Mar 17, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Die middernag word mak gedans
Middag uit Melkbos
OF beroemdes saam met ons op die QM2 was? Weet nie. Die eksklusiewe eetplekke waar die verhewenes uithang, die Queens Grill en die Princess Grill, is vir gewone wesens taboe. Die peperduur Todd English Supper Club het ons liefs vermy.
Die elite kon jy aan die spesiale handdoeke en kniekombersies van die suites op hul eie stukkie dek of by ‘n algemene swembad uitken. Hul gesigte het nie ‘n klokkie gelui nie. Ons was maar op die doodgewones rondom ons vir “human interest” aangewese.

Die elite met hul dek-kombersies
Hul doen en late sou wel nie die glanstydskrifte haal nie, maar was boeiend genoeg. Tee saam met ‘n Footie-skeidsregter (wat Barry Richards-skoene dra), Trivia saam met ‘n Hollander wat dekades gelede na Brisbane uitgewyk het, ‘n geselsie met ‘n Brasiliaanse kelner (lyk op ‘n haar nes Obama) wie se eerste boek nou uit Portugees in Engels vertaal word – die klas ding is nie jou alledaagse koeitjies en kalfies nie.
TvD kon na hartelus haar stokperdjies beoefen om mense dop te hou. Sy het my aandag op allerlei gevestig. Ons is om die beurt deur mede-passasiers vermaak, verbaas, geïrriteer, met gramskap of met bewondering vervul – of stof tot nadenke gegee.
Chinese vroue van drie generasies – ouma, ma en dogter – het elke oggend ligte afleiding verskaf met hul wandeltogte op dek sewe in hul wit Cunard-kamerjasse, met pantoffels. Elk was in haar nagkabaai: Ouma in ‘n nagrok, ma in ‘n slaappak met blommetjies en dogter in ‘n ligpers satynpakkie. Ons het hulle die “drie musketiers” gedoop.
“Overdaad” hou op om snaaks te wees as ‘n dame (?) SES swemhanddoeke by die swembad neem om haar aansienlike lyf op die lêstoel gemaklik in te rig, of as ‘n kampioen-kosskepper sy ontbybord laai met ‘n toring van omelette, spek, twee soorte worsies, forel en salm bo-op. Tokkie dag dis vyf mense se kos .. toe sien sy hom alles sit en ingaffel.

Kaalvoet in die Queen se sitkamers
Suid-Afrikaners uit Durban had die voorliefde om, kom nie aan hoe deftig die plek is nie, skoene uit te skop en hul kaalvoete op koffietafels of banke se leunings uit te stal. ‘n GROOT man met ‘n voorliefde vir “laat-my-fris-lyk-hempies” het hom en aand (net een, so ver ons kon sien) in ‘n pak klere ingewurm vir aandete. Die sweet het op sy voorkop gepêrel. Gelukkig had hy die skoon linneservet ….
‘n Stinkryk Franse vrou het graag luidkeels vertel van al haar eksotiese reise en die “decent apartments”” wat haar kinders se erfporsies gaan wees. ‘n Gedekoreerede Britse militêr het jou vinnig op die vlug laat slaan in die wete dat hy weer vir sy krygsverhale ‘n gehoor soek. ‘n Jong meisie met baie ringe het aan ontbyttafel vertroulik verklap sy had ‘n minnaar wat net altyd haar voorkop wou soen. Ekskuus as dit soos ‘n skinderhoekie begin klink, maar ek moet dit van die hart kry. Party mense darem ….
Heelparty mede-passasiers was klaarblyklik van die ouer garde – dalk senior burgers op ‘n laaste hoera? Die onvriendelike beskrywing van die QM2 as “drywende ouetehuis” het hierdie waarnemer se ore bereik. Sy antwoord is eenvoudig: Dat die “inwoners” van daardie “ouetehuis” nogal deur prysenswaardige waardigheid, avontuurlik en dapperheid gekenmerk is.

