Jun 11, 2016 | Vars Blog

Danie Krynauw – opperste platjie
Vir elke diertjie sy plesiertjie. Vermoed ek het al voorheen hier vertel van Danie Krynauw van Melkbos wie se plesiertjie dit is om vir niksvermoedendes strikke te stel.Vir die doel hang hy meermale by die plaaslike Pick ‘n Pay rond. Dis sy gunsteling-jagveld, kan jy maar sê.
Gister is hy tussen die seeppoeiers. Toe hy man van so plus-minus 50 – amper 30 jaar jonger as hy – sien nader kom, begin hy brom. Die: “Kan ek oom help?”
Danie: “Wonder waar steek hulle die Fokôl weg.”
Slagoffer: “Die Fokôl, oom?”
Danie: “Ja, man. Hulle het vir my gesê as Skip of Omo nie help nie, sal Fokôl help. ”
Daar begin die slagoffer toe ywerig help soek.
Hier is nog ‘n regte-egte Danie Krynauwstorie wat verklap hoe ‘n deurtrapte draaksteker hy is. Dit speel ook af in die plaaslike Pick ‘n Pay waar hy by die kassier opdaag met ‘n hand vol mottegif.
Hy wil graag weet wat kos dit, deel hy die kassier mee, want sy vrou strooi elke oggend so ‘n bolletjie, fyn gemaal, oor sy ontbytkos.
Gif by die brekfis! Die jong kassier se oë rek soos pierings. Sy spring op en gaan roep die bestuurder. Danie moet sy storie herhaal. “Meneer,” stamel die bestuurder, “jy moet dadelik dokter toe, hy sal jou verder help.”
Hy ook lief om vir mense te vra: “Het jy gehoor die Pous se vrou is dood?” Kry nogal dikwels die antwoord: “Haai, het nie eens geweet sy is siek nie.”
Of: “Hoekom hang hulle nooit ‘n man met ‘n snor nie?” “Regtig nie?” “Nee, nooit. Omdat ‘n tou sterker is.”
Hy sal ook rondvra of iemand nie sy vrou gesien het nie. “Sy is die een met die een linkerarm.”
Laat daar net groot rugby op die TV wees. Dan bel Danie rond en bont met ‘n swaar Engelse aksent: ” Just want to inform you of a power failure in your area this afternoon….”
Dat Danie nie die gewone 75-plusser is nie, hoor jy sommer dadelik as jy sy nommer skakel. Daardie selfde swaar Engelse aksent kondig aan: “Buckingham Palace here.”
Wat die verklaring is? Seker maar dat hy ‘n stemkunstenaar was wat vele rolle in radiodramas vertolk het. Blykbaar is dit ‘n
geval van: een keer ‘n stemkunstenaar, altyd ‘n stemkunstenaar.
Jun 6, 2016 | Vars Blog
‘n Man met ‘n obsessiewe haat vir pampoen geniet aandete in ‘n trein se eetwa. In ‘n onwaaksame oomblik skep die kelner ‘n ruim porsie op sy bord. Die passasier krap die pampoen eenkant toe. Die gewraakte oranje hopie loer steeds vir hom. Toe hy seker is niemand kyk nie, skep hy die slap hopie en werp dit by venster uit.
Ongelukkig was die venster toe!
Lekker gelag oor die storie. Maar ook verleërig onthou hoe ek in standard vyf op Potchefstroom in ‘n losieshuis van die pampoen en kool op my bord ontslae wou raak. Het die pampoen in een broeksak geprop en die kool in die ander. Nie besef dit gaan so ‘n liederlike gemors afgee nie. Ma was amper in trane.
Doris Brasch sing van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ander weggooigoed. Die ashoop is plus-minus waar pampoen destyds in my waardestelsel geklassifiseer was. Later het Ta’ Marietjie van Wyk van Bultfontein – Tokkie se dierbare ma – my leer pampoen eet agter die lekkerte aan. Het aanvanklik gedink dis die heerlikste soetpatats wat uit haar kombuisie kom. Daarna is ek voor in die ry as pampoen geskep word, in watter vorm ook al.
Vriend Chris deel nie my welwillendheid nie. Hy het vasgesteek by die iets-vir-die-ashoop-filosofie. Sy liewe vrou, Annette, berei een aand ‘n feesmaal. Toe sy die sop voor hom neersit, betrag hy dit skepties. “Wat’s dit?” Sy: “Pampoensop.” Hy: “Nee dankie, so honger is ek nie!”
