Nov 12, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Veel jonger HvD en Bob Lindsay van Associated Press gesels oor landlyne in Londen in 1974.
Middag uit Melkbos
‘n Jong joerrnalis, Anena Burger, verteenwoordig my ou koerant. (Die) Volksblad, in die Noordweste. Op Facebook skryf sy soos volg: “Vanaand was ‘n goeie eerste. Vanaand het ek my storie en foto’s deur Whatsapp Bloemfontein toe gestuur omdat die storm ons sonder krag en behoorlike sein gelos het.”
Die ou man se verstand duisel. Van die tiekieboks, die landlyn en selfs verskillende vorme van padvervoer af tot hedendaagse hipermoderne plat slimfone, tablette en internet wat op die minimum sein kan werk, is omtrent so ver soos ‘n maanreis en nog ‘n entjie.
Ai, die tiekieboks. Dit was doer in die 60’s die vinnigste en betroubaarste manier om jou berig by die tuisbasis te kry. Moet bely toe ek jonk was, het ek nogal vernaam gevoel as ek die gehoorbuis optel en plegtig meedeel: “Perskollekteeroproep na Bloemfontein nommer so-en-so. Dis dringend asseblief”.
Soms was dit selfs nodig om te bel met ‘n sak vol vyfsentstukke. Dan is aan die ander kant ‘n ongeduldige tikster, party so blitsig op die sleutelbord dat hulle jou aanjaag en vererg reageer as jy na woorde tas.
Een by Volksblad, die uiters knap Anda van den Heever, later Le Roux, moes op ‘n dag berigte van Quintus van Rooyen oor die telefoon afneem. Dit het maar gesukkel maar. Quintus wou gedurig veranderinge aanbring soos hy lees. Anda vererg haar toe, vat haar handsak en stap by die deur uit. Sy was later prof. Anda le Roux – in sielkunde of iets.
Die alternatief was die teleks. Jy het jou berigte by die poskantoor gaan ingee en gehoop op die beste. ‘n Keer het Herman le Roux se hele vrag kopie oor ‘n rugbytoets in Nieu-Seeland nie by (Die) Volksblad uitgekom nie maar by ‘n handelaar in gebruikte motors in Welkom. Die teleks het twee nommers verwar. Verslaenheid en frustrasie oweral.
Met ‘n rugbytoets in Bloemfontein is berigte met ‘n toutjie van die hoofpaviljoen af laat sak na waar ‘n motorfietsryer met brullende enjin gereed gestaan het. Hy het dan laat waai na Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) waar die setters gereed gesit het agter hul enorme swart warmloodmasjiene.
‘n Mooi motorfiets-storie is van daardie nuusvrou duisend, die onstuitbare Rykie van Reenen. Met die begrafnis van dr. H.F. Verwoerd het sy, onder geweldige tydsdruk, sonder aarseling in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk.
Die versending van foto’s was veral ‘n reuse-uitdaging. Die tegnologies gevorderste metode was die landlyn. Die foto is pynlik tydsaam kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel.
Vir jare had ons koerant nie sy eie landlynmasjien nie. Belangrike landlyne is soms op die tippie nog by die poskantoor gaan oppik. Dan moet jy roer om met jou kosbare vrag betyds by die kantoor te kom. Een dag is geen redaksiemotor beskikbaar nie. Ek ry met ‘n sirkulasie-paneelwa. Haastig terug kantoor toe, sit ek die dem ding in trurat by ‘n verkeerslig. Amper ‘n moles maar die foto was daardie middag op bladsy een.
Daar was ook spoedpos (hoe meer haas hoe minder spoed), vliegtuie en motorvoetuie van verskillende aard.
Met parlementsopenings was een van my take as parlementêre verslaggewer om betyds vir die laaste vlug Bloem toe op die Kaapse lughawe ‘n koevert te besorg met foto’s van die modebewuste vroue van politici. Het sommer ‘n passasier voorgekeer en gevra: Vat tog saam, asseblief. Iemand van (Die) Volksblad sal dit op die lughawe by jou kry. Dan bel ek met die tiekieboks en verduidelik hoe lyk die koerier, sy of haar klere, ens.
‘n Keer kry ek eksklusief die foto’s van ses mense van Sasolburg wat in ‘n motorongeluk by Parys uitgewis is. Sit dit op die sirkulasiepaneelwa, is my opdrag uit Bloemfontein. Ek maak toe so. Die volgende oggend bel die nuusredakleur, Oom Gert Terblanche (nou 92): Boeta, waar’s die foto’s?
