Piet en Petro Theron 

In die matriekjaar van my kollega en vriend van langer as ses dekades, Piet Theron, het die Nederlandse voorgeskrewe boek “Duikelaartje” deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref.

Die beeld van ‘n duikelaar – ‘n poppie met ‘n swaar voetstuk wat telkens regop spring as dit omgestamp word – het Piet telkens in sy lewe opgehaal. ‘n Duikelaar het dadelik in my gedagte gekom toe ek vroeg vanoggend die nuus kry dat Piet se skittervrou, Petro, se stryd verby is Sy is op 83 in Bloemfontein oorlede.
Die dood het gekom aan die einde van ‘n uitmergelende hoofstuk. Petro was vanjaar seker 50 keer in en uit die hospitaal. Sy het bly vasbyt. Telkens orent gekom. Blymoedig bly voortbeur totdat die laasta taai skof enkele weke gelede aangebreek het. .
Noem Petro gerus om vele redes Mev. Duikelaar. In uitdagende en beproewende omstandighede soos haar en Piet se onderskeie ernstige operasies, asook vele kinder- en kleinkinderteenspoede het sy haar staal getoon.

In werpskyfsirkel.

Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was sy vir hom ‘n anker. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was sy syne. Toe die jongste, Pieta, na ‘n blinderdermoperasie wat weens mediese onbeholpenheid sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was sy vir hom ‘n rots.
Pieta se lyding het aan die hart gegryp. Hy het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.
Soos Petro vir Pieta versorg het, demonstreer opofferende moederliefde sonder weerga. Ondanks rugoperasies was sy altyd gereed om haar seun op te tel waar hy lê en krul. Dieselfde ongekende liefde het sy op sy kinders uitgestort, des te meer nadat die oudste, Liza, in ‘n motorongeluk ernstig beseer is.
Altyd die toonbeeld van toewyding en standvastigheid, was sy vir Piet ‘n eggenoot duisend; vir haar kinders ‘n ma duisend en vir haar kleinkinders ‘n ouma duisend. Sy was ‘n vrou duisend – daarvan getuig ook haar loopbaan in die onderwys en op die sportveld.
Van jongs af was Petro (nooiensvan Du Plessis) ‘n kampioen. Sy was ’n kranige veldatleet met ‘n kas vol medaljes – goud, silwer en brons. Sy het vier keer die silwermedalje in die gewigstoot op die SA kampioenskapsbyeenkoms gewen. In 1963 was sy die nasionale kampioen in die werpskyf. Dit het haar tot op die randjie van Springbokkleure gebring.

Petro (naasregs) saam met vriendinne Tokkie van Deventer, Rina le Roux, Liesbeth Venter en Cora Marais

Sy het vier jaar lank vir die Vrystaat netbal gespeel – ook in 1964 toe die span die goue medalje op die SA Spele verower het. By daardie Spele het sy ook die silwer in die gewigstoot en brons in die werpskyf verower.

Piet het haar sy .“sportprinses”genoem. Die eerste keer toe hy haar in 1963 in die werpskyfsirkel sien, het hy selfversekerd verklaar: “Met haar gaan ek trou.” Net 20 dae nadat hulle begin uitgaan het, was hulle verloof en nege maande later voor die kansel. Toe kom die eersteling, Dawie – einde van haar Springbokdrome.
(”Toemaar ma, eendag sal ek nog vir jou ‘n Springbokbaadjie gee.” So het Dawie haar belowe toe hy so 13 jaar oud was. Hy het woord gehou. In 1996 het hy – toe pas 20 – die eerste keer vir die Springbokke gespeel as stut.)
Toe Piet en Petro in 1964 op Bethulie in die huwelik tree, is die spraaksame Van Deventer as seremoniemeester ingespan. Vierhonderd gaste het die uithaler-boerebruilof bygewoon – seker die grootste gehoor wat daardie ou ooit gehad het!
Petro was regtig ‘n pragtige bruid – sy was op rype ouderdom nog ‘n mooi, statige vrou – en Piet was ‘n netjiese bruidegom.
Op hul 50ste troudag – 19 Desember 2014 – was Piet en Petro op hul seremoniemeester se stoep op Melkbos by ‘n hoogs informele “goue bruilof” saam met enkele Kaapse kollegas. (Die amptelike herdenking – ‘n fees der feeste – was ‘n rukkie tevore by Curielaan in Bloemfontein.)
Ja, ons èn daardie juweel uit Bethulie het ‘n lang pad saamgekom. Rus sag, liewe Petro.
Deel dit: