Mar 17, 2015 | Hennie van Deventer se Blog



More uit Melkbos
Iemand wat lus is om kuier-kuier die skone Kwazulu-Natalse Middellande te verken, moet eenvoudig tyd maak om nie net ‘n afskeep-uurtjie of twee nie op Hilton te vertoef.
Hierdie juweeldorp in ‘n parklandskap bied veel om die sinne te bekoor. Die lowergroen rant op rant, woudagtige woonbuurte en pikante winkeltjies is met een woord prentjiemooi.
Die Quarry Centre is een van die sjarmantste plattelandse sakesentrums wat ek al gesien het. Die statige wit hotel in Tudorstyl is Engelse platteland uitgeknip. Die spogskole met hul skilderagtige sportvelde is uniek, ten minste wat Suid-Afrika betref.
Op die foto’s is die uitsig van Brent en Marisa se tydelike huurhuis, die boonste deel van Flamingolaan waar hulle huis gekoop het, en die krieketveld by die seuns se skool, Laddsworth.
As mooi die enigste maatstaf is vir geluk, gaan die kinders hier goue jare tegemoet. (hvd)
Mar 11, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Vrolikheid op die Opera in 2013.
More uit Melkbos
Hande op, almal wat op 28 Maart in Tafelbaai die groot wit skip die MSC Opera bestyg vir sy romantiese vaart van 19 dae na Venesië.
Mense, Tokkie, kyk net al die bekendes. Hier is kollega Paul en Cora Marais. Hier Servaas en Magrietjie Hofmeyr van Melkbos. Hier, jou werklik, nog Melkbossers. Soos ons die skip verken, gaan die lys bekendes aangroei. Min twyfel daaroor.
Op die Opera het die Van Deventers in Februarie 2013 saam met ‘n span vriende ‘n vaart na Walvisbaai en Luderitz onderneem. Dit was doelbewus so gereël. Die groep was almal lede van die Probusklub vir afgetredenes op Melkbos, of vriende van lede. Ons het van mekaar geweet.
Hierdie keer is die samesyn ter see ‘n verrassingspakkie. Ons hoor van mekaar op die vreemdste maniere. In Januarie val ons bv. uit die bloute by Paul en Cora Marais in Centurion in vir ‘n koppietjie koffie. Skaars gesit, toe my kollega aankondig: Julle het ons aangesteek.Ons gaan ook nou vaar.
Wanneer: 28 Maart? Waarheen? Venesië. Watter skip? MSC Opera. Die storie hou nie daarop nie. Ons is boonop albei op dek 9 (die Normadek), blyk dit. Maar wag hiervoor: Die Van Deventers is in kajuit 2220; die Marais’s in 2219! Dis voorwaar ‘n uitroepteken werd.
Twee oud-redakteurs van Die Volksblad, kollegas sedert die 60’s en in die 80’s in buurkantore, nou dekades later skuins oor mekaar op ‘n reuseskip – al het hulle maande uit mekaar en totaal onbewus van mekaar bespreek. Nee, ongelooflik soos dit mag klink, dit is NIE uit die duim gesuig nie. Dis die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie hierdie Njannieskopella.

Kollegas in die 60’s – ‘n jong HvD en ‘n jong Paul Marais.
Van Servaas en Magrietjie, twee mede-Melkbossers, het ons gehoor by ‘n gemeenskaplike vriend, Thys Slabber. Die twee het in Januarie afgehaak. Soort van ‘n wittebroodreis dus. Hulle weet weer van ander Melkbossers wat ook saam vaar.
Eensame afsondering hoef ons klaarblyklik nie te vrees nie! Ook nie hongersnood of droefgeestigheid nie. Dit kan ek uit ervaring met vertroue neerpen.
Eat, drink and be merry .. for tomorrow ye diet. Aan dié gevleuelde woorde wat in ons Tukkiedae een jaar op die spyskaart van Kollege se huisdinee was, het studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai my in die ornate eetsaal van die Opera die La Caravelle op dek 5 (Aidadek) gou herinner. Ek en hy was toe bure op dek 8 (die La Traviatadek) in kajuite 8195 en 8197.

