MET VRIENDE OM VUURTJIES

Saamkuier in September 2007: vyf Volksblad-hoofredaksielede van die 80′s. Van links is Sarel Venter, HvD, Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.

More uit Melkbos

Here , as ek regtig

vir enigiets, maar

enigiets, mag bid –

Here, kan ek maar

vir ewig by my

kampvuurtjie bly sit?

‘n Vuurtjie is ‘n sielsgenoot vir elke seisoen. Om langbeen by ‘n vuurtjie te sit en kuier (veral as dit ‘n stamboekvuur van hardekool kan wees), maak daardie kuier sommer baie spesiaal. ‘n Vuur is mos ‘n plek waar vriendskappe veredel.

Wat ‘n vooreg om deur die jare in Sabiepark saam met soveel vriende om ‘n vuurtjie te kon sit. Ook vir die wintervakansie wat Vrydag begin, stapel die inskrywings in die dagboek vinnig op: familie, vriende – onder wie verskeie studentemaats van die 60′s – oud-kollegas by Die Volksblad, mede-Sabieparkers en andere wat by Tarlehoet kom vertoef of sommer net ‘n vleisie op die kole kom gooi onder sterre wat in die woorde van wyle Pieter Pieterse “elke nag nader aan die aarde lyk as wat jy kan onthou”

Een van die Bosveldvure wat in die Van Deventer-annale uitstaan, was op 11 Augustus 2001 vir ‘n Melkbosspan van 24 wat in ‘n konvooi uit die Kaap opgeruk het Wildtuin toe. Daardie braai het ingesluit tamaaie vure by die voor- en agterlapas, ysterpotte vol pap en “sheba” (‘n tradisionele tamatiesmoor met baie uie) – natuurlik ook die tradisionele tjops en wors vir Afrika.

‘n Reünie in September 2007 van die Volksblad-hoofredaksie van die jare 80 was eweneens ‘n bos-okkasie om oor huis toe te skryf. Paul Marais en Cora van Hartenbos, Herman le Roux en Rina van Randburg, Piet Theron en Petro van Bloemfontein, en Sarel Venter en Liesbeth van Bloemfontein kon ‘n naweek die kollegiale band in die bos kom afstof. Die “onthou-jy-nog’s” kon net nie opdroog nie.

In ons gasteboek met ‘n indrukwekkende maanhaar op die harde-buiteblad is reeds meer as 150 inskrywings. Dat soveel oud-kollegas, Tukkiemaats van 50 jaar gelede en matriekmaats van 1957 aan die Hoër Volkskool, Potchefstroom, al saam om Sabieparkvure gekuier het, ag ek as ‘n buitengewone voorreg – dis wonderlik as vriendskappe só hou. Oud-kollegas en studentemaats staan van daardie garde getalsgewys bo-aan die besoekerslys met 12 elk. Matriekmaats staan op tien.

Van die vriende kom weer en weer, soos Herman en Rina, wat ook in Maart 2008 hier was om tien goue jare te gedenk – hul tiende besoek en Tokkie se verjaardag. Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met dieselfde blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies soos ‘n dekade gelede – buiten, natuurlik, vir die toename in grys hare en allerlei ander tekens aan die onderskeie lywe. In Julie sal ons nie die swembadjie aan die suidekant van die huis aandurf nie, maar dan kuier ons weer saam – hul twaalfde of dertiende besoek.

Manie Steyn, studentemaat van 50 jaar, kom ook weer. Op ‘n vorige besoek, in Julie 2010, was die tjops en wors vir die afskeidsbraai op die soliede ystermeneer wat tien jaar gelede sy geskenk aan Tarlehoet was. Die oggend toe Manie ry, swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse tot siens!

Manie en ander studentemaats, Cas en Nella Jacobs, Pierre en Esther le Roux, Piet en Moraig Henning en Benito en Lina Niemann gaan middel Julie vir drie dae saam Balule toe. Die Jacobse en Le Roux’s doen ook eers Sabiepark aan. Hulle is gewaardeerde Sabiepark-veterane.

In die dae toe Dawie Strydom van Outeniekwastrand nog “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik uit sy mondfluitjie kon laat opklink, het sulke uurtjies om ons vuurtjies ewigheidsdimensie gekry.

