Mar 24, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Vermy o.m. – a la carte-etetjies in die Todd English-restaurant, ‘n sigaartjie in Churchills, ‘n glasie sjampanje in die Veuve Clicqout-sitkamer en ‘n ruikertjie vir jou kajuit.
Naand uit Melkbos
Duiselingwekkende derduisende dollars. Dit moet die opgehoopte aan-boord-rekenings beloop van passasiers op die QM2 wat lag-lag kan betaal, of nie eintlik kan nie, maar tog hul oë toeknyp en hul kaarte aanbied vir alles wat die hart begeer.
‘n Groot bedreiging vir die debiet is daardie skemerdrankie, wyntjie of biertjie. ‘n Margarita jag jou $8.25 uit die sak; meer eksotiese skemerdrankies soos een van die “Cunard favourites” maklik $9,95. ‘n “Champagne cocktail” ruk jou $15,95. ‘n Bottel wyn aan tafel begin op tussen $40 en $50. Kurkgeld beloop $20. ‘n Wynpakket (ses bottels) kos van $249 af op.
Vir ‘n “afternoon tea” plus sjampanje is die “beginprys” $30. Vir ‘n gewone wynproe (Rhebokskloof) word ‘n “nominale” tariefie van $40 gehef. Sommer ‘n gewone bier (Budweiser of Becks) kos al klaar $5,50. Onthou, jy moet by alles “diensgeld” van 15% voeg, en dan boonop alles met 10 vermenigvuldig as jy in rand dink, soos ekke.
Spaarsamiger mense benut die “World Voyage Promotion” om drank vir een dag belastingvry te koop – maar asseblief tog vir “consumption in your stateroom only”. ‘n Liter Glenfiddich kos jou dan $65 en ‘n liter jenewer, voda of rum tussen $35 en $50. Jy kry ses blikkies soda op die koop toe. Die aanbod is opgeraap. Mense het tougestaan.
Nie net drank kan ‘n onversigtige man ‘n fortuin kos nie. Veronderstel jy is van die sentimentele soort. Jy wil darem graag ‘n paar van die mooi foto’s aanskaf wat die skip se knap beroepsfotograwe op elke moontlike oomblik en plek van jou neem. Maak jou klaar om vir ‘n pakkie van ses $149,95 op te dok. Wat van ‘n “unlimited package”? Glo ‘n winskoop teen $399,95!
‘n DVD van die vaart word sterk bemark, selfs op die TV-skerm in jou kajuit. Dalk verskyn jou gesig vlugtig iewers daarop. Dit kos SLEGS $34,95 elk.
Oor die roospryse op Valentynsdag het ek reeds verslag gedoen ($65 ‘n dosyn). Selfs ‘n onromantiese ding soos ‘n sak wasgoed vat aan jou sak. As ‘n “special offer” op sekere dae, let wel, kos 30 stukke of minder jou steeds ‘n koele $40.
As jy ingaan vir ekstra “bederfies” soos aromaterapie, masserings en “facials”, sal jy by die baie mooi Canyon Ranch Spa tussen $149 en $161 moet uithaal. Ek moet toegee: Die plek ruik hemels. Ons het elke dag ‘n keer of twee daarlangs gestap.
Nog ‘n bederfie is om by die uiters deftige Todd English Supper Club a la carte te gaan eet of, as die gier jou pak, saans aan te sit met spesialis-spyskaarte gedempte lig, mooi tafeldoekies en kelners wat anders uitgevat is, in gesellige hoekies van die Chef’s Galley – wat teen ‘n prys – vir die kieskeuriges afgeskort word.
Jy hoef jou egter nie brandarm te kuier op die QM2 nie. Vir die gewone vaartrpys word jy klaar soos ‘n vorstelike bederf. Vermy dus onnodige buitensporighede. Moenie betaal vir iets wat jy verniet kan kry nie, is my leuse. Moet ook nie deur jou nek betaal vir iets wat goedkoper bekom kan word nie.