Op die paneelwa, Oom Gert. Maar toe slaap daardie paneelwa daardie nag op Kroonstad sonder enigeen se medewete. Neusie verby!
Aijajaja-ja. Wat sou ons gryses nie wou gee vir die luukse van die e-era nie: so vinnig, maklik, doeltreffend. Maar kan kommunikasie selfs nog vinniger, makliker, beter? Die ou man se verstand duisel des te meer oor wat die toekoms dalk kan inhou – selfs ‘n foto van iets voordat dit nog gebeur het! More se koerant vandag! (hvd)
Nov 8, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die liedjies wat ons gesing het toe ons nog jonk was. Van die heel bekendste is liedjies soos You are my sunshine, She’ll be coming round the mountain when se comes, She stepped into the water and so got her ankles wet en so aan. Meesal met vindingryk aangepaste woorde.
Herinneringe oor die sentimentele onderwerp is die afgelope paar dae op Facebook opgediep. Steve Botha het die bal aan die rol gesit. Ek en andere het daar saamgesels. Wil graag hier uitvoeriger doen.
Ek het op FB geskryf: Dink ek aan liedjies, dink ek dadelik aan my vriend Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af in Kollegetehuis. Tuks, opgedaag het. Ons was saam ienks of eerstejaars.
Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Die maan skyn so helder op my p…. en so aan voort wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet.
(Ons het ook gesing Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel… en Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink op die maat van Pale Toe – taamlik “voorstedelik en banaal”, in Paula se woorde. )
Daarteenoor het Piet se repertorium gesofistikeerde liedjies soos hierdie ene van St. John’s se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.”
Van Piet se liedjies weerklink soms nog by Tarlehoet as ’n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ’n minder harmonieuse neuriekoor.
Een Piet-lied wat voorleef, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less. . . . Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms.
My ervaring is dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied egter uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s.
Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ’n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ’n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.
Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me . . .
Later word uitgewei oor met watter moeite elke soort voël haar eiers lê: And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird . . . the ostrich . . . the ooh ah bird. . . . Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net ‘n verligte oe –aaa.
Gaudeamus igitur …. (hvd)
Nov 4, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Die enorme Kloppers op George.
More uit Melkbos
‘n Vrystaatse vriend het die beroemde Bloemfonteinse afdelingswinkel Kloppers die volgende uitsonderlike getuigskrif gegee: Sy vrou kan enigiets koop wat haar hart begeer mits sy dit by Kloppers koop. Daardie vertroue en lojaliteit van die gemeenskap is die resultaat van ‘n enorme verskeidenheid kwaliteitsprodukte, mededingende pryse, betroubare diens en intensiewe gemeenskapsbetrokkenheid van die winkel wat die legendariese wyle Willem Klopper se monument is.
In Bloemfontein was ek en Tokkie ook oortuigde Kloppersmense. Yskas, stoof, vrieskas, wasmasjien, radio, horlosies, messegoed, tuinmeubels, kamera, verkyker, alles, en meer, kom uit Kloppers.
In later jare het Kloppers sy wortels ook in die Suid-Kaap kom inslaan. Op George (Yorkweg-afrit) is ‘n reuse-kompleks wat lyk of jy ‘n makro-Boeing daarin kan parkeer. Ons mis nie ‘n geleentheid om stadig, al kuierend, deur daardie winkel met sy sale vol begeerlike produkte van elke denkbare soort te stap as ons in daardie wêreld kom nie.
Saterdag was ons weer in Kloppers. Lekker met Willem Klopper gesels wat saam met sy broers die reuse-nalatenskap van hul vader in stand hou en steeds uitbou. (Een kenmerk van Kloppers, terloops, is dat base en klase presies dieselfde uniform dra. Niks sal verklap dat Willem die baas is as hy op die vloer rondbeweeg nie. Hy sal dit ook nie benede hom ag om die simpelste navraag vriendelik te beantwoord nie.)
Terwyl ons die keurige voorraad so loop en deurkyk, word my vrou deur ‘n brandende nostalgie gepak. Sy soek Willem met ‘n seer hart om hom van haar kennismaking met Kloppers in 1966 te vertel. Ongelukkig het hy soos ‘n groot speld verdwyn. Nou vertel ek maar hier.
