‘n jong eksemplaar.
Interessant genoeg, het nie een van onse ingeligte vriende al eeen in lewende lywe gesien nie.
NASKRIF: Waarskynlik die VanD’s se gedenkwaardigste voël-oomblik tot dusver was op 7 Augustus 2009 by die Sunsertdam by Onder-Sabie: 100 plus nimmersatte ingeryg op die damwal. Die mededeling word meermale met kwalik verborge skeptisisme begroet. Dawie en Annatjie Strydom is darem getuies. Hulle was saam in die Honda.
(hvd)