OOP ARMS OF AF ARMS

More uit Melkbos

Daar staan Madiba nou in brons, 9 m hoog, arms uitgestrek en kyk uit oor die stad Pretoria, waar hy as president ingehuldig is en die laaste drie dae voor sy begrafnis in Qunu in staatsie gelê het.

In hierdie stad, met sy naam diep ingekerf in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ’n baken op landkaarte oral in die wêreld, lê dus ook onuitwisbare spore van hierdie legendariese vryheidstryder en ver-soener.

Maar nie net Madiba se persoonlike spore nie.

Ook dié van die vryheidstryd self, soos van die opmars van 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die einste Uniegebou om teen die paswette te betoog.

’n Mens sou reken dat die naam Pretoria in die lig hiervan vir die ANC ’n gewigtige simboliese en emosionele betekenis sou hê: die groot vesting wat verower is en waar ’n ander mag nou setel as in 1910 toe die indrukwekkende Uniegebou opgerig is.

Sou die ANC werklik nie in sy hart der harte verkies dat Madiba sy arms uitstrek oor die historiese stad Pretoria nie?

Is die naam Tshwane met sy onsekere herkoms en geweldige verdelingspotensiaal werklik vir hom meer as net spierebult en afknouery – ’n ydele gryp na ’n suigstokkie om kortstondig oor te kraai?

As die ideaal van versoening voor magsvertoon moet swig, kan die oop arms van daardie beeld maar afgekap word.

(My briefie uit Melkbos wat vanoggend in die dagblad Beeld verskyn het)

(hvd)

VIVA, TUTU, VIVA (2)

Naand uit Melkbos

Na vanaand se E-nuus op TV voel ek des te meer om uit te roep: Viva, Desmond Tutu, Viva! Dankie Afrikaanse dagblaaie dat julle my brief na die Soweto-diens so prominent geplaas het – hierdie man is ons beste vriend.

(hvd)

DAG IN MAURITIUS

Middag uit Melkbos

Mauritius, hier kom ons – maar net vir ‘n paar uur.

Ek dink daaraan om van die hawe ‘n taxi te vat Grand Baie toe en ‘n bietjie daar rond te kuier. Daar is mos ook kort uitstappies per glasboot om na die koraalriwwe te kyk?

‘n Alternatief is Trou-aux-Biches, maar Mauritiusveterane waarsku dat die strand nie juis dagbesoeker-vriendelik is nie.

Hoeveel roepees (?) moet ‘n ou in kontant saamvat vir so ‘n dag se kuier: taxi’s, bootjie, broodjie en ietsie koels vir die keel (x2)? (hvd)

WEET NOG NIE

More uit Melkbos

Dit is nou Maandagoggend 08:30.

Ek voel oningelig omdat ek na ure se sit voor die TV (Sy-bie-sie. SKY en CNN) en die deurlees van voor tot agter van Rapport gister en Die Burger vandag nie weet waar was FW de Klerk gister, hoe die Tutu-knoop deurgehak is, hoe die begrafnisbrief gelyk het (hoeveel bladsye, watter foto’s, ens), wat die Kwien van Ingeland vir Madiba geskryf het, en hoe Jurgens Prinsloo lyk wat die Hercules met die kosbare vrag op sy laaste vlug Mthatha toe gebring het nie.

Die belangrikste wat ek nie weet nie is: Wat was die impak op die oudstes van die Temboestam van die voeteslepery van die langasem-toespraakmakers sodat Madiba nie 12:00 toe die son op die hoogste was in sy graf was nie? Is dit maar vir tradisie/kultuur/voorvaders goed so dat hy ten minste voor 13:00 in was?

(hvd)

TOT SIENS, MADIBA

IMG_9640

Naand uit Melkbos

Tot siens, Madiba, met ‘n laaste sonsondergang oor Robbeneiland. Die foto is vanaand, 14 Desember, net voor 20:00 van ons stoep op Melkbos geneem, die aand voordat Madiba se gebalsemde oorskot in die golwende groen heuwels van die Qunu-kontrei, soos die Temboes dit kleurryk stel, in sy geboortegrond “ïngeplant” word. Robbeneiland is ‘n entjie meer suid as die linkerhoek van die foto. (hvd)