Nov 14, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In my boekie “Duisend dae langs die Sabie” raai ek besoekers aan die wildtuin aan om al te begin stadig ry en deeglik rond te kyk die oomblik as hulle op pad na die Krugerhek die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Dis opperste olifantwêreld daardie.
Jy sien die ou grotes op die walle van die rivier, in die riete, in die water, op die brug, as erewag vir Oom Paul rondom sy granietstandbeeld… Hulle waad deur die water, speel, skrum, voer slurpgeselsies of staan sommer vir kwaadgeld rond.
Seekoeie is natuurlik ewe volop. Jy kan ook buffels, leeus, luiperds en selfs renosters by die rivier sien voordat jy by die hek ingaan – ek het al. Ons ry soms spesiaal brug toe van Sabiepark af om daar te gaan rondkyk. Dikwels lewer die moeite ‘n rendement op.
Die foto hierbo is ‘n jaar of drie gelede geneem. Vandeesweek het ek my foto uit die album gehaal, afgestof en vir die wildtuingeesdrigtiges op webwerwe soos Kruger National Park – Best Place on Earth, Kruger National Park Experiences en Kruger National Park History geplaas. FB-vriende soos Jurg Reynders en Lida Pressly het my aan daardie gawe inloerplekke bekend gestel.
Die foto was net op toe die “likes” op almal begin instroom. Ek onthul nou seker my ongestofiskeerdheid met e-sake maar moet tog bely: My oë was op die skerm vasgenael terwyl die “likes” soos ‘n vuurpyl bly klim. Telkens is Tokkie met haar sompompie nader geroep. Netnou weer. Toe’s die “likes” vlugvoetig verby 700. Net op “Best Place” is dit oor 500.
Tot op hede was 100 in die HvD-konteks ‘n baken – iets soos ‘n honderdtal in toetskrieket. Maar 700 – dink nie ek sal in my dag des lewens weer by daarde syfer kom nie.
Vleiende kommentare het nie uitgebly nie. Dit het die ou man se oë des te meer laat blink. Judith Farrell het byvoorbeeld uit Pretoria laat weet: “Must be so exciting to see them at Oom Paul’s statue when arriving at the gate! Your pic of the big elephant stepping on to the road at the Welcome to Kruger Gate sign must be the winning picture of the year.”
Wenfoto van die jaar – reken net!
Patricia Briotti-Ferreira, klaarblyklik ‘n Duitse dame, se kommentaar is: “Wow, wie prächtig, ein riesiger Elefant.”
Meer as een het gereken dit kan ‘n goeie reklamefoto vir Sanparke wees. Een van diegene, André Potgieter, skryf: ” Ai Hennie dit kan ‘n puik advertensie word vir KNP. Bravo goeie aksie foto. Net op die regte oomblik afgeneem!” m
Hoop ‘n Sanparke-amptenaar met ‘n dik tjekboek neem kennis!
Hoekom sou die reaksie so, vir my altans, oorweldigend wees?
Danie Pretorius van Sanparke meen “dis omdat ons almal wat lief is vir die Krugerwildtuin daardie Welkom-bordjie so goed ken maar nie noodwending met ‘n grootvoet in die voorgrond nie”. Hy voeg by: “Die tydsberekening van die olifant en die kamera was perfek. Baie uniek!”
Dankie, Danie. Maar ek moes vinnig skiet, ou maat, sommer deur die Honda se voorruit. Die ou grote was haastig op pad na die oorkant. Het ek geaarsel, was die foto verlore. Dit is die rede vir die weerkaatsing onder. Wens ek kon daarvan ontslae raak sonder om die foto so te sny dat die beweging van die voete verlore raak. Verkies egter die beweging bo ‘n weerkaatsingvrye foto.
Ek wil afsluit waar ek begin het: Die geil dierelewe buite die hek. Dit help natuurlik dat ek en Tokkie weens ons Sabieparkverbintenis ‘n honderd keer of wat per jaar die park binnegaan (vir kerk, inkopies, om pos te gaan haal en nog wat). Maar regtig: Te veel besoekers ry oor daardie brug met sy vrugbare oes aan wild sonder om links of regs te kyk. (hvd)
Nov 12, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Veel jonger HvD en Bob Lindsay van Associated Press gesels oor landlyne in Londen in 1974.
Middag uit Melkbos
‘n Jong joerrnalis, Anena Burger, verteenwoordig my ou koerant. (Die) Volksblad, in die Noordweste. Op Facebook skryf sy soos volg: “Vanaand was ‘n goeie eerste. Vanaand het ek my storie en foto’s deur Whatsapp Bloemfontein toe gestuur omdat die storm ons sonder krag en behoorlike sein gelos het.”
