May 6, 2016 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Een klein subtema van Die Volksblad se ywer in die jare 80 om die erge diskriminasie teen Asiërs aan te vat, bly my besonderlik by. Dit is die stryd wat gevoer is oor Bibi Koo, ‘n Chinese meisietjie uit Taiwan.
Bibi is in 1983 toegang geweier deur ‘n onversetlike Laerskool Harrismith (waar, ironies genoeg, Fanie van Wyk, geliefde swaer van die uwe, die skoolhoof was). Sy was 11 jaar oud en in standard vyf (graad sewe).
Die beheerraad het die antieke Vrystaatse wet van 1890 as struikelblok voorgehou; (Die) Volksblad het volgehou dat dit net ‘n rookskerm vir die raad se rassevooroordeel en onwilligheid is.
Die openbare mening het nogal verrassend vinnig in die rigting van klein Bibi geswaai. Teen soveel opwellende simaptie was die beheerraad nie lank bestand nie.
Nadat Bibi by die skool verwelkom is, is twee briefies uit die Taiwanse ambassade in Pretoria by (Die) Volksblad afgelewer om, met die ouwêreldse hoflikheid wat by daardie mense tweede natuur is, die koerant vir sy bydrae tot ‘n oplossing te bedank.
T.C. Chiang, persbeampte, het met grasie sy pluimpie uitgedeel: “You are so responsive and responsible, as a newspaper, to publish the remarkable editorial(-s) on the case of Bibi, that I must express to you my heartfelt appreciations. The very small Chinese community in this country is thrilled to see that there is a true friend of ours in the Free State.”
H.K. Yang, die ambassadeur, het hom met, eenderse grasie, met daardie dankie vereenselwig: “In view of the fact that Die Volksblad has an important role to play in the formation of public opinion in the Orange Free State, your editorial reflects not only understanding but also far-sightedness and wisdom.”
Nou-ja, Bibi en (Die) Volksblad het daardie ronde gewen. Die meisie, glo ek, was in ‘n sekere sin ook ‘n bondgenoot van die koerant om die sogenaamde driekamer-parlement (1984 – 1994) só te bevorder dat ‘n “konserwatiewe” provinsie soos die Vrystaat in die referendum later dieselfde jaar (1983) solied ten gunste daarvan hul kruisies gaan trek het. Wonder nogal waar Bibi Koo haar nou bevind en of sy van haar rol in daardie stukkie geskiedenis bewus is. (hvd)
May 6, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die winter van 1980 het vinnig toegeslaan. In die Oos-Vrystaatse bergwêreld het die skaduwees vroeg lank geword Toe hy die huiwerige kloppie hoor, het ‘n Zastronse boerseun in die verbygaan ‘n lamp gegryp op pad na die plaasopstal se voordeur.
Hy draai die koper-deurhandvatsel. In die ligkol sien hy ‘n vreemde wese soos hy tevore nooit gesien het nie: ‘n donker gelaat met ‘n lang, styl haredos, netjies ge-Brylcream en agteroor gekam. “Pa, pa,” skreeu hy in die gang af, “kom kyk hier.” Hy beskryf die kombinasie van kleur en haarstyl in woorde wat in die lig van heersende rassesensitiwiteite liefs aan die verbeelding oorgelaat moet word.
Die storie, ‘n ware verhaal, was in kort dat ‘n Indiër op sy pad deur die Vrystaat deur die haastige skemer ingehaal word. Uit vrees dat hy nie teen sononder oor die grens gaan kom nie, sit hy voet in die hoek by die laaste petrolpomp verby … en betaal die prys. Sy motor kom rukkerig tot stilstand, en hy moet, kannetjie in die hand, die langpad te voet aandurf om te gaan petrol soek by ‘n plaashuis wat hy in die verte gewaar.
Vrystaters was dalk konserwatief maar nie onwellewend nie. Ek glo dat die boer, ‘n Van Rensburg, wie se suster aan my bekend was, die man gehelp het. Hopelik was die besoeker dus nie te lank “onwettig” in die provinsie waar Indiërs nie juis welkom was nie. (Ingevolge ou wette van die 1890’s – waarin Indiërs pront nog “Koelies” genoem is – was hulle verbied om hulle in die Vrystaat te vestig, sake te doen of selfs net ná sononder permitloos rond te beweeg.)
Die rolprent Free State oor die verbode liefde tussen ‘n Indiërman en ‘n pragtige predikantsdogter het raakpunte met die penarie van die stomme Indiërman sonder petrol. ‘n Pap band en ‘n verlate grondpad speel in die rolprent ‘n sleutelrol. Net daar loop die twee stories egter uiteen. Waar die rolprent op die hartverskeurende liefde van die jong paartjie fokus, was die trefferreël van die storie oor die Zastron-insident die seun se verbaasde reaksie. Sy beskrywing van die besoeker se voorkoms was die rede dat dit oorvertel is en om vleisbraaivure lekker oor gelag is.
In sy resensie van Free State stel die outeur en rubriekskrywer Herman Lategan dit kort en kragtig: “Hierdie rolprent is een wat internasionaal gaan opspraak maak. Dit gaan ook vir ‘n nuwe geslag wys hoe waansinnig ons eintlik was.”
As ‘n Vrystater van daardie era kan ek nie juis van Herman Lategan se insigte verskil nie. Laat ons maar ruiterlik erken: Dit was uitermate waansinnig om beskaafde mense so argeloos minagtend te behandel, en dan boonop humor in die pynlike gevolge te sien.
Een troos darem: Die skille is uiteindelik nie deur buitestaanders van ons Vrystaters se oë verwyder nie. Ná ‘n amperse eeu van gemaklike saamleef met die ontmenslikende beperkinge is daardie anachronistiese ou Vrystaatse wet van 1980 af toenemend uit eie geledere bevraagteken. Op die voorpunt van ‘n ontwakende nuwe geregtigheidsgevoel in die provinsie was sy dagblad (Die) Volksblad, oudste Afrikaanse koerant in die land.
Indiërs en Chinese kan in die 80’s darem verreweg nie meer met dieselfde juk opgesaal word as in ‘n vergange era toe hul voorsate – ook in (Die) Volksblad) se voorganger, Het Westen – brutaal as die “gele pest” gebrandmerk is nie, het die koerant konsekwent betoog.
Wat dalk eers net ‘n verleentheid en ongemak in beperkte kringe (soos (Die) Volksblad was, het spontaan tot ‘n breër weerstand ontwikkel. Ná stelselmatige bearbeiding in hoofartikels, en heelwat druk agter die skerms, soos destyds in die politiek nogal algemeen was, het Vrystaatse NP-leiers soos dr. Nak van der Merwe en mnr. Kobie Coetsee se oë ook oopgegaan vir die pyn, leed en vernedering waaraan die wetsgehoorsame Asiërbevolking in hul provinsie onderwerp was.
Onthullende berigte oor die haglike omstandighede waarin Indiers moet leef terwyl burokrate kibbel oor waar hulle moet tuisgaan, het veel bygedra om die ou barrikades in 1985 te laat tuimel.
Dit was nogal ‘n bevrydende gevoel om in die fliek vir my vrou te kon fluister: Nog een van Die Volksblad se monumente is die herroeping van daardie simpel wette. (hvd)