Dec 4, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Glo dit as jy wil: In vanoggend se Volksblad herhaal Dana Snyman in sy rubriek oor die name van ouetehuise sy valse, spottende verwysing na die “Verrgeet-my-nie”-ouetehuis op Bultfontein wat dan “Amper Daar” sou heet.
Hier is die gewraakte Dana-paragraaf, nes dit vyf dae gelede in Die Burger verskyn het: Wat kan ’n mens sê van Huis Amper Daar op Bultfontein in die Vrystaat? Wie sou op dié naam besluit het? Hoe word die telefoon daar beantwoord? “Hallo, Huis Amper Daar.”
As Die Burger nie so traag was om die mistykie te erken waarop ek onmiddellik in ‘n (vrolike) briefie gewys het nie, of ‘n bietjie moeite gedoen het om mnr. Snyman of Volksblad in te lig, kon die herhaling van die fout natuurlik vermy gewees het.
Moet sê: Ek vind dit nogal ligweg amusant dat vanoggend op bladsy twee van Die Burger ‘n plegtige regstelling verskyn oor die naam van die Wollongong-universiteit (met of sonder g!), maar oor die doelbewuste en bra siniese misleiding vir “humordoeleindes” word in alle tale geswyg.
Sou Die Burger dalk nie graag wou hê lesers moet weet sommige rubrieksrywers suig ook maar lustig duim as hulle kans kry nie? Of is die beleid dalk deesdae om rubriekskrywers in watte toe te draai en tot elke prys teen alle kritiek te beskerm?
Die “grappie” gaan seker nog in Beeld ook opduik – hoekom ‘n goeie storie nek-om draai net omdat die feite verkeerd is?
(‘n Vriend in Bloemfontein deel intussen mee van die genadiglik abortiewe plan om ‘n NGK-tehuis vir oues “Transito” te noem. Goeie hemel – dis amper nog erger galgehumor!)
(hvd)
Dec 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Danksy ‘n vlytige brieweredakteur by Die Burger is daardie koerant se lesers die intellektuele uitdaging gespaar om die briefie hieronder te verteer.
Die resultaat is dat lesers van daardie gewaardeerde Kaapse Afrikaanse dagblad steeds onder die skromelike wanindruk verkeer dat Bulfontein se ouethuis ,Amper Daar sou heet – wat darem sielstergende ligsinnigheid sou weerspieël.
Ek meen nie rubriekskrywers durf straffeloos rondloop wat die waarheid so geweld aandoen ter wille van effek nie, en ook nie dat koerante hul rubriekskrywers so tot elke prys in watte moet toedraai dat hulle maar ongeopponeer mag kwytraak wat hulle wil, sonder bekommernis oor die waarheid aldan nie van hul skryfsels nie. .
Hiermee my verwerpte briefie:
Dit is nie eens amper waar dat die ouetehuis op Bultfontein in die Vrystaat se naam Amper daar is nie.
As aangetroude Bultfonteiner (31 Desember 1966 in die NG Moedergemeente neffens die kerkhof) neem ek des te meer eksepsie aan mnr. Dana Snyman se wanvoorstelling in die rubriek Van Alle Kante van 29 November.
Die huweliksband van amper 50 jaar vereis immers lojaliteit aan die dorp, aan Huis Vergeet My Nie (korrek) en aan sy tydgenootlike inwoners, van wie aan my bekend is.
Boonop kom ek uit ‘n skool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n? Het mnr. Snyman iemand gevra? Het hy net die kluts met die spul name kwytgeraak? Of het hy sommer met kwaadwillige asprisheid die naam uit sy duim gesuig?