Wie help vir wie?
Onder die garde met rolstoele, looprame en kieries was toonbeelde van die opperste toewyding aan mekaar van egpare in hul herfsjare. Plek-plek sukkel jy byvoorbeeld maar om jou gade se rolstoel te manuevreer. Een egpaar het telkens ons aandag getrek. Albei beweeg met gemotoriseerde looprame. Jy kan nie help om te wonder nie: Wie gaan vir wie help in die geval van werklike nood?
Een gryse dame – krom soos ‘n boom wat skeef gegroei het – het seker vir vele van die chroniese dekstappers as motivering gedien. Sy is telkens op flinke pas op dek sewe by ons verby. Ek het haar gevra hoeveel rondes sy doen. Ses, was haar antwoord. Dit is op die kop twee myl of 5,7 km.
Saans is die aandpakke en formele tabberdjies uitgehaal, heelparty wat waarskynlik lank in mottegif was. Ontwerpe, veral die veterbandjies, avontuurlike halse en roklengtes, het meermale verraai dat dit uit ‘n era kom toe hul sosiale status en lewe nog op ‘n ander vlak was. Een tante was gedurig in haar ouderwetse pels en een klaarblyklik besonder lief vir ‘n soort feetjierok.
Waar jy van die oudstes raakgeloop het – by die roomystoonbank waar hulle soos kinders horinkies draai, of in ‘n deftige sitkamer vir ‘n skemerdrankie by mooi musiek voor aandete – kon jy vreugde op die gesigte sien … laaste hoera of te nie. Daarin was ook ‘n les om ter harte te neem.
Ons het in Afrikaans die mooi uitdrukking dat iets soos ‘”n ou vrou se dans” is. Kortstondig, word seker bedoel. Maar mense, julle moes die ou vroue op die QM2 sien rumba – met hul wederhelftes of die galante jong geselskaphere wat diskreet vir enkellopendes beskikbaar is.
Jy kon sweer jy sien op die dansbaan die stof van die see se kant opstuif soos die gryses die middernag mak maak.
Mar 14, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Twee nuwe albums opgesit by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer: Een oor die vaart op die QM2 self en een oor die stede wat aangedoen is op pad na die skone Sydney en terug via Hong Kong. Onderskrifte volg later (dalk heelwat later – werk my oor ‘n mik aan die sortering van die foto’s en die blogs. Volgende een is nommer 10!) – (hvd)
Mar 13, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

HvD haal sy hoed af vir Clark Gable
Middag uit Melkbos
Die museum teen die mure, noem Tokkie dit: Die honderde reuse-borde met die geskiedenis van die QM2, sy voorganger, die QM1, susterskepe en die Cunard-maatskappy treffend in woord en beeld vir die huidige generasie verewig. Jy kan ure voor die uitstallings drentel in die lang gange van die skip.
Geen baken of interessante brokkie is waarskynlik oorgeslaan nie. Of ons alles gelees het, twyfel ek. Maar van die Who’s Who-lys van beroemdes (en berugtes) wat voor ons die QM2 se gange bewandel het, het ons, dikwels verras, dikwels met ‘n glimlag en nog meer dikwels hoogs geïmponeer, een vir een kennis geneem.
Voor Clark Gable het Tokkie my afgeneem, my keps eerbiedig verwyder. Die ou kwasterige minnaar van die silwerdoek het glo op die dekke van die QM heelparty vroulike passasiers se voete onder hulle uitgeslaan. Vir ‘n Tokkiefoto het ek die kolletjie voor die bekoorlike Debbie Reynolds en die beeldskone Liz Taylor uitgesoek. Voor Debbie, omdat die skoolseun HvD taamlik verlief op haar was. Voor Liz, oor die diep spore wat sy as’t ware op die QM getrap het.

