DONKER VERLEDE

1-2016_03_14

Uitgevat vir tennis (in ‘n ou kerkrokkie) en tiekiedraai.

Middag uit Melkbos

Laat ek maar die sluier oor my vrou, Tokkie, more, 15 Maart, ‘n rype 70, se “donker verlede” lig. Tot September van haar matriekjaar, 1963, was my liewe vrou as ‘t ware ‘n skadufiguur – ‘n kol teen die muur in die flikkerende liggie van ‘n lamp of ‘n kers in ‘n enemmelblaker.

Toe eers het elektrisiteit Bultfontein bereik. “Hondebakkies” – so het die benieude Bultfonteiners die skermpies genoem – het oornag aan geboue se plafonne begin pryk. Die bakkies het op ‘n haar soos omgekeerde hondebakkies gelyk wat die gloeilampie met ‘n kappie oordek.

Bultfontein in die jare 60 was nie vir sissies nie. Dis nie net elektrisiteit wat Tokkie en haar generasie moes ontbeer nie. Ook spoeltoilette. Sy is ná matriek B.O.K. toe met die nagkar op Bulfontein steeds op sy rondes, en met hul eie “gemakkie” by Hertzogstraat 5 steeds ‘n buitehuisie met ‘n nagemmer onder ‘n seringboom.

Glo die nuwe generasie sal hieroor gril – maar hopelik ook perspektief kry in ‘n era van net alles “demand” en “demand”.

Die gebrek aan elektriteit is deur die Bultfonteiners, soos so baie ander “deep plattelanders” van daardie era, gelate aanvaar. Hulle was gewoond daaraan. Hul Dovertjies (koolstowe), primusstofies, lampe en kerse was voldoende vir hul behoeftes. Mense wat dit minder gelukkig getref het, was “inkommers” van elders waar elektrisiteit reeds net ‘n knoppie ver was.

Een so ‘n gesin was die Groenewalds wie se dogter, Hannatjie, van standard drie (nou graad vyf) af ‘n beste maatjie van Tokkie was. Eerwaarde Groenewald het ‘n beroep na Bultfontein se sendingkerk aangeneem. Die gesin daag toe op met ketel, strykyster, broodrooster en wat nog. Ontnugtering! Die geriefies het alles mooitjies sewe jaar lank in die bokse moes bly.

tvd6

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Dit was natuurlik nie toevallig nie dat die eerste straatligte hul buiging gemaak het in die straat waar Ou One Light, gewoon het. Hy is so genoem weens sy glasoog, en was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur. Ouma Marietjie, Tokkie se gedugte weduweema, het op ‘n dag van Ou One Light korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur. Dis ‘n ander storie.

Ewenwel, feit is dat Tokkie tot laat in matriek haar tuiswerk by lamplig gedoen en ook vir eksamens so geleer nie. As sy ná donker voor haar klavier gaan sit om die skone klanke van Chopin of Liszt in die klein voorhuisie te laat opklink, moes die getroue lamp ook aangesteek word.

Laat my nou nie onbehoorlik spog nie, maar sy was ‘n formidabele pianissie, die klein meisietjie wat weens haar kort lyfie deur haar vroeg gestorwe pa, Kotie, Tokkelossie gedoop is. In daardie jare was oor en weer kuier nog die in-ding. Op een so ‘n kuier by ‘n buurvou, Tant Ellie van Wyk (nie familie), in standard een (graad drie) het sy ongenooid voor dié se ouderwetse klavier ingeskuif.

Dadelik was die talent onmiskenbaar. Gou het sy lesse geneem en is ‘n splinternuwe klavier by R. Müller in Bloemfontein aangeskaf, wat in ‘n krat Bultfontein toe geskarwei is. Op daardie klavier het klein Tokkie haar pad oopgespeel Unisa-eksamens en Bloemfonteinse kunswedstryde toe, waar sy goue diplomas links en regs ingeoes het. In matriek het sy met eervolle vermelding Unisa se Finale Eksamen (Klavier, Graad V111) kafgedraf. Sy was ook Sondae agter die kerk se orrel wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Die klavier staan nou by ons dogter, Marisa, in Hilton, Natal.

