WIE GAAN WEN?

  ae511179639a4f95b275e956b0cdbde0

Pierre Spies snr. lê rieme neer doellyn toe. 

‘n Voorspelling oor wie Saterdag gaan wen?  Sal dit nie waag nie.  Die Cheetahs lyk na die oorweldigende gunstelinge. Maar ‘n wedstryd word oor 80 minute op die veld tussen die wit lyne beslis. Een enkele oomblik van individuele briljantheid swaai soms ‘n wedstryd.

Ek was in die paviljoen in die Vrystaat-stadion 41 jaar gelede, op 27 September 1975 – die dag  toe die lenige vleuel wyle Pierre  Spies (pa van die Springbok-agsteman van enkele jare gelede)  die Vrystaters se harte deurboor het met sy droomdrie op ’n sopnat-veld na wat Wynand Claassen later as ‘n “helse donnerstorm” beskryf het.

Kollega Piet Gouws, ook al langboompies toe, en ek het saam van Johannesburg gekom waar ons toe vir die nuwe dagblad Beeld gewerk het. Ek het gedink hy gaan huil. Sy oë was blink, en dit was nie van reën nie.

Minute voor die eindfluitjie het Pikkie du Toit, glibberige Vrystaat-senter, gaan druk. Die telling was  6-6.  Die gejuig was groot. Ook kollega Piet het op en af gespring. Oomblikke later was daar stille verslaenheid … en trane.

Spies se drie word só beskryf in die boek “Hou by die Blou, 75 jaar van die Blou Bulle-Rugbyunie”:

“Christo Wagenaar (die Bulle-senter) se enigste opsie was om te skop.

“Die bal het wonderbaarlik op ’n droë kolletjie geland en hoog gewip nadat dit vroeër dikwels stil in die modder bly lê het.

“Spies het die bal gejaag. Die lang vleuel het op volle vaart hoog gerank en sy vingerpunte by die bal gekry. Hy het dit vorentoe getik en gevang sonder om vaart in te boet.

“Vrystaat se agtsteman, Kleintjie Grobler, se wanhopige duikslag was te laat en Spies is in die hoekie oor vir een van Curriebeker-rugby se onvergeetlikste drieë.”

Die eindfluitjie het geblaas met die telling 11-6.  (‘n Drie het toe nog drie getel, nie vyf nie.)

Claassen het agterna sê Wagenaar se skop het op die enigste droë kol op die veld te lande gekom. “Daar was régtig net een droë kolletjie en Pierre het boonop nie goeie hande gehad nie. Ek was so bly ek het sommer ’n flikflak in die modder gemaak.”

Barry Wolmarans, die Vrystaat se skrumskakel daardie dag, sê hulle was agterna in die kleedkamer teen die planke. “ons was só naby daaraan om te wen. Onthou, die Vrystaat het toe nog nooit die Curriebeker gewen nie.

“Dit was Noord-Transvaal se dag en ons moes vrede maak daarmee.”

Eers teen 18:00 moremiddag sal ons weet wie se dag dit hierdie keer was.

(Waardering aan Netwerk24 vir die verfrissing van my geheue.)

WYS, WAARDIG, WARM

Johan en sy kleinseuns - betyds gewees om oupa te groet.

Johan en sy kleinseuns – betyds gewees om oupa te groet.

‘n Wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het ek Johan Russouw gistermiddag in ‘n huldeblyk by sy gedenkdiens in die NG kerk Bloubergstrand genoem.  Hier volg die volledige huldeblyk:

Die einde van Johan Russouw het ontnugterend snel aangebreek. Sy naam was op die gastelys vir ‘n spitbraai van sy geliefde Probusklub – ‘n sosiale klub vir afgetredenes – gister op Melkbos. Pleks van ons vriend in lewende lywe te verwelkom, word ons toe gekonfronteer met besonderhede van sy roudiens.

