Apr 10, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Die flukse dames het my verras met ‘n oulike uitstalling oor my werk.
Hoe gooi ons, die gewone voetsoldate, wal teen die tsoenami wat oral teen Afrikaans aan’t opbou is? Ek het gister ‘n paar wenkies probeer gee by die Dameskring Simfonie op Kuilsrivier. Het hulle toegespreek oor: My hart klop Afrikaans.
‘n Klein begin is dalk by ons alledaagse omgang, het ek aangeraai. Kom ons hou op om oral en altyd vir anderstaliges please en thank you te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net asseblief en dankie, soos die Franse silvous plaiz en merci sê.
Wie nie weet wat “dankie” beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum (‘n mall?) geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my dankie vir sy Nigeriese kollega vertaal. Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon.
Probeer ‘n dag lank net Afrikaans praat. Vermy modewoorde soos awesome (fantasties, wonderlik, ongelooflik, ontsagwekkend, asemrowend), cute ( oulik, skatlik, lief, ougat)amazing (merkwaardig, verstommend) en issue (kwessie, saak, aangeleentheid, vraagstuk, probleem, twispunt, strydpunt, geskil(punt).
Kyk gerus hoe jy daarmee kan cope om minstens een dag géén Engelse woord te gebruik nie.
Kom ons mik na beter Afrikaans. Om ‘n woordeboek/ die Woordelys te raadpleeg as jy twyfel, is nog altyd ‘n goeie resep om jou taal suiwer te hou. Hier is egter ‘n nuutjie wat dalk by vele nog onbekend is. Ek verwys na die webblad Beter Afrikaans. Afrikaanssprekendes, en selfs aanleerders van Afrikaans, kan hier gratis meer oor die spel- en skryfreëls leer.
Registreer net. Dan kan jy elke weekdag ‘n speltoets in minder as twee minute voltooi – hetsy op ‘n rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae; sodra die vrae beantwoord is, ontvang jy onmiddellik ‘n kort bespreking oor die korrekte antwoorde. (Tot my irritasie haal ek selde meer as 75%.)
Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome en intensiewe vorme word ook verstaanbaar toegelig. So kan nuwe wêrelde vir jouself en vir leerlinge oopgemaak word.
Ondersteun ambassdeurs vir ons taal. Kyk uit vir sake wat lekker Afrikaanse name het – van die bed-en-ontbytplek Koffie en Katel tot by Papnat-Besproeiingsdienste. Op Stellenbosch is werklik ‘n Skitterblink-Wassery. Koop jou wyn by Hermanuspietersfontein – sy wynname en -etikette is net in Afrikaans. Bloos, Swartskaap en Kleinboet – wyn met sulke name word nou al in nege lande verkoop, van Engeland tot Swede. (Koop ‘n bottel Swartskaap in Oslo!)
Die bemarkers dink dit verleen kleur aan hul produk. Niemand kla nie. Die wynmeester wat als begin het, Bartho Eksteen, het onlangs die Wynskool gestig. Hy sit die prysenswaardige inisiatief daar voort. Ry gerus ook maar daar aan.
Vat hande met organisasies soos die ou moeder die FAK, die ATKV, die Afrikaanse Taalraad, die Vriende vir Afrikaans, AfriForum (veral sy Afrikaans Vriendelik-veldtog) en ander. Binne een van hulle behoort jy ruimte te vind om jou liefde vir jou taal uit te leef soos jy graag wil. Dis die enjinkamers waar vure van geesdrif gestook moet word. Dis waar kreatiewe Afrikaanssprekendes hul planne, idees, inisiatiewe en strategieë gestruktureerd op die tafel kan kry.
Ondersteun instellings wat die taal dien. Die Afrikaanse media, koerante soos Die Burger, Beeld en Volksblad, tydskrifte, Afrikaanse boeke en TV-kanale soos kykNET is vaandeldraers van die Afrikaanse taal. Ondersteun hulle …… selfs as jy kwaad is vir die koerant, soos hierdie ou man met al die ink in sy are ook maar meermale is.
Lees Afrikaanse boeke. Hierdie oproep is veral gerig tot leeskringe, wat hulle skandelik te dikwels op oorsese best sellers toespits.
Vermy aanstoot. Veral by feeste loop brekers met kru T-hemde wat bakleierige boodskappe oor Afrikaans uitdra. In die wildtuin het ‘n skoolkind, bogsnuiter, in ‘n spinnekopskriffie in die besoekersboek van die Stevenson Hamilton-besoekersentrum hierdie boodskap uitgekrap: Praat Afrikaans of hou jou bek. Wonder wat dink die verfynde swart vrou wat die lessenaar beman van sulke taal-uitlewing en uitlewers!
