Aug 8, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
‘n Effense lugtigheid sal my seker verskoon word toe ek vir oulaas die Honda se neus op die S3-rivierpad inswaai vir ‘n Hazyview-besoek. Die vorige twee dae was by Sabiepark se piekniekplek skouspelagtige olifant-tonele: ‘n teeltrop van 40 – waaronder ‘n menigte kleintjies – was in, langs en oor die Sabie, dan hierdie kant, dan daardie kant. Die vorige aand is olifant-teenwoordigheid in niemandsland aan die duskant van die rivier tot laat luidkeels verkondig.
Ek het nie vergeet hoe ek in Junie my op die Onder Sabie-teerpad in ‘n trop aanmarsjerende olifante vasgery het nie. Dit was keel-toetrek-oomblikke. Op die smaller, stiller, beboster S3 kon-gondpad so iets baie erger wees.
Moes immers al voorheen daar ver ente agteruit ry of die versneller wegtrap dat die gruis spat, maar dan was dit telkens darem net een ou bul se moedswilligheid.

Op pad terug kry ons die groot trop toe wel. Gelukkig egter geen bedreigende situasie nie. Die meeste is op ‘n fluks drafstap voor ons verby oor die pad rivier toe. In die tru-spieëltjie kon ek sien ook agter ons is ‘n paar oor die pad.
In ons boshuis Tarlehoet is vele herinneringe aan olifant-ervarings. Teen die mure hang minstens vier groot prenterame met foto’s. In die boekrak is, buiten my Mayafudiboeke, ook ‘n bundeltjie oor ons eerste dekade in Sabiepark, wat in 2007 ten einde geloop het. Die titel is “Olifante Onbeperk”.
“Olifante Onbeperk” inderdaad.
Nooit, nooit in al die jare is ‘n vakansie dermate deur olifante oorheers soos hierdie nege weke in die winter van 2013 nie. In “Solly se boekie” by die ingang van die piekniekplek – Solly is die opsigter daar – was in hierdie tyd 15 inskrywings van 10 olifante of meer. Lyk soos die telkaart van ‘n stewige kolfbeurt: 40, 40, 30, 20 ….
En nie almal teken hul waarnemings getrou aan nie.
Onder die olifant-toeskouers was Frank en Wendy, twee Australiërs wat in Sabiepark gekuier het – tog nie “Australianers nie, asseblief! – en ‘n Britse vrou wat net die vorige nag uit Londen ingevlieg het. Daardie selfde middag word haar droom toe bewaarheid om olifante in lewende lywe te sien.
Frank en Wendy gaan nog wyd reis in Suid-Afrika, onder meer ook na die Addo-olifantpark. Ek kon hulle been trek dat hulle besmoontlik in Addo minder olifante gaan sien as in Sabiepark. Hoop darem nie so nie, maar ‘n trop van 40 sien ‘n mens nie elke dag nie … nêrens nie.
Nie net die olifant-verkeer hierdie vakansie was uitsonderlik druk nie. Minstens ses buffeltroppe van 100 of meer het kom water drink. Gistermiddag het sowat 200 (party Sabieparkers meen 300) lank in en langs die Sabierivier gekuier. Indrukwekkend.
Twee renosters het, aldus “Solly se boek”, kom water drink. Die Van D’s het dit nie gesien nie.
Die ou groot luiperd, die “Baas”, is verskeie kere gesien; een keer toe hy ‘n impala plat trek. Ook vir hom het ons telkens misgeloop. Een keer net-net maar wel tog. Ons soek nog ‘n luiperd in die volgende paar dae, anders gaan ons huis toe sonder die Vyf Grotes op ons kerfstok! Die kleinkinders sal dit kwalik glo.
Oor die “Baas” is die nuus dat hy in die Wildtuin verdoof is toe hy ‘n wyfie se prooi probeer vaslê. Sy nekband is verwyder omdat die sender nie meer sy doel gedien het nie. Diegene wat gevrees het dat die band ongemaklik styf begin raak het, kan dus weer asem haal.
En leeus? Elders ‘n paar raakgeloop ja, maar weet nie van enige besoeke hierdie vakansie aan die piekniekplek nie, hoewel leeus twee aande taamlik naby gebrul het as ek my nie misgis het nie.
(hvd)
Aug 5, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Balule, hier kom die Kollegemanne weer!
Presies om 07:45 op Donderdag 1 Augustus is die uwe by Skukuza se besprekingskantoor uit met die kosbare besprekingsnommer in sy hand: Al ses hutte in Balule vir 21, 22 en 23 Julie 2014 in die naam van J.H. van Deventer bespreek.
Balule merk drie wag dus op die ses gryses van die jare 1959 tot 1960 wat so toegewyd aan die nuwe tradisie help bou. Nog ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier. Opperste saligheid!

Dink darem ek moet die ander vyf bokkers ‘n premie laat betaal. Sonder persoonlike moeite en opoffering kry ‘n mens immers nie meer in Julie in die Wildtuin plek nie; veral nie ‘n plek soos Balule nie … en dan boonop die hele kamp.