Die storie begin die personeelkamer van die Laerskool Wilgehof waar die LO-onderwyseres Elsa Lourens van haar vroulike kollegas die oggend verras deur haar rok hoog op te lig – darem nadat sy seker gemaak het daar is geen man in in sig nie.
Wat die versamelde juffroue sien, vervul hulle met opgewondenheid – lang kouse sonder bandjies, rekke, gespes en dinge. Dis broekiekouse, verduidelik Elsa. By Kloppers gekoop, daar in Hangerstraat.
Die middag ken Tokkie en die ander onderwyseresse net een pad: Kloppers toe. Die volgende oggend het almal hul splinternuwe broekiekouse aan. Hulle brand om vir mekaar te wys. Een moet “kywie” hou. Toe lig die klomp hul rokke soos wafferse can-can-danseresse. Net Offenbach het ontbreek, anders het hulle sweerlik hoog geskop.
Tokkie weier om vir hierdie grysaard te poseer vir ‘n foto – selfs met die belofte dat hy haar gesig sal wegsny om haar identiteit te bekerm. Maar hy hoor darem vrouedinge wat hy nooit geweet het nie. Soos hoe gemaak is as die een been sou leer en die geldjies maar skraps is. Sny dit af. Dra die goeters oor mekaar. Was steeds strate geriefliker as die ou soort sykous, rapporteer my vrou.
Reken net dat Kloppers nou juis op daardie intieme manier tot haar lewe sou toetree, en dat sy na 48 jaar feitlik nog dag en datum onthou. Vroue! (hvd)
Oct 28, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Sekere monumentale bokkerops begrawe jy dalk lank en diep in jou onderbewussyn maar op ‘n gegewe oomblik: Woerts, hier spring dit weer uit!
Ry verlede week saam met ‘n eiendomsagent deur Welgemoed om redes wat nie hier ter sake is nie – solank iemand dit net nie gaan staan en vertolk as ‘n wenk dat die Van Deventers op trek staan nie. Ons bly op Melkbos tot ons dood, dankie.
In elk geval, in Chavonnestraat hou sy voor ‘n groterige siersteenhuis stil wat onlangs van eienaars verwissel het. Sy verduidelik die uitsonderlikhede en voortreflikhede, soos eiendomsagente doen.
‘n Beeld van 22 jaar gelede doem skielik voor my geestesoog op. Ons het pas van Bloemfontein na die Kaap verhuis en ek was op soek na ‘n huis, verkieslik in Welgemoed rond.
Het die huis ‘n glasvoordeur?
Ja, antwoord die agent.
Het die huis ‘n gastetoilet in die voorportaal?
Ja, antwoord die agent.
Kyk die voordeur direk op die gastetoilet se deur?
Ja, antwoord die agent.
Is in 1992 die huis gewys toe ek in Welgemoed aan’t huis soek was, deel ek die verbaasde agent mee.
En toe, wat het jy daarvan gedink?
Die herinnering aan die ongelukkige ligging van daardie twee deure is skielik helder voor my. Ook ‘n ander beeld wat ek destyds opgetower het: Van iemand wat onverhoeds uit die gastetoilet stap en sy/haar klere nog ‘n laaste rukkie en plukkie gee. Die volgende oomblik kyk hy/sy ‘n besoeker by die voordeur stip in die oë.
Ek wou nie eens verder kyk nie, antwoord ek. Het net vir daardie agent gesê: Hulle moet die argitek daar by die gastetoilet teen ‘n muur sit en summier fusilleer.
Joe, niks fout met jou geheue nie, sê die agent.
Dankie, antwoord ek, maar sekere dinge maak nogal ‘n indruk op ‘n mens. Jy vergeet dit nooit.
Dit geld ook, en dalk veral, vir sulke onverklaarbare, onvergeelike en monumentale bokkerops. Soos met daardie ongelukkige huis in Chavonnestraat.
(hvd)
Oct 25, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Die Regering se voetjie-voetjie-spelery met Moedertjie Rusland herinner my aan ‘n kuiertjie in 1990 – die dae van Gorbatsjof. Een van die vreemde verskynsels vir die SA besoeker was daardie koddige land se vakansiekultuur. Dalk is dit deesdae anders, maar destyds is strandapartheid streng gehandhaaf. Daaroor het ek o.m. geskryf in ‘n reeks artikels vir die Afrikaanse dagblaaie.