Die ou man se verstand duisel. Van die tiekieboks, die landlyn en selfs verskillende vorme van padvervoer af tot hedendaagse hipermoderne plat slimfone, tablette en internet wat op die minimum sein kan werk, is omtrent so ver soos ‘n maanreis en nog ‘n entjie.
Ai, die tiekieboks. Dit was doer in die 60’s die vinnigste en betroubaarste manier om jou berig by die tuisbasis te kry. Moet bely toe ek jonk was, het ek nogal vernaam gevoel as ek die gehoorbuis optel en plegtig meedeel: “Perskollekteeroproep na Bloemfontein nommer so-en-so. Dis dringend asseblief”.
Soms was dit selfs nodig om te bel met ‘n sak vol vyfsentstukke. Dan is aan die ander kant ‘n ongeduldige tikster, party so blitsig op die sleutelbord dat hulle jou aanjaag en vererg reageer as jy na woorde tas.
Een by Volksblad, die uiters knap Anda van den Heever, later Le Roux, moes op ‘n dag berigte van Quintus van Rooyen oor die telefoon afneem. Dit het maar gesukkel maar. Quintus wou gedurig veranderinge aanbring soos hy lees. Anda vererg haar toe, vat haar handsak en stap by die deur uit. Sy was later prof. Anda le Roux – in sielkunde of iets.
Die alternatief was die teleks. Jy het jou berigte by die poskantoor gaan ingee en gehoop op die beste. ‘n Keer het Herman le Roux se hele vrag kopie oor ‘n rugbytoets in Nieu-Seeland nie by (Die) Volksblad uitgekom nie maar by ‘n handelaar in gebruikte motors in Welkom. Die teleks het twee nommers verwar. Verslaenheid en frustrasie oweral.
Met ‘n rugbytoets in Bloemfontein is berigte met ‘n toutjie van die hoofpaviljoen af laat sak na waar ‘n motorfietsryer met brullende enjin gereed gestaan het. Hy het dan laat waai na Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) waar die setters gereed gesit het agter hul enorme swart warmloodmasjiene.
‘n Mooi motorfiets-storie is van daardie nuusvrou duisend, die onstuitbare Rykie van Reenen. Met die begrafnis van dr. H.F. Verwoerd het sy, onder geweldige tydsdruk, sonder aarseling in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk.
Die versending van foto’s was veral ‘n reuse-uitdaging. Die tegnologies gevorderste metode was die landlyn. Die foto is pynlik tydsaam kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel.
Vir jare had ons koerant nie sy eie landlynmasjien nie. Belangrike landlyne is soms op die tippie nog by die poskantoor gaan oppik. Dan moet jy roer om met jou kosbare vrag betyds by die kantoor te kom. Een dag is geen redaksiemotor beskikbaar nie. Ek ry met ‘n sirkulasie-paneelwa. Haastig terug kantoor toe, sit ek die dem ding in trurat by ‘n verkeerslig. Amper ‘n moles maar die foto was daardie middag op bladsy een.
Daar was ook spoedpos (hoe meer haas hoe minder spoed), vliegtuie en motorvoetuie van verskillende aard.
Met parlementsopenings was een van my take as parlementêre verslaggewer om betyds vir die laaste vlug Bloem toe op die Kaapse lughawe ‘n koevert te besorg met foto’s van die modebewuste vroue van politici. Het sommer ‘n passasier voorgekeer en gevra: Vat tog saam, asseblief. Iemand van (Die) Volksblad sal dit op die lughawe by jou kry. Dan bel ek met die tiekieboks en verduidelik hoe lyk die koerier, sy of haar klere, ens.
‘n Keer kry ek eksklusief die foto’s van ses mense van Sasolburg wat in ‘n motorongeluk by Parys uitgewis is. Sit dit op die sirkulasiepaneelwa, is my opdrag uit Bloemfontein. Ek maak toe so. Die volgende oggend bel die nuusredakleur, Oom Gert Terblanche (nou 92): Boeta, waar’s die foto’s?
Op die paneelwa, Oom Gert. Maar toe slaap daardie paneelwa daardie nag op Kroonstad sonder enigeen se medewete. Neusie verby!
Aijajaja-ja. Wat sou ons gryses nie wou gee vir die luukse van die e-era nie: so vinnig, maklik, doeltreffend. Maar kan kommunikasie selfs nog vinniger, makliker, beter? Die ou man se verstand duisel des te meer oor wat die toekoms dalk kan inhou – selfs ‘n foto van iets voordat dit nog gebeur het! More se koerant vandag! (hvd)
Nov 8, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die liedjies wat ons gesing het toe ons nog jonk was. Van die heel bekendste is liedjies soos You are my sunshine, She’ll be coming round the mountain when se comes, She stepped into the water and so got her ankles wet en so aan. Meesal met vindingryk aangepaste woorde.