Op die sportveld was tennis na aan Tokkie se hart. In haar wit rokkie (‘n ou kerkrok wat vir die doel korter gemaak is) en met tekkies wat – lank voor die Nike-era – van ‘n hoop af by die O.K. Bazaars gekoop is, was sy en Mrad Shahia (later prof. Mrad Shahia) veral in die dubbels ‘n gedugte kombinasie. Die tekkies, terloops, was net ‘n stuk wit seil en ‘n sool wat kwalik die kous werd was. Die seil is met Shushine skoongemaak. Haar raket was ‘n oue van haar Tant Siena, wat ‘n rooilissie was in die Tweede Wêreldoorlog – ook ‘n tronkbewaarder wat o.a. die gifmoordenares Daisy de Melcker in haar sorg gehad het.

Elke kind het die een of ander tyd ‘n fiets gehad? Verkeerd. Tokkie het nooit in haar lewe ‘n fiets besit nie. Die enigste wiele in hul huis was ouer broer, Fanie, se tweedehandse dikwiel. Sy kleinsus het altyd op die handvatsels, die dwarspyp voor die saal of op die drarak agter gesit na gelang van omstandighede. Kinderkrans toe, was daar vier kinders op Fanie se fiets. Dan was Tokkie voor op die handvatsels, gevoude voetjies op die modderskerm.

tvd7

Hertzogstraat 5 – herbesoek in 2003

Soos Tokkie in musiek uitgeblink het, het Fanie sy naam as kranige atleet in Bultfontein se rekordboeke ingehardloop en gewerp. Hy was in matriek SA se onder 19-kampioen in die 440. Glo die duwweltjies op die atletiekbeen wat hom geleer het om sy knieë te dra. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat die gewigstoot aan die oorkant van die veld eers gestaak moes word.

My vrou was, by alles, ‘n entoesiastiese volkspeler. Sy was in die demonstrasiegroep wat ook kunswedstryd in Bloemfontein toe is om daar passies te gaan maak. ‘n Foto van Bultfontein se groep van 1961 het op Die Volksblad se voorblad verskyn. Daardie foto het ‘n buitengewone geskiedenis.

Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie – een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser, Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy was halsoorkop verlief. Hy wóú eenvoudig die meisie op die koerantfoto ontmoet.

Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (later ‘n mediese dokter of tandarts) aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: Wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”

Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!

Die skoolhoof se beskermende optrede word op prys gestel. Daardie De Neckertjie verdien nietemin volpunte vir ondernemingsgees. (hvd)

15 MAART 1966

Picture3

Die verloofde meisie en die soen – Ben van Rensburg se foto’s.

1-IMG_0001

More uit Melkbos

Aan die nuusfront was 1966 ’n geweldige jaar. Van die grootste koerantstories was die eerste sagte landing op die maan; die val van Kwame Nkrumah van Ghana; die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd; die stranding van die Seafarer by Seepunt, en die noodlottige modderstorting op die dorpie Aberfan, Wallis, wat ’n skool verswelg het.

Die Beatles het ophou toer. Hul laaste konsert in San Francisco was iets ysliks. Selfs groter opslae is gemaak deur John Lennon se onbeskeie aanspraak dat die vier bossiekoppe uit Liverpool met hul welluidende kitare gewilder as Jesus Christus is. Wêreldwyd het verontwaardiging gewoed.

Al hierdie stories is deur my soms bewende hande as Die Volksblad se hoofsubredakteur. Moet bely: met die Beatles het ek aanvanklik misgetas. Het dit op die pen geslaan (letterlik ‘n skerp draadpen) omdat dit in my oë godslasterlik was. Die redakteur was bra stuurs oor my oordrewe sensitiwiteit.