Borg ‘n woord. By die WAT kan jy ‘n woord, enige woord, teen R100 borg. Vir R5 000 behoort die woord eksklusief aan jou. Ek noem trots dat die woord koerant myne is, net myne. Het gedink Naspers behoort dit op te raap. Ek borg ook die woord joernalis. Ons Probusklub op Melkbos, ‘n vesting vir afgetredenes, borg op my aanbeveling die woord kuier. Ek verstaan die woord Dameskring is nog beskikbaar.
My laaste gedagte spruit uit my vrou, Tokkie, se lees van my oud-kollega Jaap Steyn se monumentale biografie van Van Wyk Louw. Louw vertel daarin hoe hy by Sutherland se plattelandse kinders geleer het dat speel-met-taal ‘n hoë vorm van vermaak is – “rympies, raaisels, woordspelings, stories vertel, terg en pla, die uitdink en smaaklike gebruik van byname.”
Om te wens dat hierdie kultuur in die moderne era met sy tegnologiese wondere kan herleef, sou sekerlik buitensporig wees. Maar kreatiewe oumas kan dalk tog iets van Afrikaans in hul kleinkinders se spel probeer insmokkel. Gee die kleingoed plesier en skerp terselfdertyd hul taalbewustheid op.
Kan ‘n mens dalk begin om jou kleinkind op die spoor te sit om ‘n oorspronklike Afrikaane naam vir sy of haar troeteldier te gee? Hou nogal van Skedonkie die donkie en Katastrofe die kat. Vat hom, Flaffie, ek bedoel Blaffie.
Apr 5, 2016 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos


Kolonel Swannell (onder) dwing ‘n bebloede Boer om ‘n sersant se skoene te lek.
Die slagter van St. Helena en die slagter van die Soutpansberg – die twee is as ‘t ware vinkel en koljander. Staan nader Kolonel Swannell, sluwe, wrede anti-held in die ABO-rolprent Modder en Bloed. Dan ook luitenant Harry (Breaker) Morant wat in dieselfde ABO in die Louis Trichardt-kontrei ‘n bose skrikbewind gevoer het.
Die twee, albei gewetenlose oorlogsmisdadigers wie se skietvinger gedurig gejeuk het, kom (toevallig?) uit daardie verre land Doer Onder waar soveel Suid-Afrikaners ‘n nuwe lewe gaan maak het: Oss-Stray-lee-uh!
Ek het vandeesweek na Bloed en Modder gaan kyk. Die fliek is bloedstollend, meesleurend en briljant. Plek-plek moes ek hande voor my oë hou. Die roue wreedheid van oorlog wou darem net te erg raak vir vlees en bloed. Ander plekke wou my keel droog word, en by nog ander my oë klam. Toe ek uit die teater stap, het ek in elke vesel die impak van die aangrypende ABO-storie gevoel.
Die rolprent is deels op die waarheid gegrond en handel oor ‘n strafkamp op die barre St. Helena waar die haatlike kol. Swannell (Grant Swanby) die septer swaai. Die Boere word aan die ergste mishandelinge en ontberings onderwerp. Aangrypend word hulle saamgesnoer tot ‘n gedugte eenheid, wat – simbolies – die Britse mag op die rugbyveld verslaan in ‘n kritieke wedstryd wat vir ‘n jong Boertjie lewe of dood beteken.
Kol. Swannell gaan uit sy pad om hul missie feitlik onmoontlik te maak. Van hul oefensessies moes in stikdonker geskied. Een van hul sterspelers word op die vooraand van die wedstryd “uitgehaal” en sy lyk voor hulle uitgestal om hul moed te breek.

Wendrie vir die Boere.
Swannell is meer fiksie as werklikheid, raai ek. Party mense sal moontlik meen hy word darem te boos uitgebeeld; dat geen enkele mens (selfs nie ‘n Australiër!) soveel kwaad, woede, onmenslikheid en kille sinisme in sy lyf opgehoop kan hê nie.
Dit is waar Breaker Morant in die prentjie kom. Die skrikbewind wat dié Australiër van Mei 1901 tot April 1902 in die Soutpansberg gevoer het, bewys immers dat sulke Aussie-barbare wel die Britse uniform in die ABO gedra het.