Ek en Tokkie moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.
Geweldige stres bou by die uitgemergelde aspirant-Wildtuingangers op terwyl almal oral handewringend sit en wonder of hul missie geslaagd gaan wees – party, sien ek in die koerant, al van die vorige dag af. Skielik droog die geselsery op. Almal hou mekaar dop: Wie gaan vir wie inloop?
Voel soos die wag vir matriekuitslae, merk ‘n mede-tousitter op. Erger, meen ek. Toe het jy plus-minus verwag wat die verloop gaan wees. Hier is jy totaal in die duister.Bedink dan die vreugde as die dame agter die rekenaar aankondig: I have your reservation number. Dit grens aan ekstase.
Ons Kollege-spannetjie is vars terug van ons 2013-saamtrek. Watter drie dae was dit nie!
Kom ons begin by die kos wat wat elke aand loshande vir die etiket van meesterlik kon kwalifiseer. Laat die TV-koskokkedore maar kom. By die liga van boskokke soos Nella Jacobs en Moraig Henning kan daardie ou lot vergeet om kers vas te hou.
Uit die rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het al van vroeg die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself. Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.
Die vleis het van die kole gekom, waar veral Cas Jacobs die kroon van baasbraaier met distinksie dra, met die res van ons entoesiasties in raadgewende hoedanigheid.
Oor ons vure sou ‘n mens ekstra welsprekend kon raak. Ek het die Honda se agtersitplekke platgeslaan en ‘n klomp fris stompe uit Sabiepark saamgebring: rooibos, knoppiesdoring en nog wat. Piet Henning het van Louis Trichardt gekom met agter sy Isuzu ‘n Venterwa van die groot soort van hoek tot kant met bondels sekelbos vol gelaai. Ons kon vuur maak na hartelus – en, boeta, ons het!
Pierre le Roux het hom as hoofstoker ontpop, met Manie Steyn en Benito Niemann ‘n gedugte duo van opstokers om hom steeds tot groter hoogtes aan te moedig. Ad destinatum persequor …
Van vroeg skemer af was die oewerbos aan die Olifantsrivier elke aand in ‘n gloed gebaai wat die skouspelagtige sonsondergang in die skadu wou stel. Laataand was dit of die son sy kop lig.
Daaromheen was die versamelde (en vrymoedige) wysheid van vele dekades. Altesaam 450 opeengestapelde lewensjare net aan die manlike kant!
Soveel dae, soveel dinge, sê hulle. Natuurlik ook soveel stories en kwinkslae. As lag inderdaad goeie medisyne is, is ons almal na dese perdfris.
Na twee Balule’s klink nie elke storie natuurlik meer heeltemal so sprankelvars nie. Maar wat … goed vertel, is enige storie altyd die moeite werd om weer na te luister, of hoe? Dan het ons tot Julie 2014 in elk geval almal ‘n hele jaar om ons eie versamelinkie weer af te stof en blink te poets sodat Balule se bosse opnuut weer kan dreun.
Aug 4, 2013 | Hennie van Deventer se Blog




Middag uit Sabiepark
Atlete met leeueharte? Atlete so taai soos ratels?
Hoe ook al: Die duisend of wat atlete wat Saterdagoggend die 25ste Skukuza-halfmarathon in die Kruger-Wildtuin uitgespook het, sal seker almal saamstem dis nie jou gewone Saterdagoggend-draffie hierdie nie.
Nie met ‘n helikopter vol bespieders met kragtige verkykers wat bo jou kop duik en dreun nie. Ook nie met ‘n gewapende veldwagter elke kilometer om vir dreigende gevare dop te hou nie. Met die inry Skukuza toe is ons juis by ‘n troppie buffels langs die pad verby.
Wanneer die leeu brul (darem geblik) spring die atlete weg in Skukuza se personeeldorp waar ‘n kermis-atmosfeer op die sportveld heers. Die NGK Skukuza verkoop kerrie en rys; die skool worsbroodjies en so.
Die roete loop verby Lake Panic. Dan swaai die atlete links op die hoofpad tussen die Krugerhek en Skukuza. Die wedloop eindig waar dit begin het. Die wenners word soos Comrades-helde met ‘n gejuig verwelkom.
Op die frokkies lees jy die name van klubs oor die hele land. Houtbaai was daar om die Wes-Kaap te verteenwoordig. Bethlehem namens die Vrystaat. Gauteng en Mpumalanga oorheers. Van die deelnemers kom glo uit die buiteland.
My lojaliteit was by die Sabieparkspan van vyf sekuriteitspersoneel onder aanvoering van Alfred Mathebula (almal medaljes losgehardloop). Ook die klomp Tukkie-frokkies laat ‘n ou man se hart warm klop – veral die langbeen-nooientjies met die rooi, blou en goud strepe oor die bors.
Ouderdomme wissel van piepjonk tot duidelik nie meer so jonk nie. Opvallend baie van die gryses draf in frokkies wat op die een of ander kerkverbintenis lui: Run for Christ, Agape, ens.