Tokkie, Liz en Debbie
Liz was wat ons in vliegtuig-idioom deesdae ‘n “frequent traveller” sou noem – elke keer met ‘n nuwe man, lyk dit. Van die manne wat haar kajuit gedeel het, was Mike Todd. Die rolprentvervaardiger wat in ‘n vliegtuigongeluk dood is, Richard Burton met wie sy twee keer getroud was, en die bedorwe erfgenaam van die Hilton-hotelgroep, Nicky, op hul wittebroodsreis.
Liz en en die vurige Richard Burton het glo deurnag partytjie gehou terwyl die skip deur die branders stoomroller. Nicky het, bid jou dit aan, verkies om in die sigaarkamer tot in die vroeë oggendure kaart te speel eerder as om “gehaltetyd” saam met sy begeerlike bruid deur te bring!
Van ander sterre kom ons o.m. te wete dat Bob Hope sy gholfswaai op die boonste dek geoefen het (die QM2 se Sprts Centre is, terloops, op dek 13; dis een van die weinige skepe wat, bygeloof of te nie, ‘n dek 13 het); dat Bing Crosby graag saam met die fotograwe in die donkerkamer sit en ginnegaap het, en dat Cary Grant een van sy vyf vroue aan boord ontmoet het. Van Noel Coward lees ons : “He was the man who came to personify cocktails, caviar and Cunard.”)
Die glansmense in die suites sluit ook in konings, presidente, premiers en ander historiese figure soos die koninginmoeder, Elizabeth I, en koning George VI, Die Hertog van Windsor. Monty van Alamain, Dwight D. Eisenhower, die twee Bushe van Amerika, Ronald Reagan, Jacqueline Onassis, Nelson Mandela en Desmond Tutu. Ander Hollywooders as die bogenoemdes is o.a. Walt Disney, Dean Martin, Jerry Lewis, David Niven, Ginger Rogers, Marlene Dietrich, Rita Hayworth. Deborah Kerr en Charlie Chaplin. Op die lys van sportsterre is Max Schmeling en Fred Perry.
Beroemde sangers en musiekmense wat op die QM gevaar het, is o.a. Ella Fitzgerald, Duke Ellington en Vera Lynn – “Now is the Hour”. H.G. Wells en Helen Keller was ook passasiers.

Ver-troetel(diere) op die QM2
Van Liz Taylor moet ek darem ook meld dat sy in die annale opgeteken is as ‘n passasier wat met haar hondjies op die dek gestap het. Die QM2 het uitstekende dierehokkies op dek 12 – selfs ‘n lampaal vir honde met ‘n houding. Dit is op op aanbeveling van die Hertog van Windsor aangebring om sy hond tuis te laat voel. Van ‘n stamboek-Chow lees ons dat sy middagete op ‘n vaart bestaan het uit rou eiers.
Eksotiese dierereisigers is o.a. ‘n olifant, ‘n apie en daardie Amerikaanse nagdiertjie bekend as ‘n “racoon”. ‘n Mossie het saam duimgery, boonop vergeet om in Southampton die skip te verlaat, en toe sommer tot in New York aan boord vertoef.
Daardie mossie se vergissing verstaan HvD ten volle. Hy sou, trouens, self ook (gerieflik) kon vergeet om af te klim van daardie dywende hemel op water. (hvd)
Mar 12, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Tokkie kry haar rooi roos by die Brittania se maitre ‘d
More uit Melkbos
Ai, had ek maar die romantiese hart en skeppende woordkuns van ‘n A.G. Visser. Sou graag Valentynsdag, Vrydag 14 Februarie, op die Queen Mary 2 in gloeiende A.G. Visser-taal wou beskryf.
Kom na my tuin waar die donker rooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag ….
Rooi rose was op daardie Vrydag op die QM2 oorheersend. Kratte vol is blykbaar die vorige dag in Fremantle opgelaai. Jy kon rooi rose koop teen $65 (sowat R700) ‘n dosyn of $5,00 (sowat R55) vir ‘n enkelroos.
Iemand in ons gangetjie op dek ses is klaarblyklik met ‘n bos rose of dalk ‘n enkelroos in ‘n potjie teen $20,00 (sowat R220) bederf. ‘n Blaartjie het met die aflewering verloor. Soos ‘n druppel bloed het dit daar op die roomkleurige mat met die ingeweefde Cunard-embleem gelê – ons eerste proeseltjie van Valentynsdag op die oseaan. Vele sou in die volgende ure volg.
By die Mayfairwinkels gee die roostema in elke toonvenster … wel .. die toon aan. Groot plakkate van rose, rose in vase, rose op gedrukte liefdesgediggies en Valentynsdagkaartjies wat saam met hartjies van Swarovski-kristal en ander juwele op basaartafels te koop aangebied word – oral net rose.
By die Empire Casino, die en ook die Clarendon-kunsgalery is spesiale Valentynsaanbiedinge aan die orde – “Clebrate your love this Valentine’s Day with a beautiful piece of artwork from Clarendon Fine Art.”
Ek kry die ingewing om by die skip se blommewinkel te gaan foto’s neem. Maar nee, se die vriendelike Filippyn Regina Mariles by die ontvangstoonbank; dit is in die bemanning se kwartiere wat vir gaste (hul naam vir passasiers) verboten is. Sal sy dan maar vir my ‘n vaas met rose vashou vir ‘n foto? Alte seker, meneer, en sy voeg die daad by die woord.