Morant het in in ‘n stadium in sekere geledere in die land van sy geboorte, Australië, amper volksheldstatus geniet. In velerlei boeke en rolprente is hy as net ’n sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld. In ‘n stadium is selfs ‘n beweging op tou gesit om hom postuum kwyt te skeld van al die midade waaraan hy deur ‘n krygshof skuldig bevind is.
‘n Engelssprekende toergids en amateur-geskiedskrywer van Louis Trichardt, Charles Leach, het dit ‘n lewenstaak gemaak om die Australiese legende te ontmasker. In sy boek The Legend of Breaker Morant is Dead and Buried: A South Afri¬can Version of the Bushveldt Carbineers in the Zoutpansberg, May 1901 - April 1902 gee Leach ’n broodnodige Suid-Afrikaanse perspektief. Die wandade wat tot Morant en sy regterhand, Peter Handcock, se uiteindelike skuldigbevinding deur ’n krygshof en teregstelling deur ’n vuurpeloton gelei het, word een vir een uitgelig.
’n “Blerrie Rooinek-toergids” wat vir hom nuwe insigte oor sy eie plaaslike geskiedenis gebring het, het ‘n vriend, Manie Eloff, Leach tong in die kies genoem nadat sy boek in 2012 na sewe jaar se navorsing verskyn het. Ook vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was ’n krygsgevangene op Ceylon) het Leach inderdaad die gordyn weggeskuif.
Die gebeure agter die “Soutpansberggordyn” was aan my net vaagweg bekend. So vaag, ek was onder die indruk die naam Morant word Meurant gespel en die naam van Peter Handcock sou geen klok lui nie. (Die charismatiese Morant is glo as Edwin Henry Murrant in Bridgwater in Somerset, Engeland, gebore en het later in Australië sy bynaam van “Breaker” gekry oor sy vaardigheid met perde.)
Leach se boek is uiters professioneel deur homself uitgegee. Dit openbaar hoe in die laaste fase van die oorlog van twee jaar en agt maande – verskuil agter geografiese, historiese en dalk ook emosionele ontoeganklikheid – een van die pynlikste hoofstukke van die oorlog hom in die Soutpansberge afgespeel het.
In ’n bloedige skrikbewind deur die sogenaamde Bushveldt Carbineers van Morant is ongewapende of siek Boere, bibberend weens koors, selfs onder die wit vlag meedoënloos neergevel, soms tot agt op ’n slag.
Op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; C.H.D. Heese, ’n onskuldige sendeling met al sy “papiere”, is koelbloedig vermoor; swart mense is voor die voet afgemaai.
Op 5 September 1901 is in ’n buitengewoon nare gruweldaad in die Mooketsivallei op Boerewaens begin vuur, terwyl vroue en kinders se opgeruimde gesels opgeklink het. Twee Grobler-boeties van 14 en ses jaar is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul negejarige sussie is ernstig in die nek gewond.
Kan ‘n mens so wreed wees? Luitenant Breaker Morant was. En as ‘n Breaker Morant werklik geleef het, hoekom nie ook ‘n kolonel Swannell nie? Laasgenoemde se duistere karakter word deur eersgenoemde skurk geloofwaardigheid gegee, glo ek.
(In die werklik lewe is Swanby nie ‘n “kakie” of “Aussie” nie, maar ‘n Suid-Afrikaner in murg en been. Hy en die akteur Stian Bam, Boereheld in Modder en Bloed, is, ironies genoeg, al vriende sedert Swanby die skrywer Jack Cope gespeel het teenoor Bam se André P. Brink in Altyd Jonker (2006). Die ABO is ook nie aan hom onbeklend nie. Hy het die geskiedenis van die oorlog nagevors ter voorbereiding van sy wederhelf Nicola Hanekom se plekspesifieke produksie Land van skedels vir Aardklop in 2013. Dit het ook gehelp om ’n voorafstorie vir sy karakter te ontwikkel, sê hy.) (hvd)
Apr 2, 2016 | Hennie van Deventer se Blog



You and I now both have a memory into our sunset years.” Aan die woord is Dale Schreuder ná Saterdag se fees in die tent hier op Melkbos. Dale is my buurman. Hy was ook die spysenier. Nogal gerieflik: So ‘n knap, entoesiastiese buur-spysenier net oorkant die tuinmuur.
