SA KONNEKSIE

IMG_0544

Valentynsaand op die QM2: die Van Deventers saam met John en Mattie Daniels van Jakkalsfontein.

More uit Melkbos

In die imposante tweevlakkige Brittaniarestaurant van die QM2 was ons op die onderste vlak teenaan ‘n venster – ‘n tafel vir vier. Toe ons tafelgenote aan tafel 114 opdaag, groet ons mekaar voel-voel soos wildvreemdes. Maar ons aksente – veral die VanD’s s’n – gee gou ons ware kleure weg.

Vinnig ontdek ons ons is vier Suid-Afrikaners. Volgende ontdekking: Ons woon almal aan die Weskus. Trouens, ons is amperse bure. John en Mattie Daniels woon in die private ontwikkeling Jakkalsfontein skaars 30 km noord van Melkbos; ry drie keer per week hier by ons verby op pad na die gimnasium in Sunningdale. Hulle is Engelssprekend maar hoogs tweetalig; hul wortels lê, soos ons eie, in die Vrystaat. John was op Grey – ‘n top-atleet.

‘n Keer sit ek in ‘n borrelbad by die “Pavillion”-swembad op dek 11 saam met ‘n vreemdeling. Soek lafenis vir my voete. Ons praat oor koeitjies en kalfies. Die gesprek maak ‘n draai by die waarde van die Suid-Afrikaanse rand. My genoot in die borrelbad kom van Polokwane, blyk dit. Sy naam is Lawrence, maar hy is so Afrikaans soos die uwe. En ons sit met mekaar in Engels praat op die QM2!

Enigste mede-passasier met wie my spore voorheen gekruis het, was Isobel de Waal, vrou van die rugbyspeler Albie. Ons het destyds in my Beeld-dae in Randburg naby mekaar gewoon. Isobel se ouer suster, Eveleen van Stilbaai. was saam met my in matriek. Daan du Plessis, Springbokstut, is hul broer. Isobel en Ellen Engelbrecht, vorige vrou van die Springbokvleuel, Jannie, het van Kaapstad tot Mauritius saamgery.

Hoeveel Suid-Afrikaanse passasiers op die vaart was, weet ek nie. Iemand het geraai so 60. Ek dink dit was heelwat meer. Ons twee Melkbossers het onder andere mense van Kaapstad, Somerset-Wes, Stellenbosch, Worcester, Welgemoed, Jakkalsfontein, Pretoria, Johannesburg, Standerton, Polokwane, Durban, Pietermaritzburg en Kathu op die skip raakgeloop. Die Kathumense se van is Goodchild, maar hulle is so Afrikaans soos ekke.
Op die brug was ‘n Duitse tolk. In my gemoed was min twyfel dat jy aan boord meer Afrikaans as Duits hoor. Deon Meyer se “Kobra” onder ‘n hele paar arms het ook herkoms verklap. Miskien moet Cunard sy taalbeleid aan die hand van nuwe statistieke ondersoek!

Iets soos 80 bemanningslede uit die 1 240 kom uit Suid-Afrika. Sowat 30 is kelners. Ons kan slegs vlugtige kontak met Suid-Afrikaners in die bemanning rapporteer:

• Die Joubert-jongman van Pretoria wat ná die vergissing by die “Ïlluminations” (blog van 4 Maart) die egpaar weer op die spoor gebring het;
• ‘n Jong fotograaf wat gekla het: “Dis harde, harde werk, lang-lang ure, maar baie-baie lekker “;
• Ons Poolse kelnerin Marzena se vriend Jan van Biljon met wie sy hand-aan-hand Fremantle se strate in is op ‘n verkenningstog;
• ‘n Kelnerin van Table View wat ons V8-groentesappies kom neersit het by ‘n ontbyt in die Brittania.
• ‘n man wat Tokkie by ‘n juwelierswinkel gehelp om haar horlosie reg te stel (amper elke aand ‘n uur voorwaarts) op pront Afrikaans.

Vyf dae weg uit Kaapstad hoor ‘n meisie in die “King’s Court” – ‘n gawe plek vir informele buffet-etes as jy daarna voel – ons Afrikaans praat en knoop ‘n geselsie aan. Ons hoor sy is Chantelle Olivier van Klerksdorp. Sy het ook maar vyf dae gelede met die QM2 kennis gemaak. Toe sy wegstap, sien Tokkie die pleisters op haar hakke. Dis swaar dra aan die skinkborde en skottelgoed, van vroegdag tot laat in die “King’s Court”!

Hoe sake in die kombuis staan, weet ek nie. Maar pampoenkoekies, volstruis, geelstert, springbokmedaljongs en “malava”-poeding was alles in ‘n stadium op die spyskaart. Bespeur ‘n mens ‘n SA invloed by die kospotte?

‘n Lekkerte was om by voorlesings name te hoor soos Frik du Preez en genl. De Wet. Van die nimlike Frik het H.O. de Villiers die mense by twee voorleggings vertel; ook van Mof Myburgh, Hannes Marais en die jong yster Eben Etzebeth. H.O. en Robin Jackman was tot by Mauritius op die skip. Hul rugby- en krieketstories was gewild.

Genl. De Wet se naam is met ‘n stewige skoot respek vermeld deur ‘n Australiese militere historikus, Mike O’Brien. Ook name soos Louis Botha en Emily Hobhouse. O’Brien het Engelse in die “Illuminations”-teater na hul asems laat snak met sy stories en foto’s oor die konsentrasiekampe. Toe ek hom agterna ‘n kloppie op die skouer gee, antwoord hy met ‘n skewe glimlg: “People must hear the truth, must they not?”

Wyn-ghoeroe Anton du Toit van Rhebokskloof was tot Mauritius aan boord. Hoeveel kartonne Rhebokskloofwyn verkoop en verorber is, kan ek maar net raai. Die uwe het ongelukkig nie van Anton se wynproe-seminare bygewoon nie – nie uit weersin in wyn en ook nie uit dislojaliteit nie. ‘n “Norminal fee” van $40 (amper R450) was vir hierdie SA-beursie ‘n bietjie styf – selfs vir die eksklusiewe geleentheid om die bekroonde sjiraz “Black Marble” van Rhebokskloof te proe. (hvd)

DIE QUEEN IS HIER

QM2b-003

Sydney – ‘n nagjuweel.

More in Melkbos

In lugballonne en helikopters, op plesierbote en seiljagte, te voet langs die kaai, oral drom toeskouers saam. Hulle waai en wuif hul harte uit. Die Queen Mary 2 word met entoesiasme en verskuldigde eerbied gegroet as sy vroegoggend stadig en statig die hawe binnevaar.

Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. Orkesklanke klink op. Dansers in tradisionele drag tree na vore, bv. Kreole in mooi, heldergeel rokkies in Mauritius (en Zoeloedansers in Durban!). Kameras klik. Die flitse blits soos klein weerligstraaltjies in ‘n donderstorm in die Laeveld.

IMG_0790-001

More, Melbourne

Vaar die QM2 laatmiddag voort, is dit nog ‘n amper groter okkasie. Toeskouers dam kilometers ver langs op hawemure op om foto’s te neem en te wuif. Op dek 11 speel die Karibbiese orkes, Vibz, “On the Role Again”. Mense vertrap mekaar by die dekrelings om die land stadig al hoe verder die verte in te sien skuif. Hulle swaai opgewonde die lywe op die polsende ritme van die musiek. Kelners dra net vonkelwyn aan.

Die Queen fluit drie keer, grommend uit ‘n diep keel. (Die skip het vier fluite, twee aan die skoorsteen, een op die mas en een op die boeg. Een van die twee op die tonnel is die oorspronklike van die QM en een ‘n replika. As hy werklik die krane oopdraai, bv. in digte mis, trek die klank 15 km ver.)

IMG_0894

“On the roll again”. Die orkes laat waai op dek 11 met Melbourne in die agtergrond.

Die skielike vogtigheid wat in jou oë opstu, is nie seesproei nie. Jy moet ongevoelig, sinies, meerderwaardig en totaal onromanties wees as die verhewe tonele van aankom en vertrek nie jou hart aanraak nie. Verwondering pak jou beet oor die groot voorreg om sulke oomblikke ook te mag belewe – jy, die ou seuntjie van Babanango met die kroepborsie, en aan jou sy die weesdogtertjie van Hertzogstraat, Bultfontein, wat nou hier, sakdoek in die hand, ewe breed op die dek van dié Queen Mary staan.

Ons het Durban, Mauritius, Fremantle/Perth en Melbourne (Melburn) aangedoen voordat ons ná 22 ter see ons bestemming, die wonderskone Sydney, bereik het. By elke hawe het die VanD’s vroeg geroer en in die halfdonkerte op die observasiedek op dek 11 strategiese staanplekkie oopgeskrop. Elke stad bied sy eie bekoring. Maar Melbourne – dié was spesiaal. Daardie pragtige stad aan die Jarrarivier word nie ten onregte nie deur baie as die Parys van Australië bestempel. Hy’t styl. Sy styl slaan deur in die gulle ontvangs.

Die intog by Melbourne is buitengewoon uitdagend, het kaptein Kevin Oprey ons vooraf meegedeel. Die kwartiermeester aan die stuur (‘n konvensionele wiel!) skuur versigtig verby die duisternis boeie wat soos hindernisse op ‘n baan rondom die Queen dobber. Die wolkekrabbers doem al hoe groter op in die sagte oggendlig. Die lugballonne en die helikopter bo die skip skep ‘n feestelike atmosfeer; op die bootjies wat avontuurlik tot amper teenaan die skip kom, sien jy net wuiwende arms en flitsende kameras. Die Queen is hier! Die Queen is hier!

queen-001

Tyd vir tot siens

In Maurutius is dit nog pikdonker toe die QM2 vasmeer. Ons is nog in droomland toe al die maneuvers verby is. In Fremantle is die aankoms heelwat later. Op elke balkon of dek rek passasiers hul nekke terwyl die reuseskip sy volle 380 meter asof op ‘n eie as 180 grade laat tiekiedraai. Jy ys dat die boeg die hawemuur gaan tref, maar hierdie span melkwit-uniforms ken hul storie … en hul logaritmes.

Ons daag in Fremantle ‘n dag vroeg op weens noodsaaklike instandhoudingswerk. Die Queen se aankoms is hoofnuus op Perth se radiostasies. Kevin Fitzgerald, ons gasheer vir die volgende dag, hoor die nuus in sy motor, maar luister met ‘n halwe oor, en skrik hom oor ‘n mik. Hy bel sy vrou, Marlien, ons skoondogter, Mariza, se suster, en vra benoud: “Het ons die dag verkeerd?” Ongelukkig kon ons nie laat weet nie. Die selfoon was so dood soos ‘n mossie – dankie, Vodacom!

Sydney se hawe is volgens dié wat weet die mooiste op die ganse aardbol. Die dramatiese brug (wat die plaaslike mense die “coathanger” noem) en die treffende operahuis is twee ikone. Die toringgeboue en die veerbootverkeer in die hawe dra kleur by tot die skilderagtige prentjie. Ons vaar Sydney ongelukkig binne terwyl die stad nog slaap. Ons hoor net die skuurgeluide van die ankers in ons kajuit, nommer 6005, in die voorstewe. Vir ‘n oomblik is ons teleurgesteld. Maar toe ons op dek sewe uitstap, sien ons selwers ‘n eiesoortige sprokiesland – “Sydney by night”. Die stad se liggies blink soos juwele teen die swart fluweel van die lug. Eers ontdek die uwe die brug aan bakboordkant. Toe die operahuis aan stuurboord. Die Canon klik.

Sonder ‘n driepoot is ‘n nagfoto altyd ‘n uitdaging. Myne bied ek hier maar kleinerig aan om die beweging te verdoesel.

