Dec 11, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Uit Melkbos
Dis ‘n harde maar onomstootlike waarheid: Die wêreld ween oor Nelson Mandela; die wêreld lag vir Jacob Zuma. Ná gister se gedenkdiens in die ENB-stadion word met nog minder respekte van onse Jacob gepraat.
Op buitelanders se Facebook-inskrywings word hy o.m. beskryf as ‘n ‘”jerk”: In Collins (die woordeboek) lees ek “jerk” is veral in Amerika en Kanada ‘n “slang”-woord vir “a person regarded with contempt, esp. a stupid or ignorant person”.
‘n Klipharde oordeel.
Ene Sunni Khalid vra : “Doesn’t Zuma remind you of Jabba the Hutt?”
Fliek nie juis nie – veral nie wetenskapfiksie nie. Moes maar gaan Google om te sien wie die Jabba-karakter Jabba_the_Hutt dan is.
Wikipedia bring die antwoord: “Jabba the Hutt is a fictional character appearing in George Lucas‘s space opera film saga Star Wars. He is depicted as a large, slug-like[2] alien. His appearance has been described by film critic Roger Ebert as “Dickensian”, a cross between a toad and the Cheshire Cat.[3] ”
Ek sit maar ‘n foto’tjie by om met die identifisering te help. (hvd)
Dec 10, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Elkeen van ons, selfs die lofwaardigste, klim soms met die verkeerde voet uit die bed. Hoeveel keer Nelson Mandela met die verkeerde voet uit die bed geklim het, sal ek nie weet nie. Een keer, 16 jaar gelede, was Naspers aan die ontvangkant van sy onvergenoegdheid.
Leidsliede van die Pers is as ‘t ware ook daardie dag, 9 Oktober 1997, op die verkeerde voet gevang. Hulle het verslae in hul eie eetkamer op die 18de verdieping van die Naspers-sentrum aan die Heerengracht vasgekeer gesit terwyl hul eregas hulle oor die sondes van die Afrikaanse pers striem.
Dit was ‘n dag wat die Pers nie lig sou vergeet nie. Om mee te begin, is die eetkamer die vorige nag oorstroom nadat ‘n warmwatertoestel gebars het (die derduiwels doen dit mos altyd op die onmoontlikste tye). Die matte was deurweek. Daar is koorsagtig gewerk sodat die ete kon voortgaan.
Ten tweede is almal op die 18de verdieping die oggend uit hul kantore geboender vir ‘n “veiligheidskontrole” – iets wat in die “ou dae” met Staatspresidente uit “bevriende” kamp ongekend was. Nie almal was ingenome nie!
In die straat en in die voorportaal was ‘n ontvangs soos nog nie by die Naspers-sentrum gesien is nie. Die President het sy charisma met ‘n hoofletter C ten volle aangeskakel. Net daarna volg toe die korrelrige toespraak. Uit die vuis, terwyl die voorbereide teks op die tafel bly lê waar dit neergesit is.
Die koerante is veral gekap oor, wat ‘n driftige Madiba genoem het, ”’n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie”. Dit terwyl die Afrikanerdom, volgens die kwaai President, “baie had om oor nederig te wees.” Sy tema het die spreker só meegevoer dat die horlosie ver verbygeloop het by wat die gewone duur van ’n etenstafel-toespraak is.
Ton Vosloo het verbaas, maar waardig, geantwoord. Ek het hom vir sy kalmte bewonder. As draer van die koerantehoed was ekself maar bra ongemaklik. Ek het gedink pres. Mandela kon ten minste na ons swart blad “City Press”, wat hom altyd net op die hande gedra het, ‘n buiging gemaak het. En wat van “Beeld”? Vir die noordelike dagblad was daar voorheen lof. Daardie dag is almal oor een kam geskeer.
Terwyl Madiba praat en praat, had hierdie arme drommel sy eie persoonlike nood, aangebring deur ‘n jenewertjie vooraf en een of twee glase voortreflike wit uit Naspers se kelder (deur skakelhoof Andrew Marais altyd eksie-perfeksie gehou). Ek was aan ‘n tafel in die verste hoek, en intens bewus dat om uit te stap vir die vertolking van ‘n protesdaad vatbaar sou wees. Al raad was dus maar vasbyt tot die bittereinde – wat net betyds aangebreek het!
Om sout in te vryf, het die geskenk waarmee baie moeite gedoen is, met die vertrek eers vergete gebly. Dit was ‘n geraamde collage van vier historiese koerante wat die verhaal van die ANC se magsverowering stap vir stap uitbeeld, ‘n replika van een wat ek vroeër vir my kantoor laat maak het.
