VIVA, TUTU, VIVA!

tutu

Middag uit Melkbos

Oor Desmond Tutu se uitsluiting uit die Qunu-gedeelte van die begrafnis – die laaste afskeid van Nelson Mandela – kan ‘n mens net die kop skud. Dit is ‘n boesemvriend van Mandela en ‘n voorste stryder in die “struggle” wat sleg in die gesig gevat word. Iemand sal moet verduidelik.

Oor Tutu se optrede by die Mandeladiens het ek, soos julle dalk weet, ‘n warm gevoel in my hart. Het my waardering dadelik op FB betuig. Het ook vir die drie Afrikaanse dagblaaie briefies gestuur oor die groot simboliese betekenis in my oë. Beeld het my brief gister geplaas. Die Burger en Volksblad vandag. Ek is dankbaar.

Op die foto hierby bid hy in keurige Afrikaans om “geweldige seën” vir ons land.

Vir diegene wat dit nie in een van die koerante raakgelees het nie en dalk belangstel, herhaal ek die brief hier:

Vasberade, vreesloos en versoenend. Só het ek en vele vriende die kragvertoning van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu by die veelbewoë Madiba-gedenkdiens in bewondering en dankbaarheid beleef.

Die 82-jarige Tutu het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. In sy kortstondige kamee het hy die rustelose skare in ‘n stonde tjoepstil gehad. Jy kon inderdaad “‘n speld hoor val”. Hy het hulle eerbiedig laat opstaan. Dit moet leeuemoed geverg het om in uitdagende omstandighede so onverbiddelik op dissipline en respek vir die ontslapene aan te dring.

Toe het hy kragtig gebid – in Engels, Xhosa en ook foutlose Afrikaans uit die hart. Hy het, soos dit hoort, die Here opreg en oorvloedig gedank vir ‘n samesnoerende simbool soos Madiba, en Suid-Afrikaners opgeroep om te gaan lewe soos dié ikoon sou begeer.

Die woord “versoening” het sedert die dood van Nelson Rohlihlahla Mandela oor vele lippe gerol. Niemand het in hierdie dae in my oë aan die ontwykende ideaal van nasieskap en samehorigheid daadwerkliker soveel inhoud gegee soos die immergroen “Arch” nie.

Deur sy klinkende daad het hy heelwat van die voorafgaande onwaardige wangedrag ongedaan gemaak. Maar meer nog: Vir Afrikaansprekendes had hy die uitreik-boodskap: “Julle en julle taal hoort hier, ook op hierdie podium. Julle is ook volledig ingebind in die Madiba-filosofie.”

Hy het daardie insig nie gefluister nie, maar met ‘n fiere stem so hard en duidelik beklemtoon dat almal wat ore het, dit moes hoor.

Viva, Desmond Tutu, viva! (hvd)

STOUTE “HELLE GUCCI”

DeenDeen1

More uit Melkbos

Politiek raak net ‘n plesier
As so ‘n stoute premier
Die gange van mag
Met haar skoonheid versier.

Hierdie HvD-versie sal nie ‘n verseboek haal nie. Helle Thorning-Schmidt, eerste minister van Denemarke, wat beroemd/berug geraak het vir haar “selfie” saam met Obama en Cameron by die Nelson Mandeladiens, roer egter die “digterlikheid” in die ou man se gebeente.

Hierdie 46-jarige moeder van twee, premier sedert 3 Oktober 2011, is beslis nie jou konvensionele eerste minister nie. Sy word deur minstens vyf dinge onderskei: Sy is ‘n vrou, sy is aantreklik, sy het baie mag, sy tree op soos ‘n gewone mens en sy is getroud met die seun van Neil Kinnock, vorige leier van die Britse Arbeidersparty.

Haar klerekas en “stout” reputasie het vir haar in haar geboorteland die bynaam “Gucci Helle’ verwerf. Haar profiel is een wat jy gewoonlik met die vrou van ‘n sokkerspeler of ‘n model sou assosieer, nie met ‘n eerste minister nie, word geskinder.

Hoeveel premiers, sou byvoorbeeld, op ‘n openbare vergadering hekelaars oor haar klere pront meedeel: ‘Ons kan nie almal soos ‘s***’ lyk nie’? Of ‘n militêre vliegtuig na oorlogsgeteisterde Libië bestyg in ‘n kamoefleerjas en stilettos, met ‘n helderrooi Gucci-handsak?

Die opskrif in een Deense koerant was: “|Helle Vat Haar Handsak Saam Oorlog Toe”.

Fluisteringe word al hoe meer gehoor oor die rol van Botox in haar voorkoms.

Helle en haar jonger man, Stephen (42), het twee dogters en is getroud sedert 1996. Hul huwelik is, soos syself, ongewoon. Hy woon in Davos, Switserland, en kuier net naweke tuis. Sy gedurige afwesigheid het al belastingverleentheid vir die egpaar veroorsaak. Dit het ook gerugte gevoed dat hy sogenaamd “gay” is. Die eerste minister was in ‘n stadium verplig om te ontken dat dit die geval is. “Dit is so grotesk. Dit is onaangenaam dat mense so van ons praat.”

Intussen speel die Dene heerlike “selfie-selfie” sedert hul premier se stuitigheidjie in Soweto. Een opposisie-
parlmentslid spog selfs met ‘n selfie waar hy ‘n soentjie op die eerste minister se wang plant!