Die nederige pampoen het ver gekom; nie net op die Van Deventer se eetbaarheids-meter nie. Van Doris Brasch se kinderliedjie het dit gevorder tot ‘n Steve Hofmeyr-treffer. In Breyten Breytenbach se poësie is dit so ‘n deurlopende Breytenmotief dat vriende op sy verjaardag pampoendag vier. (Breyten reken glo “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap.”‘)
Breyten se pamoen-poësie is aan my onbekend. Ek het wel deernis vir ‘n pampoen-gedig. Hans du Plessis het dit in 1976 geskryf toe ons saam by Harvard was. Die tema was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.
Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe drie, “pampokie” begin noem. Die naam het ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers of so iets!
Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste (soos ook die suid-Kaapse dorp Heidelberg deesdae), kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die kampioen-pampoen kan kweek.
In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandse korrespondente uitermate lief daarvoor om dorpsmense se groot pampoene af te neem en kiekies vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as ‘n pampoen van formaat nie die koerant haal nie.
Uit nog vroeër tye onthou ek die praktyk om pampoene op ‘n plat sinkdak te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Jy sien dit by die Pampoenpadstal op Roete 62. Op Melkbos het die gewoonte onlangs by ‘n moderne huis in Charles Hoffestraat herleef. Twee pampoene het lank op die afdakkie by die voordeur gepryk.
In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n plaaswinkeltjie in my geboortedistrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana. Die winkeltjie het jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort.
Die eienares indertyd was ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, was sy uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim sukkelend op die dak en kom met ‘n meneer van ‘n pampoen grond toe wat Dingaan se maag sou beskaam. Sy prop dit in my hande.
“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was. Inderdaad, Breyten. Toe ek daardie pampoen voor my vasklem op pad kar toe, het ek kompleet die sensasie van swanger wees ervaar!
Jun 2, 2016 | Vars Blog

O sole mio!
My eerste studenteryding was ‘n Peugeot 203 van 1953 – weduwee se motor, goed opgepas. Een aand in 1960 vat ek ‘n aster met ‘n kort opwiprokkie na ‘n tafeltennisoefening toe. Iets – weet nie wat nie – trek my aandag van die pad af. Ek mis die stopstraat op die hoek van Farendenstraat en Kerkstraat, Pretoria met sware gevolge. Peugeot raak gestamp. Peugeot rol.
Aster is in ‘n ambulans hospitaal toe met ‘n beseerde arm. Gelukkig nie te ernstig nie. Die uwe is uit sy bloedgroep geskrik maar ongedeerd. Die onversekerede Peugeot bring egter ‘n eindelose lang tyd deur by ‘n agterjaart-paneelkklopper in Brooklyn iewers, al billike kwotasie beskikbaar. My kar se kleur het daar van ligblou tot donkerblou verander. In vele ander opsigte was dit ook nooit weer dieselfde nie.
Halfpad deur 1961 besluit my besorgde ouers: Die Peugeot se betroubaarheid het helaas ‘n sterk element van twyfelagtigheid ontwikkel. Ek is die naweek op Klerkdsorp en ons is die Saterdagoggend “motor town”. Die “Santa Maria” word ingeruil vir die “Grassnyer” of die “Skoolbus” – albei my studentemaat Pierre le Roux, ‘n bedrewe naamgewer, se kreatiewe skeppings.
Pierre het, terloops, ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”. Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.
Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe Fiat 500-stasiewa, 62-model, uit die boks, – ’n donkerbloue. Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin. Daardier ougat Taljanertjie waaroor in Motors van 2 Junie 2016 met verskuldigde eerbied berig word.
Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms, herinner Motors ons – die rede vir verkope van 3,5 miljoen.
Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad ougat. Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz. Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel. Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.
In die boek, “Tutte le Fiat” (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.
Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie. Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.
My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”
Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se joolprinsesse by ons koshuis kom eet het. Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.
Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord. Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag. Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aasjaag. Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem. Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.
Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste. Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels oornag het. Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.
Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar. In die Cortina het ons gesellige ure deurgebring wanneer ek haar kuiertye by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gaan oppik.
Dis ‘n weer ‘n ander storie.