Middag uit Melkbos
DIE strande aan die Swart See by Odessa in die Oekraine is stampvol vakansiegangers. Hulle ry trapkar op die kalm water, baljaar in die Augustus-son en speel ‘n potjie biljart, skaak of tafeltennis in die buitelug. Van hulle was tot vier jaar op ‘n waglys van ‘n vakbond wat ‘n uitspanplekkie by die see besit. Ander het sewentig geword voordat hulle só ‘n kans kry.
Baie het een of ander kwaal – die algemeenste paspoort tot die begeerde sertifikaat wat ‘n gesubsidieerde vakansie hier of in die Krimgebied, in die Kaukasusberge en aan die Riga-kus moontlik maak. Vakansiegangers wat uit eie sak betaal, is ver in die minderheid. Net die rykstes kan dit bekostig. Vir die ander, 10 tot 12 miljoen per jaar, betaal hul vakbonde tot 70 persent van die rekening, ook met die oog op behandeling in een van die honderde klinieke aan die kus.
Die mediese aspek van ‘n seevakansie word sterk beklemtoon. Die see- en berglug van die Krimgebied ewenaar die genesende waarde van die Franse Côte d’Azur vir asemhalingsprobleme, is die aanspraak. ‘n Plaaslike geloof is selfs dat net een druppel op die vel van die beroemde swaelwater van Dagomies, naby Sotsji in die Krimgebied, ‘n verjongingskuur is. Hawaii, Jamaika en Florida in Amerika kan in dié opsig (maar seker ook darem net hierin!) gaan slaap, spog die Sowjet-burgers.
By van die oorde agter die Ystergordyn is selfs klein skooltjies vir besoekende kinders. Die vakansiehotel by Misjkor spesialiseer in vakansies dwarsdeur die jaar, en het elf onderwysers wat die kinders met lesse, huiswerk en allerlei opvoedkundige programme besig hou.
‘N TIPIESE dag vir vakansiegangers met ‘n gesondheidsprobleem begin met ‘n paar uur in die kliniek. Daar is egter ook die gelukkiges wat hul vakansie-sertifikate van hul vakbonde gekry het as beloning vir goeie diens. Vir gesondes en ongesondes waarborg die sertifikaat ‘n plekkie op ‘n strand, maar vir saunabaddens, massering, psigoterapie en die huur van TV-stelle moet almal self opdok.
Wat opval in Odessa, sogenaamde ”pêrel van die Swart See”, is die ”strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste het ‘n spesiale ”Intourist-strand” wat met tralies van die openbare strande afgehok is. Die reisagentskap Intourist behoort aan die regering. Selfs op dié strand is die geriewe egter maar oes. Die sogenaamde kroeg en ‘n restaurantjie is beknop en slordig. Van die gewone strandfront-ontwikkeling waaraan ‘n Westerling gewoond is, sien ‘n mens geen teken nie.
‘N ONTNUGTERING is dat die hotel van kwalik eenster-gehalte minstens ‘n halfuur se busrit van die see is, deur ‘n neerdrukkende nywerheidsgebied met stink rook, vuil fabrieksgeboue en druk vragmotorverkeer. Jy wonder oor die nywerheidsafval wat in die see gestort word wanneer jy versigtig ‘n toon in die Swart See steek. Van die openbare strande is die ene klipbanke tot teenaan die see. Branders is skaars en die sand grof. By Jalta in die Krimgebied, wat volgens foto’s in ligging en voorkoms veel nader aan ‘n Westerse vakansie-oord kom, is egter geen sand nie, net spoelklippies.
Stranddrag verskil min van dié in Suid-Afrika, maar is klaarblyklik minder modieus as die jongste skeppings wat Clifton en ander uithangplekke van professionele Suid-Afrikaanse sonaanbidders versier. Bikini’s is volop, maar die bostukke word aangehou. (hvd)
Oct 19, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Kry uit die bloute hierdie sjarmante foto van ons Franse Balulevriende hoog in die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, Die Franse gesin het in Augustus in daardie primitiewe boskampie naby Olifants in die KNP oornag vriende geword met wie adresse uitgeruil is.
Hulle is Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7).
Hoe sal ek vergeet van die pikante génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het? Hulle het dit self in die einste Alpe naby hul tuiste gepluk op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het.
Lees ook my blog van 3 September.
Hennie van Deventer se Blog » PLAISIR D’GENEPI, ENS
hennievandeventer.com/hvdblog/?p=6092
o Cached
Translate this page
Sep 3, 2014 – Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel. (hvd)