As ‘n mens oor die naam van ‘n ouetehuis lieg, kan jy oor enigiets lieg. Ek is amper daar dat ek mnr. Snyman se mededelings met ‘n knippie sout neem. (hvd)
Nov 29, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Chrstopher in sy Josefskleed
More uit Melkbos
Dit is daardie tyd van die jaar dat klein Josefs oral hul hooftooisels opsit en die klein Maria’s hul lang wit gewade aantrek vir ‘n duisternis kriptonele op ‘n duisternis verhoë by Kersspele by dagskooltjies, kleuterskole, skole en waar ook al.
Ons klein Josef (Christopher 4) draf vanoggend op in ‘n uniform wat sy oupa nogal aan daardie ander Josef met sy “amazing Technicolor dreamcoat” herinner. Christopher kan bars van die trots, al was hy gister in trane omdat sy ouma nie op Oumadag kom kyk het nie. Sy is wel vanoggend by die groter okkasie, maar op die oomblik het de vername stukkie inligting hom ontgaan.
Oupa stuur ‘n lekkergoedjie saam. Hy is afwesig weens ander verpligtinge, maar nie min danig op die Josef van Welgemoed se klein skooltjie nie. Meen te sê, twee jaar gelede was Christopher ‘n beskeie muis in die stal. Verlede jaar was hy een van die Wyse Manne (Oumagrootjie had nogal ‘n konneksie met Bethlehem, al was dit dan nou die een met die h). Vanjaar is sy naam in ligte as’ t ware. Hy praat drie sinnetjies. Meteoriese opgang.
Hoop nie hy raak verward soos die knaap wat op ‘n keer die rol van herbergier moes vertolk nie. Hy vergeet toe sy woordjies. Maar aardjie na sy vaartjie doen hy ‘n gulle, impromptu aanpassing: “Nee,” antwoord hy op die vraag of hy vir Josef en Maria ‘n slaapplekkie het. “Maar kom in vir ‘n dop!”
Hoop ook nie onverwagse verwikkelinge duik op soos op George waar ‘n jong Maria skielik haar nood moes uitkreet nie: “Mamma, ek wil piepie.” Mamma het opgevlieg, Maria gegryp en uit haar nood gaan verlos. Na ‘n kort onderbreking kon die konsertjie voortgaan. Kennismaking met die verhoog op so ‘n tengere ouderdom kan soms veeleisend raak. Een Maria’tjie het sommer al met die repetisies die gewig op haar skouers ervaar. Sy het by mamma kom kla: “Dis swaar werk om ‘n maagd te wees”.
Op skool onthou ek hoe ons ligsinnig sit en giggel het oor ‘n maat wie se meisie op die verhoog haar ongehude swangerskap moes bely. Die storie het by haar uitgekom. Sy wou om die dood nie glo dat haar ridder nie onlojaal saamgegiggel het nie. Sy WAS daarna sy meisie. So kan dinge in ‘n onbesonne oomblik handomkeer verander. (hvd)
Nov 27, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die reisplan lê hier langs my. Wanneer die Queen Mary 2 – “the finest ocean liner ever built” – op 19 Februarie 2014 verby die operahuis grasieus Sydney se hawe binnevaar, sal die Van Deventers op die dek wees.
Sal met ‘n wit sakdoekie wuif. Hou vir ons dop op die langafstand- webcams en dinge!
As jy romanties na die saak wil kyk, sou jy kon praat van ‘n droom wat bewaarheid word. Die uwe en Tokkie praat al lank van ‘n vaartjie op die QM2. Die probleem was nog altyd dat sulke kort (bekostigbare) vaartjies soos ons in gedagte het, nie bestaan nie.
Toe begin ek my vrou sagmaak vir ‘n vaart na Southampton. Goed, willig sy later in. Komplikasie: Die volgende een is eers in 2015. Lang wag vir ‘n ou man! Ek bly dus maar op die webwerbe karring.

Verlede week wanneer lees ek die “special” raak: 26 nts Cape Town to Sydney & Hong Kong Stay. Om die een of ander rede dwaal ek telkens terug.