Bo links in die montasie is “City Press” van 1 Mei 1994. Opskrif: “ANC smells victory”. Langsaan is “Die Volksblad” van 2 Mei, terwyl die stemme nog getel is. Die opskrif is: “ANC is stewig in saal”. Die hooffoto is Mosua Lekota voor die historiese Raadsaal in Bloemfontein met die ruiterbeeld van genl. C.R. de Wet op die agtergrond. Dan volg “Die Burger” van 10 Mei, ná die eerste sitting van die nasionale vergadering. Die opskrifte is: “Die nuwe era begin/ Mandela eenparig verkies”. Die hooffoto is Mandela wat ‘n wit vredesduif los laat. Koerant nommer vier is “Beeld” van 11 Mei, ná die indrukwekkende inhuldiging by die Uniegebou. Die opskrif is: “Laat vryheid regeer”. Die hooffoto wys Pres. Mandela waar hy die ampseed neem. Dit was nie ‘n klein pakkie nie!
Daardie spesiale geskenk is wel later by die regte adres besorg. Wat daarna daarvan geword het, weet ek nie. Teenoor kollegas het ek opgemerk ek hoop darem dat dit van tyd tot tyd die President se oog sal vang – dit behoort hom te laat wonder waarom juis so ‘n collage in die kantoor van Naspers se koerantebaas hang. Tog seker nie uit weerstand teen die nuwe bedeling en ‘n “hunkering” na ‘n verlede wat dood en begrawe is nie!
Later was daar ander besoeke wat gemoedelik verloop het, het ek later verneem. Maar sjoe, daardie dag is ons behoorlik gelooi. Vandag is eintlik die eerste keer dat ek daaroor glimlag – as ek dink hoe ons in ons donker pakke soos stout kinders tjoepstil in ons hoekies gesit en bitter medisyne sluk het! (hvd)
Dec 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Julle ken mos daar stedelike legende van die oorlogskip en die vuurtoring: “Verander koers”, “Nee, verander jy koers”, “Verander dadelik koers, ek is ‘n oorlogskip van die VSA vloot”, “Verander jy dadelik koers, ek is ‘n vuurtoring”. Die vermaaklike anekdote wat dikwels vir die heilige waarheid oorvertel word, het by my opgekom toe ek eergister, wanneer my e-kaartjie vir die QM2 se vaart na Sydney einde Januarie 2014 uitdruk.
In ‘n hoekie van die kaartjie, aan die linkerkant onder, staan dit onmiskenbaar, nogal in hoofletters: Pier of Embarkation: GOOD HOPE EXHIBITION CENTRE, OSWALD PIROW STREET, CAPE TOWN, SOUTH AFRICA.
’n Haastige besoek aan Google bevestig die eerste indruk: Die enigste “Good Hope Exhibition centre” is die een wat aan my bekend is: Die een met die reuse-koepeldak amper in die hartjie van die Kaap. Die beeld wat opdoem van ‘n reuse-gevaarte van 345 meter – amper 15 tennisbane (en boonop 23 verdiepings hoog)) – wat langs die Goeie Hoop-sentrum voor anker lê, is nogal iets om aan te herkou. Ek sien voor my geestesoog die banieropskrifte op Die Burger se voorblad! En die foto dwarsoor die blad.
Juis die besoek aan Google bring darem ook gerusstelling. Vir eers is die uwe klaarblyklik nie die eerste wat deur die mededeling oor die Goeie Hoop-sentrum uit die veld geslaan is nie. Klaarblyklik hoef darem ook geen smesj veel groter as die Seafarer-ramp in die 60′s voor die SAUK-gebou in Seepunt gevrees te word nie.
Laat die storie maar in die boodskappe van QM-passasiers en andere ontvou:
holadict cardiff south wales
We are arriving in Cape Town in January on QM2 which docks at the above venue (GH Exhibition centre). As we are then staying in CT for 8 days will there be plenty of taxis available or would you suggest we pre book one?
macsym Cape Town
I somehow doubt that the QM2 will be docking at the GH Exhibition centre as this is someway inland! Large ships usually dock at Duncan Dock. I would imagine there will be plenty of taxis available
divacape cape town
I was at the Duncan Dock when the QM docked before and there were loads and loads of taxis ready to take people off the ship.
holadict cardiff south wales
Documentation from Cunard definately shows the QM2 being docked at the Good Hope Exhibition Centre!!
Van_de_Caab Cape Town
I hope they haven’t told that to your captain. The Good Hope is at least a kilometre inland and the ship will have to cross at least 10 railway lines and both the main N1 and N2 Motorways!!!
http://wikimapia.org/154096/Good-Hope-Centre and click on Zoom Out!
I would be a bit worried if they also gave him documentation where the Icebergs are!
divacape cape town
VdC you’re making me laugh !
holadict cardiff south wales
Another Cunard boo boo! Perhaps they are taking us overland from Walvis Bay!!!!
divacape cape town
Maybe they Meant the CTICC which is the Cape Town International Centre where they again can’t dock at cause its on the highway but can dock near it!