Sy verwysing na “sunset years” is ter sake. Die uwe is 75. Dale is seker ‘n jaar of tien, 12 jonger, Maar Saterdag se onthaal was sy swanesang, sê hy; sy “coup de grâce”. “Coup de grâce”? Of dit heeltemal die regte uitdrukking is, twyfel ek. Hy los nie sy restaurant heeltemal nie. As ‘n laaste buiging as spysenier was dit nietemin, wat my betref, indrukwekkend. Die gaste is dit roerend eens.
“Voortreflik. Uit die boonste rakke. Uit die boeke. Fantasties.” So laat weet hulle uit alle oorde oor die skottels wat deur Dale en die span van 20 kokke en kelners wat hy saamgebring het, voorgesit is. Vir ons, en mense wat sy restaurante ken, was die lekker kos geen verrassing nie.
Dale ken van kos. Sy “Dale’s Place” in Bloubergstraat was lank een van die groot gunstelinge in Table View. Van sy gereelde ou klante, soos Danie Grundlingh (88), was dit Saterdag nie net ‘n blye herontmoeting met die man se kos nie, maar ook met die man self. Op doktersadvies het Dale later sy plek verkoop. Te veel geproe!
Later het die gogga weer gebyt. “Dale’s Black Angus” in die Paddocks-sentrum in Milnerton en die “Driftwood Café” in Parklands het gevolg. In die “Black Angus” het ons in 2011 my 70ste gevier. ‘n Vennootskap is daardie dag tussen ons twee bure vasgemessel – een wat ons nooit een oomblik laat twyfel het oor wie die kos moet maak vir die 100 gaste wat ons vir my 75ste, Tokkie se 70ste, ons 50ste herdenking van ons verlowing en ons goue bruilof in ‘n tent op ons gras neffens die Atlantiese Oseaan wou saamtrek nie.
Gelukkig was sy onmiddellike reaksie toe ons in Oktober verlede jaar verkennend begin gesels: “Ek is in.” Sonder die fris buurman sou ons dit nie kon doen nie.
My kollega Sarel Venter van Bloemfontein noem ons okkasie ‘n syferspeletjie: 75,70,50,50 en 100 gaste. Wel, Sarel, hier is vir jou nog ‘n 50. Dale het naamlik 50 jaar gelede – in 1966, iewers tussen my en Tokkie se verlowing en ons troudag – sy eerste van derduisende hamburgers uitgerol.
Hy het as 12-jarige by ‘n padkafee in Randburg ‘n geldjie begin verdien. Dalk was dit al die hamburgers en melkskommels wat hy tussen sy werkery deur weggeslaan het – hy praat van tot dertig per dag! – maar iets het hom gelok en tot ‘n lewenslange verbintenis met die kosbedryf gelei. Die Van Deventers is oor daardie band maar te dankbaar.
Terwyl ons die ou cowboy van die koswêreld vaarwel toewuif waar hy nou, Stetson op die kop, in die sonsondergang weggalop, besef ons natuurlik maar te terdeë: Ook vir ons is dit koebaai meraai. Want, soos hierbo gemeld, sonder Dale sou ons dit nie kon doen nie. Sonder Dale sal ons dit ook nie kan doen sou ons weer so ‘n bevlieging kry nie. Finis en klaar.

Iris, Dale, HvD, Tokkie, Hildegard.
Vir Hildegard Martin van Melkbos het ek Saterdag saam met Dale en Iris vorentoe geroep toe die tyd vir bedankings aanbreek. Sy is al jare die skeppende hand agter vele HvD-projekte – van boeke tot CD’s. Vir Saterdag se fees het sy die kaartjie ontwerp; ook die spyskaart, tafelplan en Dankie-CD vir elke gas. Daaroor skryf ek later.
Kleinseun Christopher (6) is ook spesiaal bedank. Hy was deurgaans ‘n voorslag wat ten volle sy credo uitgeleef het dat niks vir hom lekkerder is as werk nie. In sy rol as “voorman” by die tentopslanery het hy dalk meer staalpype help dra as sommige van die betaalde arbeiders. Hy was ook bedrywig as “motorwag” en het in ‘n stadium sy opwagting in Dale se kombuis gemaak om dinge daar te kom monitor.

Duime in die lug. Christopher en Abraham.
Maar die waarde van al jou naastes besef jy opnuut in so ‘n oefening. Almal sit skouer aan die wiel. Uiteindelik is dit ‘n kwessie van vele hande maak ligte werk. Ons is dankbaar teenoor Johan,. Marisa en Mariza asook die ander kleinkinders, Jacob en Thomas (11), wat buiten hul ander takies ook reusewerk verrig het met Oupa se twee Canons om hul nekke. Ons kan albums vul met hul mooi foto’s.