Bring-‘n-botteltjie
Cunard se drankbeleid is minder rigied as dié van ander rederye. Ons het die “venster van geleentheid” benut om ‘n ietsie in ons koffers saam te vat. Toe koop ek ‘n sogenaamde “soda package” teen $6,50 ‘n dag. (Jy kry allerlei pakkette, o.m. ‘n koffiepakket as die gewone aanbod nie in jou smaak val nie.) Die sodapakket behels onbeperkte gaskoeldranke uit die spuit (Pepsi, tonic, lemonade en sodawater), asook vrugtesappe soos lemoen, pynappel, tamatie, pomelo, bosbessie en appel.
Elke aand voor ete het ek in een van die mooi sitkamers net my sodaplakkertjie vir die kelner gewys. Weldra was ‘n lang glas van die een of ander uit die spuit voor my op die tafeltjie. TvD het diskreet die versterkinkie bygevoeg. Aan etenstafel het ek my gratis glas tonic by die vroulike Spaanse sommelier bestel. Geen haan het daarna gekraai nie.
Verder neem ‘n mens (verstandige mens, suinige mens – besluit maar self) jou eie foto’s, was jou eie wasgoed, eet net in die gewone restaurants van die gewone spyskaarte af (dit bied in elk geval ‘n verbysterende keuse) en geniet jy die skitterende “afternoon tea” (sonder sjampanje) wat elke middag in die Queens Room gratis en verniet aangebied word.
Jy aanvaar summier die uitnodiging na die kaptein se verwelkoming en elke uitnodiging na ‘n kunsuitstallings of –veiling in die pragtige Clarendongalery – die grootste ter see. Gratis sjampanje is by sulke okkasies nie skaars nie.
Die skip se ekskursies is berug duur – wissel tussen $60 en amper $200, en dis vir een mens. Maar om jou eie te reël, verg werklik nie veel nie. As die sogenaamde “destination”-spreker jou klaar oor ‘n stad ingelig het, weet jy immers haarfyn watter nommer bus jy by watter staanplek vir watter roete moet neem. Die rooibustoere (“hop on – hop off”) bied oral goeie waarde vir geld. Selfs ‘n taxi en ‘n persoonlike roete kos minder as ‘n georganiseerde toertjie.
Slotsom: Mense wat op die QM2 wil gaan vaar en groot skade aan hul bankrekenings wil vermy, moet maar met my en Tokkie kom gesels. Ons beskou onsself, heel onbeskeie, as buitengewoon deskundig aan die geld-spaar-front sonder om ons op enige wyse te kort te doen. (hvd)
Mar 23, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Op die dek van die QM2.
Takseer gerus maar vir Tokkie op die rooi baadjie waarmee sy hier op die dek van die Queen Mary 2 by ‘n reddingsboei kniel. Sy en daardie baadjie kom ‘n lang pad. Dis ‘n baadjie met ‘n “peddiegrie”; die veteraan van ver paaie. Sy spore lê wyd op hierdie aardbol.
Die baadjie is in die 80′s deur ons seun, Johan, aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy as hoërskoolseun sy pa se koerant, Die Volksblad, afgelewer het. Met van die eerste geldjies wat hy so verdien het, het hy vir sy pa ‘n swarthoutkierie laat maak en die waterdigte rooi baadjie gekoop. Dit kan giet in Bloemfontein.
Kierie en baadjie was nou saam op die QM2 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney. Daarna natuurlik terug via Kuala Lumpur, Hong Kong en Dubai na Kaapstad. Die kierie lê na aan my hart en was ook al die wêreld vol. Vandag se storie is egter oor die baadjie.

Johan met sy rooi baadjie op sy fiets in Bloemfontein.
Anders as wat gewoonlik gebeur, is die baadjie nie van ma na seun aangegee nie, maar andersom. My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Toe dit vir hom ietwat knap raak, was sy die dankbare ontvanger.
Dit was in die jare 80′s in Bloemfontein. Ons moes die Kaap dikwels weens werkverpligtinge besoek. Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou. Elke keer is die rooi baadjie saam. Sy reputasie as betroubare reisgenoot het vinnig toegeneem.