Tog is elkeen vir my ‘n skat! (hvd)

KOS-KOKKE-DORE

IMG_0631

Die optog van die kokke in die QM2 se Brittania-restaurant.

Middag uit Melkbos

Elke liewe dag ter see kom sowat 16 000 borde kos uit die Queen Mary 2 se kombuise. Die formidabele taak verg ‘n garnisoen van 163 kokke en 85 dienspersoneel wat die 87 000 stukke skottelgoed moet was, die potte en panne moet skuur en die 8 000 linneservette moet was en stryk.

Die laaste formele aand van elke skof op die wêreldvaart – tussen Kaapstad en Sydney was daar sewe sulke strikdas-aande – kom die mense met die lang wit hoede agter die kospotte uit. Op die maat van musiek en ritmiese handegeklap marsjeer hulle deur die gaste in aanddrag voordat hulle die eetsaal se swierige trappe bestyg en in formasie stelling inneem vir ‘n voorstellingsparade.

Ons wis van niks totdat ons kelner Michael Vitug die voorgereg bring en kopskuddend opmerk: Ai, dis jammer dat “monsieur” nie vanaand sy kamera saamgebring het nie. Dit plant ‘n saadjie. Met my New York-kaaskoek agter die blaaie neem ek die groot besluit. Ek spring op en gaan haal die Canon in ons kajuit in die boeg wat skielik ekstra ver voel. Uitasem daag ek net betyds op om op die see van kokke-dore te korrel.

Die voorgereg was – en verskoon tog maar die Engels in die biezondere omstandighede – “Parfait of Duck Foie Gras with Carmelised Pear and Sauternes Jelly” vir Tokkie en “Escargot Bourguignon” vir die uwe; ‘n avontuurlike eerste kennismaking met slak. Smaak na meer ….

Daar was ook nog ‘n “Terrine”, ‘n “Cream Caroline”, ‘n “Bouillabaisse” en ‘n “Chilled Cream of Mango with Toasted Coconut” – ‘n verskeidenheid wat
verklap het iets groot is in die weer.

kokkedore2

Watter kos dra die kroon? Die QM2 se kokke hang uit.

Maar dit is die keuse van hoofgeregte wat beklemtoon dat dit nie sommerso ‘n gewone aand is nie. Ek en Tokkie laat die die “Penne Bolognese”, “Fillet of Lemon Sole”, “Roast Duck Montmorency”, die “Potato and Rocked Torte” en “Vegetable and Pine Nut Crusted Cutlet” by ons verbygaan. Soos een stem ons vir die “Surf and Turf Blackened Fillet Mignon, Grilled Lobster Tail with Chardonnay and Garlic Butter, Bearnaise Sauce”.

Later stem ons hartlik saam: Ons keuse was in die kol. Die vars Australiese kreef – by Perth ingeneem – was “Perth-ek”. ‘n Lekkerder bord kos was op die ganse vaart nie voor ons by tafel 114 nie.

Hoop maar die versamelde menigte van ander volkere en nasies het in die SA waters ewe veel plesier aan plaaslike geurtjies gehad, soos pampoenkoekies (net so op syn Afrikaans op die spyskaart), geelstert, volstruis, springbokmedaljons en “malavapoeding”, ekstra a en al.

Michael het vir ons die spyskaarte van elke aand versamel. Dit bied watertand-leesstof vir die lekkerbek en is by Penguin Place 11 op Melkbos ter insae. ‘n Nominale fooi word gehef – in Amerikaanse dollar!

Hoe die 15 dosyn kokke dit regkry om elke aand sulke eksotiese fynproewerdisse in die kraakskoon kombuise van vlekvrye staal op te tower? Wel, daar is 21 koelkamers op die skip. Daarin word die 9 000 kilogram vark, 7 500 kilogram bees, meer as 9 000 dosyn eiers, 33 000 kilogram aartappels, 5 500 kilogram rys, 21 000 liters melk en al die ander kos wat vir ‘n vaart van 22 dae nodig is, vars gehou. (Nie heeltemal waar nie, want by elke hawe word kaste vol vars kos met hyskrane gelaai.)