Steve C Grantham, England…
Just rang Cunard as I am on the same cruise as you and getting off at Cape Town. Lived in CT so have organised my hire car to meet me at the docks as I am in a wheelchair but I was told told you will be bussed to the Exhibition Centre as it is nearly a mile inland. The QM2 is docking at no 2 jetty V and A waterfront which isn’t where I thought it would be and is closer to the taxi ranks than Duncan Dock. See you on board – I am a big guy, bald, with one leg
holadic cardiff south wales
Thanks Steve C, I was uncertain where to arrange our taxi for as we are also leaving at Cape Town and spending 8 nights there. Will look out for you when onboard
Van_de_Caab Cape Town
No 2 Jetty at the V&A Waterfront is 208 metres long. The QM2 is 345 metres long. Friends arrived here on the Pacific Princess some months ago. I watched it dock in the V&A (Jetty 2). It just about managed to manoeuvre into the berth. It is 181 metres long – half the length of the QM2!!
I think the captain has a REAL problem – LOL!
Earlier this year when the QM2 was here it docked at the Eastern Mole in Duncan Dock. I am sure it will again. – http://capetownnewsblog.com/?p=291
As you can see from the picture the quayside here is quite narrow which is presumably why passengers are being bussed to the Good Hope Centre for immigration and other disembarkation.
Nou-ja, dankie mense, nou weet hierdie aspirant-passasier darem ook! (hvd)
Dec 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
My vriende weet dat ek ‘n tikkie waarheid oor myself verklap as ek Kenneth Galbraith goedkeurend aanhaal: “Modesty is a vastly overrated virtue”. Maar onbeskeidenheid kan soms dreig om hand-uit te ruk. Ons beleef op die oomblik iets daarvan.
Beskeidenheid is ongelukkig ‘n redelik skaarserige item in vele persoonlike huldeblyke aan Nelson Mandela wat oral opduik.
My Nieman-maat van 1976/77, Jack White van Amerika, stel dit op Facebook soos volg:
“Have you noticed how so many of the tributes to Mandela start out with how well that person knew him? And how honored they were to know him? Ego-tripping eulogies…..self-reverential tributes…”
Jack is ‘n gesiene swart Amerikaanse joernalis, wat in ‘n stadium by die tydskrif Time in ‘n sleutelposisie was. Oor die Suid-Afrika van daardie jare het ek en hy in ons Niemanjaar vasgesit. Oor baie ander kwessies het ons nogal by mekaar aanklank gevind. Ons kinders was saamspeel-vriende.
Ook oor die die selfverheffing in Mandela-huldeblyke is ek dit met die ou siniese rakker eens. Soos blykbaar in Amerika, is die “ek”-faktor in Suid-Afrika steurend opvallend wanneer sekere mense oor hul eie ”spesiale oomblikke” met Madiba getuig.
”Hy het spontaan vir my geglimlag; hy het my hand geskud; hy het my by die huis gebel; hy het (reken net!) my kind se hare deurmekaar gewoel.” Foto’s word opgediep: “Ek en Mandela – sal nooit daardie dag vergeet nie.”
Gelukkig het die uwe die versoeking weerstaan om in ou foto-albums van die 90′s te gaan delf, en persoonlike herinneringe (nie almal ewe pynloos nie) op te diep wat eintlik vir niemand anders as net vir homself werklik van waarde kan wees nie. Sonder vrees dat iemand my agter die deur sal betrap, kry ek dus bogenoemde van die hart.
Moet darem in alle billikheid byvoeg niks wat ek nog iewers ‘n Mandela-huldeblyk onder oë gehad het, kom by die voetwerk van predikantekennis wat ‘n keer ‘n gemeenskaplike vriend begrawe het nie. Soos hy sy boodskap omgebuig het tot so ‘n “ego-tripping eulogy” soos dié waarna Jack White verwys, verg aansienlike vernuf.
En om in anekdote op anekdote oor jou verhouding met iemand telkens as die held na vore te kom, is ‘n kuns wat nie elkeen beskore is nie.
Hoop maar ons bly sulke “self-reverential tributes” gespaar in die dae voor ons, wat – so wil ek voorspel – nog ‘n goeie sarsie” persoonlike herinneringe” na vore gaan bring. (hvd)
Dec 5, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die Van Deventers se jaarlikse Kersbrief/Jaarbrief aan familie en vriende uit Melkbos. Met die skrywe hiervan was die vaart op die Queen Mary 2 einde Januarie nog nie op die horison nie. So vinnig kan dinge verander!