In daardie gewyde oomblikke het die gedagtes gedwaal na Sabiepark-vuurgenote wie se name intussen op grafstene uitgekerf is: Ouma Marietjie van Wyk, Ben Smith, Alf Ries, Magriet Jonker, Frik Dreyer, Sannie Steyn, Piet en Verity Möhr, Evert Smith, Sina Roux, Anthonie en Cilia Roux, Wynand en Daleen Mouton, Barnie en Swanie Human, Frikkie Jordaan, Fickie en André Visagie, Piet en Esta Gouws, die jong Frederick Nel …

Dawie en Annatjie het Sabiepark 27 jaar lank besoek. Hierdie vakansie sal die Strydoms se plek die tweede jaar na mekaar leeg wees. My ou vriend se gesondheid het geknak. Helaas.

Dat ek saam met geeneen van hierdie mense ooit weer langs ‘n Sabieparkse vuurtjie sal sit nie, is ’n vreemde, amper onwerklike wete. Maar so knaag die tande van die tyd … (hvd)

LANK-ONTHOU-SKOENE

Mooitrap, pappa!

More uit Melkbos

Lankstaanskoene – ‘n lekker woord vir newwies waarin ‘n mens op ‘n straathoek kan gaan staan en bedel. Of die sool die kous werd is met die tranetrekker “Lien se Lankstaanskoene” sal nie almal saamstem nie.

Ek vermy ‘n oordeel; wil nie oor die vingers geraps word nie: “Skoenmaker hou jou by jou lees!”

Die onderwerp van skoene is egter fassinerend. Ek dink dadelik aan Eddie du Plessis se skoene. Hy is terloops die man wat die uitstekende opskrif “Die sool is die kous nie werd nie” geskep het bo ‘n berig oor Russiese weermagskoene wat nie die mas opgekom het nie.

Sy eie dappers en stappers (outydse DKW’s vir Diens, Kerk en Werk) het Eddie ‘n keer in die 70s met ‘n motorbekendstelling (die ou Zephyr en Zodiac wat ook as seekoeisnoete bekend was) in die Royal Swazi Spa in die spesiale nissie geplaas om gepoets te word. Toe ons die volgende oggend moet ry, is die skoene skoonveld. ‘n Hele vertraging terwyl almal soek en raas.

Uiteindelik kry Eddie sy skoene: in die nimlike nissie – netjies gepoets. Ek onthou sy skaapagtige grinnik. Maar oor Eddie se vergissing hou ek liefs ook my bek. Die Indiane maan mos jy moet niks sê as jy nie in ‘n ander man se mocassins ‘n myl gestap het nie.

Skoene laat my dadelik dink aan Aspoestertjie en die glas skoentjie, aan Nancy Sinatra se liedjie “These boots are made for walking” en aan Elvis se “Blue suede shoes”. In vele liedjies en flieks is skoene ter sprake. Allerhande skoene: modieus tot verslons, plat of met hakke soos stelte. Selfs ‘n goue pantoffeltjie duik mos iewers op.

Moderne aspoesterskoentjie

In die fliek “The devil wears Pradas” was sprake van die “hell on high heels”. Van Ginger Rogers, weer, is bewonderend gesê sy kon elke passie van haar dansmaat, Gene Kelly, ewenaar, maar boonop agteruit en op spykerhakke! Dis ‘n kuns waarvoor ek my ou skoene agterna gooi.

Vele vroue (en mans) is versot op skoene. Eva Peron (met haar berugte pelsskoene) en Imelda Marcos (met haar 3 000 pare) was maar twee van die beroemde vroue wat buitensporig skoen-behep was. Nicolae Ceausescu, ‘n vorige diktator van Roemenië (voor ‘n vuurpeleton geboet vir sy wandade), had glo ook ‘n skoen-obsessie. Na bewering het hy skoene net een keer aan sy voete getrek. Daarna moes sy butler dit verbrand sodat niemand anders dit kan dra nie.

In ‘n ander se skoene kan jy nie klim nie, maar een skoenstorie is in hierdie verband nogal vreemd relevant: Van die ou wat gekla het dat hy nie skoene het nie; toe sien hy iemand wat nie bene het nie.

Tokkie is gelukkig nie ‘n skoen-verslaafde nie. Goeie skoene kos deesdae ‘n pakkie. Maar sy raak nie graag van getroue ou diensknegte ontslae nie – iets wat ekself nogal verstaan. In my kaste hier en in Sabiepark is hope skoene opgestapel wat ek nooit meer aantrek nie – van baie basiese vellies tot Italiaanse blinkleer (darem nie gryses nie!).