Tafels kreun onder rooi hartjies in die Kings Court.
Middagete was ‘n hamburger vir my en pasta vir Tokkie in die “Chef’s Galley” op dek sewe. Tokkie vestig my aandag op ‘n buurman se nagereg. Dis ‘n bordjie met hartjiekoekies en iets moois in ‘n glas met ‘n rooi hartjie bo-op.
Tokkie gaan stel ondersoek in by die “King’s Court” se buffettafels en kom grootoog rapporteer: “Dis pragtig – bring jou kamera.” Waarheen sy my lei, is ‘n yslike tafel met ysbeelde, gekerfde waatlemoenrose en honderde stukkies nagereg in hartvorm: rooies, wittes met rooi randjies, sjokoladehartjies en wat nog. ‘n Ware fees vir die oog. ‘n Jong man en jong vrou in wit uniforms stap verby, en ek keer hulle vinnig aan. Hulle poseer by die poedingtafel en ek neem net foto’s.
Die middag het ons ‘n afspraak met ‘n Australiese egpaar by die middagtee in die “Queens Room”. Uit die dak wapper reusebaniere met rooi rose daarop. Die skons en room wat bedien word, is die tradisionele, maar die koekies is almal in die vorm van hartjies. Hannah Ruiters sorg vir romantiese musiek op haar harp – en sy dra, natuurlik, ‘n bloedrooi rok.

Nagereg in die Beittania
Vir aandete volg die gaste haar voorbeeld. Ons het vooraf die wenk gekry om iets roois in te pak. Tokkie is van kop tot tone uitgevat in rooi en ek dra ‘n rooi strikdas wat ek by vriend Hennie Jonker van Melkbos geleen het, asook my rooi kruisbande waaraan ek nogal waarde heg. By die deur word elke vrou met ‘n rooi langsteelroos ingewag. Die maitre d’s dra elkeen ‘n rooi knoopsgatruikertjie. Die nagereg is …. rooi harte.
Dankie, Hennie, vir die leen van jou dassie. ‘n Jong man van Centurion het die middag enetjie by Harrods se winkel gekoop. Hy moes $15 (sowat R165) daarvoor opdok. ‘n Mooi dassie darem.

Die Queens Ballroom in rooi getooi.
Die aand by die Valentynsbal wieg die mense in die “Queens Room” op die maat van Weense walsmusiek – ‘n oorheersend rooi en swart tafereel. Teen die dak hang ‘n reusekrans van honderde rooi ballonne. Dié sou teen middernag losgelaat word. Toe was hierdie Vaaltyn al in droomland – met ‘n romerige slapenstyd-sjokoladehartjie op my kopkussing die laaste A.G. Visser-oomblik van die dag. (hvd)
Mar 10, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Spogvertonings in die Royal Court Theatre
Middag uit Melkbos
Vandag se terugblik op die Van Deventers se lewensverrykende QM2-ervaring – blog nommer agt in die reeks – sou ek graag as verpligte leesstof klassifiseer vir amal wat besorg wil weet: Maar het julle dan nie verveeld geraak nie?
Verveeld geraak? As jy kan eet, stap, swem, sauna, speel (sport, brug, dek- en bordspeletjies), oefen, TV kyk en fliek na hartelus, in die deftige Mayfairwinkels soos Harrods en Swarovski kan boer, of die spa en rekenaarsentrum se drumpels deurtrap?
Of as jy boonop kan kies en keur uit 80 georganiseerde aanbiedinge elke dag – drie A4-bladsye vol dinge om te doen in die keurige skeepskoerantjie (volkleur!) wat voor slaaptyd op jou kopkussing kom, en ook op ‘n spesiale TV-kanaal toegelig word?

Die koepeldak van die planetarium in die Illuminations-teater.
Nee, as jy verveeld sou raak op hierdie skip wat nooit gaan slaap nie (darem wel van 02:00 tot 04:00 in die nagtelike ure), is jy verveeld met die lewe, soos iemand van Londen gesê het. Eerder kan ons ná 22 dae se geluksaligheid kla: Die tyd vir niksdoen was te min!
Ons eie skedule is voor slaaptyd versigtig saamgestel. Ons dag is, tussen al die groot etery deur, vol gepak met sogenaamde “Cunard insights presentations”, musiekuitvoerings (o.m. klassieke kitaar en fluit), planetarium-aanbiedings, son soek by ‘n swembad (daar is vier en ‘n klomp borrelbaddens), die tradisionele middagtee, skemerkelkies in een van die 11 sitkamers en kroegies saam met mooi musiek (harp, strykkwartet of klavier), biblioteekbesoeke (10 000 wonderlike boeke en wonderlike uitsigte), aandvermaak in Westend-styl in die reusagtige “Royal Court”-teater (dansers, sangers, akrobate, towenaars, sakkerollers, komediante en wat nog), en, natuurlik, ‘n bietjie niksdoen op die dek.

