SWAK, KALAHARI!

More uit Melkbos

Kalahari gooi tou op teen die nuwe mededinger Take-a-lot. So lees ek vanoggend.

Nie juis verras nie na die volgende ervaring: Op 18 September ‘n kamera gekoop en betaal. Verwagte afleweringsdatum – 3 Oktober. Niks gebeur egter nie. Ek bel en bel.

Vanoggend die boodskap: Jammer, ons kan nie lewer nie. Kan nerens voorraad kry nie. Intussen het die kamera elders duurder geword.

Wie byt die spit af terwyl Kalahari skouers optrek? Hierdie outjie wat op prinse vertrou het ondanks die Bybelse vermaning. (hvd)

OOM OLIFANT, JOU REUSEDIER

wildevy

Op die hoek van Wildevy en Apiesdoring. Ons stap elke dag daar as ons in Sabiepark is. Foto: Kobus Mouton

Middag uit Melkbos

Sowat 2 000 kilometer van Sabiepark sit die uwe op Melkbos sy hart en vashou oor die toneel wat hy in Januarie in Sabiepark gaan aantref nadat ‘n trop olifante al vier weke gelede daar ingetrek het, ons bome karnuffel, ons watergate leegdrink en ook ander skades aanrig – wat alles sal ons seker eers later agterkom.

Kyk, ek bewonder olifante. Hulle openbaar verstand, persoonlikheid en ander eienskappe waarmee ek my gemaklik kan vereenselwig. Ongelukkig was die Afrika-olifant egter nie net voor in die ry toe grootte en massa uitgedeel is nie. Hy was ook in ‘n ander opsig voor in die tou: vernielsug.

Uit pure vermakerigheid en ekshibisionisme is hulle soms hartverskeurend moedswillig in hul disrespek vir bome. Dit hou ek teen hulle. Gelukkig meen kenners darem die karnallies rig nie diep in die bos soveel skade aan as langs die paaie nie.

Dat olifante amok kan maak as hulle werklik hul gewig wil rondgooi, is uit die statistieke duidelik. ‘n Volgroeide bul weeg 5 000 kg tot 6 000 kg en ‘n koei 4 000 kg tot 5 000 kg. Die massa van daardie oulike pasgebore kalfies wat vroue se se moederhart so steel, is ongeveer 120 kg.

Olifante word nie verniet “grootvoete” genoem nie. Die deursnee van die voorpoot se spoor is omtrent 500mm. Geen ander poot kom naby nie. Hulle kan ook “grootore” genoem word. Hul ore is verreweg die grootste van alle diere s’n. Dié sper hulle dreigend oop om groter (en des te meer intimiderend) te lyk as hulle kwasterig raak, of swaai hulle in gewone omstandighede rustig heen en weer vir verkoeling.

Hoeveel eet ‘n olifant? Raaiskote wissel tussen 150kg en 300 kg in 24 uur. ‘n Realistiese skatting is so 200 kg per dag. Om soveel te verorber, moet die kakebene roer, hoor. ‘n Olifant vreet bykans 18 uit 24 uur!

Hoeveel vloeistof word ingeneem? Sowat 90 liter per dag. ‘n Dorstige olifant kan egter tot 350 liter op ‘n warm dag wegsit – ‘n taamlike swembad vol! In die somer word gewoonlik vroeg in die oggend of laat in die middag gedrink; in die winter om en by die middel van die dag. Olifante verkies natuurlike watergate waar hulle in die modder kan rol, swem en speel en mekaar kan onderdompel. Die afwqesigheid daarvan in Sabiepark frustreer hulle seker. Hoop nie hulle haal hul frustrasie op my sement-watergatjie by my Sabieparkwoning, Tarlehoet, uit nie!

weilands1

Olifante tou verby Arne en Ria Weiland se huis. Foto: Ria Weiland.