Johan het net ses weke gelede verneem dat hy ‘n baie aggressiewe kanker het. Die laaste vier weke het hy by sy oudste suster, Denise, ingetrek waar hy deur haar en sy seun, Leon, versorg is.  Hier is hy rustig in sy slaap oorlede, gelukkig in die wete dat sy dogter, Ronel, haar man, Martyn, en al drie sy geliefde kleinseuns betyds uit Engeland kon opdaag om hom te groet. Ook sy jongste suster, Alida, uit Pretoria.

Ons eer vandag ‘n wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het sy familie en vriende hom ervaar.

By Probus het Johan nie baie gepraat nie.  Wanneer hy praat, kon jy luister. Hy het sy saak oorwoë, met rustige wysheid, gestel – nooit impulsief of voortvarend nie.

Die eienskappe van waardigheid, oorwoëndheid en wysheid is gou by hierdie seun van Darling raakgesien.  Ná matriek op Jan van Riebeeck en graadstudie op Stellenbosch is hy Polisie toe. Via die Veiligheidspolsie is hy na die Nasionale Intelligensiediens.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Drie gesogte buitelandse plasings het gevolg. In 1974 is Johan vir drie jaar na die Londonse ambassade,  in 1982 is hy vir twee jaar na Tel Aviv in Israel en in 1989 is hy na Parys. In die Franse hoofstad het hy die hoë eer te beurt geval om om die land se Binnelandse diens toe te spreek – een van die weinige buitelandse veiligheidsmense wat genooi is.

Tusssenin was hy in Suid-Afrika afdelingshoof met Europa en die Amerikas as sy verantwoordelikheidsveld.  Hy was duidelik in die veiligheidshiërargie hoog aangeslaan.  Die ervaring in die diplomatieke korps het hom verder geslyp en bygedra tot die aura van waardigheid, standvastigheid en gesag wat hom in later jare omgewe het.

Tot die einde was hy só. Hy is deur sy vele operasies vir sy skouer, ens. Sy kinders het hom later die “bioniese man” genoem weens. Deur dit alles het hy blymoedig gebly. Toe hy ses weke gelede die nuus kry dat hy terminaal siek is, het hy dit met onmiddellike berusting aanvaar. Hy het vir sy geliiefdes gesê dat hy ‘n goeie 74 jaar agter die rug het, en dat hy goeie kinders gehad het.  Wat ‘n seën. Hy het nooit gevra nie:  “Hoekom ek?”

Sy wellewendheid en warmte is wyd ervaar, ook hier aan die weskus waar hy In 1992 met vervroegde pensioen langs die Atlantiese oseaan kom aftree het. Eers in Bloubergstrand en later in Yzerfontein was hy en Eleanore met wie hy 44 jaar getroud was, sjarmante gashere met ‘n reputasie as uithaler-kokkedore.

Ná Eleanore se afsterwe in 2011 het Johan besluit om nader te trek aan sy seun, Leon, en sy suster, Denise. Hy het ‘n huis in Sunningdale gekoop. Vriendskappe in Probusgeledere het gedy. Weens sy belesenheid, skat van stories uit sy diplomatieke dae en prikkende insigte in sake van die dag was hy ‘n gewilde gas by almal se tafels. Waar gebraai is, was sy ywer, entoesiasme en betrokkenheid kenmerkend.

Met sy liefde vir goeie kos, was dit vir hom lekker om nuwe eetplekkies uit te snuffel vir uitstappies met vriende.  By een só ‘n ete net ‘n jaar gelede het vier Probusvriende saam aangesit: Johan, Danie Grundlingh, Hennie Jonker en Sakkie Bruwer.  Van die vier is net Sakkie, hier teenwoordig, vandag nog in die lewe.  Ja, soos gras is ons dae ….

Die vreugde wat hy aan sy jaarlikse besoeke aan sy buitelandse kinders en kleinkinders gehad het, was aansteeklik.  Hy was intens familievas.

Johan was ‘n groot man met ‘n klein hart. As kind was hy ‘n propperliese terggees wat sy susters al hul dae gegee het.  As jongman was hy glo ‘n regte Casanova.  Hy was ‘n sportman duisend: ‘n WP-atleet en ‘n sterke derduiwel van ‘n senter vir die Polisiespan.