Maar ek voel sentimenteel oor ou skoene. Onthou met deernis en nostalgie my eerste paar rugbystewels. Ook my eerste (en enigste) paar krieketstewels. Selfs my eerste naelloop met geleende spykerskoene.

Skoene duik nie net op in allerlei stories, liedjies en flieks nie. Ook in die wêreldgeskiedenis.
Die joernalis Muntather Al Zaidi het in woede sy skoen na George W. Bush gewerp oor die Amerikaanse inval in sy land, Irak. Iewers gelees dit was die eerste (openbare) insident waar ‘n skoen as wapen – nogal as missiel – aangewend is. Die kwalifikasie is ongelukkig nodig. Vermoed verskeie mans het al die kous oor die kop gekry met ‘n harde kap van ‘n skoen deur ‘n verwoede eggenote.

Nikita Chroesjtsjof, Russiese president, se skoen het ook die geskiedenisboeke gehaal. Hy het in 1960 by die VN in New York in protes teen ‘n toespraak van die Filippynse afgevaardigde sy skoen uitgepluk en daarmee op die lessenaar voor hom gehamer.

Die spreekwoord lui: As die skoen jou pas, trek dit aan. Toe doen Chroesj net mooi die teenoorgestelde. Hy trek dit uit. Russe kan mos maar stroomop wees!

(hvd)

“MY” DRIE RENOSTERS

More uit Melkbos

’n Mens ys as jy deesdae so ‘n mooi renostertoneel in die Kruger-Wildtuin sien – hoe nader aan die Mosambiekse grens des te meer. Hierdie drie grotes het ek in Januarie oop en bloot op die teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie raakgeloop. Sagte teikens …

Dadelik het ‘n beklemming my gepak. Iewers sluip stropers. Dit weet jy mos. Het ek dan nie al self gesien hoe twee mans by die Krugerhek ‘n jagwapen probeer insmokkel nie! (Hulle is deur ‘n hardnekkige vroulike sekuriteitsbeampte uitgeruk – tot haar ewige eer.)

“Die stropers het geen vrees vir die donkerte of wilde diere nie en vonnisse skrik hulle ook nie af nie,” verklaar Ken Maggs, wat aan die hoof staan van die afdeling vir die bestryding van omgewingsmisdaad, aldus die Junie-uitgawe van Bosnuus, aantreklike, informatiewe nuusbrief van Marlothpark onder die knap redakteurskap van Jacques de Villiers. Marlothpark is die spreekwoordelike klipgooi van Krokodilbrug en die Mosambiekse grens.

Die instroming van stropers word toenemend ‘n reuse-uitdaging. “Dis ‘n volskaalse oorlog gekenmerk deur handgemene guerrilla-skermutselinge en gevegte tot die dood gevoer teen vreeslose invallers,” som Johan Jooste, ‘n afgetrede general-majoor van die SA Weermag, wat Desember aangestel is as koördineerder van die anti-stropingsveldtog, die situasie in dieselfde artikel op.

Die anti-stropingeskader by Skukuza span taktiese middele in wat ooreenstem met optredes op slagvelde dwarsoor die wêreld. Veldwagters, spesiaal vir hulle militêre rol opgelei, fynkam die bos vir dae aaneen toegerus met gesofistikeerde tegnologie. Lugreaksiespanne en snuffelhonde staan hulle by, lees ek in dieselfde artikel. “Die Wildtuin verkeer in ‘n staat van beleg.”

Bemoedigend dat die stryd so intensief gevoer word aan die een kant. Maar tog so verskriklik hartseer dat helikopters wat sirkel en weermaglorries met swaar gewapende soldate op die paaie nou deel van jou hedendaagse Wildtuin-ervaring moet word. Ek en Tokkie het die helikopters in Januarie dikwels oor die Sabierivier van Sabiepark se kant af gesien. Op pad Phabenihek toe of Krokodilbrug toe – oral – rammel swaar khaki voertuie by jou verby.

Soms sien jy een half afgetrek van die pad af met verkenners wat die horsison met ‘n kragtige verkykers bespied. Soms is niemand in sig nie. Dan weet jy ‘n operasie is dalk net agter die eerste linie bosse aan die gang. Ons wintervakansie (van 14 Junie af) gaan bepaald nie in hierdie opsig anders wees nie.