In die jare 90 het werks- en vakansiereise die Van Deventers na Amerika, Europa, Japan, Israel, Zimbabwe en Mauritius geneem. Die baadjie was telkens van die eerste kledingstukke wat ingepak is.
Die rooi baadjie is ‘n baadjie met status en het nie in die verband hupstote nodig nie. Tog het ons gemeen ‘n foto op die QM2 sou van waarde kon wees. TvD het verskeie kere haar kniele by hierdie nimlike reddingsboei hierbo gaan kniel totdat die fotograaf tevrede wees dat die see blou genoeg is en die son presies reg val. Mense het ons naderhand skeef aangekyk.
Ongelukkig het ons nie daaraan gedink om die baadjie by een van Sydney se ikone, die Operahuis en die brug (plaaslik bekend as die “coat hanger”), af te neem nie. Wel darem bo op die top van Hong Kong se Victoria Peak (waar ‘n geniepsige windjie gestoot het) met daardie merkwaardige stad van wolkekrabbers voor haar uitgestrek.

Die rooi baadjie voor Crimson Court, ons woonstel in die 70′s in Cambridge; by ‘n Amsterdamse grag; in die Grossglockner-pas in die Oostenrykse Alpe, en op Victoria Peak in Hong Kong.
Toe ons die idée kry om ‘n foto-collage te maak van waar die rooi baadjie al oral rondgeloop het, het ons in ‘n japtrap foto’s uitgedolwe van my vrou en haar baadjie in Amsterdam, in die Oostensrykse Alpe, in Cambridge, Massachusetts, in Brussel en in Lynmouth aan skone Exmoorkus in Engeland.
Die baadjie was o.m. ook in Kobe, Japan, Londen, Wenen en New York. Kry ongelukkig nie foto’s van daardie besoekies raakgevat nie. Dalk was die weer nie daarna nie. Dalk het sy die baadjie wel aangetrek, maar bestaan net nie foto’s van die betrokke okkasies nie. Sou ‘n mooi foto op Piccadilly Circus in Londen kon uitmaak. Of op die uitkykdek van die Empire Stategebou in New York. Maar nou-ja …
Kon natuurlik nie al die foto’s hier plaas nie. Gaan kyk gerus ook in die album Rooi baadjie by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer
Naskrif: Nog ‘n geheimpie uit my vrou se klerekas moet ek darem hier verklap. Dit raak die African Ball wat op een van die QM2 se formele aande gehou is. Die passasiers trek, so ver moontlik, temadrag aan. TvD was in ‘n bloesie geklee wat veral een Australiese heer na sy asem laat snak het. Pure Afrika. In ‘n moedswillige oomblik het sy die stomme man se seepbelletjie geprik. Afrika se voet – die ryklik geborduurde bloese het sy 38 jaar gelede in Jerusalem gekoop. Oor dié openbaring het hy telkens opnuut gegiggel as ons hom op die dek raakloop.
(hvd)
Mar 22, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Met die komplimente van Vodacom was ons vir die duur van die vaart van Kaapstad na Sydney as ‘t ware incommunicado. Van die beloofde “roaming” was g’n sprake nie. ‘n Agent in Table View het ons verkeerde aanwysings gegee. Jammer meneer, en dis dit.
Totale isolasie is vermy deur teensinnig ‘n internetpakket op die QM2 te koop: Amper R500 vir 120 minute. Die pakket kom met die waarskuwing dat die satelliet ietwat stadiger inskop as konneksies tuis. Dis sweerlik die “understatement” van die dekade.
Toegang tot Mweb was ‘n marteling. Soos aanbeveel, het ek in die adresveld getik: ”Mweb webmail login”. Maar die wieletjie het net bly draai en draai, terwyl die hol kol op my maag groter word en ‘n onsigbare digitale monster my kosbare randjies verteer. Wanneer “login” dan ná ‘n ewigheid skielik slaag, skrik ‘n mens jou so boeglam dat jou vingers dom raak. Net enkele boodskappies heen en weer, buitengewoon kort en kragtig, het ek vir my R500 gekry – helaas.
Maar liewe vriende, al het julle dan niks (of byna niks) van die VanD’s gehoor nie, was julle tog gereeld in ons gedagtes. Met goeie rede ook.
Aan die kleinkinders, Jacob, Thomas, Migael en Christopher, het ons gedurig gedink; die uwe nooit intenser nie as met die Insident by die Hysbak. Ons en ‘n seuntjie van so vier, raai ek, daag gelyk op. Ek druk die knoppie en hy druk die knoppie. Die volgende oomblik gly die deur oop, en ek gee hom ‘n speelse oupa- vegie oor die vingers: “Here it is”. Die dak wou lig. “He whacked me, he whacked me!” Gelukkig was die jong vader ‘n verstandige man.
Aan Cas Jacobs van Centurion het ons gedink die aand toe ons kelner, Michael Vitug, in die Brittania-restaurant wil weet hoe ons ons filet verkies. “Madame” hou van hare ietwat rouer. Waaragtig, Cas, toe Michael die borde bring is daardie filet presies soos versoek, so perfek in voorkoms en in smaak soos jy kan droom om dit in Balule op die kole gaar te maak. En onthou, ons is 1 200 wat by ‘n etesessie aansit!
Aan Sarel Venter, Volksbladkollega van Bloemfontein, en sy vrou, Liesbeth, het ons gedink die aand toe ons op die blou kaart op die TV-skerm in ons kajuit sien hoe naby Adelaide ons daardie nag van Perth af op pad na Melbourne verby sou vaar. Die Venters se seun, Gerhard, en akademikus-skoondogter, Rietie, woon nou daar – en, natuurlik die kleinkinders, waarna in De Jagerstraat, Fichardtpark, met seer harte verlang word.
Aan George Louw, digtersvriend van Panorama, het ons gedink toe die ou aan die tafel langs ons s’n by die eerste formele ete in sy Skotse rokkie opdaag. Die nimlike George was in ‘n Skotse rokkie getooi by sy seun Marck se troue met Samantha onder die klanke van ‘n doedelsakorkes iewers op die Skotse Hooglande.
Aan dr. Marius Falck, een van ons Melkbos-dominees, het ons gedink toe ons by die interdenominasionale Sondag-erediens ná ‘n kort, kragtige diens die tradisionele seemanslied, lied 25, aanhef: ”Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…” Met Marius se kragtige voorsang sou die Royal Court-teater darem gebewe het met die aangrypende lied hoor.
Aan Marius se vrou, Wilna, het ons – veral Tokkie – gedink toe die jong man John Courtenay, ‘n kêrel wat weet hoe om, nes sy, ‘n klavier energiek te takel, die aand in die Royal Court die klawers ‘n slag sommer met sy voet bydam – skoen en al.
Aan swaer Fanie van Wyk van Klaradyn, Brackenfell, het ons gedink wanneer ons by die King’s Court se buffetafels hande in die hare staan watter van die berge heerlike geregte om uit te los. Fanie vertel graag (en ek glo hom) hoe hy telkens by ‘n buffet in sy kop ‘n verbeelde sakrekenaartjie uithaal. Dan word sommetjies gemaak en word terstond besluit te min is te min. Sonder aarseling laai Fanie dadelik van voor af sy bord om waarde vir sy geld te kry.
Aan Lourette Ellis van Melkbosstrand het ons gedink – ekskuus Lourette – toe die sogenaamde “Professor in Pickpocketry” Bob Arno ons oor persoonlike veiligheid toespreek. Die volgende harde uitspraak het oor hierdie beroeps-sakkeroller en kulkunstenaar se lippe gekom: Om jou handsak aan jou stoel se leuning op te hang, is omtrent die domste ding wat jy kan doen. Soos daardie keer ….. Toemaar, Lourette, die VanD’s was ook al minder waaksaam as nodig.
Aan vriend Ben van Rensburg, in sy fleur Motorskrywer van die Jaar, het ek met begrip gedink toe ek na sir Jackie Stewart, spitsvondige Skotse oud-Formule I-kampioen sit en luister. In die Royal Court met sy 1 000 of wat sitplekke kant en wal, het die klein kampioen ons almal met sy anekdotes meegevoer. Ben – ook bekend as Ben Wieletjies – het my waarskynlik nooit verdink dat Formule I my sou boei nie. Maar dit het Ben, dit het. Sir Jackie, wat disleksie en taai kinderjare moes oorwin, is eenvoudig ‘n ster.
Aan wyle kollega Fred Schnetler het ek gedink toe die Span Van Deventer (my spanmaat Willie Schouwter van Brisbane het my met die naamregte vereer) in ‘n Trivia-kragmeting in die Lion’s Pub nogal sukkel. Gee my een Fred Schnetler, en ek vou hierdie klomp sommer met die linkerhand op, het ek Willie verseker. Fred was ‘n Flinkdink-kampioen as iemand al vergeet het.
Aan matriekmaat Willem Hartzenberg het ek gedink elke keer as in die skraal man met die bril vasloop wat aan my as Britse regter uitgewys is. Regter Willem dra sy bril op dieselfde hoek, en gee ook gedurig die indruk dat hy met diep en belangrike kwessies stoei agter ‘n eenderse breë voorkop wat ‘n fris klomp grysstof verberg.

“VLV” op die QM2
Op die skip was, ten slotte, gereelde naaldwerk- , brei- en blommerangskikking-klasse. Ek het die kring vroue met hul naaldwerk in die sjampanjesitkamer, die Veuve Clicqout, stilletjies afgeneem terwyl hulle in diepe konsentrasie met die goeters op hul skote werskaf. Aan wie dit ons laat dink het? Vir my aan die VLV. Vir Tokkie aan Hilda van 7de Laan, wie anders? (hvD)
Mar 21, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Grootste biblioteek ter see.
More uit Melkbos
Boeklees, leesfees, woordfees – vir die liefhebber van boeke en die gedrukte woord was die vaart op die QM2 ook in daardie opsig ‘n fles nardus-salf vir die siel.
Soos op daardie skip gelees word, is ‘n openbaring. In die teaters voor vertonings begin, in dekstoele, langs swembaddens, in sitkamers …. natuurlik, in die wonderlike biblioteek … oral sien jy mense verdiep in hul boeke. Ry op ry. In die gange sien jy oral boeke onder die arm – dikwels allemintige dik boeke.
Die waarde van ‘n boek word in die huidige tydvak, helaas, nie meer deur almal ewe hoog aangeslaan nie. Honderde – dalk duisende aanhalings – kan nietemin opgediep word wat die boek in gloeiende terme besing. Ek hou van dié woorde van Carlos Ruiz Zafon in “The Shadow of the Wind“, wat ds. Carl Louwrens van Skukuza, ‘n bibliofiel by uitnemendheid, ‘n keer met my gedeel het :
“Every book has a soul. The soul of the person who wrote it and of those who read it and lived and dreamt with it. Every time a book changes hands, every time someone runs his eyes down its pages, its spirit grows and strengthens. In a shop we buy and sell books, but in truth books have no owner. Every book has been somebody’s best friend.”

Herbesoek aan Blandings Castle van P.G. Wodehouse.
Die boek – ‘n vriend, ‘n sielsgenoot. Iemand anders, naam ongelukkig vergeet, het ook ‘n goeie boek as ‘n goeie vriend beskryf. Hy/sy het iets in hierdie trant bygevoeg: Dit praat met jou wanneer jy lus is vir gesels, dit bly stil as jy stilte wil hê – en daar is nie baie vriende wat hierdie geheim ken nie.
Weet nie op ander vaarte nie, maar op hierdie een van die Kaap na Sydney het dié warme gevoel oor boeke klaarblyklik oorheers. Kyk gerus na die foto’s wat ek sommer rond en bont gemik en-druk het. Dit vertel die storie, maar ook nie heeltemal nie. Trouens, die paar foto’tjies bied eintlik maar ‘n effentjiese beeld van die omvattende leeskultuur op die skip.
Miskien het hierdie leeslus iets te make met die spyse wat Cunard bied. Op sy skepe is dit immers nie net baldadigheid, bingo, black jack en bordspeletjies nie. Op die program is ‘n stewige intellektuele komponent, met voorlesings deur kenners, seminare, werkwinkels en nog wat. Die kroon is die QM2 se biblioteek op dek 8 – ‘n ware skatkamer.

Ontspanning op die dek – jy spel dit l..e..e..s.
Rye blink gepoleerde okkerneuthoutkaste staan in rye in die smaakvolle ruimte van 65 vk. m. Agter die glasdeure is iets soos 10 000 boeke – die grootste versameling ter see. By die groot, diep vensters is heerlike diep leunstoele. Salig om genoeglik daarin weg te sak met jou boek. Telkens as jy opkyk, sien jy hoe die boeg die blou dam se waters klief. Ai, daardie mooi biblioteek. Dis ‘n plek wat ek en Tokkie graag opgesoek het vir ‘n paar rustige oomblikke. Ons was nie altyd gelukkig nie. Soms is ons deur te veel ander boekliefhebbers voorgespring.
Ek het met ‘n lys boeke by die skip opgedaag. Maar “so many books, so little time”, soos Frank Zappa homself bejammer het. Uiteindelik had ek te min tyd. Ek was tog lus vir P.G. Wodehouse en Agatha Christie, twee staatmakers uit vergange jare. Wodehouse het ek vergeefs in die humor-rakke gesoek. Sy boeke oor Jeeves, die hoëlui van Blandings Castle en so is, tereg, as “classics” gesorteer. (Van “My Lady” Agatha – mag haar seker maar so noem? – het ek haar antieke moordstorie uit Egipte gelees: “Death come as the end” – boeiend.)
In die biblioteek was verskeie boekteken-okkasies. Die hoog gestapelde boeke van sir Max Hastings, Britse oud-redakteur en geskiedskrywer, in die winkel langsaan het veral groot aftrek gekry. Die joernalis Peter Hawthorne, ook bekend in Suid-Afrika, het munt geslaan uit Nelson Mandela. Hastings, Hawthorne en andere het met hul bekendstellings vol sale getrek. Vir my Sabieparkvriend Tony Park van Sydney – so plus-minus die Australiese eweknie van Deon Meyer – het ek laat weet: “Jy moet op die QM2 kom boeke verkoop. Dit sal vlieg!” (Deon Meyer se “Kobra” is, terloops onder party arms gewaar. Engelse vertalings van sy boeke figureer in die skeepsbiblioteek.)

Deur die loerkamera betrap – besig met lees.
Waarop stuur ek af? Vir eers dat uitgewers en allerlei anderlike boekemense in die algemeen maar mismoedig is oor die toekoms. Daarby dat doemprofete oor, selfs grafgrawers vir die gedrukte woord deesdae agter elke tolbos uitgeskop kan word.
Vir die mismoediges én die premature roubeklaers is hierdie ervaring hopelik nuus. Ek nooi hulle vrymoediglik: Kom, vriende, Romeine en landgenote, kom kyk hoe die boek op die QM2 gedy.
“Die kind is nie dood nie…. ” (met verskoning aan Ingrid Jonker.)
(hvd)
Mar 20, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Mooi mense maak mooi musiek
More uit Melkbos
Wanneer die jong strykkwartet uit Kiëf saans vir ons musiek maak saam met ons skemerkelkies in die QM2 se elegante Chart Room of elders – Mozart, Lizt, Rachamaninoff, De Bussy, Lehar en andere – wonder ek of die mooi kinders hartseer is oor die bloedvergieting in hul geteisterde stad in die Oekraïne aan die oewer van die Dnieperrivier, tussen die steppe en die woudsteppe. Kiëf is in vlamme en hoeveel mense op die stadspleine sterf in die opstande daar, oorheers die daaglikse nuusbulletins.