Sy liefde vir atletiek en rugby het nooit verflou nie.  Die WP verloor ‘n lojale ondersteuner. Hy was ook baie lief vir tuinwerk en vir lees, en het in ‘n stadium ‘n indrukwekkende boekery besit.

Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het, sê die wyse Salomo in Spreuke 24.5. Johan se boeke en liefde vir lees het van hom ‘n lewende bewys gemaak dat kennis mag is en dat ware kennis krag gee.

Rus sag, ons stoere, wyse, waardige, weloorwoë, wellewende en warme  jintelman-vriend.

 

 

 

40 JAAR NA SOWETO ’76

 

Die TV-onderhoud waarvoor die uwe met 'n lang slap Cadillac kom haal is.

Die TV-onderhoud waarvoor die uwe met ‘n lang slap Cadillac kom haal is.

Percy Qoboza en Tehobo (Tsietsi) Mashinini sal vir altyd in hierdie Afrikaanse koerantmens se geheue afgeëts bly. Ek het 40 jaar gelede net na die Soweto-opstande in 1976 op die Harvard-kampus met die twee te doen gekry, en kan na al die jare nie help om te glimlag by die aanhoor van hul name nie.

Qoboza was in die jare 70 redakteur van die invloedryke swart koerant The World wat in ‘n sekere sin vir die wêreld-media die kernbron van geloofwaardige nuus oor die uitbarsting van swart woede in 1976 was.  Hy was die gesig van The World  (die koerant is later, in Oktober 1977, deur die Regering gesluit en sy redakteur ses maande lank sonder verhoor aangehou).  Die heelwat jonger Mashinini was op sy beurt ‘n prominente studenteleier.  Hy kan, met goeie reg, een van die die gesigte van die destydse aktivisme genoem word.

Albei die here het in die nagloed van Soweto Amerika besoek om gretige gehore eerstehands oor die stormagtige gebeurde hier te lande in te lig. Hul reise het hulle na die Harvard-kampus gebring waar die uwe juis toe op ‘n joernalistieke sabbatsjaar as Nieman Fellow was. Onvermydelik het die uiteenlopende Suid-Afrikaners se paaie in die vreemde gekruis, nie sonder beroering nie.

Qoboza het, ongelooflik soos dit klink, van die wit Suid-Afrikaner ‘n bondgenoot kom maak in ‘n skema wat die onbegrypende Niemangenote siedend van verontwaardiging gelaat het.  My en Mashinini se ontmoeting was aan die ander kant ver van gemoedelik. Dit was my beurt om  verontwaardig te wees.

Qoboza was my onmiddellike voorganger as Suid-Afrikaanse Nieman. Op Harvard het hy in die politieke klimaat van die tyd in sy jaar ‘n gedugte reputasie as vyand van die apartheidsregering verwerf. Nie verrassend nie, het die stof in Soweto skaars gaan lê voordat hy weer na Amerika genooi is. Hy sou as held van die “struggle” ook die opgewonde Nieman-klas van 1976/77 ontmoet en toespreek. Qoboza sou soos die Verlore Seun ontvang word. Die gemeste kalf is geslag.

Percy Qoboza

Percy Qoboza

Die aand voor die groot okkasie is daar ‘n kloppie aan die voordeur van 6 Crimson Court by 375 Harvard Street, die donker baksteen-woonstelgebou waar die Qobozas die vorige jaar in dieselfde beskeie kelderwoonstelletjie gewoon het. Die gas uit Suid-Afrika meld hom aan met ‘n verrassende wellewendheid en ‘n bottel Oude Meester in die hand. Hy kom net respekte aan sy opvolger betoon en sommer kyk of ons nog die tafeltjie het wat hy in die gang vir die karig gemeubileerde woonstelletjie geskaai het terwyl niksvermoedende Amerikaners besig was om in of uit te trek. (Die tafel was toe wel nog veilig op sy plek.)

