Koper skyn die knoppiesdorings.

Luiperds boer werklik die winter in Sabiepark.

In twee insidente figureer Tokkie se beroemde alleen-oggendwandelings – die laaste ene vanoggend terwyl sy “vir oulaas” haar lang roete aangedurf het: piekniekplek toe, dan op in Gwarriebos, dan weswaarts in Maroela en dan weer ooswaarts in Wildevy.

Sy is so ‘n halfuur weg toe die telefoon lui. Dis Ernst Bezuidenhout, die parkhoof.

“Stap die tannie?”

“Ja.”

“Hier is weer ‘n luiperd in die park, by Maroela 306.”

“Dankie. Ek sal haar gaan haal.”

So eindig my vrou se boswandelings vir 2026 toe die Honda langs haar stilhou, op die hoek van Apiesdoring en Maroela, die huis van Peet en Vonkie Schabort. Saterdag draai ons om Melkbos toe.

Die tweede keer in 11 dae dat dit nou gebeur. Vorige keer, op 9 Augustus, was dit ‘n luiperd met ‘n welpie, wat die situasie nog gevaarliker maak.

Ek skakel haar ook dadelik toe ek die waarskuwing kry. “Staan net daar waar jy is. Staan doodstil. Ek kom jou haal. ”

Gewoonlik vat die Honda soos ‘n droom. Daardie oggend sukkel ek van pure oorhaastigheid ‘n minuut of twee. Toe’s ek agter haar aan, so vinnig soos ek oor die padbulte kan kom sonder om roekeloos te raak.

Verste twee kilometer gewees daardie. Met sebras en wildbeeste ook nog in die pad.

Wat ‘n verligting toe ek die bekende pers truitjie in Maroelalaan gewaar. Net ‘n uur of wat tuis, verskyn ‘n video op Facebook: die luiperd en haar welpie by ‘n watergat. Waar? In Wildevylaan sowaar. By Lorinda Steenkamp.

Hoeveelste luiperd nou al hier rond in Wildevylaan hierdie vakansie? Te veel keer om maar net argeloos jou gang te bly gaan asof daar geen gevaar skuil nie. Hoop Tokkie lees hierdie met aandag.

(In April was die luiperd in die middel van die pad uitgestrek in Wildevy. Sy dag dis ‘n klip. Toe sy nader kom, spring die “klip” op en verdwyn in die veld. Dit het haar darem vanself laat omdraai.)

Oor ‘n verwilderde blou wildebesie in Wildevylaan kan ons net wonder.  Hy was oorkant Tarlehoet se ingang. Dit het gelyk of hy blindelings op onvaste bene in die takke rondmaal, soos ‘n verstrengelde. Die volgende oomblik gaan hy aan die hardloop, trompop teen ‘n bos vas. Hy was absoluut gedisoriënteer en waarskynlik stokblind.

Die volgende waarneming was 24 uur later, digby ons watergat, Bedremmeld het hy daar gestaan. Kop onderstebo, verwese en afgerem. Ligdag die Sondag het Tokkie gaan kyk of hy nog daar was. Hy was. Maar plat teen die grond, Morsdood.

Aan sy nek was ‘n kleinerige wond. Verder kon geen fout bespeur word nie.  Ernst Bezuidenhout raai dat hy dalk deur ‘n slang gepik is. Ons bespiegel saam: Ja, dalk deur ‘n Mosambiekse spoegkobra, Dit sou die blindheid verklaar. ‘n Raaisel is dit egter en n raaisel sal dit bly.

Vir mense wat die storie van die Van Deventers en die eenderse insidente met twee groenvlekduifies op vorige 3 Augustusse ken, hierdie spesiale rapport: Geen vermeldenswaardige insident van enige aard op 3/8/26.

Trouens, geen groenvlekduifie in sig nie. Verligting en dankbaarheid oweral.

Lekker reën – 60 mm in twee dae –  buitengewoon koel aande en ‘n vroeë ontwaking van die lente  met die knoppiesdorings ‘n fees van geel het die laaste weke van ons vakansie gekenmerk. Ons draai Saterdag om.

Net ‘n kort kwartier elke namiddag vang die ondergaande son die laaste paar dae die knoppiesdorings voor die huis. Die resultaat is dramaties. Die blomme aan die boomtoppe verkleur van geel tot koper tot ‘n diep oranje.

Deel dit: