Jul 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Sabieparkers is ‘n taamlik diverse gemeenskap. Diversiteit kom voor in taal, kultuur en herkoms. Generasieverskille is teenwoordig. Party eienaars is in die 80. Ander is skaars 30. Standpunte oor en aspirasies en ideale vir Sabiepark bots soms lynreg.
Tog word ons, as ons hier is, gebind deur een oorkoepelende nasionalisme – liefde vir die bos. Ons is almal natuurmense. Ons is innig verknog aan Sabiepark.
‘n Mens wens as jy Sabieparkers toespreek, soos Saterdag my voorreg was toe ek gevra is om die 30ste jaarvergadering te open, dat jy dit in een, inklusiewe, verenigende taal van die bos kon doen. Dat jy almal gelyk met dieselfde boodskap in dieselfde woorde kon bereik. So ‘n taal bestaan ongelukkig nie.
Die naasbeste is om verteenwoordigend te probeer wees. ‘n Sabieparkgewoonte is (of was) dat by spesiale okkasies die Skriflesing in drie tale gedoen word. In ons Sabiepark-foto-album verskyn ‘n foto van Rinza Venter (Engelse Bybel), Gerrie van Niekerk (Afrikaanse Bybel) en Eckson Mathebula (Tsonga-Bybel), ‘n vorige era se bestuursgeslag, wat die die Kersverhaal in die drie tale by ‘n Kersbyeenkoms van die personeel voorlees.
In dieselfde gees het ek toe maar ‘n stukkie uit die Engelse Bybel (King James Version) gelees. Daarna enkele verse uit ‘n Afrikaanse gediggie, Mymeringe oor Job 39, wat jare gelede in Sabiepark in kerslig geskryf is. Daarna het ek, helaas, net vyf woordjies in Tsonga gesê. Ten slotte het ek ‘n kort gebed gedoen in Afrikaans, my moedertaal en die enigste taal waarin ek my tot die Here kan wend.
Uit die KJV het ek ‘n paar verse uit daardie klein juweel in alle tale, Psalm 23 , gelees: The LORD is my shepherd; I shall not want. 2 He maketh me to lie down in green pastures: he leadeth me beside the still waters. 3 He restoreth my soul: he leadeth me in the paths of righteousness for his name’s sake … 5 Thou preparest a table before me in the presence of mine enemies: thou anointest my head with oil; my cup runneth over. 6 Surely goodness and mercy shall follow me all the days of my life: and I will dwell in the house of the LORD for ever.
Mymeringe oor Job 39 is deur Die digter is Fanus Venter, oud-skoolhoof van Piet Retief op die stoep van Leeuplesier (240) in Apiesdoringlaan geskryf. Sy gasheer, Humpty du Toit, het die oorspronklike sorgvuldig bewaar. Ek het net vier van die ses versies gelees. Dit dra die kernboodskap van mens en natuur se afhanklikheid van God se Vaderhand oor.
Wie jag die prooi vir die jong leeuin/En wie bring saans haar ete in/Wie maak snags die jong leeus stil/As hulle hard om voedsel brul?
Wie gee vir die kraai sy kos/As hy sy kinders honger los/Sorg vir die steenbokkie se kind/Tot hy sy eie rigting vind?
Wie weet dat die buffel vry wil wees/En nie jou dienskneg soos die bees? Hy’s nie bereid om jou te dien/Omdat hy net die vryheid sien.
Ek sal soos Job ook ophou twis/In die besef hoe klein ek is/Ook in hierdie ruwe land/Leef mens en dier net uit U hand.
Mikhongelo a yi hi hlanganiseni. (Kom ons verenig in gebed).
Toe het ek gebid: Hemelse Vader, ons noep U aan as gewer van alle goeie dinge; ook as skepper van die ganse aarde in sy grote verskeidenheid, en as skepper van die natuurprag rondom ons.
Of ons hier in die groot tent langs die Sabierivier vergader is of by ons kampvuurtjies sit, is ons elke dag intens van u teenwoordigheid bewus. Ons hoor u stem in die gedruis van die rivier oor die klippe op pad na Mosambiek, in die geroep van die visarend in die lug, die geproes van die bokkies in die veld.
Dankie Vader, vir al hierdie genadegawes…. en veel meer. Ons verenig vandag in gebed om U te vra: Hou steeds U hand van ontferming en genade oor elkeen – oor ons land, ons leiers, ook ‘n ikoniese oud-leier wat afgetakel en baie siek in die hospitaal is; oor ons geliefde Sabiepark en hulle wat primêr die verantwoordelikheid op hul skouers dra om hierdie kosbare erfenis vir die nageslag te bewaar.
Lei ons, Here, langs groen weivelde na stille waters, gebied oor ons steeds U goedheid en guns, giet steeds U genade soos kosbare olie oor ons uit uit ‘n bodemlose fles.
Amen.
(hvd)
Jul 8, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Met die verstaanbare verkorting van my Mandelabrief (gister in Rapport) – ‘n gat is so groot en nie groter nie – het twee aspekte in die slag gebly.
Met hernoeming van die NKP sal sommer ook gesorg word (hopelik) dat ons geliefde wildtuin mooi opgepas word, het ek betoog.
Verder het ek in aansluiting by John Tungay ook weer as alternatiewe op die tafel gesit die hernoeming van Cathkin Peak (sy voorstel) of sommer die hele Drakensberg (my voorstel) na Madiba.
‘n Idee waaraan ek ongelukkig te laat gedink het, is om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).
Onthou, Johannesburg Internasionaal heet reeds O.R. Tambo. Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.
Hier is my volledige brief, soos aan Rapport aangebied:
Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees? Amper 11 jaar gelede, in Augustus 2002, het ek in ‘n brief in “Rapport” hardop gewonder of ‘n groter en unieker eer vir dié internasionale ikoon moontlik is as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-Vryheidspark.
‘n Vriend het voorgestel dat ek van daardie knipsel ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word”. Hy was een van bloedmin wat instemming betuig het. Uit verskeie oorde is my brief as moedswillig, onbekook of selfs verraad bestempel.
In Maart 2011 het John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoor, met die gedagte gekom dat Cathkin Peak Madiba se naam kry. Ook sy plan is met skrale geesdrif begroet.
As reuse-beelde van voorste Amerikaanse presidente teen Mount Rushmore uitgekap kan word, kwalifiseer die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie seker vir ‘n groter eer as net sy gesig op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra.
Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.
Mag ek maar weer in hierdie kolom die naam van die Wildtuin, Tungay se voorstel oor Cathkin Peak of, in aansluiting, selfs die naam van die hele Drakensberg-reeks as aansporing vir ernstige nadenke op die tafel sit?
Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels. Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebinding kan wees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word. Die Krugerhek kan mos die Krugerhek bly en Coert Steynberg se reuse-beeld, wat wel al in ‘n stadium in ‘n politieke maalstroom was, kan as erkenning vir die versiendheid van die stigter bly staan waar dit is. Vir altyd.
Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers, in ‘n spogtoestand gehou word?
(hvd)
Jul 5, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Een dosyn reiers, asseblief. Die “bestelling” is enkele dae gelede, laatmiddag, by Lake Panic presies uitgevoer.
By die gewilde voëlskuiling naby Skukuza is reier-aktiwiteit gereeld deel van die waterlewe. Ons het selfs al die skaam ralreier, die seldsame woudapie (klein rietreier) en die nagreier daar raakgeloop.
Die groot menere soos die reusereier,die bloureier die grootwitte en die rooie kom gereeld voor saam met al die visvangerspesies, slanghalse, rietduikers, grootlangtone, riethane, waterdikkkoppe en bontkieweiete wat die langste van lang lense van die toegewydste voëlkykers in strome lok.
In die somer van 2010 het ek en Tokkie twee reusereiers ‘n paringsdans langs die water sien uitvoer, grasieus soos ‘n outydse minuet.
Maar twaalf reiers tesame? Nog nie voorheen gesien nie. Oral in die bome was hulle, op broeineste, op die grond naas die skuiling, of swewende in die lug. Party was mekaar aan’t opdollie. Ander het net sit en staar. Een het met ‘n slanghals oor die besit van ‘n droë boomtak rusie gesoek.
Twee reusereiers het ons daar gesien, nege bloues en een witte. Verskuil agter takke, was daar dalk nog ‘n paar. Die witte het twee vangste kort na mekaar uitgevoer. Eers ‘n vet vis. Toe ons dink die ou wurg nog aan sy hoofgereg, deurboor hy met sy snawel ‘n nuuskierige padda vir poeding.
Die gewone tros seeekoeie het, eienaardig genoeg, ontbreek. Hul aandag was seker elders vereis. ‘n Krokodil het wel in die loom middagson lê en bak.
Ons is opnuut getref deur die salwende stilte van die plek. Al geluide wat gehoor is, was die klak-klak-klak van die kamera-snelvuur, die flap-flap-flap van die vlerke en die plong-plong-plong (ploems-ploems-ploems?) van die mis op die water.

‘n Dag of wat tevore had ons ‘n ander vermeldenswaardige voël-ervaring. Ons ry van Balule af huis toe met die ou hoofpad en daarna die S100 langs die Nwanetsirivier – vir diegene wat vergeet het: my gunstelingpad.