Hulle toon nie emosie nie terwyl hulle glimlaggend hul strelende musiek optower. Een aand, toe hulle oppak, stap ek nader, stel myself bekend en vertel van ‘n besoek aan Kiëf in die jare 80. Oekraine was toe nog deel van die Groter Rusland, onder Gorbatsjof. Die Britse toergroepie waarvan ek deel was, was tuis in die erg middelmatige Hotel Bratislava. Ek onthou die hotel of ek gister daar was weens die swak matras en die besnorde generaal-majoor wat my een oggend uit die eetsaal geboender het omdat ek vyf minute te vroeg wou kom aansit. Dit vertel ek nie vir hulle nie.
Waar ons elke aand skemermusiek gaan geniet, vorm deel van die gereelde laataand-besluitneming ons oor program vir die volgende dag. Die keuse val meermale op die jong strykers. Hannah Ruiters, die treffende blondine uit Amerika met haar singende harp is ook ‘n gunsteling. Die stylvolle harpspeler met die soepel vingers dra lang tabberds met ‘n strategiese spleet – ‘n mooi prentjie.
Die kwartet en die harp-meisie maak beurte op die balkon op die boonste vlak van die Brittaniarestaurant. Dra by tot die atmosfeer van deftigheid, swier en elegansie wat restuarantgangers saans eenvoudig laat voel dit is die regte ding om vir ete aan te trek. Vir dié wat informaliteit verkies, word ‘n gawe buffet tot laataand in die Kings Court opgedis.
Drie pianiste met verskillende style tokkel om die beurt die klawers o.m. in die uiters deftige Commodoreklub in die voorstewe van die skip, en die jolige, informele Lion’s Pub wat maklik by Covent Garden in Londen sou kon staan. Goue ou treffers is meesal aan die orde.
In die Royal Court Theatre is elke aand twee topklas-vertonings, gewoonlik met ‘n sterk musiek-element. ‘n Klassieke kitaarspeler, Sam Piha, en sy vrou, Louise Garner, op die fluit het vir verskeie middagkonserte gesorg met oospronklike verwerkings van uiteenlopende werke: Van John Denver tot Vivaldi.
Die Queens Ballroom en die Royal Court Theatre het elk sy eie orkes. Saam vorm hulle ‘n “big band” van 14 lede. Op die skip is voorts ‘n Karibbiese orkes Vibz wat by die Pavillion-swembad op dek 12 of op die ruim oop dek 11 by vonkelwyn musiek maak wanneer die QM2 met die “diep grom van sy sterk skeepshoring” sy vertrek uit ‘n hawe aankondig. (Ek leen die mooi uitdrukking by my vriend Sarel Venter van Bloemfontein se seun, Gerhard, wat in Adelaide die Queen gaan groet het.)

Dansers met passie
Een aand was 22 musikante op die verhoog van die Royal Court vir ‘n kleurryke sang- en dansprogram met die naam Appasianata. Dit was inderdaad passievol. Die Queen se vermaaklikheidsdirekteur Paul O’Loughlin het gespog dit oortref enigiets op Broadway of in die West End.
In ‘n vertoning met die naam Viva Italia het die meevoerende Napolitaanse liedere selfs hierdie ou stoïsyn se voete saam laat tyd hou.
Die reuseteater met sy amper 1 000 sitplekke begin vroeg-vroeg vol loop. Die beste sitplekke is gou opgeraap. Nie elke aand se kunstenaar het die vroeg opdaag en lang wag in die Royal Court vir hierdie tradisionele vroegslaper eweredig die moeite werd gemaak nie. Maar die Drie Keltiese Tenore – vir hulle sal ek altyd uit my pad gaan, selfs toustaan.
Musiek en die Queen Mary 2 is sinoniem. In die Illuminationsteater kon ons voorts gaan luister na ‘n musiekhistorikus se oudo-visuele aanbiedings oor ikone soos Gershwin, Irving Berlin en Frank Sinatra. Ek is nie juis ‘n Sinatraman nie, maar tog lekker gewees om ‘n toer deur sy lewe te onderneem en weer treffers van my generasie soos “My Way” en “Chicago” uit “Ole Blue Eyes” se eie mond te hoor.
Oor “My Way” het ‘n ietwat ontnugterende onthulling op die stampvol teater gewag. Ek vertel later daarvan. (hvd)