Asof hulle hulle nie buitendien klaar moet morsdood werk om die magies van die 2 600 passasiers vol te hou nie, hou die kokke onderling nog ‘n groot kompetisie wat hulle seker dwarsdeur die nag moet laat bak en brou. Die resultaat is ‘n fees van prentjiemooi kos wat die indrukwekkende Queens Room-balsaal in ‘n voedselskou van die hoogste orde omskep.

Elke passasier word ‘n stembriefie in die hand gestop om die wengeregte te help identifiseer. Ek moet my oorblufte onvermoë maar hier bely. Die stembriefie is verfrommel en in my broeksak gestop, terwyl my kamera aanhoudend flits … en ‘n onverwagte hongerte my skielik beetpak.

Naskrif: Gesondheidsbewustes word nie afgeskeep nie. Vir hulle word spesiale voorsiening gemaak met ‘n heelwat skraler spyskaart waarop die kalorieë, vet- en veselinhoud van elke gereg aangedui word. (hvd)

BAKBOORD EN STUURBOORD

IMG_0084-002

Waar het jy al ooit gehoor van ‘n teater met twee identiese ingange soos hierdie?

Middag uit Melkbos

Die verdwaalpotensiaal is legio op ‘n skip so lank as 41 dubbeldekker-busse snoet aan snoet en met 16 kilometer (10 myl) onder mat, van Melkbos verby Blouberg op pad Kaap toe.

Die afstande het soms by my die gevoel laat ontstaan dat ek elke liewe een van daardie 16 km met my ietwat knap “Grashoppers” of verslete “Green Cross”-sandale in ‘n dag bewandel het. Maar dit net terloops. My storie handel oor iets anders – noem dit die Van D’s se Groot Verdwaal. Minstens hul Groot Geografiese Misverstand.

Die drama speel hom af op dag sewe toe ons die ou skippie se vele hoekies en draaitjies darem al redelik onder die knie behoort te gehad het. Ons sou in die planetaraium – die enigste ter see – in die imposante “Illuminations”-teater (sitplek vir 483) na die ruimteskouspel “Cosmic Collisions” op die reuse-koepelskerm in die dak gaan kyk.

IMG_0092-002

Nogal komplikasies as daar twee identiese gangetjies soos hierdie is!

Tokkie gaan luister eers na ‘n aanbieding oor die komponis Gershwin, en ek na raad vir voete wat jou opkeil. Ons spreek af om mekaar in die gangetjie voor “Illuminations” te ontmoet. Maar ek sit en ek sit. Later, toe dit te laat vir die vertoning is, stap ek kajuit toe. Geen teken van mev. Van D. nie. Ek gaan vra vir die “Purser”: “Enige vars mediese opnames?” Sy bel kajuit 6005 en ek hoor die bekende Tokkiestem aan die ander kant.

Ek stoom terug, pluk die deur oop en begin raas. “Waar was jy?” “Waar was jy?” dring sy ewe onbehaag aan. Dis die een woord op die ander. Sy besluit om te gaan wys. “Kyk, op hierdie stoel het ek gesit.”

Ek: “Onmoontlik. Hier was ek ‘n hele halfuur en daar was geen teken van jou nie.”

Sulke oversoenbaarhede is klaarblyklik geen resep vir boetvaardigheid en vrede nie. Steeds bewend oor die wederkerige onbetroubaarheid keer ons in ons kajuit terug. Die gesprek woed voort. Uiteindelik besluit ons huweliksharmonie is belangrik. Laat ons nie verder die onverklaarbaarheid probeer verklaar nie. Party dinge gaan immers die menslike verstand te bowe. Dit weet ons tog almal. Kom ons lag liewer, waag ek floutjies.

Ons besluit om as vredesgebaar by die middagvertoning te probeer inkom. “Waar sal ons mekaar kry?” Logiese antwoord: “In die gangetjie. Daar waar ons nou was.”