Nou-ja, brandewyn het nie brieke nie! Die bottel sak vinnig en ons gesels land en sand, onder meer in bewoë eensgesindheid oor die wonderlike ontwikkeling dat wit en swart nou in ons gemeenskaplike vaderland saam sokker speel. Laterig kondig Qoboza aan ek moet hom Logan-lughawe toe vat; hy wil die laataand-pendelvlug Washington toe haal.

“Sê net weer!”

Ja, asseblief, antwoord Percy; hy is vir more se smartlike gehaaihoe van die spul Ooskus-liberaliste net mooi niks lus nie. Ek praat mooi. Soebat amper. Benadruk hoe almal reikhalsend na sy koms uitsien. Hoe kan hy dan nou net nie opdaag nie? Maar Qoboza hou voet by stuk. Wel, die man is my gas, en ek vat hom later, soos hy versoek het, met my Toyota-stasiewa  Logan toe – nogal ‘n yslike ent.

Die volgende dag bly ek liewer ver weg van die Nieman-hoofkwartier in Trowbridge Street af.  In ‘n stadium lui my telefoon in Crimson Court. Of ek dalk weet waar Percy hom bevind; hy’s darem al baie laat.  Dit word toe my taak om die sprakelose Niemans haarfyn oor die vorige aand se verloop in te lig – natuurlik met die klem op my ongeslaagde pogings om my mede-Suid-Afrikaner oor sy afspraak van besluit te laat verander.

Ek het nie gese van die ‘Ooskus-liberaliste’ nie. Ons is almal per slot van rekening Fellows. En ek en Qoboza Suid-Afrikaners.

Lank daarna wou my twee swart Amerikaanse mede-Niemans, Jack White en Barbara Reynolds, albei goeie vriende, nog nie glo wat gebeur het nie. Hennie en Percy en ‘n bottel Oude Meester? Kan nie wees nie.

Tsietsi Mashinini

Tsietsi Mashinini

Vroeg in 1977 daag Mashinini in Boston op.  Hy word genooi om op die plaaslike TV-oggendprogram, die Today Show, te verskyn, en die aanbieder. John Willis, klop by die Niemankantoor aan aan vir die naam van ‘n wit Suid-Afrikaner om die program te “balanseer”.  Die kurator, Jim Thomson, beveel “Hennie vên Dievender” aan. Daar was nie juis ‘n ander kandidaat nie!

Nee, ekskuus, gooi ek wal, ek kan regtig nie. . Ek praat daardie aand by die Council on Foreign Relations, in Portland, Maine oor die onderwerp: “Some misconceptions about South Africa.”  Maar dan is jy juis goed voorberei, kap Thomson terug.  Ek laat my maar ompraat, bespreek plek op ‘n later Greyhound-bus en ry die oggend na die buurdorp Watertown waar die TV-ateljees is.

By die ateljees wag en wag ek. Lank gebeur niks. Ná twee koppies koffie Americano kom verduidelik die verleë regisseur daar is ‘n “hiccup”; die jong gas weier om saam met ‘n Afrikaner in dieselfde program op te tree. Ná al die moeite en verdriet! Ek protesteer, maar vergeefs. Einde ten laaste is ek vort, taamlik verontwaardig en ontnugter oor die beroemde Amerikaanse regverdigheidsbeginsel waarvolgens almal die kans moet kry om gehoor te word.

Thomson was tot in sy siel liberaal en had vir die Suid-Afrikaanse bedeling van destyds min tyd. Toe hy egter hoor van die behandeling wat sy man te beurt geval het, is hy ewe verontwaardig as wat ek was. Hy bel dadelik die TV-stasie en sê reguit: So laat ek nie met ‘n Nieman Fellow mors nie! Geen van sy Fellows sal ooit weer aan enige van die stasie se programme deelneem nie, tensy Mister “Vên Dievender” sy kans kry.

Die uiteinde is toe ruim geleentheid om in ‘n volgende program my prate te praat. ‘n Cadillac-limousien word selfs gestuur om my by die huis te kom haal – tot verwondering van twee Suid-Afrikaanse kindertjies wat die status-simbool grootoog betrag.