(Dankie, Google, vir heelwat van die inligting. Die blog word geplaas om lesers van die “Melkbos Mail” ingelig te hou voordat die Sondagkoerante more die straathoeke tref.)

(hvd)

LEES OF LOS!

Middag uit Melkbos

Val amper uit die stoel toe die Litnet-skakeltjie hierby vanmiddag uit die bloute op my neerdaal. Weerspieel seker ‘n taamlike gebrek aan beskeidenheid om dit hier te plaas, maar het tog maar goedgedink om my blog-vriende daarmee op te saal – om te lees of nie te lees nie, deur te blaai of nie deur te blaai nie.

Een ding is seker: Oor hierdie ou is nog nooit iets uitvoeriger op skrif gestel nie en sal ook nooit weer nie. Wat die plasing vir my minder van ‘n turksvy maak, is dat ek ook maar plek-plek taamlik geraps word. Oordele van Cecile Cilliers, At van Wyk en Tobie Wiese is nie oral sonder angels nie!

http://www.litnet.co.za/Article/2013-hennie-van-deventer-1941

(hvd)

MANNETJIES SE DUIK

mannetjies

mannetjies1

Die foto van die sierlike duikslag kom met komplimente van Frikkie van Rensburg. Dit is geneem deur Volksblad-hooffotograaf Lappies Labuschagne.

More uit Melkbos

In die “Sarie” van 17 Mei 2011 het Martie Swanepoel daardie beroemde drie van Mannetjies Roux meevoerend beskryf wat nou, volgens ‘n resensie, as “refrein” in Paul Eilers se rolprent “Stuur groete aan Mannetjies Roux” gebruik word:

“Dit het alles begin met ’n losskrum in die Springbokke se halfgebied. Bloemfontein, 25 Augustus 1962. Die laaste SA toets teen die Britse Leeus op hul toer deur suidelike en Oos-Afrika.

“Awie Labuschagne van die SAUK het destyds die prentjie oor die radio ingekleur: ‘Mannetjies Roux is op die middellyn, hy swenk buitentoe en klop vir Cowan, dan sny hy weer binneveld toe by Budge Rogers verby. Dis nog net Willcox voor hom. Roux maak reguit, hy mik kantlyn toe en skiet weer veld in soos ’n blits by Willcox verby.Mannetjies Roux . . . M-a-n-n-e-t-j-i-e-s R-o-u-x! Hy is op die kwartlyn. Hy trap vas en duik soos ’n spuitvliegtuig oor die doellyn! Dis ’n drie. Dis mooi. Dis voetbal!’

“Sommige sê Mannetjies Roux het daardie dag 25 tree deur die lug getrek voordat hy die glorie van die gras agter die doellyn geproe het. Ander sê dit was nader aan tien. Die rubriekskrywer Blou Willem van die dagblad “Beeld” sê hy het as laaitie geglo Mannetjies kan bo-oor ’n Harvard-vliegtuig duik!”

Lees net weer. Daardie toets was … in Bloemfontein. Die Vrystaat-stadion. Nie Loftus nie. Die uwe was op die paviljoen. Hy onthou dit soos gister. Herman le Roux, befaamde rugbyskrywer van daardie era, bevestig op navraag dat HvD nie verkeerd onthou nie.

In Die Burger se (gloeiende) resensie van die fliek vandag waag Laetitia Pople van “die legendariese oud-Bok Mannetjies Roux se drie op 25 Augustus 1962 in die Springbokke se wedstryd teen die Britse Leeus op LOFTUS …”

Fout, me. Pople. Hoop nie die fout kom in die rolprent ook voor nie. Dit sal hierdie aspirant-kyker se flieklus skoon wegvat as so ‘n kritieke fout in die fliek begaan sou word. Ongelukkig beduiwel een so ‘n fout die geloofwaardigheid van ‘n hele projek. Kom ons hoop maar dis net die geloofwaardigheid van die resensie wat hier in die hek duik – met ‘n sierlikw duik, soos ‘n Mannetjies op sy beste! (hvd)

Naskrif: Die kommentator was inderdaad Awie Labuschagne – nie Gerhard Viviers nie.

EEN GEZELLIGE SELFIE

Obama+selfie

More uit Melkbos

Verbeel jou ‘n plegtige staatsbegrafnis in die Westminster-Abdy in Londen of die St. Mathews-katedraal in Washington.

Oral sit staatshoofde met strak gesigte en geboë hoofde terwyl die somber verrigtinge hul fyn uitgewerkte loop neem.

Een van die presidente/premiers pluk skielik sy selfoon uit. Die twee ampsgenote neffens hom skuif nader. Guitig glimlag hulle vir die kamera. Dit klik en die drie bekyk baie in hul skik met die gesellige, opgeruimde “selfie”.

Ondenkbaar?

Wel, kyk gerus na die foto hierbo van seker die ligsinnigste oomblik van die ENB-gedenkdiens gister in Soweto (en daar was nogal ‘n hele paar!).

Die Nederlandse koerant De Telegraaf berig:

Een bijzonder moment tijdens de herdenking van Mandela Dinsdag. President Obama en premier Cameron poseerden samen met de Deense Helle Thorning-Schmidt voor een ‘selfie’. Op een foto is te zien hoe de drie naar elkaar toe buigen voor de foto. Foto: Instagram.

Lyk nie of die roudiens juis die hoë besoekers se onverdeelde aandag geniet nie!

Terloops, mev. Michelle Obama lyk nie juis geamuseer deur haar man se grapjastery met die Deense blondine nie! (hvd)