Om my gedagtes af te lei van die potensiële skade, wil ek vandag ook op die positiewe fokus. My eie waarnemings is maar net dié van ‘n doodgewone natuurliefhebber wat bevoorreg was om oor jare honderde der honderde olifante in en om die Krugerwildtuin dop te hou. Die waarnemings het my egter vas oortuig: hulle dink en maak planne.

Ek sou graag nog ‘n kwaliteit byvoeg – humorsin. Van my lekkerste glimlag-ervarings in die bos is te danke aan olifantplatjies wat met hul slurpe waterkanon-waterkanon speel. Veral seekoeie en lui ou buffelbulle, die sogenaamde “dagha boys”, word dan getreiter totdat hulle al proesende die hasepad kies. Iemand (mens of dier) met só ‘n humorsin is nie dom nie!

Waarvoor om dop te hou as jy gelukkig genoeg is om op ‘n kudde olifante (so tien tot 50) af te kom en van die geleentheid werklik ‘n sinryke, verrykende ervaring wil maak?

Ten eerste, sou ek reken, is om die sosiale struktuur te probeer ontrafel. Olifante se sosiale lewe is wesenlik matriargaal en ‘n basiese familiegroep word georganiseer om ‘n volwasse koei en haar kalwers van albei geslagte, of naverwante koeie en hul kalwers. Probeer die matriarg identifiseer en hou dop hoe sy die septer swaai.

Ten tweede, kyk hoe slim kommunikeer die ou grotes met mekaar. Hulle raak aan mekaar, beruik mekaar, krul hul slurpe om mekaar en steek selfs hul slurpe in mekaar se bekke. Hou ook die ore gespits vir ‘n gerammel wat klink of dit met spysvertering te make het. Dit het egter nie. Die klank kom uit die keel en word ingespan om boodskappe aan mekaar oor te dra. Olifante bring voorts ‘n soort “ultrasoniese” klank voor wat mense nie kan hoor nie, maar ander olifante tot twee kilometer ver se ore kan bereik.

Soms weet ‘n mens nie of olifante stoei, speel of sommer net gesels nie. Ek het al foto’s geneem wat ek dan as die begin van ‘n bakleiery vertolk het en dan weer as ‘n teken van sosiale verkeer. Tot vandag toe weet ek nie presies wat ek afgeneem het nie.

Dat baie sterk bande en ‘n buitengewone welwillendheid tussen olifante bestaan, is egter ‘n feit. ‘n Beseerde dier kan daarop reken dat die die res naby sal bly ter ondersteuning. Jong kalwers word moederlik versorg, ook deur ouer susters en tantes. Dis soms komieklik om te sien hoe outjies sukkel om byvoorbeeld teen ‘n steil wal uit te kom. Die oueres bly egter geduldig en help met ‘n hupstootjie hier en daar om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry.

Jy sou sweer olifante praat en redeneer soos mense. Dit lyk meermale of hulle koppe bymekaar sit en na ‘n vinnige koukus op bepaalde optredes besluit. En as hulle speel, speel hulle met ‘n sorgvrye uitgelatenheid soos mensekinders.

Ek is al beskuldig van antropomorfisme. Na hierdie kroniek sal daardie verwyt seker weer kom – hoe aaklig tog! (hvd)

LEON VISSER – NET EEN SOOS HY

visser2

Leon Visser (regs voor) en sewe van sy Kollege-kallers van 1958. Sittende is Vossie Grey en ekself. Agter staan Giel de Swardt, Piet Henning, Cas Jacobs, Leon Engela en wyle Mornay du Plessis.

More uit Melkbos

Van die Suid-Kaap tot in Mpumalanga, van die Vrystaat tot in Limpopo – oral is ‘n groepie manne van so 73, 74 jaar pas weer pynlik herinner aan die Bybelse woord van “sewentig jaar en as jy baie sterk is tagtig”…

Hulle was die kallers van 1958 in Kollegetehuis op Tukkies. Hul huisvoorsitter was die minsame, wellewende Leon Visser. wat verlede week in Huis Herfsblaar in Pretoria oorlede is – ‘n verlies wat ons almal aanraak. Of enige ander voorsitter van enige universiteitskoshuis al so deur sy eerstejaars bewonder en gerespekteer is soos hierdie Suidwester deur ons klomp “ienks” twyfel ek sterk.