Vir die Van D’s was dit seker hul tiende of meer Skukuza-halfmarathon – darem nog almal as toeskouers. Toe ‘n jong man glimlaggend verneem of ek ook hardloop, kon ek antwoord: Nee, ek is gediskwalifiseer oor my drie bene. My eerste een met ‘n kierie in die hand gewees!
Tokkie was darem in ‘n sekere sin ‘n deelnemer.
Sy het op haar tweeplaat-gasstofie in Sabiepark dertig koppies rys vir die kerk se kerrie-en-rys-tafel gekook.
Dit het ons in koffer Skukuza toe karwei. Ek het fluks foto’s geneem van Tokkie by haar rystas – in hierdie verband geen spelfout nie!
(hvd)
Aug 2, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Die opvallende trossies delikate blomme lok ons nader. So ontdek ons die voëlsitboom by die piekniekplek. Op die daad wonder ek en Tokkie waar die naam vandaan kom. Is alle bome dan nie voëlsitbome nie?
In elk geval, die voëlsit, hoewel kleinerig, is sommer ‘n mooi, digte boom. Weet nie hoekom ons hom voorheen misgekyk het nie.
Naam ofte nie, geniet daardie boom nie juis drukke voëlbesoek op die oomblik nie. Die eer vir die grootste trekpleister hierdie tyd van die jaar kom die koraalboom toe. Die kleed bloedrooi blomme van die k-boom (in vergange tye onder ‘n ander politiek-sleg-inkorrekte k-woord bekend) lok suikerbekkies soos magnete. In tien minute het Tokkie twaalf suikerbekkies van drie soorte daar gewaar. Hulle sit nie juis nie. Die blitsige blertsies rooi, groen en wit dartel vrolik van blom tot blom.
Moet nog eendag daaraan proe. Daardie pragtige blom van hom moet immers uitermate smaaklik wees. Het al in die einste Sabiepark gesien hoe ‘n lekkerbek-koedoe met ‘n sliert koraalboomblomme in die bek staan.
Nog ‘n boom-“ontdekking” by die piekniekplek ná al die jare is weens die stuifmeel wat vanuit ‘n ylerige blaredos in ‘n ligte briesie soos ‘n kiesareëntjie neersif. Ons staan nadir, maar dis ‘n BZN – boom sonder naamplaatjie. Tokkie raai dis die een of ander wildesering. Roux Wilsenach se insiggewende boekie, Ken ons bosveldbome, bring gou die antwoord. Nie sering nie. Karee. Doodgewone, algemene karee. Tokkie onthou dadelik die karee in hul agterplaas op Bultfontein. Ouma Van Wyk se hoop stronke vir die vuurmaak was in sy gedugte skadu gestapel.
Inheems in die Wildtuin is die karee nie. Aangeplantes kom wel by Pretoriuskop voor. Dit vertel Piet van Wyk in sy beroemde Veldgids. Maar hoe kon iemand van my generasie ‘n karee miskyk? Hoeveel ketties en kleitlatte het nie in die prille jeug hul oorsprong in ‘n karee gehad nie? En die bessietjies? Heel koubaar vir ‘n kind se kake wat nooi ophou roer nie.
Die karee se buurboom, die worsboom waaronder ons Sondag ons frikkadelbroodjies en koue wyn geniet het, begin ook rooi blommetjies gooi. Die voorlente kom vroeg vanjaar. Sien ons dit dan nie des te meer nie in die knoppiesdorings wat plek-plek al in ‘n liggeel waas langs die Wildtuin se paaie pryk?
Die knoppiesdoring – geliefd by kameelperde ondanks die geniepsige dorings en ‘n bruikbare hout by die kampvuur – noem ek Tarlehoet se “nasionale boom”. Groot menere gooi langs skaduwees op ons boshuis. Maar ons s’n is altyd ‘n bietjie stadig as dit by blom kom. Wel, ons het darem nog twee weke voor die omdraai Melkbos toe aanbreek.
Hopelik trek die drolpeer ook nog in daardie tyd sy wit bruidsjurk aan (leer die gebruik van die word jurk in hierdie verband by Nederlandse Sabieparkvriende) en die sambokpeul sy helder goudgeel gewaad. In laasgenoemde swaai die “sambokke” van die vorige seisoen nog in die winterwindjie.
Niks anders kan die koms van die lente egter so vroeg so uitbundig aankondig soos die drolpeer en die sambokpeul nie. Glo my.
Drolpeer is nou weer ‘n anderster naam wat ‘n mens nie juis met trosse spierwit blomme (soos ‘n fraaie bruidsjurk) vereenselwig nie. Maar oor die oorsprong van sulke onvleiende boomname kan ongetwyfeld wonderlike stories vertel word.
Dink maar ook aan die gewone bokdrol, die perdepram (daar is ook ‘n kleinperdepram), die perdepis, die snotbessie en die muishondbos! (hvd)