HvD in die pragbiblioteek.
Die “Cunard Insights Presentations” was buitengewoon verfrissend met stimulerende sprekers soos sir Max Hastings, voorste Britse historikus, joernalis en skrywer, en sir Jackie Stewart, spitsvondige Skotse Formule 1-kampioen. Onderwerpe het ingesluit die Anglo-Boereoorlog, Winston Churchill en Frank Sinatra.
Ons het uitstallings bygewoon in die sonnige Clarendon-galery (die grootste kunsgalery ter see). Ons was teenwoordig by elke “destination”-aanbieding oor elke hawe op ons roete. Ons het gaan fliek. Sondae was ons in die kerk.
In los tye het ons die skip verken. Oral is foto’s geneem – tot in die eksklusiewe sigaarkamer, “Churchill’s Cigar Lounge”, met sy swaar leermeubels, duur sigare en spesiale reeks cognacs, ports en armagnacs. Ons het elkeen van die tien vleuelklaviere nagespeur, en amper elkeen van die 565 oorspronklike kunswerke deur 16 internasionale kunstenaars. Ons het die geskiedenis van die skip opgeslurp soos dit boeiend in woord en beeld teen gangmure uitgebeeld word.
Die ontsagwekkende brug kan jy net deur ‘n glasafskorting bewonder. Ons het graag die observasiedek besoek en (deur die glas) by die brug ingeloer. Tokkie is op ‘n toer deur die skip se geweldige kombuise van vlekvrye staal.
Saans het ons in die “Brittania”-eetsaal met sy gourmet-spyskaarte gaan aansit. Met ander etes was ons uitgangspunt: Ondersoek alle dinge en behou die goeie. Die tradisionele “Lion’s Pub” se vis en skyfies was eersteklas. Ook sy herderspastei. Vir hamburgers en pizza kon jy nie beter vaar nie as die “Chef’s Galley” op die altyd bedrywige dek 7 en die “Boardwalk Café, ‘n informele kitskosrestaurant onder sambrele op dek 12. By die informele buffet in die “King’s Court” was garnale en sushi in oorvloed.

Wil jy dans, Katrina? Laataand in die Queens Ballroom.
As energie oor was, het ons ná “showtime” gaan inloer by die ornate “Queens Room”-balsaal. Tussen die sambas en rumbas deur het ‘n internasionale danspaartjie mense met hul vurige passies betower. My eie ambisies om, ten minste darem op Valentynsdag, ‘n Weense walsie in te kry, het om die een of ander rede ongelukkig nie gerealiseer nie
Wat nie op ons program was nie, was onder meer gimnasium- en spa-besoeke, dans- en waterverfklasse, die veerpyltjie- en ander sportkompetisies, blommerangskikking-demonstrasies, i-pad-werkwinkels, kunsseminare, brugtoernooie, bingosessies, kooroefeninge (vir die skip se eie passasierskoor), disko, karaoke, die casino, wynproeë of die daaglikse brei- en naaldwerkklasse (ja werklik!), nogal in die Verve Cliquot-sjampanjekamer.
Ja, goed en wel, hoor ek skeptici opmerk. Maar is ‘n mens darem nie verskriklik afgesny van die buitewêreld nie? Laat ek so antwoord:

Sommer niksdoen op die dek
Onder die sowat 30 kanale op die TV-skerm in jou kajuit is o.m. ook BBC News, Sky News, Sky Sports News en Fox News. Elke aand is ‘n koerantjie afgelewer met die naam “Britain Today”. My buurman het ‘n “Australia Today” gekry. Maar met Suid-Afrikaanse nuus is ons tog ietwat afgeskeep. Met al die Suid-Afrikaners aan boord, sou ‘n “SA Today” nie ‘n sleg idee gewees het nie. Mnre. Cunard, ek sit dié voorstel graag op die tafel. (hvd)