‘n Joppie wat Johan – en die 80-plus Marie Schnetler – seker nooit sal vergeet nie was die gespook om haar motor met brugkabels aan die gang te kry nadat sy dit die heeldag met die ligte aan laat staan het. Drie voertuie se batterye was in ‘n stadium gekoppel.
Dan was daar Abraham, ons vlytige Malawiese tuinman, met die hande wat vir niks verkeerd staan nie, die breë glimlag wat nooit wyk nie en onuitputlike energie. Wat ‘n span! Hoe gelukkig is ek en Tokkie nie!
Apr 1, 2016 | Hennie van Deventer se Blog



Die “Tent van Samekoms”, Johan van Wyk in gesprek met Flip Nel en Johan se tafel, almal oud-Bloemfonteiners.
Middag uit Melkbos
Johan van Wyk is as vriend en oud-kollega na ons tentfees genooi; allermins as werkende joernalis. Toe gaan skryf die ou bokker ‘n rubriek oor die okkasie. (Die man maak geld uit my!) Lees hier sy storie soos dit in vandag se Volksblad verskyn:
’n Groot, vet paartie in Tent van Samekoms
Deur Johan van Wyk
Die lewe in hierdie verbygaande wêreld, aldus die apostel Paulus, is nie ’n vaste burg met blywende fondamente nie, maar ’n tydelike aardse tentwoning wat mettertyd stof sal word. Maar slaan ’n tent op in jou tuin terwyl jy nog kan en jy skep ’n onthaalplek soos min.
Dis wat my oudkollega Hennie van Deventer, voormalige redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein, later, tot sy aftrede in 1998, koerantehoof van Media24 in Kaapstad, gedoen het om sy 75ste verjaardag, sy vrou, Tokkie, se 70ste en hul 50ste huweliksherdenking op Melkbosstrand hartlik en in styl te vier.
“Three-in-one”, soos die kannetjie met ’n lang, dun snuit geheet het waarmee huisvroue vroeër hul outydse naaimasjiene se ratjies geolie gehou het. ’n Druppeltjie hier, enetjie daar en ’n Singer het weer soos ’n kanarie gesing. Die Briels besing dit in Liewe Moeder. Ek verlang na my ma voor haar Vesta as ek daarna luister.
Toe hy in 1996 ’n huis op Melkbos koop en die enorme grasperk (waarop ek eerder ’n paar melkkoeie en ’n klompie slaggoed sou aanhou) aan die seekant van ’n erf van meer as 1 000 m² aftree, het hy besluit: Hier gaan ek eendag ’n Tent van Samekoms opslaan. Nie ’n trekkerige een met flappende flappe soos die waarin die bittere Vrede van Vereeniging ná die Boereoorlog in 1902 gesluit is nie, maar ’n bielie met vensters en deure. Twintig jaar en ’n hele paar grassnyers later is sy droom bewaarheid.
Net sowel. Toe ’n skraal noordwestewind ’n koue seebries instoot, kon ’n honderd gaste gekoester en beskut by smaakvol gedekte, gemeste tafels aansit. G’n wonder die Midde-Oosterse oliesjeiks verkies ’n tent bo ’n hotel nie.
Toe ek binnestap, het ek, omring deur mooi vroue (’n paar weliswaar op kieries!) en met die see in my ore en ’n glas wyn in die hand, soos ’n sultan gevoel en my selfs verbeel ek is op ’n seilskip in die Arabiese See.
My eie ervaring van tente is minder romanties. Soos die aand op Calvinia toe ou William Pagel van Pagel se beroemde eertydse sirkus sy kop in ’n maanhaar se bek gedruk het. Toe hy van die verskriklike stink asem flou neerslaan, het die gepeupel in die goedkoop sitplekke die leeu met lemoenskille deur die tralies gegooi. Toe my ouers in 1947 by Voëlklip in ’n ronde tent gekamp het, het my pa in die nag oor ’n ankertou gestruikel en ’n skottel met ingelegde kabeljou omgestamp. Die tent het dae lank na kerrievis geruik.
Jare gelede neem ek ons op aanbeveling van my predikant vir “spanbou” op ’n kampeervakansie. Die kinders was gou dikbek en my vrou het ná drie dae nie meer met my gepraat nie. Toe ’n stormwind die gasstofie omwaai en die tentjie aan flarde ruk, was dit die einde van spanbou.
Nie Melkbos se tent nie. Bande met geliefdes en ou vriende is opnuut in hom gesmee. (hvd)