KLIP, KAKTUS EN … KASTANJETTE

IMG_0795

IMG_0790

IMG_0793

IMG_0787

Strande van Carmen del Puerto

More uit Melkbos

Sing my ‘n lied van ou Spanje – van sonlig, liefde en wyn. Moenie sy vulkaniese eilande vergeet nie. Op die Kanariese Eiland eiland Lanzarote herinner die ruwe swart lawarotse plek-plek aan ‘n maanlandskap – vreemd maar bekoorlik.

Lanzarote, net 100 kilometers van die kus van Afrika, is bekend om sy vulkaniese oorsprong en nalatenskap, sy strande, kraters, kastele, kaktustuine en endemiese albinokrappies wat al eeue in rotspoele oorleef. Die plek vol verrassings word wyd as een van die mooiste van die romantiese eilandgroep gereken.

Meer as 1 000 000 besoekers kom soek elke jaar op Lanzarote “sonlig en liefde en wyn”. Die meeste stroom na die plesierige vakansie-oordjie Puerto del Carmen. Toe die MSC Opera op Woensdag 8 April in die hawe van die hoofstad Arrecife vasmeer, was Carmen ook , bo-aan my en Tokkie se lysie. Hoe dan anders? Carmen – jy hoor mos in die naam al die klank van die kastanjette en smeulende Latynse sensualiteit.

Die Avenida de las Playas, Carmen se hoofstraat, kronkel sewe kilometer verby een aanloklike strand op die ander. Hope restaurants, tavernes, boetieks en allerlei klein winkeltjies staan styf langs mekaar aan die oorkant. Elegante woonstelle, villas en hotels steek agter die toeristetrekpleisters uit.
Die toneel is tipies mediterreens. Blou lug, blou see, kalm soos ‘n dam, honderde blou dekstoele uitgepak op die wit sand. Baaiers wat in die son bak. Wat dit anders maak, is die oorheersende swart lawarots, wat skerp afsteek teen die seesand en wit skuim van die brekende klein branders.

Van die strande (waar bostukloosheid in die mode is) sien ‘n mens in die verte die gryse vulkaniese berge van Papagayo en op ‘n helder dag ook die volgende eiland in die ketting, Fuerteventura. Het my aandag nie deur die heersende strandkultuur laat aflei nie en die Canon liefs op die Papagayos gefokus gehou!

IMG_0772

Mure van lawaklip

Die lawarots kom nie net voor in natuurlike formasies van alle groottes nie; ook in die vorm van boumateriaal. Lyk of alle mure met gekapte lawarots gemessel is. Plaveiselstene kom uit dieselfde bron. Selfs die skoorstene teen die wit villas van Carmen is nie baksteen of leiklip (oorspronklik of nagemaak) soos hier te lande nie. Dis pikswart lawarots wat treffend met die witgekalkte mure kontrasteer.

Amper so vreemd soos die “maantonele” op en langs die strand is die kaktustuine oral. ‘n Vlugtige besoeker kan verskoon word vir die eerste indruk dat net kaktusse en palmbome in die grys as groei. Die waarheid, soos ons later op ‘n lang busrit met ‘n ander roete terug na Arrecife self gesien het, is dat heelwat wingerd die voorkoms van die eiland se bodem ophelder. Plek-plek tussen die lawa en versteende as is ook groen spatsels vrugteboorde en groentetuine.

IMG_0767

Kaktustuine

Suid-Afrikaners voel sommer dadelik tuis op die promenade van Carmen. Bly saans van die strande af, word besoekers gewaarsku. As die son sak, sak bendes Spaanse sakerollers glo op niksvermoedende toeriste toe. Klink bekend.

Die meeste eilandbewoners is egter joviaal en hulpvaardig, al lol die kommunikasie. Toe ons ‘n bus wil bestyg met nie die voorgeskrewe kleingeld nie, het ek vinnig by ‘n kroegie ingestorm om my papier-euros in munte om te skakel. Die busbestuurder het jou werklik geduldig vir die verbourereede ou gryskop gewag!

IMG_0789


Afrikakroeg.

(Een van die kuierplekke langs die Avenida de las Playas herinner ook aan die verre Suid-Afrika met sy naam, Africa bar/restaurant, ‘n skets van ‘n befoeterde maanhaar se kop met trekke van ‘n Egiptiese kryger op sy uithangbord en ‘n yslike houtbeeld van ‘n kameelperd op sy eersteverdieping-stoep. Later was ek spyt dat ek nie vir Tokkie by “Africa” gaan afneem het nie. Sy was die dag “ïnheems” geklee in ‘n blou “Afrique”-bloese met nie net een nie maar twee langnekke op die bors. Drie kameelperde op een oggend saam op Lanzerote. Reken net!) (hvd)

HEEN EN WEER OP DIE CANAL GRANDE

IMG_1712

IMG_1724

Op die vaporetto op die Canal Grande

More uit Melkbos

Romantiese Venesië met sy Canal Grande, Piazza St. Marco, Ponte di Rialto, vaporetti en singende gondeliers lok glo iets soos 60 000 mense per dag – meer as die stad se bevolking. Vir twee dae was die Van Deventers deel van daardie gemaal.

Op 16 April het die MSC Opera vroegoggend die kanaal binnegevaar, stadig en statig verby St. Markus (of La Piazza – sommer net die Plein – soos die plaaslike mense dit noem). Voordat ons voet aan wal gesit het in wat deesdae die gewildste bestemming vir skeepvaarte in Europa is, was al vyftig poskaartmooi Venesiëfoto’s op my Canon.

Dit was ‘n derde besoek in vier dekades aan die sjarmante stad met sy kronkelende kanale, glansryke middeleeuse erfenis en diepgeworteklde tradisies – al drie, helaas, maar kortstondige kuiertjies. Oor ‘n stad met so ‘n unieke eie karakter en so ‘n ryke oes aan trekpleisters moet ‘n vlugtige besoeker liewer nie slim probeer klink nie.

Drie wenkies wil ek tog waag, veral vir mense van gevorderde jare (wat nie meer so rats is nie) en wat beperkte beursies het of sommer net in beginsel onwillig is om deur hul nekke te betaal.

Die eerste gaan oor gerief. Soek ‘n hotel so naby aan een van die drywende watertbushaltes as moontlik. Onthou jy moet jou tasse oor daardie hobbelrige straatjies deur smal stegies en oor stampvol bruggies en pleintjies sleep-dra. Ons was in ‘n knus familiehotelletjie in die Salizzada San Lio, halfpad tussen die Rialto en die Plein. Kon gerieflik in die hart van die stad rondstap. Die waterbus was byderhand.

IMG_1547

Ons hotel, gerieflik naby die Rialtobrug

Die tweede wenk is oor die vaporetti (waterbusse) wat die kanale deurkruis. Enkelritte teen €7 elk kan duur uitwerk. ‘n Dagpas kos €20, ‘n tweedaepas €30 en ‘n driedaepas €40. Daarmee kan jy na hartelus rondrits, ook op die “motoscafo” (vir sykanale) en die groter “motonave” (soms met twee dekke) wat stasies soos die Lido, Punta Sabioni en Treporti bedien. Ons geliefkoosde uitstappie was van die Rialto na die Piazzale Roma, dan terug via die Lido. Is verskeie kere heen en weer op die Canal Grande.

Mik net vir ‘n buite-sitplek. Dan is foto-geleenthede volop. Het selfs twee bruidspare op balkonne langs die Canal Grande afgeneem. Vrydag is blykbaar ‘n gewilde troudag. Ons is ook by mooi boomryke parke verby, vrolik groen met nuwe blare. Venesië bestaan nie net uit kanale, geboue en bote nie.

IMG_1726
IMG_1568
Fotogeleenthede is volop.

Maar wees gewaarsku. As jy by die Piazzale Roma op die verkeerde bus klim, ry jy anderkant om terug, oop see langs verby die hawe en nywerheidsgebied. Gelukkig was ons nie onder tydsdruk nie. Kon ontspan en gelate daardie onverwagte ver roete deur die onbeboude waters “geniet”.

