Dec 10, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Kampioene! Koerante wen die D.P. de Villierstrofee. as beste presteerder in die Pers. Die Burger wen op sy beurt die Ton Vosloortrofee as beste presteerder in die Koerantegroep. By my is Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, en Ebbe Dommisse. redakteur van Die Burger
More uit Melkbos
Eerbiedwaardige direkteure soos David (David Sasol) de Villiers, Philip la Grange en Billy van der Merwe sou my sweerlik aan die broek se sitvlak beetgekry en doer van die 18de af by ‘n venster uitgesmyt het!
So dink ek soms by my selwers as ek in my verbeelding ‘n scenario optower waar ek in die jare 90 sou waag om in die direksie aan te kondig ek het nou die resep vir ‘n deurbraak tot die Engelse mark gevind – gee eenvoudig vir die massa wat hulle wil lees. Gee hulle ponies (tabloids)!
Nogal amusant om my die verskillende reaksies aan die tafel in te dink. Veral van Oom David Sasol kry ek ‘n helder prentjie. Hy sou eers sy swaar lyf op sy draaistoel posisioneer om die twakprater beter in sig te kry. Sy hand sou uitskiet na die lekkergoedbakkie wat altyd gerieflik byderhand was. Hy sou my afkeurend begluur.
Dan stadig, afgemete sou sy woorde kom: “Voorsitter, meneer Van Deventer sal maar weer moet gaan dink.”
Ja, ‘n Engelse dagblad was bepaald daardie tyd sterk op die agenda. ‘n Persoonlike teleurstelling van my skof as koerantehoof is juis die onvermoë om een op die been te bring.
Die beste resep vir toetrede tot daardie mark is meer as een keer uitgetrap by spesiale dinkskrums van die bestuurskader aan koerantekant. En wat ‘n deksels goeie span was dit nie? Nie om dowe nete nie het Koerante op die bestuurskonferensie van 1996 in Swakop (die sogenaamde Woenstynberaad) die gesogte D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in Naspers verower.
Maar al die sessies met geslote deure van hierdie uithaler-span het dalk kreatiewe planne opgelewer, nooit haalbare begrotings nie. Die laaste een, waar ons dalk die naaste gekom het aan ‘n formule, was in Kommetjie, onthou ek. Vir my was dit ‘n groot terugslag toe die Kommetjieberaad ook eindig sonder dat ons daardie knoop deurgehak kon kry.
Maar ons het natuurlik toe nog net in terme van ‘n formele dagblad soos Beeld, Die Burger of Die Volksblad gedink, nie in terme van ‘n poniekoerant (soos die latere Sun/Son)nie. Nooit!
Die waarheid is natuurlik dat die ponie se waarde as sirkulasiebouer geen geheim is wat Naspers skielik in die nuwe millennium raakgevat het of ontdek het nie. In lande met groter bevolkings – d.w.s. genoeg lesers vir ernstig of populêr/gesaghebbend of sappig – is die ponie ‘n ou bekende pyl in die koerantekoker. In die Naspers-kultuur en –waardestelsel soos ek dit in my tyd gelees en verstaan het, is poniepers egter aan geelpers gelyk gestel.
Dit (en die klas krasse plakkate wat teen pale en bome selfs in die beste buurte opgaan) sou ondenkbaar wees – as ‘t ware die proe aan ‘n verbode vrug.
Die rasionaal dat sulke koerante en plakkate (“Kaalgat dominee sien sy gat”!) meer mense so ver kry om koerante te lees, klink of die doel die middele wil heilig. Sprekende as oud-amptenaar, oud-redakteur en oud-koerantehoof moet ek dit egter van die hart kry dat ek oor veel Pers-prestasies graag spog, maar ongraag in goeie geselskap ‘n verbintenis met die ponies sal erken. Vroeë vaders in hul grafte laat tol? Ek meen so.
‘n Ander bitter pil aan die Engelse front was dat selfs ons poging om net ‘n goeie Engelstalige tuiskoerant in Kaapstad se suidelike voorstede te vestig, eenvoudig nie van die grond kon kom nie. Die advertensiekraantjie het droog gebly. In ‘n stadium is die bekende Engelse joernalis Wessel de Kock (skrywer van A manner of speaking) as redakteur uitprobeer. Hy wou met inhoud egter te hoog vlieg. Uiteindelik was hy gerustreerd, ek gefrustreerd en die direksie gefrustreerd.