Herinneringe oor die sentimentele onderwerp is die afgelope paar dae op Facebook opgediep. Steve Botha het die bal aan die rol gesit. Ek en andere het daar saamgesels. Wil graag hier uitvoeriger doen.
Ek het op FB geskryf: Dink ek aan liedjies, dink ek dadelik aan my vriend Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af in Kollegetehuis. Tuks, opgedaag het. Ons was saam ienks of eerstejaars.
Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Die maan skyn so helder op my p…. en so aan voort wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet.
(Ons het ook gesing Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel… en Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink op die maat van Pale Toe – taamlik “voorstedelik en banaal”, in Paula se woorde. )
Daarteenoor het Piet se repertorium gesofistikeerde liedjies soos hierdie ene van St. John’s se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.”
Van Piet se liedjies weerklink soms nog by Tarlehoet as ’n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ’n minder harmonieuse neuriekoor.
Een Piet-lied wat voorleef, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less. . . . Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms.
My ervaring is dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied egter uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s.
Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ’n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ’n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.
Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me . . .
Later word uitgewei oor met watter moeite elke soort voël haar eiers lê: And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird . . . the ostrich . . . the ooh ah bird. . . . Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net ‘n verligte oe –aaa.
Gaudeamus igitur …. (hvd)
Nov 4, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Die enorme Kloppers op George.
More uit Melkbos
‘n Vrystaatse vriend het die beroemde Bloemfonteinse afdelingswinkel Kloppers die volgende uitsonderlike getuigskrif gegee: Sy vrou kan enigiets koop wat haar hart begeer mits sy dit by Kloppers koop. Daardie vertroue en lojaliteit van die gemeenskap is die resultaat van ‘n enorme verskeidenheid kwaliteitsprodukte, mededingende pryse, betroubare diens en intensiewe gemeenskapsbetrokkenheid van die winkel wat die legendariese wyle Willem Klopper se monument is.
In Bloemfontein was ek en Tokkie ook oortuigde Kloppersmense. Yskas, stoof, vrieskas, wasmasjien, radio, horlosies, messegoed, tuinmeubels, kamera, verkyker, alles, en meer, kom uit Kloppers.
In later jare het Kloppers sy wortels ook in die Suid-Kaap kom inslaan. Op George (Yorkweg-afrit) is ‘n reuse-kompleks wat lyk of jy ‘n makro-Boeing daarin kan parkeer. Ons mis nie ‘n geleentheid om stadig, al kuierend, deur daardie winkel met sy sale vol begeerlike produkte van elke denkbare soort te stap as ons in daardie wêreld kom nie.
Saterdag was ons weer in Kloppers. Lekker met Willem Klopper gesels wat saam met sy broers die reuse-nalatenskap van hul vader in stand hou en steeds uitbou. (Een kenmerk van Kloppers, terloops, is dat base en klase presies dieselfde uniform dra. Niks sal verklap dat Willem die baas is as hy op die vloer rondbeweeg nie. Hy sal dit ook nie benede hom ag om die simpelste navraag vriendelik te beantwoord nie.)
Terwyl ons die keurige voorraad so loop en deurkyk, word my vrou deur ‘n brandende nostalgie gepak. Sy soek Willem met ‘n seer hart om hom van haar kennismaking met Kloppers in 1966 te vertel. Ongelukkig het hy soos ‘n groot speld verdwyn. Nou vertel ek maar hier.
Die storie begin die personeelkamer van die Laerskool Wilgehof waar die LO-onderwyseres Elsa Lourens van haar vroulike kollegas die oggend verras deur haar rok hoog op te lig – darem nadat sy seker gemaak het daar is geen man in in sig nie.
Wat die versamelde juffroue sien, vervul hulle met opgewondenheid – lang kouse sonder bandjies, rekke, gespes en dinge. Dis broekiekouse, verduidelik Elsa. By Kloppers gekoop, daar in Hangerstraat.
Die middag ken Tokkie en die ander onderwyseresse net een pad: Kloppers toe. Die volgende oggend het almal hul splinternuwe broekiekouse aan. Hulle brand om vir mekaar te wys. Een moet “kywie” hou. Toe lig die klomp hul rokke soos wafferse can-can-danseresse. Net Offenbach het ontbreek, anders het hulle sweerlik hoog geskop.
Tokkie weier om vir hierdie grysaard te poseer vir ‘n foto – selfs met die belofte dat hy haar gesig sal wegsny om haar identiteit te bekerm. Maar hy hoor darem vrouedinge wat hy nooit geweet het nie. Soos hoe gemaak is as die een been sou leer en die geldjies maar skraps is. Sny dit af. Dra die goeters oor mekaar. Was steeds strate geriefliker as die ou soort sykous, rapporteer my vrou.
Reken net dat Kloppers nou juis op daardie intieme manier tot haar lewe sou toetree, en dat sy na 48 jaar feitlik nog dag en datum onthou. Vroue! (hvd)