ENGELSE SEBRAS (VERVOLG)

Middag uit Melkbos

Dankie aan almal wat so lekker saamgesels het oor die Van Deventers se ontnugtering met die Engelse sebras. Ek antwoord nie een vir een nie.

‘n Skriftelkike beswaar wag vir die Ster-Kinekormense as die kantore more open. Het nie veel hoop nie, want die storie wat die klagtelyn-meisie te vertelle het, verontskuldig Ster-Kinekort volledig. Alles word is op Die Burger se brood gesmeer. “Fout in die advertensie”, en Ster-Kinekor kan niks daaraan doen nie.

Ongelukkig vir haar weet ek darem geen advvertensie kan ingaan tensy ‘n proef afgeteken is nie – so was dit immers in my dae. Dit verplaas die skuld vierkant terug waar dit hoort.

“Fout in die advertensie” verklaar ook nie die flitsende “Afrikaans” op die bord by die kaartjieskantoor by die 17:15-vertoning in die Cine10 nie. Kleinseun Jacob kan instaan dat Oupa nie teen sy oogvelle vasgekyk het nie.

Was daar wel ‘n Afrikaanse vertoning om 17:15 in ‘n ander teater, sou ek weet.

“Nee, “was die antwoord. “Net een vertoning om 17:15 en dit is in Engels”.

Die “plot thickens”, soos ‘n Ingelse sebra sou opmerk. Nou wag ek maar. (hvd)

SEBRAS PRAAT NET ENGELS

More uit Melkbos

Op grond van ‘n advertensie in Die Burger is ons gistermiddag van Melkbos oor Tygervallei toe om die animasiefliek Khumba in Afrikaans te gaan kyk.

Ons het ons kleinkinders in Welgemoed opgelaai en ons kaartjies gekoop nadat ons ook op die bord by Ster-Kinkekor seker gemaak het die 17:15 -vertoning is wel in Afrikaans.

Wat was ons verbasing toe Khumba in Cine10 begin rol – die sebratjies (en ander diere) het net Engels gepraat, party nogal met ‘n sterk Amerikaanse aksent. .

Agterna het ek by die bestuurder gekla. Ons het ver gery en duur betaal vir kaartjies – R265 vir ons spannetjie – weens ‘n misleidende, inkorrekte advertensie en misleidende, inkorrekte inligting op die bord by die kaartjieskantoor.

Sy het ons ervaring as “horrible” beskryf maar tog haar skouers opgetrek. Geen sprake van kompensasie nie, jammer, al stem sy saam ons het nie gekry waarvoor ons betaal het nie.

Ons fout, volgens haar, was dat dat ons nie opgestaan het en uitgestap het nie. Maar as ons uitgestap het, wat dan? Moes ons doodeenvoudig die teleurgestelde kinders by die huis gaan aflaai en terruggery het Melkbos toe – al die moeite, koste, tyd en energie dus maar op ons maag skryf en met ons hemp doodvee?

Ten tweede, as ons uitgestap het,sou ons en ons kleinkinders nooit saam by enige Khumba uitgekom het nie, wat nog van by die Afrikaanse een. Ek sou nie weer daarvoor van Melkbos af ry nie. Die kinders se program is boonop te vol.

Ten derde, as ons uitgestap het en kompensasie is steeds geweier, wat dan? Dan het ons R265 plus al die ander koste (petrol, springmielies en wat nog) in die water gegooi.

Klaarblyklik was die vertoning van Khumba in Engels om 17:15 ‘n ligte mistykie. Iemand het ‘n verkeerde knoppie gedruk. Ster-Kinekor het geen poging aangewend om die fout te verduidelik nie.

Is dit maar net nog ‘n geval van minagting vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes? Moet ons maar sluk en stilbly?

Ek is beswaard, en ek dring aan op ten minste ‘n verskoning vir sulke onbeholpenheid. Of ‘n bewys dat ek weens ‘n eie misgissing met my spannetjie in ‘n verkeerde Cine sit en kyk het. Dan is ek die een wat om verskoning moet vra.

(hvd)