Niemand sal die verdere verloop glo nie. Dis egter evangelie. Glo dit gerus maar ongekwalifiseerd. Ek sit weer in die gangtjie en rondkyk. Geen teken van Tokkie. Sy sit in die gangetjie en rondkyk. Geen teken van Hennie.

“Cosmic Collisions” begin weer draai met die Van D’s se sitplekke leeg. Albei keer onverrigter sake terug na die kajuit. Die herontmoeting is nie jubelend nie. Trouens, die situasie raak lelik. Die desibels styg tot gevaarlike vlakke.

Al opsie is om weer terug te keer na die toneel van die misverstand om mekaar van elk se onskuld te probeer oortuig. Maar dit sukkel maar Die een prober die ander doodpraat.

Uit ‘n half-oop deur kom skielik ‘n vrolike stem: “Lekker om Afrikaans op die skip te hoor!”

Se voet, antwoord ek. “Druk jou ore toe. Hierdie gesprek is privaat.”

Die vrolike stem behoort aan ‘n Joubert van Pretoria, blyk dit. Hy is ‘n lid van die bemanning. En hy, die liewe jong Bloubul met die kuiltjie in die wang, ontrafel daar en dan ons probleem.

“Elementary, Mr. Watson.” Die teater staan oor die breedte van die skip. Links, aan die stuurboord, is ‘n gang. Regs, aan die bakboord, is ‘n identiese een. Ingang van die teater lyk uit albei gange eenders. Selle beelde. Selle stoele. Selle als. Hang net af van watter kant jy af kom.

‘n Onmiddellike ondersoek ter plaatse bevestig die jonge heer se mededeling.

Dis inderdaad hierdie spieëlbeeld wat ons verwar het. Soos die duiwel dit wou hê, het die Van D’s nie net een keer nie, maar twee, verskillende roetes na die teater gevolg en gevolglik by verskillende bestemmings opgedaag – elkeen salig onder die indruk dis die regte plek.

“Cosmic Collisions” het ons toe nooit gesien nie. Het sommer ons eie, persoonlike “cosmic collision” beleef … en genadiglik oorleef. Die huwelik van 46 jaar gaan voort.

KAPTEIN OP SY SKIP

IMG_0265

Kaptein Kevin Oprey agter die “preekstoel” in sy skip se grootste teater, die “Royal Court” by die Sondagdiens.

More uit Melkbos

’n Geliefkoosde beeld van ‘n koerantredakteur in die ou tradisie was dat hy kaptein van die skip is. Sy vinger was op die pols. Hy het die besluite geneem, die praatwerk gedoen en na binne en buite die verantwoordelikheid gevat.

Kaptein Kevin Oprey van die Queen Mary 2 is so ‘n kaptein. Iemand wat dadelik vertroue inboesem. Geen gevaar dat die skimmelgrys Engelsman soos ‘n berugte Italiaanse eweknie in ‘n krisis ter see (“per ongeluk”) halsoorkop tot in ‘n reddingsboot sou “struikel” nie!.

Die vaart het pas begin toe ‘n tegniese probleempie opduik. Die reuseskip was skielik pikdonker. Hysbakke het tot stilstand geknars. TV-skerms was swart. ‘n Situasie wat senuagtige passasiers nogal kon onstel. Hierdie kaptein het ons nie lank laat wonder nie. Oombliklik het die rustige stem van die brug af oor die dertien dekke gespoel: “Net ‘n klein probleempie. Bly kalm. Ons ingenieurs vat dit gou vas.” Hulle het. Sommer gou-gou.