Ekskuus vir die baie Engels – oefen om op die dek van die ou dame my man te kan staan – maar die volgende paragrafie gee uiteindelik die deurslag:
Your journey begins at the port of Cape Town. You will then set sail on a 22 nights Queen Mary 2 cruise from Cape Town, visiting Cape Town, Durban, Mauritius, Fremantle, Melbourne and finally Sydney. In Sydney you’ll spend 2 nights in a 4* hotel. In Hong Kong you’ll spend 2 nights in a 4* hotel. Your journey ends with a flight back home.
Toe pak ‘n ongekende impulsiwiteit die ou man. TvD het dit agterna so gediagnoseer: Jy het vir ‘n heupvervanging gegaan en toe sommer ‘n kopvervanging op die koop toe gekry!
Nietemin, Om 09:30 het eke met ene Amanda van Imagine Cruising gepraat. Teen 12:00 was op die passasierslys die name van: Jakob Hendrik van Deventer en Gesina Susara van Deventer. Ahooi, Sydney, ahooi!
Eers later toe ek begin spyskaarte bestudeer (sesgange, maaindjoe!) en aan-boord-programme en daardie klas ding, skrik ek my boeglam toe ek die pryse van drank raaklees. Soveel bottels teen soveel dollar (nie sterling nie!) per bottel … hele begroting in sy kanon!
Maar oom Barnie Human van Bloemfontein het altyd die wysheid kwytgeraak: As jy ‘n olifant insluk, moet jy nie skrik vir die stertjie nie.
Dus: sluk, Hennie, sluk …. die olifant is pens en groot pote in – net die stertjie is oor. (hvd)
Nov 24, 2013 | Hennie van Deventer se Blog


Middag uit Melkbos
Jy is my vriend, selfs meer as my broer. Jy is my beskerming, wanneer die winterwind koud waai. Jy is die een wat eerste deur riviere swem om seker te maak dat daar geen krokodille skuil nie ………..Jy is die een wat sal sterf om my te beskerm. Vir jou is liefde alles en alles is liefde.
So word die hond besing deur Credo Mutwa in Silwane – The Animal (Tales and Fables of Africa). Ek haal Mutwa se gevleuelde woorde aan in my hondeboek, ‘n Vriend vir Altyd – Honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000).
Die tema van die boek is presies wat Mutwa beskryf. Die karakters is ‘n uitgebreide galery natneus-nuusmakers. Party sal tot in die verre toerkoms as hondehelde bewonder word. Die titel kom uit ‘n aanhaling van Rudyard Kipling: Hy sal ons vriend wees vir altyd, en altyd en altyd. Het dit een aand by Willie en Irna Hartzenberg op Hermanus in ‘n almanak raakgelees juis terwyl ek op soek was na ‘n titel vir die boek.
In een hoofstuk, ‘n Dawid vir Jonatan, word die rolle omgeruil. Die mens is daarin die held weens die opofferende liefde wat hy eweneens vir die hond koester. Soos ‘n hond vir sy meester alles sal opoffer, so dryf die mens se liefde vir ‘n getroue hond hom immers ook tot ongewone dade. Soos kapt. John Seeley nou in Kimberley met sy redding van Kaptein uit die Groot Gat, waarin die stomme hond dae reddeloos rondgeswem het. Dit is ‘n ‘n storie van ‘n hondevriend se heldedaad wat in ‘n Vriend Merk II baie bepaald prominent ‘n plek sou vind.
In Vriend Merk I is een voorbeeld van die mens se heldedade vir honde waar dassietonnels met laaigrawe oopgekloof word om ‘n verdwaalde hond te red. In ‘n ander word ‘n noodoperasie op ‘n hond met ‘n biltongmes uitgevoer. ‘n Man voer in ‘n derde in ‘n modderige plaasdam ‘n stryd op lewe en dood met ‘n krokodil wat sy hond gegryp het.
