Sep 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Leeus in die park. Hierdie opskrif by ‘n kennisgewing wat jou by die hek in die hand gestop word, is genoeg om leeukoors in Sabiepark hoog te laat opvlam.
Inkommers word meegedeel dat dit “verkieslik” is en “voorgestel word” dat hulle in die lig van die leeu-aanwesigheid dit liefs nie in die strate sal waag vir ‘n staptog nie.
Toe ons Donderdag van Balule terugkeer ná die derde salige saamtrek van ons groepie veteraan-Kollegemanne kry ons ook die waarskuwing by die hek. Ons was toe al per SMS ingelig. Leeus het weer van die Wildtuin as kant af deur die grens gekom soos hulle periodiek doen.
Hierdie keer was dit vyf: ‘n jong mannetjie en vier wyfies. Eintlik was dit nie totaal onverwags nie. Die vorige aande is rondom Sabiepark gebrul vir ‘n vale en van Awie en Sunet Greeff se stoep kon ‘n maanhaar een oggend die vorige week lank dopgehou word.
Die vyf het ongelukkig nie met vreedsame bedoelinge gekom nie. Sommer dadelik is ‘n jong sebra platgetrek en verslind. Die vangs was naby die hoek van Wildevy en Apiesdoring, ‘n klipgooi van Tarlehoet. Ons sou sweerlik toeskouers van die feesmaal kon wees as ons nie Maandagoggend na Balule vertrek het nie. Dalk het hulle nog in ons watergatjie hul dors kom les!
In die 90’s het ses leeus Sabiepark ‘n keer vyf weke lank beset – die langste in die bestaan van die park, na my wete. Hulle het ‘n pad deur Sabiepark se wild gevreet. Een van die eerste slagoffers was ‘n klein kortgat-kameelperdjie, skaars ‘n maand oud.
Ek en Tokkie het hart vasgehou. Vir so ‘n slagting soos laas had ons geen aptyt nie. Boonop is in die park op die oomblik weer ‘n klein kameelperdjie, wat sweerlik een van die eerste teikens sou wees.
Gelukkig het die bestuur nie gras onder sy voete laat groei nie. Twee wyfies is vinnig-vinnig verdoof en na ander oorde verwyder. Twee ander het op hul eie gekom en gegaan. Net die moedswillige mannetjie het hardnekkig vasgeskop.
Woensdagaand slaan hy toe weer toe: die keer ‘n blouwildebees naby erf 270 aan die rivieroewer – nie ver van die toneel van die eerste vangs nie. Die jongste prooi sou ingespan kon word om hom vas te trek, is geoordeel.
Die gevalle wildebees is aan ‘n boom vasgewoel, en die gewag het begin. Vroeg Saterdagoggend is ta op die toneel betrap, verdoof en ook verwyder. Sabiepark was weer veilig om te stap – tensy jy jou bekommer oor die twee waarvan nie rekenskap gegee kon word nie, natuurlik!
Saterdagmiddag ry ons en ons gaste, Herman en Rina le Roux van Randburg, in Wildevy af piekniekplek se kant toe. By erf 231, Thula Thula, kry ons ‘n dikgevrete hiena heerlik aan’t dut as’t ware op die stoep. Ons flitsende kameras laat die ou ‘n slag half orent kom en ‘n tweede keer heeltemal. Toe laat sak hy weer sy groot kop op sy uitgestrekte pote soos ‘n tevrede hond. (hvd)
Sep 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Tarlehoet se drinkgat in sy nuwe gedaante is ingewy.
Die “nuwe gedaante” is natuurlik te danke/te wyte aan die rondloper-olifantbul wat in April ‘n gat in die bodem van die oue getrap het. Aanvanklik het dit gelyk of die diere draai daarom loop.
Die koedoes was die eerste wat nader gestaan het. Ons was seker hulle het by ons water rug geknak. Die gereeldste besoekers vanouds, die sebras, het weggebly. Belowende sebramis is by die gat gesien, maar geen sebras nie.
Toe was Tokkie gordyne. Toe sy die badkamer s’n ophang, bemerk sy deur die venster gestreepte lywe wat om die water saambondel. Dieselfde aand was daar ‘n herhaling – ongelukkig al net te donker vir ‘n foto.
Ons het al ‘n slag of wat weer die naguiltjie se roep gehoor na lang stilte. Op 4 Julie het Jaco, Lientjie, S.J. en Bernard van Wyk uit Pretoria kom kuier. Met die komplimente van die natuurkenner Jaco kon ons toe die stryd van ‘n mierleeu en ‘n miersoldaat aanskou. Epies.
Ses loeries het hul welkome opwagting in ‘n rooiboswilg gemaak. Twee duikertjies luister skemeraande op. Gebande muishondjies het Tokkie se brekfisworsies op die agterstoep probeer steel.
By die piekniekplek was ‘n historiese eerste twee luiperds wat op die groot rots paar. Luiperdseisoen is weer in volle gang. ‘n Waarskuwing is by die hek opgesit. Luiperds is by huise in Rooibos en Maroela gewaar. Een het glo selfs verby swembad gestap. ‘n Mannetjie het vlugtig by die piekniekplek opgeduik. Ons was op die uitkykdek maar het hom misgekyk! Ilona Fick van 230 het hulle gesien en gehoor.
‘n Leeumannetjie, buffels en olifante is binne ‘n halfuur van 281 (Awie en Sunet Greeff) se stoep gesien. Leeus brul snags vir ‘n val
In die Wiltuin sien ons redelik gereeld renosters. Op ‘n stil rit op die S3 het naby die hek skielik lewe gekom. Dertig olifante het vlakvoor ons die S3 van Sabiepark se kant af oorgesteek.
