GOUE ERA VAN SWAARGEWIGTE

IMG_0002-001

Al wat leef en beef was daardie aand op Loftus!

More uit Melkbos

Kombineer Kallie Knoetze se yster met Gerrie Coetzee se boksvernuf – dan het jy ‘n wêreldkampioen gehad. In 1978, 55 jaar gelede, het ek met die twee swaargewigte lang geselse gesels vir die dagblad Beeld se rubriek “Onder Vier Oë”. Die verskil in durf en dryfkrag het jou soos ‘n kragtige regter teen die kinnebak getref.

Kirby van der Merwe roep in “By” van 21 September (‘Seer handjies’ slaan steeds ‘n slag) Gerrie se verowering van die swaargewigtitel van die wêreld op 23 September 1983 in Akron, Ohio, in herinnering. Gerrie het Michael Dokes in die tiende harpuis laat ruik. Dit was vyf jaar ná ons “Onder Vier Oë”. In my gedagtes het daardie onderhoud van 7 April 1978 egter bly spook. Gerrie Coetzee, wêreldkampioen – en vyf jaar tevore wou hy dit nie juis wees nie.

Saans voor hy gaan slaap pak ‘n tweestryd hom, het Gerrie verklap. Dan lê hy en dink: “Ou Gerrie, sal jy dit regtig ‘laaik’ om kampioen te wees?” Amper bedees en sag soos ‘n malvalekker, het die groot hoeweboer met die hanslam, ‘n paar hoenders en die vinnige Granada Ghia oorkant my geklink. Self onseker of hy “honger” genoeg is en of die broodnodige “killer’s instinct” nie dalk tog ontbreek nie in sy boksmondering wat soveel ander pluspunte het.

So anders as Kallie twee maande tevore, op 10 Februarie, vir dieselfde rubriek. Die Kallie oorkant my was uit en uit “Die Bek”, soos hy in die kryt bekend was, ook as hy met ‘n koerantman gesels. Dalk nie so ‘n afgeronde bokser nie. Maar baie meer hardekwas en tot barstens toe vol selfvertroue. ‘n Man met ‘n wil. Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy met gloeiende oë beklemtoon – twee, drie keer. Soos ‘n ongeduldige tier.

Wel, die geskiedenis vertel ons: die jintelman-reus met die giftige regter en geleerde linker het bo uitgekom; die tier met die swiepende vuiste was, in perdewedren-idioom, ‘n “also ran”. Op grond van my twee gesprekke was in my gemoed min twyfel: As “ou Gerrie Seer-handjies” meer “Boomstraat-bek” en Kallie-tier in hom gehad het, het, het hy daardie gesogte goue gordel veel langer om sy middel geknoop.

Hoe ook al, Suid-Afrikaners is aan albei dank verskuldig vir ‘n goue era van swaargewigboks.

(Oor die kwade bloed tussen hulle, het die twee destyds openhartig gesels. Volgens Gerrie was hul verhouding ‘n “bodemlose put”. Kallie het sy bek so vol, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit”. “Gerrie, wie’s Gerrie?” wou Kallie op sy beurt weet. “Hy is uit die wedloop; maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.” )

(hvd)

HET KOFFER, WIL RYS

IMG_9214 />

Op pad na Skukuza met haar rys-tas

Middag uit Melkbos

Met Melkbos se gewilde kerkbasaar ophande (ek het nog geleer “ophande” is een woord) tref die omvang en verskeidenheid van die kostafels by die basaar hierdie lekkerbek opnuut.

Daar is groot koeke, klein koekies, vetkoeke en pannekoeke. (Wees gerus, dames, ek gaan nie die ou grappie afstof van die leraar se faux pas oor wie wie uitgestof het nie).

Daar is ook beskuit, pasteie, koesisters, poeding, kerrie en rys, braaivleis en sosaties, potjiekos, rou vleis en wors … soms vars groente uit die tuin.

By elke tafel staan ‘n span mense reg. Dikwels is dit dieselle ou gesigte jaar na jaar. Een keer ‘n grootkoekvrou, altyd ‘n grootkoevrou as’t ware.