Mense wat Venesië ken, sal dadelik waarsku: Moet net nie die waterbus met ‘n watertaxi verwar nie. Stem. Laasgenoemde – kleiner, private motorbootjies – kos ‘n pakkie. Vriende moes die Saterdagoggend lank voor dagbreek lughawe toe. Hulle het nie juis ‘n keuse gehad nie en moes ‘n watertaxi bestel.

Die rit van 30 minute van reg voor hul hotel het hulle €120 gekos. Daarna het ‘n bussie hulle tot in die lughawe gebring vir €30. (Ook vir ‘n kort gondelrit ter wille van die romantiek dok ‘n mens €80 tot €100 op – ‘n plaas se prys teen die huidige randwaarde.)

Ons, aan die ander kant, is na die stasie, die Stazione di Venezia Santa Lucia, sonder om ‘n ekstra euro op te dok. Die rit van die Rialtohalte af tot by Ferrovia – sonder enige stop tussenin – was ingesluit by die koste van ons dagpas. Ferrovia is die halte reg voor die Santa Lucia. Jy sleep jou tasse daarvandaan tot op die regte platform met ‘n lied in die hart.

IMG_1721

Die Rialothalte op die Canal Grande.

Daardie stasie moet ‘n mens nie vlak skat nie. By ‘n netjiese buffet kan jy wyn en ‘n hele verskeidenheid tradisionele eetgoed aanskaf. Jy kan buite by tafeltjies aansit en die mense sit en dophou soos hulle kom en gaan. Die kos vergelyk in die algemeen gunstig met dié wat jy ten duurste by oulike straatkafees of, des te meer, by volbloedrestaurants met kelners, kerslig en klaviere kry. Hoe nader aan die Plein of die Rialto des te duurder natuurlik.

Dalk die belangrikste wenk vir laaste: Op die Santa Lucia is volop sindelike toilette waar jy vir ‘n appel en ei jou lope kan loop. In ‘n stad wat berug min sulke geriewe vir sy derduisende toeriste bied, is dit ‘n geweldige pluspunt ná ‘n paar glasies bier of wyn.

IMG_1604

Die Opera saam met die gondels op die Canal Grande
.

Naskrif: Groot skepe wat op vakansievaarte duisende ekstra toeriste op Venesië kom stort, is nie juis gewild in daardie geweste nie. Word beskuldig van besoedeling en dat hulle golwe veroorsaak wat geboue se fondamente uitkalwer. Op die kanaal mag die vakansieskepe nie aankondigings doen wat buite op die dekke hoorbaar is nie. Daar is ook ander beperkings

MAAR EEN DUBROVNIK

IMG_1379

IMG_1399

IMG_1403

IMG_1402

Middag uit Melkbos

Die stadsmuur van die middeleeuse stad Dubrovnik beslaan 1 940 meter en het nie minder nie as 1080 steil trappies, blink uitgetrap deur derduisende voete deur die eeue. Die uwe voel of ‘n druppel Van Deventersweet op elke liewe trappie gestort is.

My bestyging van hierdie gedugte Kroasiese Everest van gemesselde klip was in die vroeglente. Van hitte was nie sprake nie. Van reuse-inspanning wel. Die ou man met die geruite Skotse pet en die krom kierie uit die Laeveld het rus-rus maar vasberade geklim – elke trappie ‘n simbool van verowering.

Bo is hy begroet deur applous van die gids en die aanmoediging van Tokkie wat plek-plek bedagsaam bly talm het om nie die agteros te ver agter te laat nie. Later, terug op moederaarde, was bejaarde Suid-Afrikaanse toeris en jong Kroasiese gids dit roerend eens: Daardie durf verdien ten minste ‘n vergulde sertifikaat – liefs met ‘n aksiefoto in kleur. Ons gids dink al lank aan die bemarking van so ‘n herdenking, en was in sy skik dat die gryse Suid-Afrikaner ook die lewensvatbaarheid raaksien.

Van die enorme muur af is die uitsigte oor die asuurblou Adriatiese see asemrowend. Elke toneel waarop jy jou kamera fokus, adem as’t ware die woorde van die Ierse skrywer Bernard Shaw: “Those who look for a paradise or want the Garden of Eden on earth must come to Dubrovnik.”