Solly het ‘n (verrassende) herverskyning by die piekniekplek gemaak – op die oog af heelwat gesonder. (hvd)
Sep 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.
Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.
In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.
Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.
By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….
In die donker toilette moet jy goed mik.
Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.
Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.
Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom. (hvd)
Sep 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
My gade, Tokkie, gebore Van Wyk, is tipies Van Wyk erg danig oor die mooi inheemse boom met die indrukwekkende wetenskaplike naam bolusanthus speciosus. Die Afrikaanse naam verklap die rede: VanWykshout.
‘n Keer was ons in Oktober in Olifantskamp in die Krugerwildtuin. Langs ons rondawel was ‘n formidabele Van Wykshoutboom met trosse pers blomme aan die takpunte. Party trosse was tot 20 cm lank. Tokkie het daardie boom met moederlike welgevalle bejeën.
Julle Van Wyks het maar net ‘n boom, het ek haar geterg. Ons Van Deventers het ‘n hele stad – natuurlik die skilderagtige Nederlandse stad Deventer aan die Ijsselrivier. In alle eerlikheid moet ek egter erken: Dis ‘n besonderse boom daardie Van Wykshout – veral wanneer dit in blom is en ‘n mens die rede vir die Engelse naam, Tree Wistaria, duidelik kan waarneem.
“Bloureën”, het ons ons Wistaria in Bloemfontein genoem. ‘n Gedugte verteenwoordiger van die spesie het ‘n waterval van blomme langs ‘n gedeelte van ons motorpad gewerp. Die ligpers kleed het baie oe’s en aa’s uitgelok van mense wat in blomtyd by die huis verbyloop.
Vir my met my kleurswakheid is blou en pers moeilik te onderskei – het in aardrykskunde in standerd agt die wrewel van mnr. Jack Slabbert uitgelok toe ek die hele see om die vasteland van Afrika pers ingekleur het. Dit was die einde van hvd en aardrykskunde se paadjie saam. Dit daar gelaat.
Hoekom ander, kleuronderskeidende mense pers blomme blou sou noem, weet ek nie. Maar “bloureën” was die algemene naam. Ek dwaal af.
Miskien die danigste Van Wyk oor VanWykshout wat aan my bekend is, is Jaco van Wyk, ons peetkind van Pretoria. Oral waar hy by ‘n VanWykshout kom, is sy eerste gedagte om ‘n knoets of stomp te bekom, deur dit af te bedel of hoe ookal.
Jaco het in die Jakarandastad met ‘n trotse meubelmaker saamgespan om pepermeule uit VanWykshout te laat vervaardig wat as spesiale geskenke vir sy VanWykverwante dien.
Die boomkenner Piet van Wyk (inderdaad ook ‘n Van Wyk) beskryf in sy Veldgids tot die bome van die Nasionale Krugerwildtuin die voorkoms van VanWykshout as “baie soos olienhout”. Ek meen Piet is een van die beskeier soort Van Wyks In my boekie kan jy nie olienhout in dieselfde geselskap noem nie.
Pepermeul oorhandig. ‘n Trotse TvD by die Van Wyks van Pretoria, Jaco, Lientjie, Bernard en S,J.
Om ‘n lang storie kort te maak, soos Tokkie graag sê: Jaco en sy gesin (Lientjie en die vierjarige tweeling, Bernard en S.J.) het vir ons in Sabiepark kom kuier. Een geskenk wat saamgekom het, is ‘n grysbruin pepermeul uit ‘n stuk VanWykshout wat uit Pretoria se botaniese tuin kom – darem nie geskaai nie!
Dis ‘n indrukwekkende meneer van ‘n pepermeul. Tokkie het nou des te meer rede om bors uit te stoot oor “haar” boom, wat nie net mooi blomme dra nie, maar (in Piet van Wyk se woorde) ook sulke harde, sterk, duursame en aantreklike meubelhout lewer.
Dit deug natuurlik ook as goeie vuurmaakhout, wat vir die uwe ‘n belangruke maatstaf van bykomende waarde is! (hvd)
Sep 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
‘n Hond hardloop vir sy ete; ‘n haas hardloop vir sy lewe. Die waarheid van hierde kwinkslag het ek en Tokkie gister in die Krugerwildtuin die eerste keer met ons eie oe gesien. Naby die Phabenihek het ‘n haas skielik uit die gras gevloog, ‘n draai op die teerpad gegooi en die veld in die hasepad geskies. Op sy hakke was ‘n kwylende wildehond. Die afstand het bly rek …..
Op dieselfde uitstappie ‘n visarend gesien waarvan die jag geslaagder verloop het. Hy is hoog bokant die bome oor ons koppe langs die Sabierivier met ‘n stewige vis in die kloue.
Twee witrenosters het op die Doispanepad bedagsaam uit die bos gestap. Ek meld die “wit” omdat twee swartrenosters die laaste ruk ‘n paar maal by die piekniekplek kom drink het. Ons het hulle nog nie gesien nie. Wel baie olifante gesien en gehoor.
By die huis was die nagapies van die eerste aand aktief. Sebras maal om die huis rond. Het ook al besoek van ‘n kameelperd, koedoes en twee vlakvarke ontvang.
Die nuwe watergatjie lyk goed en lek klaarblyklik nie. Ongelukkig loop die diere nog draaie om die plek. Dalk die kleur van die sement?
Sabiepark is ‘n nuwe klein kameelperdjie ryker. Het hom gister in Apiesdoring afgeneem.
Lyk of die einde van ‘n era by die piekniekplek aanbreek. Sollie is erg siek. Hy is gister huis toe gestuur.
(hvd)