‘n Bewys van hoe ‘n onvoorpelbare land Amerika is (was?), daag ‘n paar dae later met die pos ‘n koevert uit Manchester, New Hampshire, op. Binne is ‘n brief van William Loeb, uitgewer van die Manchester Union Leader, en een van Amerika se bekendste konserwatiewe denkers van doerie tyd. “Mooi so,” laat weet hy. En gee toe sommer ook raad hoe om my saak in die vervolg nog oortuigender te stel.

In Mei 1989 is in Cambridge ‘n groot Nieman-reünie gehou. Nieman Fellows het uit die uithoeke van Amerika en van elke vasteland na hierdie verre alma mater gestroom vir ‘n glansryke vyftigste verjaardagfees wat oor drie dae gestrek het. By hierdie geleentheid het ek Jim Thomson weer gesien. Hy was nie in ‘n goeie toestand nie. Waarskynlik van te veel Jack Daniels.   Toe ek vir hom sê sulke lojaliteit vergeet ek nimmer, het sy oë opgehelder. In Augustus 2002 is hy aan ‘n hartaanval oorlede.

(Percy Qoboza en Tsietsi Mashinini is albei ook al oorlede: Qoboza in 1988 op sy 50ste verjaardag ná ‘n massiewe hartaanval en Mashinini in 1990 in Conakry, Guineë, in geheimsinnige omstandighede.  Sommige glo hy is vermoor. Ander bespiegel dit was Vigs. Sy oorblyfsels is na Suid-Afrika gebring en rus in die reuse-Avalonbegraafplaas by Soweto. Op sy gedenkteken is die woorde “Black power” gegraveer. )

Mamma, waar kom Pendoring vandaan?

1-1-img_0001

Die 90’s was nog jonk en Suid-Afrika aan die vooraand van ‘n splinternuwe bestel toe mense met hul mes in vir Afrikaans ‘n kans sien om die dolk in te dryf.

“Afrikaans is history,” het ‘n reklamebaas een aand ná ‘n paar Skotse watertjies in die Jakkalsbessiekamp in die Krugerwildtuin kwytgeraak.  Dit was nogal op ‘n uitstappie wat deur Nasionale Koerante gereël is om adverteerders se guns te probeer wen.

Miskien minder kru, maar in dieselfde trant, was kommentare wat uit verskeie ander oorde gehoor is. Die Afrikaanse koerant – so moes ons tot vervelens hoor – is so plus-minus op sy laaste bene.

Te midde van al die doemprofesieë – en die werklike impak van hierdie vyandige gees op ons werklike advertensie-inkomste – was dalk die grootste uitdaging van daardie era om teen sulke negatiwiteit terug te baklei.

Die waarheid is dat die Afrikaanse koerant op sirkulasiegebied in daardie stadium so sterk was soos nog nooit. Met die jaarlikse onafhanklike Amps-opname om leserskap te bepaal, het die drie dagblaaie – Burger, Beeld en Volksblad – die eerste keer deur die miljoenkerf gebreek. Geen geleentheid is laat glip om ons lewenskragtige leserskappe wyd en syd te verkondig nie.

By ‘n Beeld-advertensiegeleentheid in Johannesburg het ek – juis oor daardie nuut verworwe miljoenerstatus –   uitdagend verklaar:  “Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”

In die bedryfspers het toe die spotprentjie hierbo verskyn wat nou nog teen my studeerkamermuur hang. Ek sit, koerant in die een hand en telefoon in die ander, en blaf in die praatstuk: “I wish to report a mistake. The Afrikaans press IS NOT DEAD!”

Toe ek lees die Pendoringprys vir uitnemende inheemse reklame is nou 21 jaar oud het my oë dadelik na daardie spotprentjie gedwaal.  Tussen die prentjie uit die hand van ‘n onbekende tekenaar en Pendoring is ‘n direkte konneksie.

Pendoring was ‘n poging om die daad by die woord te voeg: om nie net te praat oor die belangrikheid van die Afrikaanse mark en die Afrikaanse koerant nie, maar om iets te doen om die advertensiewese ‘n groter bewustheid van Afrikaans te gee.

