Nov 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Dankie aan almal wat so lekker saamgesels het oor die Van Deventers se ontnugtering met die Engelse sebras. Ek antwoord nie een vir een nie.
‘n Skriftelkike beswaar wag vir die Ster-Kinekormense as die kantore more open. Het nie veel hoop nie, want die storie wat die klagtelyn-meisie te vertelle het, verontskuldig Ster-Kinekort volledig. Alles word is op Die Burger se brood gesmeer. “Fout in die advertensie”, en Ster-Kinekor kan niks daaraan doen nie.
Ongelukkig vir haar weet ek darem geen advvertensie kan ingaan tensy ‘n proef afgeteken is nie – so was dit immers in my dae. Dit verplaas die skuld vierkant terug waar dit hoort.
“Fout in die advertensie” verklaar ook nie die flitsende “Afrikaans” op die bord by die kaartjieskantoor by die 17:15-vertoning in die Cine10 nie. Kleinseun Jacob kan instaan dat Oupa nie teen sy oogvelle vasgekyk het nie.
Was daar wel ‘n Afrikaanse vertoning om 17:15 in ‘n ander teater, sou ek weet.
“Nee, “was die antwoord. “Net een vertoning om 17:15 en dit is in Engels”.
Die “plot thickens”, soos ‘n Ingelse sebra sou opmerk. Nou wag ek maar. (hvd)
Nov 2, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Op grond van ‘n advertensie in Die Burger is ons gistermiddag van Melkbos oor Tygervallei toe om die animasiefliek Khumba in Afrikaans te gaan kyk.
Ons het ons kleinkinders in Welgemoed opgelaai en ons kaartjies gekoop nadat ons ook op die bord by Ster-Kinkekor seker gemaak het die 17:15 -vertoning is wel in Afrikaans.
Wat was ons verbasing toe Khumba in Cine10 begin rol – die sebratjies (en ander diere) het net Engels gepraat, party nogal met ‘n sterk Amerikaanse aksent. .
Agterna het ek by die bestuurder gekla. Ons het ver gery en duur betaal vir kaartjies – R265 vir ons spannetjie – weens ‘n misleidende, inkorrekte advertensie en misleidende, inkorrekte inligting op die bord by die kaartjieskantoor.
Sy het ons ervaring as “horrible” beskryf maar tog haar skouers opgetrek. Geen sprake van kompensasie nie, jammer, al stem sy saam ons het nie gekry waarvoor ons betaal het nie.
Ons fout, volgens haar, was dat dat ons nie opgestaan het en uitgestap het nie. Maar as ons uitgestap het, wat dan? Moes ons doodeenvoudig die teleurgestelde kinders by die huis gaan aflaai en terruggery het Melkbos toe – al die moeite, koste, tyd en energie dus maar op ons maag skryf en met ons hemp doodvee?
Ten tweede, as ons uitgestap het,sou ons en ons kleinkinders nooit saam by enige Khumba uitgekom het nie, wat nog van by die Afrikaanse een. Ek sou nie weer daarvoor van Melkbos af ry nie. Die kinders se program is boonop te vol.
Ten derde, as ons uitgestap het en kompensasie is steeds geweier, wat dan? Dan het ons R265 plus al die ander koste (petrol, springmielies en wat nog) in die water gegooi.
Klaarblyklik was die vertoning van Khumba in Engels om 17:15 ‘n ligte mistykie. Iemand het ‘n verkeerde knoppie gedruk. Ster-Kinekor het geen poging aangewend om die fout te verduidelik nie.
Is dit maar net nog ‘n geval van minagting vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes? Moet ons maar sluk en stilbly?
Ek is beswaard, en ek dring aan op ten minste ‘n verskoning vir sulke onbeholpenheid. Of ‘n bewys dat ek weens ‘n eie misgissing met my spannetjie in ‘n verkeerde Cine sit en kyk het. Dan is ek die een wat om verskoning moet vra.
(hvd)
Oct 31, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Dit staan in Filippense dis goed vir die mense; wie wil dan water hê, wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê, wie wil dan water hê…
Party so vals soos leê verfblikke, maar nietemin met groot oorgawe en entoesiasme het ons in my Tukkiedae hierdie liedjie gesing. Soms het ons ingehaak en op maat van die wysie heen en weer gewieg.
Daar was ook ‘n tweede versie:
Dit staan in Maleagi dis goed vir die magie … en wat daarop volg.
Ons het geen twyfel gehad waaroor ons sing nie. Daardie produk wat volgens Flippense goed was vir die mense en volgens Maleagi goed was vir die magie, was nie die gewraakte “Miracle magnesium” wat Body Detox met allerlei ambisieuse aansprake links en regs adverteer nie vir kwale so uiteenlopend soos skilfers, ingroeitoonnaels en kolonkanker.
(Marcelle du Plessis verdedig die praktyk in vanoggend se Burger o.m. met die volgende woorde: “Daar staan ‘mag’ (help) wat beteken ‘miskien’ of ‘dalk’”. Jammer, meisie, raadpleeg ‘n woordeboek – dis nie wat ‘mag’ beteken nie, maar ons laat dit maar daar.)
Waarop ek entlik afstuur, is om die klaarblyklike te beklemtoon: Dat ons Tukkies van die 50′s en 60′s bepaald die produkte van SAB, die KWV, Distell en die Stellenbosch-Boerewynmakery in gedagte gehad het as ons daardie loflied aanhef.
Nou wonder ek of daarin nie ‘n formule geleë is wat die huidige stryd oor drankadvertensies kan, soos hulle sê, ontlont nie. Adverteer die drinkgoedjies eenvoudig sonder om dit by die naam te noem: so subtiel (?) dat diegene wat weet, sal weet en diegene wat nie weet nie, in salige onkunde sal bly verkeer.
Niks hoef te verander nie, buiten dalk die naam van die borg op die truie of hempies van die Springbokke, die Proteas en Bafana-Bafana. Maar dalk maak die Sinode dan beswaar as die arme profeet Maleagi met verloorders soos die Proteas ge-assosieer word. (hvd)
Oct 30, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Lanterns en fakkels omskep Sabiepark se stoep saans in ‘n sprokiesland.
Hiermee (uiteindelik) finis en klaar met my stoepstories. (hvd)
Oct 30, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In die somer is die swembadjie – met sy primitiewe hand-en-mond-gedrewe bos-kreepy-krauley – die hart van ons Sabieparkstoep.
Uit die water sien jy gedugte bome en gedurige diereverkeer. Vlakvarke is lief vir die groen grassies wat deur die oorspat-swembadwater gevoed word.
Partymaal lyk dit of veral die kameelperde lus is om saam om te kom inklim.
Bobbejane springs soms wel in … maar darem net as die mense-inwoners van Tarlehoet hul rug draai. Dan moet jy maar die water laat uitloop en is die skoonmaak en borsel ‘n rugbreek-taak. (hvd)
Oct 28, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Kom ons gesels verder oor stoepe. ‘n Spesiale bonus van Sabiepark se stoep is die strategiese uitsig op die watergatjie.
Sebras kom drink dikwels – ook wildebeeste en selfs koedoes. Hiënas en vlakvarke kom baljaar graag in die water – dag en nag.
Hiënas gebruik dit soms as spens – kom steek hul aas onder die water weg, waar dit boonop lekker koel bly. (hvd)