Tokkie is al jare ingetrek by kerrie en rys. As ons wintermaande in Sabiepark is, kook sy op haar beskeie twee plaatjies rys vir die eerste span met die oog op die Skukuza-halfmarathon, altyd die eerste Saterdag van Augustus. Die Skukuzagemeente sorg vir die kerrie en rys.

Vanjaar moes sy dertig koppies rys kook. Al manier wat sy die vrag rys by die bestemming in die Skukuza-personeeldorp kon kry, was ‘n koffer op wiele. Dit het aanleiding gegee tot die grappie van haar rys-tas (letterlik).

Ons was pas terug op Melkbos toe die oproep van Letricia van Niekerk kom. “Tokkie, sal jy weer kom help?” Ek dink dis nou ook die derde keer dat sy hier op “rys” gaan – nes by Skukuza.

Toe sy vroer jare nog rondbweeg het tussen die basaartafels, het ek die volgende kerkbasaar-versie geskryf (dis in “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof”): My vrou is in die poeding/laas jaar was sy in koek/wonder waarin ek haar nog/by ‘n kerkbasaar moet soek.

My bron van inspirasie is duidelik: My nooi is in ‘n nartjie ….. Dankie D.J. Opperman.

Vandat sy ‘n kerrie-en-rys-meisie geword het, hoef ek natuurlik nie meer van produk tot produk te soek nie. Ek hou verby die poedings, koek en wat nog reguit kerrie en rys toe met my R25 in my hand.

Vir die nuwe situasie het ek weer by Opperman gaan leen vir ‘n nuwe versie:

Een vrou is in ‘n nartjie
‘n Ander in anys,
My eie vrou is tuis
in kerrie en in rys.

Jammer, diegene wat die ou versietjie al op Facebook gesien het. Onthou in elk geval: Melkbos se basaar is op Vrydag 25 Oktober.

Sien julle by die kerrie en rys! Dis immers vir ‘n goeie saak. (hvd)

NUUS OF NIE NUUS NIE?

More uit Melkbos

’n Kritiese skrywe op hierdie blog oor die stil-stil afskeid van Naspers onder ‘n swaar wolk van me. Lisa Albrecht, op haar dag eerste vroulike redakteur van Rapport, het destyds ‘n stortvloed weerstand uitgelok – veral uit die geledere van die huidige geslag joernaliste.

My argument was dat die koerante (en tydskrifte en TV) me. Albrecht opgebou het tot ‘n media-persoonlikheid. Toe sy skielik ophou om een te wees, was hulle aan hul lesers verskuldig om te sê hoekom dan. Vir my was dit moreel bevraagtekenbaar om ter wille van onduidelike redes haar skielike val van die troon onder ‘n mat in te vee.

”Sy is nie nuus nie. Weet Tant San op Worcester wie Lisa Albrecht is?” wou een redakteur by my weet. Maar weet Tant San wie is “Ameen Singh” (nie die regte naam nie)? was my onbeantwoorde weervraag. Want ook in Afrikaanse koerante is iemand met ‘n soortgelyke naam en van se teëspoed by ‘n klein Natalse radiostasie tog in daardie tyd as nuuswaardig genoeg geag om berigte oor te publiseer.

Die lang aanloop tot wat ek vandag op die hart het, is om my kaarte op die tafel te sit. Ek erken dat die Lisa Albrecht-episode my nogal laat wonder het oor my periodieke inklinasie om as 72-jarige oud-joernalis van ‘n generasie of twee gelede uitsprake oor die doen en late van die huidige besluitnemers te lewer. Omdat die ouderdom groter vreedsaamheid in die meeste onstuimige harte bring, het ek, trouens, so half en half besluit om my voortaan nie net uit die weer te hou nie, maar ook uit koerante se hantering van nuus.

Of dit wys is om vandag van daardie eie nuwe riglyn af te wyk, is ‘n vraag. Die joernalistieke bloed bruis egter nog. Die ou man voel al geruime tyd gedronge om hardop te wonder hoekom die gesamentlike bekroning van die Naspers-maatskappysekretaris, Gillian Kisbey-Green, en die swart baanbreker-joernalis joernalis Mathathu Tsedu met 2013 se Weberprys nie die Afrikaanse dagblaaie gehaal het nie. Die Weberprys is Naspers se hoogste eerbewys, en ‘n gesogte erkenning van voortreflikheid van 1984 af toe adv. D.P. De Villiers die eerste ontvanger was. Ná hom was daar groot geeste soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Willem Wepener, om net drie te noem.

Kort tevore is Adriaan Basson (32) as nuwe redakteur van die dagblad Beeld aangestel. In Die Burger (en ook Volksblad, verneem ek) is oor die aanstelling niks gerep nie. Ek sou reken dat ten minste die man se jeugdige ouderdom – net ouer as 30! – sy aanstelling as ‘n nuusbrokkie sou laat kwalifiseer. Dit is immers ‘n rekord in die Pers. Die briljante Piet Cillié was 37 toe die redakteurskap van Die Burger in 1954 aan hom toevertrou is. Sy rekord het langer as ‘n halfeeu gestaan.

Sou die verswyging van top-bekronings en top-aanstellings wees omdat Media24 se koerante hul nuusnorme verander het? Klaarblyklik is dit nie die geval nie. Vanoggend gee Die Burger dan ruim publisiteit aan die bekroning van mense onder wie joernaliste – nie eens van Media24 nie – deur die sagtevrugtebedryf vir hul berigte oor daardie bedryf. Die bekronings is klaarblyklik verdienstelik, en ‘n mens gun dit die pryswenners dat koerante met die verspreiding van die nuus as’t ware vir hulle die kersie op die koek sit.

Hoe kry jy dan die kluitjie by die oor? Sou die stilte oor die Weber-pryswenners en Beeld se nuwe redakteur maar net ‘n aanval van beskeidenhed wees oor die maatskappy se eie mense? Is dit eenvoudig vrot nuusoordeel? As dit net misgevat is, ontstaan verdere vrae. Hoekom is die ommissie nie dadelik intern raakgesien en reggestel nie – tesame met ‘n paar agterente wat vuurwarm geskop is? As dit nie intern raakgesien is nie, beteken dit dat kontroles nie meer is wat dit was nie?

Vrae, vrae, vrae …..

(Naskrif: Wie sou by SABC2 verantwoordelikheid dra vir die samestelling van TV-nuusbulletins? Soos die Bismarck du Plessis-storie deur die TV-Nuus misgevat is, is ‘n sonde. In daardie opsig het die koerante hul elektroniese mededingers gelukkig deeglik ore aangesit.)

(hvd)

SOPNAT NAGMAAL

wolkbreui

Wolkbreuk op Melkbos

More uit Melkbos

‘n Sopnnat nagmaal vanoggend gewees in die NG kerk Melkbosstrand. Terwyl die tekens bedien word, sak ‘n ‘n wolkbreuk uit, Geute oorstroom. ‘n Stuk van die kerksentrum se plafon gee mee. ’n Dam stoot op in die binnehof. Dit lek op die preekstoel en plek-plek in die kerk.

Melissa Opperman, teologiese student wat gepreek het, is vinnig by die kansel se trappe af om te gaan kyk wat aangaan. Diakens hardloop om emmers te gaan haal. Lukas Theron, gemeentebestuurder, is ook vinnig uit en bly lank weg. Dr. James Kemp, 80-plusser wat die nagmaal bedien het, gaan deur die kommisie egter net onversteurbaar voort. Hy verdien ‘n prys vir teenwoordigheid van gees!

Baie lidmate het besorgd sit en wonder: Hoe lyk dit by die huis? Ook die Van Deventers. Wel, by ons is water onder die voordeur in, maar die skade was gelukkig gering. Net een matjie – na aan Tokkie se hart – is deurweek. Maar om by die huis te kom, moes ons deur ‘n oorstroomde Charles Hoffestraat ploeg. Niemand kon sien waar is sypaadjie of straat nie.

Die reënmeter wys net 28 mm, maar dit was ‘n harde, vinnige 28 mm. Selfs die see lyk skielik nog woester. (hvd)

RAKLEEFTYD VERBY

Middag uit Melkbos

Hopeloos soos dit klink, is ek by my rakleeftyd verby wat aand-okkasies in die “verre” Kaap betref.

Met hierdie “nee dankie” vir ‘n uitnodiging in die Kaapse Konferensiesentrum het ek ‘n grens oorgesteek. Nog nooit was ek teenoor myself en ander brutaler eerlik oor my onwilligheid om saans my huis vir ‘n doe te verlaat nie – veral as dit ‘n reis van 25 kilometer soontoe sou behels en nog 25 kilometer terug.