Juis by ‘n poeletjie in die Nwanetsi sien ons die groot voël met die houding van ‘n saalbek, maar oorwegend grys en wit. Ons dag eers ons het iets beet vir aanmelding by die SA Komitee vir Seldsame Voëls en dat die Van D’s waarskynlik net ‘n hanetreetjie daarvan weg is om hul name in die eksklusiewe ‘Africa: Birds & Birding’ gepubliseer te sien.
Toe help meer ervare kykers ons: Daardie vaal weergawe van ‘n saalbek is inderdaad ‘n saalbek, maar ‘n jong eksemplaar.
Interessant genoeg, het nie een van onse ingeligte vriende al eeen in lewende lywe gesien nie.
NASKRIF: Waarskynlik die VanD’s se gedenkwaardigste voël-oomblik tot dusver was op 7 Augustus 2009 by die Sunsertdam by Onder-Sabie: 100 plus nimmersatte ingeryg op die damwal. Die mededeling word meermale met kwalik verborge skeptisisme begroet. Dawie en Annatjie Strydom is darem getuies. Hulle was saam in die Honda.
(hvd)
Jul 2, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
In ‘n kassie op my solder, in die boekrak in die woonkamer en op die koffietafel is nou al ses groot boeke van hoek tot kant vol geskryf oor Sabiepark. Ons huisgesin, familie en vriende vertel daarin van wedervaringe oor die afgelope 15 jaar.
Die oudste boek of twee is my huidige leesstof as ek en Tokkie ná die aand se braai bedwaarts keer – so teen 19:30 se kant! Ek verkneukel my aan die herinneringe wat opborrel. Interessant is hoe dieselfde temas herhaaldelik opduik, al is die ooreenkoms soms net breedweg.
Olifante by die piekniekplek het Sondag weer vir ‘n hoogtepunt gesorg. Seker 20 plus het uit die bosse gekom. ‘n Hele klomp is vinnig oor die water na die groener gras aan die ander kant van die Sabie. (As my olifantfoto nie by is nie, is dit weens tegniese goggas.)
Buffels was vanoggend weer daar in ‘n groot trop, ylerig versprei maar steeds indrukwekkend.
Sebras by die watergat is weer ‘n gereelde vakansieplesier. Sondagoggend het 11 kom drink. Die middag het ons, soos soveel keer tevore, sebras en hul kleintjies skadu sien soek op nommer 231 se stoepe.
Hiënas hoor ons weer elke aand. Gisteraand het Tokkie een hoor water opslurp – ‘n slordige drinker, soos my vriend Manie Steyn hom sou noem. Toe sy naderstaan, sien sy net: Woerts, daar trek hy.
Nagapies en bosnagape is weer elke aand op die voorstoep bedrywig. Wonder wat die een so verskrik het? Hy is met ‘n vaart op die stoepmuurtjie by ons verby, al systappend om Tokkie se wynglas en skreeuend soos ‘n maervark. Toe gaan sit hy op die motor-afdak en weeklaag sonder ophou. Slang gewees?
Kerkritte kukuza toe verloop met die gewone verwagtinge . Sondag s’n het o.m. twee renosters (met horings) opgelewer. Het hulle amper misgekyk in die digte bos. ‘n Vriendelike Stellenbosse nooi het gelukkig die verskuilde diere uitgewys.
Die watervoël-lewe by Lake Panic is weer prima. Gaan weldra ‘n blog opsit oor die middag van die reiers.
Vriende en familie kom kuier weer, soos in die verlede. Vrydagaand kom Skukuza se herderspaar. Die naweek van 14 Julie kom ‘n span studentemaats. Ons ruk van Sabiepark op Balule toe. Daarna kom ‘n kollega, daarna my broer-hulle uit Pretoria.
Met die jaarvergadering ophande is weer lewe in die huishoudelike politiek. Ek staan volgens ‘n (nuwe) eie goue reël van die politiek opsy – al het ek, strydig met my vaste voornemens – wel weer ‘n paar potjies met die kantoor geloop. Dié keer oor o.m. die koste van drukwerk en ‘n verkeerde rekening.
Kortom, Sabiepark is hierdie vakansie opnuut, soos altyd, ‘n heerlikheid wat anders as lekker spys en drank nooit opraak nie.
(Naskrif: So van spys en drank gepraat: Die uwe drink deesdae (soos ‘n pure Hollander) meer jenewer en minder wyn op Sabiepark se stoep. Die wyn se swaelinhoud is skielik gif vir die bejaarde gestel. En ek moet darem spog met ons eerste spanpoging tot ’n kolepastei (sogenaamde “braai pie”) gisteraand: ‘n Deegkors gevul met fyn hoender, sampioen en verkeie ander heerlikhede. Gewig, o gewig wat so baie kan dra!)
(hvd)