Ontnugterings wat die uwe al in Sabiepark te beurt geval het, sluit in ‘n langdurige kuier van ‘n vasgekeerde veldlikkewaan. In sy wanhopige pogings om uit sy “tronk” te ontsnap, het die meneer aansienlike skade aangerig. Verflenterde gordyne en  stukkende breekgoed  het van sy vryheidsdrang getuig.

Kort na ons intrek in 1998 het ‘n kontingent veldmuise onder my motor se enjinkap ‘n knusse slapplekkie ingerig. So tuis het hulle geraak dat hulle alte heerlik aan die bedrading begin smul het.  Die A.A. moes die kar kom wegsleep Hazyview toe om die skade te herstel.

‘n Vriendin, wyle Andre Visagie, was op haar beurt uiters verontwaardig oor die veldmuise wat haar tafeldoeklaai in haar kombuis as ‘n kraamkamer ingerig het.

Bobbejaanstories is legio. In Tarlehoet het ene geruime tyd agter ‘n slaapkamerkas weggekruip.  Hy is agtergekom aan die swart handjies wat bo die kas uitgesteek het. In sy uittog is onwelriekende visitekaartjies oral op die trappies gelaat.  Een mannetjie het ingestorm en ‘n pak met twee dosyn eiers gegryp wat hy uitdagend binne sig van die geaffronteerde huisvrou sit en verorber het.

Ander Sabieparkers het onaangenamer skade as ‘n paar visitekaartjies op die trappe of pynliker verliese as twee dosyn eiers gely. ‘n Buurhuis is by geleentheid van voor tot agter verwoes.  Elke stukkie breekgoed het o.m. in die slag gebly.

Maar die bobbejaanstorie om alle ander bobbejaanstories te troef, hoor Tokkie vanoggend in die waskamer toe ‘n verleë Vrystaatse vrou met ‘n duvet in ‘n diskrete bondeltjie daar opdaag.

Dit blyk enkele bobbejane is hul huis binne maar het gou voor die kollektiewe afweer-aksie van die huisbewoners die aftog geblaas.

Toe die dogter die aand gaan slaap, bemerk sy op haar bed beweging.  By nadere ondersoek is dit die gevreet van ‘n bobbejaanmannetjie wat haar van onder die duvet begluur. Hy het hom stilletjies in haar bed gaan tuismaak toe sy makkers verjaag is.

Hulp is ontbied en die onwelkome indringer is uiteindelik met geskel en stokke uit die bed verjaag.

Egter nie voordat hy die bed in ‘n ablusieblok omgeskep het nie.

Praat van vuil wasgoed!

 

 

Deel dit: