KLEIN FRANKRYK

Franschhoek6

Franschhoek4

Franschhoek5

More uit Melkbos

Ons paaie het met twee busvragte Franse toeriste gekruis terwyl ek en Tokkie te voet die strate van Franschhoek aandurf. Die Franse was duidelik ingenome. Dié “klein Frankryk” aan die suidpunt van Afrika het vir hulle iets beteken – ‘n aanvoelbare spesiale band met die verre stamland soos Hollanders nêrens hier te lande kan ervaar nie.

Kollega Johan van Wyk het Franschhoek onlangs tong in die kies “La Petaal” gedoop. Moet met Johan saamstem van die Fransheid is aangeplak en oordrewe, en pryse in die algemeen maar rof. Maar ek, met die Hollandse bloed van emigrante uit die Over-Ijselse stadjie Deventer in my are, voel tog jaloers dat Suid-Afrika nie ‘n plek het wat die Hollandse kultuur dermate in ere hou nie.

Die Fransheid van Franschhoek is op die keper beskou verreweg nie net geleë in name met “La”, “Le”, “Petite” en wat nog waarmee Franse besoekers hulle kan vereenselwig nie. Pretensie of nie, die plek het styl en ‘n ouwêreldse grasie wat daaraan ‘n spesiale karakter verleen.

Selfs hierdie verloopte Hollander (stamvader Gerrit Jansze, gebore ‘n jaar na Jan van Riebeeck se historiese suidwaartse vaart, was een van die eerste vryburgers en het hom in 1687 by Stellenbosch gevestig) het, tesame met die tikkie jaloesie, darem ook heelwat behae gehad aan die Europese kultuurgoedere wat by Franschhoek behoue gebly het.

By die Hugenotemonument, en elders, staan die “Icebergs” in die blom soos lentebruide. Die oorheersende wit van die Bolandse blommeprag span saam met die oorheersende wit van die ou Kaapse argitektuur wat die diep blou van die berge en die geil groen van die wingerde beklemtoon. Die bekoorlike winkeltjies, stegies, leivoortjies, rietdakke, rye koningsproteas en algemene atmosfeer van die dorp laat jou dink een meesterhand was hier vir ‘n holistiese bloudruk verantwoordelik.

Dis die gevoel wat jy in van Europa se mooiste dorpies kry – ook in die dorpie Carmel aan die Kaliforniese kus, naby San Francisco (waar Clint Eastwood in ‘n stadium burgemeester was). Dan is Franschhoek waarskynlik Suid-Afrika se netjiesste dorp waar geboue, strate, tuine en grasperke alles bydrae tot ‘n kraakvars geheel. My kamera se battery kon dit nie hou nie. Moes later doelbewus vuis maak om die sluitervinger se spontane sametrekkings te beheer!

Pas inderdaad op vir die plekke met die hoë vlagpale, soos Johan van Wyk gewaarsku het. Die meeste se teikenmarkte is ver bokant Jan Alleman se bykomplek! Maar om ‘n paar minute in die historiese NG kerk met sy indrukwekkende houtplafon te gaan stilsit en dankbaar voel oor die skoonheid romdom jou kos niks. Om die Franschhoekpas op te ry en oor die vallei met sy spikkels wingerd, wit geboue en damme af te kyk, kos jou niks meer as die brandstof nie.

Lus vir ‘n bietjie selfbederf? Geleenthede is legio. Maar La Motte (Hanlie Rupert se landgoed) met sy Pierneef-galery en –restaurant bied baie; Le Franschhoek (die ou Swiss Farm Excelsior) klou prentjiemooi aan sy “eie” berg, en Koos Bekker se Babilonstoorn is werklik die moeite werd om te verken. Vat net gemaklike stapskoene saam vir die wandeling deur die uitgestrekte organiese groente- en kruietuine op pad na die glaskas (“Greenhouse”) vir ‘n wyntjie of ‘n koppie boeretroos. Die paadjies is met perskepitte uitgelê – nie ideaal vir spykerhakkies nie! (hvd)

KNIPOOG IN DIE DONKER

More uit Melkbos

‘n Mens wat nie sy produk adverteer nie, is soos iemand wat in die donker knipoog – net hy weet wat hy doen. Hierdie stukkie wysheid van ‘n advertensie-guru het in my kop vasgesteek.

Deesdae se fliekadvertensies is ‘n voorbeeld van ‘n knipoog in die donker. Teaters adverteer wel, maar nie juis so dat ‘n mens dit kan agterkom nie. Die advertensies word al hoe kleiner, al hoe meer ingeprop en al hoe onleesbaarder – klaarblyklik as besparingsmaatreël.

Sekere owerheidskennisgewings nooi jou uit om dit liefs oor te slaan. Dit herinner aan die fynskrif van ‘n kontrak, en laat jou skepties wonder wat hulle nou weer met watter onheilige motiewe by die publiek wil probeer verbysmokkel.

Om ‘n ding te wil inprop in ‘n lettertipe (font) wat dit vir ‘n groot gros lesers onleesbaar maak, is natuurlik nie nuut nie. In my tyd as redakteur was die perdeblad in elke koerant al ‘n gruwel. Jy moes brand van perdedrif of ‘n versamelaar van vergrootglase wees om dit te absorbeer.

HvD het gou ‘n reputasie gekry dat hy nie ‘n vriend van die perdeblad was nie. Dit het hom in vele oë as ‘n ignoramus gestempel. Kyk dan hoe wed die mense! Perderedakteurs – elke koerant het een gehad, soos daar in die ou ou dae selfs tronkredakteurs was wat namens hul base tjoekie toe moes gaan – kon nie glo dat sulke stompsinnigheid agter die masker van redakteurskap kan skuil nie.

Wel, ek rapporteer dankbaar dat peredeblaaie en perderedakteurs nie meer deel van die koerantopset is nie. “I have not always been wrong”.

Beursblaaie het ook maar in ‘n stadium nie uitgeblink in leesbaarheid nie. ‘n See van verwarrende, klein kodenaampies en syfers, syfers, syfers het selfs gretige lesers maar taamlik afgeskrik. Moet erken: latere geslagte se tipograwe het aan die blad wondere gedoen. Lyk aantrekliker, lees makliker in hul moderne gedaante as die Beursblaaie van die 60’s en 70’s.

Maar terug by fliekadvertensies. Kan Ster-Kinekor (en Metro) nie besef hoe hulle hulleself in die voet skiet as hulle so in die donker staan en knipoog nie? Wonder hoeveel mense bly nie sommer net weg uit frustrasie nie omdat die inligting so onaptytlik opgedis word.

Die antwoord is tog glashelder duidelik: Koop groter ruimte of benut die klein ruimte beter. ‘n Knap, kreatiewe tipograaf sal wel ‘n plan kan bedink.

En koerante? Hulle behoort geen adverteerder toe te laat om hul advertensiesente so te knyp dat dit lesers die harnas injaag nie. Daar behoort maatstawwe te wees van die kleinste skrif waarin inligting aangebied mag word. As ‘n dwase adverteerder kleiner wil gaan, sit die voet dan ferm dwars teen sulke misbruik van jul kolomme. As die bedryf kan saamstaam en algemene standaarde afdwing, des te beter.

Hierdie ou glo: As iets die moeite werd is om te plaas, is dit die moeite werd om so te plaas dat dit nie net adverteerders se gewetens salf nie – dit was mos in! – maar ook vir lesers ‘n diens lewer. Die publiek moet kan sien as julle knipoog, mense – anders: Moenie eens moeite doen nie!

(hvd)

VOEDSEL VIR DIE SIEL

Philadelphia2

Middag uit Melkbos

Kerkbywoning is nie op almal se vakansieprogram nie. Vandag rig ek my tot diegene wat nie wegbly van die kerk af as deel van die vakansieskedule sien nie – nes bv. kansellasie van die koerant en onderdak vir jou troeteldiere.

Vir sulke soort mense wat suidwaarts kom Kaap toe, wil ek ‘n geheimpie verklap: Die NG gemeente Philadelphia. Soos ‘n kerdiens vir Wildtuingangers in die Skukuzakerk volgens my ‘n moet op hul program behoort te wees, verdien Philadelphia vir Kaapse kuiermense op hul Sondagrooster ‘n ereplek.

Philadelphia

Ek en Tokkie het vanoggend weggeloop Philadelphia toe. Nie die eerste keer dat ons daar in die kerk kom nie; wel die eerste keer vir ‘n Sondag-erediens. Dit is baie anders as vir ‘n begrafnis! Jy ervaar met die intrap die warmte en gemeensame hartlikheid van die gemeente onderling, en raak des te meer bewus van die atmosfeer van die karaktervolle kerkgebou met sy Oregonden-preekstoel, plafon en banke wanneer daar nie somberheid in jou hart is nie.

Die sierlike kerkgebou is in Januarie 150 jaar oud (die gemeente is 150 in Desember) Sommer as jy stilhou, word jou ore gestreel deur die gekoer van die tortels in die gedugte bloekoms op die plein om die kerk (almal bome met ‘n “houding”, meen Tokkie). Eers binne in die wit kerkgebou, raak jy meegevoer deur die welluidende klanke van ‘n indrukwekkende ou pyprrelorrel. Orrelis Piet Geldenhuys is nie bang vir volume nie!

‘n Spesiale bonus was die een of ander MG-saamtrek in die skadu van die bloekoms op die kerk se parkeerplek. Een spoggerige rooi 1948-MG’tjie, spiekeries gerestourreer, het hierdie motorentoesias se hart veral laat bons. Verrassings soos die MG-saamtrek is deesdae nie skaars op Philadelphia nie. Die pragtige,landelike Swartland-dorpie, ‘n klipgooi van Melkbos af raak, ‘n al hoe betekenisvoller roplspeler op die Kaap se toeristekaart.

Agterna het ons by die gewilde Green Pepper koffie gaan soek. Onder die reuse-peperboom was nie plek nie. Die tafels wat nie vol was nie, was bespreek. In die stal met sy dik baksteenmure en houtgrendels was die capuccino en roosterbrood (kaas, spek en avokado) egter ewe lekker as buite. Terwyl ons daar was, is die swartborde met die middagetespyskaart uitgedra. Die borde is van bo tot onder vol geskryf met die fynste, fynste swartbordskrif. Wil nie eers begin om die verleidelike geregte op te noem nie. Genoeg om te sê: die versoeking was groot om sommer vir middagete aan te bly!

Die Green Pepper is natuurlik nie al aanloklike eetplek op Philadelphia nie. Die Malle Meule (waar die tweeling se dooptee nege jaar gelede was), bly ‘n sjarmante plek met hope ouwêreldse karakter. Die Malle Meule was eerste wat mense na die dorpie begin lok het. Rondom hom het die Pepper Tree en verskeie ander kunsgalerye, geskenkewinkels en kuierplekkies ontstaan.

Moenie Philadelphia misloop nie – hy kook. Dis ‘n lekker plekkie in ‘n omgewing wat enigeen na skilderkwaste sal laat gryp. Maar kom veral op ‘n Sondag en sluit ‘n erediens in. Die voedsel vir die siel is gratis. Die diens begin om 09:00.

(Vir diegene wat op pad is Wildtuin toe, onthou die erediens in Skukuza begin reeds om 08:30 – genoeg tyd oor om agterna die leeus te gaan soek , as leeus jou dryfveer is). (hvd)

GEAGTE STER-KINEKOR

ster-kinekor

More uit Melkbos

Het vandag die volgende briefie aan ene Lynette by Ster-Kinekor gerig n.a.v. haar mededeling dat my klagte oor Khumba se Engelse sebras na die betrokke teater (Tygervallei) verwys is.

Beste Lynette

Ek hoor niks van Ster-Kinekor Tygervallei oor my klagte nie. Die bestuurder het die middag na die vertoning aan my gese sy het nie die jurisdiksie om iets aan die saak te doen nie, omdat ons nie opgestaan en uitgestap het nie. Sy meen klaarblyklik die saak is afgehandel.

Hoekom sou ons egter uitgestap het? Dan was al ons moeite om van Melkbos Tygervallei toe te ry vergeefs, al sou ons dalk (?) ons geld teruggekry het.

Dit is nou vir my duidelik hoe die verwarring ontstaan het.

Ons het in Die Burger se advertensie (aangeheg) die Khumba-advertensie gesien vir ‘n Afrikaanse vertoning om 17:15. Die advertensie is in baie klein druk en uiters moeilik om te lees. Toe my oog val op Khumba, Afrikaans en 17:15 is ek nie verder met ‘n fynkam deur die advertensie nie. Hoekom sou ek verder bly soek? As ongereelde fliekganger was ek nie bewus van vier verskillende weergawes van die betrokke animasieprent nie.

By die kaartjieskantoor is ‘n groot bord met die name van die flieks wat vertoon word. By Cine10 was Khumba om 17: 15. Die woord “Afrikaans” het aan en af geflits – hoekom weet nie (dalk ‘n kortsluiting). Ons was oortuig ons koop kaartjies vir die regte vertoning totdat die eerste beelde op die skerm verskyn het – toe praat die sebras tot ons ontnugtering net Engels.

Die bestuurder het ons ervaring as “horrible” beskryf. Maar sy is blykbaar nie bereid om iets aan die saak te doen nie? Ster-Kinekor was ook nou sy hande in onskuld. Ek sal my maar moet berus, hoewel ek my verbasing oor julle gesindheid teenoor klante wat ver gery het en ‘n klomp geld bestee het om hul kleinkinders te bederf nogal verbasend vind. Verbasend en insiggewend.

Neem dan asseblief net kennis dat julle te klein advertensies deesdae (blykbaar om geld te spaar) , die in-die-blik-drukkery van kaartjiekopers by die kaartjiestoonbank en die aan en af flitsery van die woord “Afrikaans” op die elektroniese bord groot verwarring veroorsaak het. ‘n Melkbosse vriend van my, Thys Slabber, se kinders het presies dieselfde oorgekom as ons. Ek sou ons nie as dommer mense as die gewone beskou nie!

En laat weet darem net of daar inderdaad om 17:15 ‘n vertoning in Afrikaans was, soos geadverteer. In watter teater dan, asseblief?

Sodra ek van u verneem, sal ek die feite op my blog verstrek, waar my ongelukkige ervaring met Khumba en Ster-Kinekor nogal heelwat aandag getrek en heelwat skerpe reaksie op Ster-Kinekor se dienslewering uitgelok het. Gaan lees gerus by http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer
(hvd)

VRA IS VRY

More uit Melkbos

Hoe ouer ons word, des te swaarder weeg ons, want des te meer versamelde inligting word in ons koppe rondgekarwei. Kan nie nie onthou aan wie daardie kwinkslag toegedig word nie.

‘n Element van waarheid steek bepaald in die opmerking oor die volume inligting in ons koppe.

Hierdie bejaarde (koerante noem mos almal oor 70 bejaardes) was enkele dae gelede in hierdie spasie borrelend oor sy heupvervanging en die Amistegniek waarmee dit uitgevoer is. Binne drie tot vyf dae is ‘n mens uit die hospitaal en binne drie weke op jou eie bene, asook terug agter die stuur van jou motor.

Die kontakbesonderhede van die ortopeed is van die waardevolle inligting wat ek in my kop karwei en graag wil deel. Vra net mense …

So is in die kop van elke mens met ‘n bietjie lewenservaring inligting wat vir ander van onskatbare waarde kan wees. As jy maar net altyd weet waar om vir advies aan te klop.

Ons het pas ‘n lugversorger in ons woonkamer laat aanbring – wil nie meer in die westeson sit en braai as dit somermaande dooierus op ons korrel vat oor die Atlantiese Oseaan heen nie. Sal graag daardie firma en sy uitstekende diens wyer onder die aandag wou bring.

In hierdie kop is ook kennis oor ‘n betroubare Melkbosse bouer en ‘n hardewarewinkel met ‘n netwerk kontrakteurs se name op sy boeke waarop ‘n mens kan staatmaak.

Ek weet waar jy vir die lekkerste (en ruimste porsies) seekos in die Kaap kan gaan aansit.

Ek kan jou na ‘n apteker aanbeveel wat graag die ekstra myl vir jou sal loop.

Ek het die naam van ‘n voortreflike spreker wat jou ‘n halfuur kan laat skaterlag met gesofistikeerde humor (nie hvd nie!).

Ek kan ‘n boek aanbeveel wat ‘n bate sal wees vir elke Kerskous (ook nie ‘n hvd-skryfsel nie!).

Kom ek by Sabiepark, is daar net een bosveld-slaghuis vir my. Kampioenwors en tjops wat nie net kosmetiese kwaliteite het nie is gewaarborg – ook uithaler-sosaties, -biltong, -skilpadjies en ander -vleiskos-lekkernye.

Dis nie al nie. Wonder of ek nie met ‘n webwerf moet begin nie: Vra is vry. Of: Helpmekaar!