Daardie rustige stem het jy elke dag gehoor. Minstens een keer. Presies om 12:00 het die kaptein van dek 12 af van die gesofistikeerde brug (amper 50 meter breed) kortliks verslag gedoen. Wat is die presiese posisie van die skip? Hoe vinnig vaar ons? Hoe lyk die weer? As jy hoor “dis die kaptein wat praat”, het jy alles net so gelos en respekvol geluister. Selfs die energieke tafeltennisspelers by die Pavillionswembad op dek sewe! Dis die gesag wat die man uitstraal.

oprey-001

Kaptein Kevin Oprey

Net ná Mauritius is besluit om vinniger aan te stoot Fremantle toe vir “noodsaaklike instandhoudingswerk”. Ons sou ‘n dag vroeër by Perh aankom, waarskynlik om die kinkel in die kragnetwerk te laat uitstryk. So het ons geraai. Kaptein Oprey het die verwikkeling en die implikasies oor die uitstekende klankstelsel breedvoerig verduidelik – helder en volledig. Die aand was ‘n brief oor die onderwerp op elke kopkussing. Die trant was gesellig en positief. Passasiers kon dadelik na die ekstra dag aan land as ‘n bonus begin uitsien. Bykomende ekskursies sal dadelik gereël word, is belowe.

’n Model van voortreflike kommunikasie.

Kaptein Oprey is verreweg nie net ‘n prater nie. Hy bring ure deur op die reusebrug, die skip se elektroniese hart, wat 24 per dag deur minstens twee waaksame offisiere beman word. Maar hy word ook op die regte tye op die regte plekke gesien. By elke noodoefening vir die bemanning is die kaptein die hoogs sigbare gesagsfiguur; dan op dié dek, dan daardie een. Sy passasiers se veiligheid en die voorbereidheid van sy bemanning weeg duidelik by hom swaar. Die oefeninge is nie vir hom sommer net ‘n formaliteit of selfs ‘n beslommernis nie.

Wat Christen-passasiers geweldig waardeer het, is kaptein Oprey (of sy adjunk) se leiding by die interdenominasionale kerkdiens elke Sondag in die “Royal Court”-teater. In sy melkwit uniform was die gesagvoerder ‘n imposante figuur op die podium. Die diens was kort, kragtig en inspirerend. Aan die einde is die tradisionele seemanslied, lied 25, gesing, met begeleiding deur een van die skip se drie pianiste om die beurt:

”Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…”

”For those in peril on the sea.” Jy het daardie woorde uit volle bors saamgesing. Jou hart was aangeraak.

’n Finale indruk is dat kaptein Oprey ‘n gemoedelike mens is, maar ook kan ferm wees. Hy is duidelik nie ‘n man wat doekies omdraai nie. Toe die Suid-Afrikaanse doeanespan in Durban laat opdaag en die passasiers verontrief, is die roede nie gespaar nie.

Waarvan hy niks hou nie, is dat mense hul vaart op die Queen Mary beskou as ‘n “cruise”. Nee, sê kaptein Oprey, die QM2 is geen “cruise ship” nie, dis ‘n “ocean liner”, gebou vir die diepsee. ‘n Vaart op sy skip is g’n “cruise” nie, dis ‘n “voyage”. Onthou, asseblief!

’n Besonderse man. Maar ek oordryf darem. Geen mens – selfs geen redakteur of skeepskaptein – kan immers vir absoluut alles verantwoordlikheid vat nie.

Een middag loop ons kaptein Oprey by die hysbak op dek ses raak. Hy groet vriendelik en vra uit: “Geniet julle die vaart?” Ja baie, antwoord ek. Maar kan hy nie darem iets aan die weer doen nie? Dit is nou al ‘n paar dae grys en grou.

’n Skewe glimlag verskyn op sy gesig. “No, I drive the ship, the guests provide the weather!”

* Kaptein Oprey is in die omgewing van Southampton gebore en is van kleins af deur skeepvaart gefassineer. Sy loopbaan tot heelbo lees soos ‘n storieboek: van jong navigasiekadet tot aanvoerder van Cunard se kampioenskip, Hy en sy vrou, Cheryl, woon in Warsash aan die suidkus van Engeland. Hulle het twee (mooi) dogters, Karen en Danielle. Hy speel ‘n potjie gholf. As hy ‘n kansie kry, vat hy graag sy eie seilboot uit op die water. As dit in jou bloed is, is dit in jou bloed. (hvd)