In my persoonlike lewe het ook ’n geweldige ding gebeur. Op 15 het ek en Tokkie Maart 1966 – net mooi 50 jaar (plus-minus 438,300 uur) gelede – van Wyk van Bultfontein, dogter van die weduwee Marietjie en suster van die kampioenatleet Fanie, op haar 20ste verjaardag verloof geraak. Sy het pas begin skoolhou vir ’n standerd-een-klas (nou graad drie) van die Laerskool Wilgehof, en die juffrou was ’n prentjie in haar vrolike somerrokkies.

Ek het die beminde Bultfonteinse Tannie Marietjie met die mank stappie weens polio kort tevore in Tokkie se kamer in die VSA-gebou (Vereniging van Staatsamptenare) om haar dogter se hand gevra – seker met die heimlike wens dat sy net sulke lekker frikadelle soos ma haar sou kon maak. Daardie wens is vervul. Van haar het kollega Johan van Wyk, darem ná jare se oefening, in sy rubriek Stop van Myne geskryf: “Net ’n Van Wyk kan sulke lekker kos maak vir ’n Van Wyk.”

Gelukkig was 15 Maart 1966 ’n stil nuusdag. Ek kon die aand vergeet van werk en ongesteurd die ring aan my geliefde se vinger gaan steek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Ek vermoed dit was die enigste in Bloemfontein.

Wat ons geëet het, is vergete: waarskynlik ’n garnaalkelkie, ’n stukkie monkey gland steak (lekker sousie) en, vir nagereg, roomys met sjokoladesous. Die kombinasie was gewilde spyse. Die wyn onthou ek goed. Dit was die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen.

Die aandjie (wyn en nagereg inbegrepe) het my seker niks meer as R4 tot R5 armer gelaat nie.

Die min ander kere toe ek en Tokkie voor ons troue gaan “uiteet” het, was by die Griek Peter se kafee net oorkant die munisipale swembad in Unielaan – eersteklas – allegaartjies vir iets soos 60c elk.

As die pryse ongeloof klink, hou hiermee rekening:

In 1966 was my salaris R220 en Tokkie s’n R100; ’n Pakkie Rembrandt van Rijn het gelukkig net 20c gekos. ’n Koerant waarmee ek speel-speel kon kaarspeel –  was 5c, ’n haarsny 25c en ’n tenk petrol onder R10. Kreef thermidor was die duurste gereg op elke spyskaart teen R1,99 vir ’n boordensvol bord. Nederburg Cabernet en Zonnebloem Cabernet, uitsoek-wyn, was R1,50 per bottel. Vir nederiger Nederburg Stein het jy kleingeld gekry vir jou rand. In Durban kon jy in ’n redelike vakansiehotel oornag teen R3,00 vir bed en (’n allemintige) ontbyt.

Maar moenie dink “uiteet” was eens naastenby so ’n kultuur soos vandag nie. In Bloemfontein het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, woonstelmaats geword, eers in La Gratitude (ook saam met Ben van Rensburg tot sy troue) en later in Giel Conradiehof. In Giel Conradiehof het Tokkie ná ons verlowing dikwels saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie”!

Ewenwel, ná die verlowingsete is die stralende paartjie na kollega Ben van Rensburg en sy vrou, Tina, se woonstel in Unielaan om met die ring te gaan spog. Ben, nou saliger, het ’n foto van Tokkie in haar blink aandrokkie geneem en ook een waar ek met ’n kus die verlowing verseël. Vanselfsprekend was ek uitgevat in ’n donker pak; my paisleydas swierig geknoop. Ons het ewe deftig aangetrek as ons gaan fliek. Mans het ook altyd pakke kerk toe gedra, en vroue sykouse en hoede. Langbroeke was vir hulle taboe. Ek het met ’n das gaan werk.

(Terloops: flieks van die jaar was A Man For All Seasons en The Good, The Bad and the Ugly. In Amerika het almal The Ballad of the Green Berets geneurie. In Engeland was ’n populêre liedjie The Sun Ain’t Gonna Shine Anymore.)