‘n Bitter pil (vir my persoonlik) op die politieke vlak was die besluit van 127 “Jong Turke” om teen die wense van Ton Vosloo, van my en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids- en Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling.
Ek het dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Die besluit van die jong kollegas onder aanvoering van Tim du Plessis, Arrie Rossouw en Tobie Wiese om met so ‘n hoogs sigbare openbare protes deur te druk, het ek as ‘n onregverdige skop in die tande van ‘n vorige generasie ervaar – ook in die tande van Ton wat as redakteur ‘n voorloper met verligte denke was. Onthou hoe briesend P.W. Botha was toe hy doerie tyd by Beeld al profeties geskryf het: “Ons sal nog eendag met die ANC moet praat soos mons nou met Swapo praat.”
Instinktief, wou ek die advies van ‘n besoekende Amerikaanse vriend, John Painter, volg om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan. Painter was by my op besoek en het saans gretig oor ‘n glasie pinotage na my rapporte vanuit die Heerengracht oor die rebellie geluister. Ton was ook gekrenk, maar het ‘n koeler kop behou en het aanbeveel dat ons hulle maar laat “stoom afblaas”.
Uiteindelik het wat ek destyds as ‘n “swart dag” ervaar het, op die lange duur geen letsel gelaat nie. Die Pers het in sy verskeidenheid sy pad bly loop en sy rol bly speel. Miskien, miskien tog, was in daardie kollektiewe verset-aksie vrugbare saadjies vir latere ontkieming, en het dit by landgenote groter geloofwaardigheid help win in ‘n tyd toe geloofwaardigheid vir “Afrikaanse” instellings nie altyd maklik verwerf is nie.
Ek skryf dit hier sonder te veel besorgdheid oor moontlike verwyte van agternawysheid of van ‘n terugkrabbeling wat hopeloos te laat uit hierdie oord kom. Soms, net soms, verskuif selfs die hardnekkigste tog wel ietwat van posisie …. (hvd)
Dec 9, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Goeie kontak met die nuwe leidsliede.
More uit Melkbos
Van 1992 tot 1997 het ek swaar gedra aan die gewigtige titel: uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers. My direkte verantwoordelik was die portefeulje dagblaaie en streekkoerante. Ook City Press wat later toegevoeg is, en uiteindelik Rapport toe Naspers volle bestuursbeheer gekry het.
Ek is tot vandag toe onseker of ek ewe tuis in die bestuursomgewing as in die redaksionele omgewing was. Die ervaring op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht het tog wel my lewe verryk, hoewel dit my ook nederigheid geleer het.
Die eerste keer toe ek bv. Johannesburg toe is om die “nuwe” kuiken in my nes, Rapport, amptelik te besoek, was die redakteur Izak de Villiers “te besig” om my te woord te staan. Die verleë bestuurder, Jorrie Jordaan, moes die kastaiings uit die vuur krap. Na Die Burger se redakteurskonferensie het ek van Ebbe Dommisse wel ‘n ope uitnodiging gehad, maar ek het ook gou agtergekom: Mnr. Van D. jy is van buite. Hier praat jy net as jy direk aangespreek word.
Die dekade 90 het geskitter aan vele hoogtepunte. Die verkryging van ‘n vastrapplek in die swart lesersmark met City Press, asook verskeie tydskrifte, teken ek as hoogtepunte aan. Die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs toring ook uit. Enorme waarde is ontsluit. “Waardelose” sertifikate in kluise het oornag stewiger bankbalanse en selfs welvaart beteken.
Sal ek die opwinding vergeet om op die vloer van die Johannesburgse Effektebeurs te kon staan toe die klok lui en die verhandeling in Naspers begin? Daardie middag op die Boeing Kaap toe het ek, Salie de Swardt en Andrew Marais die heildronke ingeryg.

Gesondheid! Salie, Ton en HvD klink ‘n glasie op die Beursvloer.