Shaw is waarskynlik deur hele inspirerende pakkie oorrompel: Die merkwaardige stad (‘n Wêrelderfenisgebied sedert 1979) in sy totaliteit met sy vele versteekte stegies en verrassende hoekies; die forse, karaktervolle argitektuur; die wydse oseaan in al sy grootsheid; die milde mediterreense klimaat en die ontspanne lewenswyse. Wonder hoeveel tavernes, taphuise en restaurants hul aanloklike plaaslike spys en drank op Dubrovnik se gesellige stadspleine aanbied.

Dit is ‘n stad waarmee jy kort ná jou aankoms in die prentjiemooi hawe dramaties kennis maak. Die toerbus stop op ‘n hoogte met panoramiese uitsigte op die hierdie “Pêrel van die Adriatiese kus”, soos dit in daardie wyke tereg bekend is. Dit slaan jou asem weg om die ganse bastion soos ‘n kosbare kroonjuweel op die blou fluweelkussing van die see voor jou uitgestrek te sien lé.

In die ommuurde stad is die pragtige hoofstraat ‘n breë geplaveide wandellaan. Dit heet die “Stradun”. Aan die waardige, onopgesmukte hoofstraat kry jy antieke kerke, museums en ander bekoorlike geboue in die Italiaanse Barokstyl. Die Gotiese Palazza del Rettore (setel van die staat) naby die meesterlike sandsteen-katedraal en kloktoring is in 1441 gebou. Tussenin is soewenierwinkels, roomyskiosks en dies meer ingepak.

dubrovnik-001

IMG_1419

Iemand met ‘n voorliefde vir trappies tel, beweer binne die die grense van die ou stad is altesaam 4 343 en in Dubrovnik in die geheel ‘n formidabele 5 423. Dit sluit ‘n outentieke weergawe van Rome se beroemde “Spaanse trappies” in. Maar wees gerus. Oor my bemeestering (vermeende bemeestering) van al daardie duisende trappies sal ek geen oordrewe, geromantiseerde aansprake maak nie.

Ons is die ou stad in by die indrukwekkende hoofhek bekend as die “Pile”. Net binne is ‘n Fransiskaanse monnikeklooster wat ‘n apteek huisves waar al sedert 1317 medisyne gemeng word – taamlik lank voor Van Riebeeck! En sommer dadelik wag die impak van die eerste stel trappies boontoe, wat jou skielik aan die wysheid laat wonder om hulle te pak.

Die treffende skoonheid uit die hoogtes van die verowerde omgewing bied darem dadelik ‘n lafenis. Ver-ver verrys berge uit die see. Teen die einde van die staptog kyk jy af op ‘n skilderagtige seiljaghawe omring deur die sambrele van tavernes en seekosrestaurante. Die wyn is glo verfrissend en die oesters hemels. Ook die verstommende boukuns van die muur se torings, vestings en ander fortifikasies laat jou vasbyt om niks te mis nie. Soos jy vorder, groei die verwondering. Dit strek Kroasië tot eer dat hierdie erfenis so behoue kon bly.

Presies om 14:00 het die Opera se diep fluit oor die hawe weergalm. Die wit skip het stadig van die vaste aarde begin wegskuif op ons laaste skof na Venesië. Op al die dekke het mense saamgedrom. Soos Dubrovnik kleiner word en die watervistas groter, het ‘n verruklike nuwe skouspel hom ontvou.

IMG_1493

IMG_1508

Presies om 12:20 het iemand op dek 12 opgewonde uitgeroep: “Haai!”. Dit was nie ‘n haai nie, wel ‘n dolfyn wat blinklyf uit die water opstyg. Presies om 14:21 was daar weer ‘n uitroep: “Sneeu”. Toe ons opkyk, was die pieke van die Alpe in die verte spierwit gespikkel. Die toneel van die al groter wordende see, die verdwynende hawebrug en die Alpe op die agtergrond het die Opera se passasiers klaarblyklik aangegryp. Hulle het in stilte vasgenael bly staan, so asof hulle bang is dat hulle soveel skoonheid nie weer in hul aardse bestaan gaan sien nie. (hvd)