ONS LY WEENS LUI EN LUI … EN LUI

More uit Melkbos

Klokslag gebeur dit: Praat op die telefoon en hy lui in jou ore. Iemand anders probeer deurkom. Die ergste is: Aan die ander kant hoor die oproeper ook net die telefoon lui, lui, lui. As hy hom lank genoeg laat lui, betaal hy vir ‘n oproep.

Ons ly al hoe lank weens die luiery. Eerste keer by een van Telefoon se diensnommers ‘n hulpvaardige iemand raakgeloop. Dié het lank gewerskaf en toe aangekondig ek moet nog net die een of ander kode intik …. Dan is die Kaap Hollands. Helaas.

‘n Melkbosse vriend ken ook daardie kode. Dit is #66#, deel hy mee. Druk net die regte knoppies. Einde van die pyn. Ek druk maar aikona. Tokkie druk maar aikona. Die gelui in ons ore duur voort. Die begeerde ou besettoon waarmee ons grootgeword het, is steeds skoonveld.

Ander vriende luister simpatiek na ons probleem. Ja, hul telefoon het skielik dieselfde nuk openbaar. Net een raad: Jy moet Telkom toe ry om die spulletjie reg te stel.

Gister doen Tokkie dit. Los haar man, sy nuwe heup en sy kruk veilig op ‘n hoë stoel geparkeer en sit af Table View toe om vir eens en vir altyd van die doring in ons telefoonvlees ontslae te gaan raak.

Sy staan ‘n halfuur tou. Kom by ‘n onbegrypende dame uit. “Problem? What is the problem?” Die antwoord is mos eenvoudig, reken sy: Jy skakel net die mense terug: “Jammer jy kon nie deurkom nie, die telefoon was beset.”

Daarvoor het jy ‘n sekretaresse nodig, protesteer Tokkie. Ons verkies die telefoon moet sommer die ou joppie self doen. Soos al die jare. Asseblief, asseblief, ons pleit vir die herstel van die besettoon wanneer die telefoon beset is. Kan mos nie te veel gevra wees nie!

Gewerskaf op die rekenaar. “Goed, mevrou, jou besettoon is herstel.”

Gisteraand bel ‘n vriendin op die selfoon: “Fout met julle telefoon?” “Nee, Tokkie was op die lyn. Het jy nie ‘n besettoon gekry nie?”

Niks gekry nie, antwoord sy. Heeltemal niks. ‘n Doodse stilte, dit is al.

Toe ek my vrou die resultaat van haar ekspedisie meedeel, kon ek sweer daar glinster ‘n traan in haar linkeroog.

Het iemand iewers tog nie raad nie? Of smyt ek eenvoudig die landlyn by die venster uit? (hvd)

DIE DUBBELBED

Middag uit Melkbos

Hoe hanteer ‘n man dit as die vrou met wie jy 17 jaar heg en in relatiewe harmonie saamgeleef het, skielik jeukvoete kry, en ná die dood van die tweede vrou van haar eggenoot nommer een met amper onbehoorlike haas in sy arms gaan val?

Op Melkbos gons dit oor juis so ‘n gevallestudie – met ‘n ekstra kinkel daarby.

Vrou nommer twee was lank siek. Die oomblik toe sy haar laaste asem uitblaas, is vrou nommer een uitasem na haar ou tuisdorp aan die Weskus om “vir haar kinders te gaan kuier”.

Die volgende verwikkeling was ‘n oproep na Melkbos om haar verslae (gebroke?) 80-jarige saamblyer koeltjies mee te deel sy kom nie weer terug nie. Is dit reg as sy en vorige manlief haar goetertjies die naweek kom haal?

Wel, die Melkbosser was nie uit sy vel nie. Hy was ongeneë om haar so uit sy lewe te sien verdwyn. Maar hy had nie juis ‘n voet om op te staan nie. Watter saamblyers in die senior kategorie tref nou voorsorg teen sulke ontnugterings, met kontrakte, strafklousules en so?

Hy moes onwillig toestem.

Op die afgesproke dag daag die herenigde egpaar by die woonstel met die mooi see-uitsig op. Sonder veel omhaal is sy slaapkamer toe om te gaan pak.

Melkbosser en eggenoot nommer een het ‘n rukkie in die sitkamer sit en oor koeitjies en kalfies gesels.

Toe staan Melkbosser op, haal ‘n paar DVD’s van hom en sy jarelange gesellin op allerlei eksotiese reise in die buiteland uit die kas, en skakel die videospeler aan.

”Kyk jy maar ‘n bietjie hierna,” los hy met groot teenwoordigheid van gees sy onwelkome gas alleen in die sitkamer terwyl die video’s rol.

Hy gaan sit vertroulik op die dubbelbed in hul slaapkamer en hou die inpakkery met ‘n innige seer dop. Ai, daardie dubbelbed sou ná 17 jaar se soet en suur voortaan maar eensaam en leeg wees. (hvd)

KLEIN VUURTJIE

Middag uit Melkbos

‘n Negejarige Kaapse seun ry met sy duur bergfiets skool toe op ‘n “veilige roete”. ‘n Gedaante duik voor hom op en eis die fiets.

Die seun probeer wegkom. Die gedaante herhaal gebiedend: “Gee my jou fiets!” Toe stamp hy die verskrikte seun van die fiets af, gryp sy buit en laat vat straat-af.

Die verslaenheid oor die verlies was groot. Die wrewel het opgeborrel. Die onverwagte kennismaking met gewelddadige misdaad ‘n skok. Die uitwerking op die seun se psige, en dié van sy ewe oorblufte maats, is enorm.

Dalk die ongelukkigste op die lang termyn: Die vlammetjie van weerstand wat deur die nare insident aangesteek is. Al was die skuldige ‘n individu is die groep-identifisering van die bron van die diepe ongeluk en bedreiging net menslik en onvermydelik.

By daardie seun en sy maats is rassisme nie ‘n ingeborenheid nie. Verhoudinge in die klas, op die skoolterrein en op die sportveld is gemaklik en spontaan, sonder enige kleurbewustheid. Uit die bloute dan so ‘n trauma met ‘n kleur-element.

Vingers word maklik na witmense gewys oor hul vermeende rassisme op allerlei vlakke en speelvelde. Maak party “slagoffers” van wit “rassisme” nie ook maar meermale daarna, soos Tyl Uilspieël daarna gemaak het dat mense nie van hom hou nie?

En lees ons nie in die Groot Boek (Jakobus 3) watter groot bos ‘n klein vuurtjie aan die brand kan steek nie? (hvd)

OPERASIEPRAATJIES

IMG_9455

More uit Melkbos

Waaroor gesels die versameling gemaskerde artse en wie nog almal rondom jou prostrate liggaam in die teater terwyl hulle aan jou boor, saag en timmer?

In my geval, gister ‘n week gelede in die Panorama Medi-Clinic, het die gesprek by hengel gedraai, en hoe harde werk die stokperdjie kan wees. Jy moet vroeg roer, hoor, as jy ‘n vissie wil inkatrol!

Ander onderwerpe het by my verbygegaan. Was toe in ‘n diepe droomland. Onthou net dat ek in die arms was van die kleinste verpleegstertjie wat ek nog gesien het toe die spinale blok toegedien is. Hoop sy het my sagkens neergele.

Daarna eers weer begin kennis neem toe ek die onheilspellende geluide uit die rigting van my regterheup begin optel. Boor? Saag? Ek is nie seker nie, maar dit het luid ge-grrrr. Dit is gevolg deur ‘n onmiskenbare doef-doef-doef. Die nuwe heuppotjie is klaarblyklik met ‘n paar stewige rapse met ‘n hamer afgerond.

Voel in elk geval stewig genoeg!

Naskrif: Die foto hierbo het ek op Facebook gesit met die volgende pardodie op die liedjie oor die rooi rok voor die deur:

Hier’s ek wee, hier’s ek wee

met my hups heup by die see;

al slaan jy my nou drie maal op die kop,

dan staan ek op, dan kom ek wee …

tot langs die see.

(hvd)