Vir “my” koerante was die 90’s ‘n goue era. Danksy soliede produkte en hul onbeskaamde Afrikaansheid het hulle lesers se harte opnuut bly gemaak. By my afskeid, op 19 Februarie 1998, het Ton Vosloo hom daaroor soos volg uitgelaat: Hierdie tydperk …. van ons koerante sal in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai.”
Die Ton Vosloo-era word in my oordeel by uitstek deur die eienskappe gesonde verstand, realisme, visie en leierskap versinnebeeld. Dit was ‘n belewenis om op elke terrein mee te maak hoe “baas Ton” met een meesterskuif op die ander die Pers monumentaal uitbou. As ‘n lid van sy bestuurspan, kan ek net verwondering oordra oor hoe hy, soos min ander, veranderinge geantisipeer het en gewoeker het om daarvoor voor te berei, onder meer deur die uitbouing van diversiteit en die klem op kwaliteit op elke terrein.
Daardie ander merkwaardige Pers-kolos, Piet Cillié, het die kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik: “Wanneer die resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan ná ‘n verpletterende sege by die stembus: “I think we did rather well.” Oor Ton Vosloo sou ek in daardie eufemistiese idioom vrymoedig wou verklaar: “I think he did rather well!”
Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met positiewe beriggewing, meen ek. Feit is dat ons ook op bestuursvlak uit ons pad gegaan het om na die nuwe leidsliede uit te reik. Goeie kontak is met die here Mandela, Mbeki en andere bewerkstellig. Teen die vroeë 90’s al is ook ingesien is dat op die mediatoneel veranderinge moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.
‘n Reeks koerante is onder die Vision-banier op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegsê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism en aan joernalistiekdepartemente van Stellenbosch en Rhodes, asook aan technikons, om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.
En Vrye Weekblad dan? Die uwe bevind hom in die geledere van ‘n geslag koerantredakteurs wat in die woorde van Max du Preez o.m. sou geglo het dat sy koerant “te loslittig en te ver verwyder van die gewone Afrikaner” was om werklik impak te maak. Vrye Weekblad het ons hoofstroom-dagblaaie graag gekoggel. Desondanks het Naspers uit sy pad gegaan om die blad uit sy finansiële gemors te probeer red.
Op my inisiatief is in die finale oorlewingstryd ‘n senior oud-amptenaar van Naspers, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om te help. Die Pers het al die koste gedra en hom boonop ‘n salaris betaal. Sy pogings kon die finale gordyn nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.
Toe ek die Pers se hulp enkele gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie.
Die begin van die glorieryke Koos Bekker-era het rofweg saamgeval met my eie uittrede, wat onder meer aangevoor is deur die besef van nuwe tegnologiese eise waarvoor ek my kwalik as goed toegerus beskou het. Hoe omvattend en vinnige radikale verandering in die totale korporatiewe identiteit sou intree, kon ek toe nie raai nie, hoewel Bekker, soos natuurlik sy goeie reg was, dadelik begin het om sy stempel simbolies en struktureel af te druk.
Simbolies, het hy dadelik voor begin stap in ‘n nuwe era van dasloosheid en deur die bank vir almal net “Koos” geword, net nie mnr. Bekker nie, asseblief. (Ludwig Visser, voorheen van Die Burger, onthou daaroor ‘n snaaksigheid. By die Pers was destyds ‘n bruin motorbestuurder met die van Prins. Jong bodes het met die nodige agting na hom verwys as “Meneer Prins”. Eendag staan Ludwig in die voorportaal en hoor een vir die ander vra of hy weet waarheen “Meneer Prins” is. Die ander antwoord: “Hy het vir Koos in die stad gaan haal!”)
Struktureel, het “Koos” eerstens sy kleim afgepen met sy verwerping van die oorspronklike ontwerp vir die Aucklandparkse Persssentrum (onder leiding van ‘n komitee waarvan die uwe die voorsitter was), die haastige aftakeling van die ou kantooropset van die besturende direkteur en die vestiging van ‘n nuwe binnekring rondom hom. Bepaalde senior amptenare is van die 18de verdieping af verskuiwe om vir nuwe gesigte plek te maak
Die uwe het tot siens gesê voordat die winde van verandering hom kon tref. Anders as wat sommige vermoed het, was by my werklikheid geen suurheid of bitterheid nie. Trouens, ek beskou my tot vandag as trotse Nasperser in murg en been. (hvd)
* In die volgende blog skryf ek oor ‘n paar teleurstellings vir my in my nuwe stoel in die Kaap.