Miskien minder dramaties, maar nie minder aangrypend nie, is die liefdevolle versorging van ‘n jong diabeet van haar hondjie wat dieselfde siekte opdoen, of die liefde van ‘n arm vrou wat liewer self honger sal gaan slap voordat sy haar honde afskeep.
Die redding van Kaptein was voorbladnuus, nie net in Suid-Afrika nie. Al die ander stories hierbo kom ook uit koerante. Eersteklas joernaliste weet goed hoe belangrik vir hul sogenaamde “mix” stories is wat nie siddering en gebelgdheid nie, maar ‘n warme gevoel van weldadigheid (sonder die ge-) om die hart bring.
Hondestories staan naby aan heel voor in daardie ry. (hvd)
Nov 21, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
OM 20:30 op Vrydagaand 22 November 1963 was Die Volksblad (nou Volksblad) se gebou in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) in Bloemfontein grootliks in donkerte gehul. Die koerant was toe nog ‘n middagblad. Die enigste twee lewende wesens in die redaksiekantoor was Smittie (Smit), die teleksman, en die uwe, ‘n jong verslaggewer.
Smittie was in die telekskantoor bedrywig. Die teleksman se taak was om die kletterende masjiene aan die loop te hou, asook om inkomende berigte af te skeur en te sorteer: hierdie vir die hoofsubredakteur, daardie vir die sportkantoor, afskrifte vir die assistant-redakteur, en dies meer. Van Deventer was besig om ‘n Kersfondsberig vir die volgende dag op sy hoë Remington met die oneweredige letters uit te timmer.
Teen 20:40 het Smittie ingebars by die subkantoor waar ek sit en werk het. In sy hande was ‘n flitsberig van Sapa (Suid-Afrikaanse Pers-assosiasie), komende van die Associated Press (AP) van Amerika: Pres. John F. Kennedy is in Dallas, Texas, uit ‘n hoë gebou in sy oop ampsmotor in ‘n amptelike konvooi deur die strate van Dallas doodgeskiet. Dit was om 12: 30 Amerikaanse tyd. Die tydsverskil tussen Dallas en Suid-Afrika is agt uur.
Ek het opgewip en langs Smittie in die naburige telekskantoor gaan staan terwyl Sapa se masjiene soos masjiengeweervuur bly dawer en die drama in Dallas hom in al sy ondenkbaarheid ontvou. Dit was leesstof wat ‘n mens onwillekeurig laat ril het. Ná ‘n ruk het dit tot my deurgedring die skoknuus is nie vir my en Smittie se eksklusiewe kennisname nie. Ek het die stoute skoene aangetrek om die assistent-redakteur, “Oom Bart” Zaaiman, by sy huis te bel. Ons het seniors daardie tye links en regs ge-oom. Daar was ook ‘n “Oom Gert” Terblanche, die nuusredakteur.
Verskonend het ek verduidelik dat ek gewonder het of hy nie van die sluipmoord sal wil weet met die oog op die volgende dag se koerant nie. Die middagkoerant was immers Saterdae eintlik ‘n laat oggendkoerant wat teen 11;00 op straat was. Om dit te vermag, het die hoofsubredakteur teen 05:00 ingeval; sy spannetjie subs kort daarna. Een Saterdaghoofsub, Ollie Olwagen, het selfs party Vrydagaande op die grond in die subkantoor geslaap om tog net nie laat te kom nie!