Ons het Leon leer ken as iemand wat nie juis sy stem verhef nie. Hy was ‘n saggeaarde senior wat nie nodig gehad het om grootmeneer te speel nie. ‘n Afkeurende blik uit daardie vriendelike gesig met die immer teenwoordige glimlag was genoeg om jou die rillings te gee. Hy het deur voorbeeld gelei en nie deur vrees in te boesem nie.

Leon het later professor in Tukkies se landboufakulteit geword en sy studente – in mikrobiologie, meen ek – had, soos ons, vir hom net die hoogste agting. So het ek uit verskeie bronne gehoor.

Toe ons rou uit matriek in Kollege opdaag, was die gewraakte ontgroening nog in volle gang. Ons het geel lapelknopies gedra om ons lae status in te vryf, ons moes styf teen die mure in die gange afsluip, ons moes menere se sokkies was, ons het “waterpaarties” en ‘n “modderbad” deurloop, ons het “die pil” gesluk … ons moes selfs vir een bepaalde meneer op koue oggende die toiletbank gaan warm sit.

Begryp my lugtigheid toe “ienk Van Deventer” sommer in die eerste week al na die huisvoorsiter se kamer ontbied word. Wat sou ek gesondig het, het ek angstig gewonder. Maar toe soek “meneer Visser” net ‘n bietjie geselskap: Waar kom ek vandaan, wat kom ek “swot”, wat wil ek word, speel ek rugby, het ek ‘n meisie …

Ek moes koffie maak, ook ‘n bekertjie vir myself, en het heerlik aan die beskuit gesmul waarvan hy skynbaar ‘n onuitputlike voorraad uit Suidwes saamgebring het.

Ek moes in my kamer ‘n foto van my meisie gaan haal wat ek op Volkies op Potchefstroom agtergelaat het, en hy het vir my ‘n foto gewys van die mooie Ebbie Visser (korrek) met wie hy later sou trou. “My meisie is tog mooier as joune!” (By die huisdinee, einde van die jaar, is van Leon afskeid geneem met die volgende versie: Leon Visser – die baas van ons huis- is met ‘n astertjie, Ebbie, gekys. ‘As ons tweetjies trou, se hierdie man, verwissel my vroulief nie eens van ‘n van!’)

Daardie aand het Leon Visser my sy lojale slaaf gemaak sonder om my soos sy slaaf te behandel. Ek sou daarna vir hom deur die vuur loop. Van die vele herinneringe wat ek aan hom het, is dit een wat steeds uitstaan.

My oomblikke van glorie op die rugbyveld was maar min – was ‘n vinnig-rige vleueltjie maar vrekbang op die verdediging. Een oomblik van glorie was toe ek vir Kollege drie keer die doellyn oorsteek in ‘n wedstryd teen Buitemuurs – met my direkte teenstander nogal een van my eie dosente. By nadenke moet alle eer Leon Visser toekom. Hy was ‘n ratse skrumskakel en het twee keer vlymskerp steelkant om gebreek. Ek moes net raakvat en oorsuiker. Sy lof vir my lopies was egter soet.

Ons groepie Kollegemanne uit daardie era vertroetel al amper 55 jaar ‘n besonderse hegtheid en gehegtheid, wat so ses van ons o.m. uitleef deur elke jaar in die primitiewe boskampie Balule in die Krugerwildtuin saam te trek vir drie dae van meesleurende nostalgie. Dat Leon Visser ons huisvoorsitter was, dra in my oordeel enorm by tot ons groepskohesie en ons liefde vir Kollege wat oor die dekades heen ongeblus voortleef. (hvd)