Dec 7, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Spotprente teen my muur.
Middag uit Melkbos
Een muur in my studeerkamer is die ene geraamde spotprente en karikature. Skoondogter, Mariza, het hoeka gese: As pa in die hemel kom, sal hy rondkyk wat daar is om te raam.
Santam verkondig in ‘n advertensie by sy geel sambreel: Ons dek alles. Mag ek parafraseer: Ek raam alles.
Onder die vyftien-stuks sketse op my “karikatuur-muur” is die wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het:
Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand. Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.
Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD. Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 20 jaar gelede prematuur wou begrawe. Die karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters. Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!
Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Dis van HvD agter sy rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.
Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof. Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar. Ander omslae van HvD-boeke hang elders in die huis.
Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld was vanjaar veertig. Botma en Van Walsem is al oorlede
Wat ook teruggryp na daardie dae is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow. Na my wonderjaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.
Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike snor my op Rio se lughawe beetkry. Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het. Daar is ook ‘n Fred Mouton-ene van moleste in die vreemde. Op die einste Rio-lughawe tuimel Marisa (3) in ‘n stormloop vliegtuig toe gillend uit haar stootwa. Pa gryp sy kop vas.
‘n Derde is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland. Waag ook maar net om ‘n toon in te steek. Die kunstenaar is Fred Mouton.
Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee. Die dierbare Peannuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?
In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf? In die derde antwoord Linus: Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?
Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan.
Uit my Kaapse dae is ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is ook reeds heen.
Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien.
Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.
Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: BURGHE! ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: ‘n Burger asseblief. Die verkopertjie is verstom: Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….
Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat al die wondere van die e-era nie kan troef nie.
Trouens, skielik besef ek: Al die spotprente teen daardie muur saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die HvD-motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie. (hvd)
Dec 4, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Op die regte tyd, op die regte plek, omring deur die regte mense. Die Volksblad se redaksie circa 1990.
More uit Melkbos
Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies. Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.
Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders. Die era van die “Oom” was ook ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.
Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie. As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd. Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys. Net terloops.
Hoekom die “Oom”? Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”
Johan het al in 1974 begin Stop skryf. Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan. Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer. Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.
So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.
Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.
Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk. (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)
Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

Johan van Wyk, die uwe, en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Van Wyk se boek, So was dit.
Wel denkbeeldig, was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.” Johan het hom nie reggehelp nie..
Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf. Perfekte beeld. Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.
In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.
JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp. Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.
Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland. ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”. Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”. Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.
Oor Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie. Karakters was egter volop. Ek onthou elkeen met behae.
Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis, ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.
Dan, vir heel oulaas, ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was. Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!
Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig. As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat! (hvD)
Dec 2, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Roosknoppie, Matrieknooi, joolnooi in ‘n nuusrokkie. Ons het nie geskrik vir skoonheid nie!
Middag uit Melkbos
‘n “Kompulsiewe koerantman” met “‘n passievolle drif” vir koerante uitgee. So het kollegas my
by my afskeid in 1992 genoem. Dankie vir die heuningkwas, kollegas – as dit as ‘n pluimpie bedoel was en nie dalk as ‘n doringtak nie.
Drif en entoesiasme is vir my onontbeerlike wapens in ‘n redakteur se arsenaal. My eie is des te meer aangevuur toe ek in 1980 in Bloemfontein aankom en moes hoor in kringe is die bynaam vir Die Volksblad die “Vaal Boertjie”. Dit was seker nie afkrakend bedoel nie. Hy was inderdaad nog net swart-wit. Maar daardie etiket het my allermins aangestaan.
Skud die “vaal”-beeld af! Dit was ‘n onmiddellike doelwit. “Maak die skouers oop met ‘n groot storie.” Die nuwe kultuur wou ek uit die staanspoor vestig. Dit beteken: Bied die groot storie sterk aan – in kolomruimte en met visuele trefkrag. Oor elke uitgawe was die redakteur se kommentaar (kritiek en lof) as daaglikse leesplesier(?) op die kennisgewingbord. ‘n Stroom gemerkte skeurblaaie is uit my kantoor subkantoor toe.