”My magtig, Hendrik!” het “Oom Bart” uitgeroep. Hy was nie ontsteld oor my “voorbarigheid” nie; het my inteendeel oorvloediglik bedank vir my “prysenswaardige insig” om hom in te lig. Hy het dadelik op die telefoon gespring en begin span saamstel vir ‘n spesiale poging. Ek, wat nie die Saterdag sou werk nie, is as vertaler opgekommandeer. Die Kersfondsberig het vergete gebly. Maandag was nog ‘n dag …
Een van die berigte wat die Saterdagoggend deur my Remington is, was oor Jackie Kennedy se smartlike ervaring. Die mooi jong weduwee het haar sterwende man se kop in haar arms gehou (“cradled his head in her arms”, het AP berig) terwyl met sy Lincoln na die hospitaal gejaag is. Ek het vertaal sy was “bloedbesmeerd”. Die gewoonlik besadigde “Oom Bart” het ongeduldig oor my skouer geloer en blaadjie vir blaadjie uit my tikmasjien na die hoofsub aangedra om die banieropskrifte en ‘n plakkaat te prakseer. Hy was nie ingenome met my woordkeuse nie. “Bloedbekoek, man!” het hy ge-adviseer. “Bloedbekoek”, het dit geword. WAT neem kennis!
Terwyl ons na die eerste uitgawe ons tradisionele geroosterde kaas-, tamatie- en hamtoebroodjies van die delikatesse Grinters op die hoek geniet, was hierdie jongeling in die sentrum van sy ouer kollegas se belangstelling, wat hom nogal gevlei het. Ek moes haarfyn vertel van die eerste flitsberigte en die onafgebroke stroom kopie wat vir Smittie op sy tone gehou het tot in die vroeë oggendure, toe dit ‘n kort rukkie afgebreek het om later weer met nuwe kartetse op koerante te reën.
As ek terugkyk, kry ek opnuut nagmerries oor die amperse flater wat ek uit respekvolle skrikkerigheid vir die “baas” begaan het. As ek “Oom Bart” nie gebel het nie, was ek dalk vandag in Volksblad-folklore wat die Associated Press se Jack Bell by die AP geword het. Die stomme Bell het hom deur United Press International (UPI) se man, Merriman Smith, sleg laat troef. Merriman Smith het eenvoudig die enigste radiotelefoon in die amptelike persmotor ge-annekseer en bly vasklem ondanks die paniekerige Bell se wanhopige houe op sy rug om hom darem ook ‘n billike kans te gee. Bell was daarna nie ‘n held nie. Sy loopbaan het ‘n duik gevat.
Van daardie intrige in die persmotor het ek eers later jare bewus geword. Die paar minute waarmee Smith vir Bell geklop het, was uit ‘n Suid-Afrikaanse hoek in elk geval nie juis noemenswaardig nie. Maar in joernalistieke terme is minute natuurlik goud werd, veral in die uiters mededingende Amerika, en natuurlik deesdae des te meer met al die elektroniese media wat tot elke prys eerste wil twiet.
Ongetwyfeld was die sluipmoord op die Amerikaanse president die grootste “Saterdagstorie” van my era as joernalis. Daarmee bedoel ek ‘n storie wat, in joernalistieke idioom, vir die Saterdagkoerant “gebreek” het. Interessant genoeg, het net die volgende jaar, 1964, nog ‘n grote opgelewer toe John Harris op 24 Julie 1964 die berugte stasiebom in Johannesburg laat ontplof het. Teen daardie tyd het ek al teen die leer op begin vorder. Ek was een van die subs wat berigte oor die stasiebom geredigeer en van opskrifte voorsien het.
Die grootste” koerantstorie van my loopbaan by koerante (1963 tot 1997)? Dit was ongetwyfeld die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966, wat ‘n Dinsdag was. Die impak van die gebeure van 1992 en daarna, met die ontperking van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing, was natuurlik enorm. Maar suiwer as onvergeetlike joernalistieke lewenservaring hou niks vir my kers vas by die ontvangs van daardie flitsberig uit die hande van teleksman Bennie Lean en die uitgee, onder enorme emosionele en tydsdruk, van ‘n spesiale uitgawe met die opskrif “Verwoerd vermoor” in groot swart houtletters nie. Toe die rolpers begin draai, was Voortrekkerstraat reeds ‘n miernes van ‘n nasie in rou, wat wag om deur hul koerant ingelig te word.
Ook dit is nooit weer geëwenaar nie.
(hvd)