’n Glasie van Stukvat in die Paarl se verruklike port is vinnig saam met die Van Rensburgs gesluk. Ben had altyd ’n voorraad. Toe moes ons spore maak – Tokkie natuurlik na haar eie kamertjie in die VSA-gebou. Die hoofsub moes vroeg uit die vere. Elke oggend om 05:00 moes ek in Voortrekkerstraat op my pos wees. Die Volksblad was nog ’n middagkoerant.

Daardie tyd was “sosiale bladsye” ’n groot ding. By elke okkasie is foto’s geneem vir die prestigeblad waarop BBP’s graag wou pryk – veral sommige. Party oorgretiges het ons altyd aan die kant laat staan sodat ons hulle gerieflik kan afsny. Weekliks was daar ook ’n blad met trou- en verlowingsfoto’s. Natuurlik wou die verliefde Hennie met Tokkie op die “verloof-en- getroud”-blad spog. Sy is op my aandrang na die fotograaf Christo’s vir ’n ateljeefoto. Oom Christo Groenewald het later burgemeester geword – nie sleg vir ’n ou wat feitlik sy lewe in ’n donkerkamer geslyt het nie.

Veels geluk - goeie smaak.

Veels geluk – goeie smaak.

Toe daardie foto gepubliseer word, het die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche (nou 92), op ’n skeurblad vir my die volgende boodskap skuins bo-oor geskryf: “Veels geluk. Goeie smaak.” Ek was dit hartroerend met hom eens. Ek is dit vandag, 50 jaar later, steeds – ek bêre ook nog die vergeelde skeurblad.

Om die kroon op 1966 te span, is ek en Tokkie op Oujaarsdag op Bultfontein getroud. Ek was toe 25 en Tokkie 20, wat beteken dat ons vanjaar my 75ste, haar 70ste en die goue bruilof so saam-saam kan vier. My hart het gesing – en die sonbesies beslis ook – op daardie snikhete Saterdag-agtermiddag in die Vrystaat. (hvd)

APPEL EN DIE BOOM

Image0104

Wilhelm (Jorrie) Jordaan staan links agter en Jaap Steyn regs agter. Tussen hulle is Georjane Groenewald. Voor sit Herman le Roux en die uwe.

More uit Melkbos

Pa en seun – twee top-joernaliste.

Ek praat van Willem Jordaan, nuwe redakteur van Die Burger, en sy pa, Wilhelm – prof. Wilhelm. Wilhelm is joerrnalis wat sielkundige geword het. Hy vermeng die twee dissiplines op ‘n skitterende wyse in sy gereelde rubrieke.

Jorrie, soos ek hom in sy jong dae geken het, was ongetwyfeld ook redakteursmateriaal. Hy was ‘n uithaler-verslaggewer van Die Volksblad toe ek nuusredakteur was. Toe stuur ek Jorrie op ‘n dag Brandfort toe waar ‘n ligte in die bome vliegtuig geval het. Hy was wit om die kiewe toe hy terugkom op kantoor. So ‘n ontstellende toneel wou hy in sy dag des lewens nooit weer sien nie.

Ek het vergeefs probeer paai, en verduidelik dat hy by die koerant vir groter dinge as vliegtuigongelukke bestem is. Jorrie het voet by stuk gehou. Hy het gaan verder studeer – doktor en professor in sielkunde geword.

En hierdie ou? Hy sit met die verwyt dat een enkele opdrag van hom die joernalistiek van ‘n blink ster beroof het.

Twee ander tydgenote het sielkundiges geword. Hulle is prof. Charl Vorster en prof. Anda van den Heever. Charl was verslaggewer en Anda sekretarese. Sy kon tik dat die byle huil. Wonder wat sou dit wees dat die joernalistiek en die sielkunde so hand aan hand loop?

Ns. Prof. Jaap Steyn, gerekende taalman en bekroonde skrywer, was ook by Die Volksblad in daardie tyd. Hy was my voorganger as hoofsubredakteur. Het baie by hom geleer. (hvd)