In daardie 12 jaar was groot nuus soos die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Laingsburgvloedramp, die Vrystaatse vloede van 1988, die Westdene-busramp, die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisiemanbankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van
Rooyen, die val van die Berlynse Muur in 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.
Met die nuwe aanslag is die beeld van “Vaal Boertjie” vinnig vir goed afgeskud, glo ek. Die aanstelling van die kreatiewe Nols Nieman as hoofsub het ‘n sleutelrol gespeel om die “Boertjie”in ‘n “Fleurige Boerenooientjie” te omskep.
Die vervanging is in 1983 met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë vervang. Dit was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor – natuurlik een waarvoor die redakteur nie eer kan opeis nie.
My skof van 1980 tot 1992 was ‘n tydvak van intense, onstuimige en grensverskuiwende politieke dinamiek. Dit was die tema van die vorige blog. Maar soos daardie blog afgesluit is: ‘n Redakteur kan nie van politiek alleen leef nie. Daardie skof was ongetwyfeld ook ‘n tydvak van vernuwing; van intense gemeenskapsbetrokkenheid, asook les bes, van Johan van Wyk se rubriek Stop van Myne wat ikoniese status verwerf het.
Die nuwe fokus op treffende tipografie en verbeeldingryke nuusaanbieding was nie al vernuwings nie.
Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark omgeskakel. Lesers en adverteerders is met reklame bestook. Die leuse was: “”Lees vroegdag Die Volksblad en gesels heeldag saam.” Op die radio was ‘n advertensie met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” as inleiding.
Joolskoonhede het die strate ingevaar in fraai nuus(b)rokkies, geskep uit die eerste uitgawe van die vroegdag-Volksblad. Vir skoonheid is nie in my tyd teruggedeins nie – inderdaad in so ‘n mate dat ons ‘n keer aartskonserwatiewe van “pornografise neigings” beskuldig is!
Sirkulasie het op die nuwe tydgleuf lewendig gereageer. Nasionale advertensies het maar ‘n taai kalant gebly. Weens die toespitsing op die kleurkwaliteit wat tydskrifte bied, en ‘n sterker fokus op kleiner, meer afgebakende markte, is dit toenemend van die dgblaaie weggekalwer. Ook die vloei van plaaslike advertensies na media met ‘n goedkoper advertensietarief (gratis tuiskoerante, e.d.m.) het diep in begrotings gekeep.
Koerante is ial hoe meer in ‘n oorlewingstryd gedompel. Redaksies moes kleiner word en weer kleiner word – en die moreel was soms maar pap. Die redakteur moes bly planne maak (soos die vestiging van ‘n eie stal tuiskoerante), bemoedig en aanspoor, al was sy eie moed soms naby sy skoene….
Deur die jare, van lank voor my tyd aF, is vele mooi Volksblad-tradisies gebore. Die Volksblad se vaderskap het hom steeds dieper in lesers se harte laat inkruip, glo ek. Ook op die veld het ek my toegespits.
Ek wil net vlugtig van twee van my witbroodjie-“kinders” vertel: Die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Glansbrosjure is gepubliseer. Ek kon my verlustig in die verdere lewensverloop van my “matrieknooiens”. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het inderdaad geil gegroei.
Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. In ‘n stadium was 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons mark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.
Vir die feestelike vyfde verjaardag is o.m. ‘n verjaardagkoek gebak met 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies en 9 kilogram neuter. Heerlik!
Vir Die Volksblad was die kunsmark goud werd. Hoe bereken ‘n koerant die geldwaarde van so ‘n juweel? Ongelukkig het latere redakteurs se lus daarvoor gekwyn. Ná twee dekades van vertroeteling is hierdie sprankelende promosie in die redakteurstermyn van Jonathan Crowther aan die Bloemfonteinse Lions-klub afgestaan.
Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie. Van verwaarlosing het dit verlep …
* In die volgende blog kyk ek terug op die era van my kleurryke kollega Johan van Wyk en ander Volksbladders. (hvd)