Saam met Pierre le Roux op die Opera.
En ja, eet en vrolik wees het ons inderdaad bekwaam gedoen – ook in die L’Approdo op dek 6 (Otellodek), asook in die Le Vele en die Il Patio op dek 11 (Toscadek).
Die vyf dae ter see het ons met ons tande ‘n pad deur iets soos 80 ton vars kos geploeg. Twaalf bakkers het elke dag 900 kilogram heerlike brood bygedra: van croissants tot pumpernickel-rogbrood. ‘n Bataljon kelners, hoofsaaklik van Indonesiese afkoms, het net grinnikend bly aandra. Geen wonder nie die kok het met die voorstelling van die kaptein en sy offisiere loshande die meeste applous ingeoes.
Oor hoeveel bottels wyn verorber is, bestaan statistieke genadiglik nie.
Synde ‘n Italiaanse skip moes daar natuurlik ‘n Italiaanse aand wees – ‘n vrolike besigheid met onder meer al die kelners in groen, wit en rooi, Italiaanse wyne teen NET $10 ‘n bottel, Italiaanse roomys, Italiaanse pasta en ‘n sappige Italiaanse koek waarvan ek die gelyke nog nie geproe het nie.
‘n Feestelike hoogtepunt was toe almal op die maat van ‘n heerlike Italiaanse lied hul groen, wit en rooi servette bo die kop begin swaai. Die vrolikstes onder die vrolikes het treintjie gemaak en deur die eetsaal begin kronkel.Laas het ek nie saamgekronkel nie. Dié keer is ek voor in die koor!
(Die Opera se droomvaart sluit in St. Helena; die sonnige Lanzarote op die Kanariese Eilande; die prentjiemooi Spaanse stad Cadiz; die kleurryke Valletta, hoofstad van Malta; die Griekse eiland Corfu met sy pastelkleurige huise en oulike systraatjies; Dubrovik, idilliese Mediterreense juweel, en uiteindelik romantiese Venesie met sy kanale, brue en gondels, manjifieke kunswerke en unieke argitektuur. In Palermo wag die ingenieurs egter al op die die skip. Hy is volgende op die MSC se lys van vergroting en vernuwing – dieselfde soort “renaissance” waardeur die Sinfonia pas is.) (hvd)
Mar 2, 2015 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Ek herhaal hieronder my blog van 25 Junie 2013 van ‘n intimiderende omsingeling deur olifante op die Skukuza-Onder-Sabiepad. Illustrasies het ongelukkig ontbreek.
Vandag plaas Sipke Meyer op die FB-blad Kruger National Park – Best Place on Earth foto’s van ‘n identiese olifant-ervaring. Ek sou kon jok en beweer dis my foto’s van my en Tokkie se Groot Skrik. Ek sou my selfs kon wysmaak daardie leuentjie is die waarheid, want nader aan die Ware Jakob kan dit nie.
Maar ‘n mens jok nie oor sulke belangrike dinge soos ‘n goeie foto se herkoms nie. Ek erken dus graag die bron. met die nodige dank en ‘n saluut aan Sipke Meyer. Ek was destyds te bang om te roer.



06.25.13
OMSINGEL DEUR OLIFANTE
Posted in Uncategorized at 12:32 pm by Administrator
Middag uit Sabiepark
RSG se Spektrum het ons pas herinner dat 24 Junie die herdenking is van die Wêreldbekerglorie van 1995. Die volgende stonde kry 24 Junie vir die Van Deventers ‘n geheel ander betekenis: Die Dag van die Olifante.
Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1998-CR-V) van Balule af via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivierwas gery het. Kort-kort kry ons olifante. By die skerperige boog tussen Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.
Eensklaps is ‘n bewegende swart muur feitlik op ons. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die teerpad op die weerlose Honda afgemarsjeer. Alle groottes en ouderdomme. Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Jy sien net skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.
So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!
Ek trap haastig rem en swaai die neus effens veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto”. My vrou het ‘n punt beet. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam, besef jy.
Magteloos sit ons, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger. Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore. Vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby.
In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Baba steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot stilstand. Daarna maak baba, soos Tokkie dit stel, doek net voor die snoet van die kar.
Die jong bul vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Mik eers my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink. Op daardie oomblik stap ma en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.
Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Van hulle het dalk foto’s geneem, hoop ek. As een hier lees, en ‘n foto of foto’s het, kan ons besigheid praat. Hierdie verligte man sal gewillig sy pensioengeldjies skud vir getuienis van die naelskraapse ontsnapping op 24 Junie 2013. Sal dit graag met gepaste kommentare rondwys. (hvd)