In Sabiepark beteken ‘n aand tuis natuurlik kampvuur en braai. Op Melkbos beteken dit sommer rondsit en niks doen nie. ‘n Aandjie tuis is, hoe ook al, ook hier geruime tyd al in elke opsig verkieslik bo ‘n aand uit – die aantrek., die ry in die aandverkeer, die sit en luister na ‘n gewoonlik te lang toespraak, die ginnegapery. Alles net te veel moeite en verdriet, dankie.

Voorheen het ek ander ekskuse gesoek: Onseker of ek daardie aand los gaan wees; het nie meer ‘n formele aandpak nie; verwag moontlik besoek van ou vriende uit die Noorde. Soms kon ek agterkom my aspirant-gashere vertrou nie eintlik my geloofwaardigheid nie.

Nou, nadat ek daardie grens oorgesteek het, is dit makliker. Nee dankie, my rakleeftyd daarvoor is verby. Net dit. Klink erg, maar eintlik is dit heimlik lekker om so sonder slag of stoot (en sonder ‘n witleuentjie) skotvry te kom.

Dan kan ek ook daardie aand, soos al die ander, sonder om skuldig te voel vir my en my vrou ‘n Skotse watertjie skink, my skoene uitskop en salig in ‘n lekker leunstoel terugsak …. (hvd)

NIL PER MOND

More uit Melkbos (en nie uit die Panorama Medi-Clinic)

“Nil per os” of “Nulla per os” is een van die newe-onplesierighede van die ure voor ‘n operasie wat my sommer al lank vooruit begin kwel.

Laat my maar erken (spog?) at ek ‘n bedorwe brokkie is wat, met enkele onvermydelike uitsonderings, sy koffie in die bed kry solank die Van Deventerhuwelik duur. Op 31 Desember vier ek en Tokkie ons 47-jarige huwelikstrou.

Selfs toe ek in die jare 60 hoofsub van Die Volksblad was en op Saterdae teen vieruur moes roer om die wiele vir daardie dag se uitgawe aan die gang te sit, het Tokkie, winter of somer, met die eerste lui van die wekker sonder slag of stoot uit die bed gevlieg om die koffiewatertjies te begin kook.

Die Volksblad was daardie tyd nog ‘n middagkoerant. Die eerste, plattelandse uitgawe het gesak voor die wintersonnetjie nog kon deurbreek. Teen agtuur kon ons in die subkantoor agteroor sit en rustig weglê aan die gebraaide kaasbroodjies ex Grinters skuins oorkant die straat op die hoek. Dit net ter verduideliking vir jonger kollegas wat nie daardie voor-hoenderkraai-koerantmakery ooit ervaar het nie.

Vir “Nil per os”, “Nulla per os”, albei Latyn, of ”Nil per mond” (vermenging van Afrikaanse en Latyn) is ek so lugtig soos ‘n rooibokkie vir ‘n luiperd wat in die lang gras aangesluip kom in die Wildtuin. Hoe sal ek uithou? Dis altyd ’n wroegende kommer in die Van Deventerhart.

Terwyl ek hier skryf (08:30) sou ek al in my saal in die Panorama Medi-Clinic gewees het – besig om soos ‘n lam ter slagting voorberei te word vir die lank uitgestelde heupvervanging. Maar eers om 14: 30 sou ek teater toe.

”Nil per mond”, sou dit boonop moes wees – met ‘n keel so droog soos die dorste kurk dus, en ‘n smagting na ‘n lekseltjie koffie soos ‘n alkoholis vir ‘n dop.

Woensdag steek die internis ‘n stokkie (tydelik) voor die operasie om redes wat nie hier ter sake is nie. Vanoggend begin ek om 06:00 rusteloos raak. Tokkie snap die wenk. Sy gly uit die bed en keer terug met die stomende koffie en my koerant.

Koffiekapitaal – veral in die biezondere omstandighede van hierdie Maandag 9 September. Die koffie proe so genotvol soos ‘n skelm vrytjie – of ek die chirurge en hul narkotiseurs, susters en wie nie almal nie, hierdie keer netjies uitoorlê het.

(hvd)