Ons Koerante-ouens het gedink ‘n groot nuwe prys vir briljante Afrikaanse reklame is ‘n slim plan.  Oor hoe slim dit was, sal ek my nie uitspreek nie.  Dat dit 21 jaar oud geword het en in sy nuwe vorm – as ‘n prys vir reklame in alle inheemse tale – van krag tot krag gaan, getuig seker daarvan dat dit nie ‘n flou perd is wat ons opgesaal het nie.

Die ontstaansgeskiedenis van Pendoring is nie wyd bekend nie. Ek het dit opgeteken. Dit is op Netwerk24 te lees by die volgende skakel:

http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/pendoring-groei-en-bloei-na-21-jaar-20161010

OM WEER TE WEN

Die verstommendste woorde ná die rugbyramp in Durban het uit die mond van die hoofafrigter gekom.

Mnr. Allister Coetzee het kans gesien om op TV voor die verslae Suid-Afrikaanse rugbypubliek te staan en te verklaar: Teen  22 -15 was ons nog in die wedstryd.

Wat beteken “in die wedstryd”?  Seker niks anders nie as dat ons nog ‘n in kans gestaan het om te wen.  Kon die Bokke nog die knoop deurhak?

As ‘n mens in isolasie en met oogklappe aan na net die telbord kyk, sou jy dit miskien kon beweer.  Twee strafskoppe en ‘n vinnige skepdoel van Steyn dalk ….

As jy ontledend na daarde telbord sou kyk, sou dit egter al klaar vir jou ‘n ander storie vertel.  Die All Blacks had vier drieë; die Bokke drie skamele strafskoppe.  Die All Black-losskakel Beauden Barrett het keer op keer misgekorrel.  Die telling moes toe al minstens  34 -15 gewees het.

Die waarheid is veel pynliker. Dit is dat die telbord vir die Bokke in daardie stadium uiters vleiend was, eintlik misleidend.

Die stomme Adriaan Strauss se manne was toe al uit op hul voete.  Die All Blacks was die span met al die balbesit en al die gebiedsvoordeel. Hulle het al die aanvalswerk gedoen.  As hulle die bal het, het hulle verder daarmee gevorder as die sukkelende Bokke. Hulle het al die inisiatief openbaar. Hulle het beter verdedig.  Hulle het die losbal beheer.

Die rondborstige Nic Mallett het die statistieke rustyd op Supersport afgerammel.  Dit was die materiaal waarvan loesings gemaak word.  Vir diegene wat vergeet of nie gehoor het nie: gaan lees Louis de Villiers vandag in Rapport.

Die droewige verhaal van skrikwekkende statistieke word ook in sy berig vertel.

Nee, mnr. Coetzee, die Bokke was in daardie stadium nie meer “ïn die wedstryd” nie. Hulle was toe al “baie uit die wedstryd”.

Wat hierdie lekewaarnemer kwel, is veral die denke wat daardie woorde weerspieël.  Die benadering is duidelik: Bly op die telbord binne bereik tot elke prys.  Probeer die ander span net in toom hou.

‘n Wenbenadering sou wees om self die punte te prober opstapel om voor te kom.  Dit doen jy helaas nie deur net sekuur pale toe te te skop nie.  Dit verg dat jy oor die doellyn kom; die verdedigingslinie oopvlek. Dit verg weer konstruktiewe spel.  Om dinge te doen op volle vaart.  Met verrassingsaanvalle vorendag te kom. Fases op te stel.

Geeneen van die dinge doen die Bokke nie.  Kan hulle of kan hulle nie? Ek dink nogal hulle kan. Daar is baie talent in daardie span.  Die ongeluk is dat hulle nie afgerig word om dit te doen nie.  Dit is eenvoudig nie in die “wedstrydplan” wat op die tekenbord uitgewerk word eerder as deur instink op die veld bepaal word nie.

Moenie “terug na die tekenbord nie”. Speel op die veld volgens jul instink. Dit is my beskeie advies uit Melkbos.