Jacob, Oupa, Thomas, Ouma, Marisa, Christopher, Brent

Mariza, Sam, Johan, Migael
Desember 2013
Een perspektief op die jaar wat was, is ‘n bederfdrankie uit Ouma se kombuis wat stewig ingegrawe geraak het in die Van Deventer-folklore: “Renostermelk” of “babarenostermelk” vir die minderjariges. Dit is een van die gawe dinge waarmee die kleinkinders kuiers by Oupa en Ouma assosieer, hetsy op Melkbos of Sabiepark.
Die basiese resep is dieselfde: een blikkie kondensmelk en 250 ml. room. Meng en breek ‘n sjokoladestafie (“Flake) in. Al verskil: By die “volwasse” weergawe kom ‘n skeut whisky. Voortreflik! Die resep kom uit ‘n resepteboek van Jacob en Thomas se skool, die Laerskool Welgemoed. Ouma het die resep gaandeweg haar eie gemaak.
Meng vir julle ‘n groot beker vol renostermelk, vriende – klein bekers raak te gou leeg! – en drink saam met ons ‘n ryk en lekker heildronk op die ou en nuwe jaar!
Aan die ernstige kant, het die einde van Ouma Marietjie van Wyk se lang, geseënde en vrugbare lewe aangebreek. Sy is op 10 Maart 2013, minder as ‘n maand voor haar 99ste verjaardag, oorlede. Haar laaste rusplek is ‘n nissie by die NGK Melkbos. ‘n Gedenksteentjie is opgerig op die graf op Bultfontein waar sy – voordat soveel dinge soveel verander het – aanvanklik bestem was om saam met haar vroeg ontslape man, Kotie, ter ruste gelê te word.
Hennie het begin Oktober ten einde laaste deurgedruk met die heupvervanging wat drie jaar gelede die eerste keer geskeduleer was. Danksy die gevorderde Amis-tegniek uit Frankryk was hy vinnig pure perd. Ná drie weke was hy terug op eie voete. Hy stap al ente langs die strand en droom van lekker wandelinge in die bos, piekniekplek toe en terug.
Tokkie is soos daardie befaamde, onverwoesbare ou Datsun-enjin wat nie ophou ken nie. Kan darem rapporteer dat sy sorgsaam, dog kwaai, oor HvD se herstel gewaak het.
Op George het Johan sy besigheid met welslae in ‘n nuwe baan gestuur, en het Mariza haar ontpop as kranige skrywer van persverklarings, onder meer vir die “Pink Trees for Pauline”-kampanje en Estée Lauder. Haar skoonpa beweer al lank sy is uitgeknip om te skryf. Migael is nou al sewe en geniet sy skooltjie – ondanks die inbreuk op sy speeltyd saam met sy onafskeidbare Labrador Sam. Hy reageer relatief na verwagting op die intensiewe sorg wat sy spesiale omstandighede verg.
In Welgemoed geniet die gesin Claassens in die algemeen voorspoed, al het Brent klippe gekou met langdurige stakings in die fabrieke onder sy vlerk, wat hy boonop met sy studies moes probeer versoen – hopelik met goeie gevolg. Marisa ry net kinders rond – na rugby, krieket, atletiek, swem, judo en wat nog. Die hele gesin trap geesdriftig bergfiets. Die seuns se medaljeversamelings groei ….
Sabiepark bly los voor as vakansiebestemming. Ons wintervakansie was ‘n uitgerekte saligheid met hope indrukwekkende olifant-ervarings – ook een skrikwekkende ervaring toe ‘n muur van groot voete op die Onder-Sabie- teerpad onstuitbaar op die Honda’tjie afgestap kom. Die plan is om in die nuwe jaar ‘n ekstra Aprilvakansie in die bos in te pas.
Die vaart Walvisbaai en Lüderitz toe was soos teer – ons lus steeds meer. Ons het in Maart ‘n kort vaart in die vooruitsig, terwyl ons advertensies fynkam vir hopelik nog ene in die nie te verre toekoms. Die luilekker lewe op ‘n groot skip met net die oseaan om jou geval ons. Kort wegbrekies van so twee, drie dae sorg ook vir lekker ervarings in die herfsjare. Sulke besoekies aan Kaappunt se kontrei , aan die verruklike Franschhoek en die skone Slanghoekvallei was vanjaar hoogtepunte.
In Julie behoort die boskampie Balule aan die Olifantsrivier in die Krugerwildtuin weer aan die spannetjie gryse Kollegemanne wat, op Hennie se inisiatief, sedert 2012 al ses rondawels vir ‘n paar nagte huur. Die GROOT kampvure, feestelike braai-etes onder die sterre en genotvolle uitruil van onthou-jy-nog-stories is al stewig as nuwe tradisie gevestig. Net jammer jy moet so vroeg roer as jy ambisies het om Balule voor al die ander aspirante op te raap!
Ons sien uit na 2014. Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.
Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand
(hvd)