Die rol van oorgrensparke word in die Bosnuus-artikel uitgelig. “In 2002 is ‘n uitgestrekte gebied van 35 000 vierkante kilometer tot ‘n oorgrenspark verklaar kragtens ‘n ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe,” lees ek.

”Nou het natuurliefhebbers tot hul skok verneem dat al 300 renosters in die Mosambiekse gedeelte van hierdie Groter Limpopo- Nasionale Park uitgewis is ter wille van die buitensporige pryse wat horings in Asiese markte behaal.

”Weens die armoede in die Mosambiekse gebied aangrensend tot die Wildtuin heers, die bevolking met die grootste gemak deur professionele sindikate by die onwettige handel in renosterhoring betrek. Verslae is al ontvang wat daarop dui dat hele dorpies opgeskiet het met stropery as enigste dryfveer.

”Voeg daarby dat aanklagte bestaan teen 30 wildbewaarders vir aktiewe betrokkenheid by die renosterstropery, wat in Maart geëindig het toe die laaste 15 in die Mosambiekse Limpopo-Nasionale Park doodgeskiet is. Die situasie word vererger deur die gebrek aan behoorlike wetstoepassing en die algemene voorkoms van korrupsie in Mosambiek, waar die besit van renosterhoring nie as ‘n ernstige oortreding beskou word nie. Die smokkelhandel met markte in Asië gaan dus ongestoord voort.

”Dit is bekend dat die stropery wat in die Wildtuin hoogty vier, uit dieselfde oord bedryf word en dat ons regering dringende aandag sal moet skenk aan stappe wat in samewerking met die Mosambiekse regering gedoen kan word om hierdie enorme euwel die nek in te slaan. Teen die einde van April was reeds 179 strooptogte vanuit Mosambiek uitgevoer,” berig Bosnuus.

Wonder terwyl ek so met ‘n swaar gemoed lees of “my” drie renosters op die foto nog met hul horings ronddraf. Wens ek kon die stomme diere waarsku om diep-diep in die bos, ver van die verraderlike mens met sy skietgoed en kapmesse, te gaan wegkruip ….
(hvd)

VLUGVOETIGE FANIE

Gryses eet saam op Melkbos: (bo) ds. Ockie Raubenheimer, HvD, Fanie van der Merwe, ds. Jan Venter en Ronnie de Bruin,. (Onder): Anita de Bruin, Maria-Anne van der Merwe, Tokkie en Marthie Venter.

More uit Melkbos

Ses, sewe jaar gelede het ek oor Fanie van der Merwe ‘n versie neergepen wat ek nou weer uitgedolwe het vir ‘n “gevleuelde woordjie” by sy en Maria-Anne se verhuising van Melkbos na Altena in die Strand:

Hy kan nie meer ‘n gaping slaan nie,

Ons ken hom tog as vlugvoet-Fanie;

Maak nie saak op watter baan nie –

Of Fanie op ‘n vastrap uitkap,

Of by die net ‘n kishou slaan nie!

As sentermaat van Mannetjies Roux by Paarl se Boishaai, die Lugmag-Gimnasium en vir Noord-Transvaal onder 19 het Fanie inderdaad op die rugbyveld gapings geslaan. Vele van daardie tyd glo hy was die vlugvoetigste van die twee.

Sinds is ook die tennisbaan en die dansbaan vir Fanie van die baan. Maar vlugvoetige Fanie kan nog gapings vat.

By die magte en owerhede had hy altyd oog vir ‘n binnegaping om die beste vir Melkbos en sy mense te beding. Oor jare het hy gesorg dat Melkbos nie vergeet word as lakens uitgedeel word nie. Nie sonder rede nie, was hy bekend as nie-amptelike “burgemeester, ” en op sy kerfstok is o.m. ‘n netjiese woonbuurt vir vorige bosslapers, asook ‘n netjiese strandfront wat ligjare verwyder is van wat dit enkele jare gelede nog was.

Oor Fanie bestaan die gesegde (sommige beweer hyself is die oorsprong!) dat jy hom net ‘n halfuur moet gee, dan “fieks” hy enige probleem. Uit eie ervaring ken ek sy voetwerk as probleem-”fiekser” – jy kan nie ‘n beter “faktotum” aanstel as jy met lang vakansies jou huis en haard agter slot en grendel agterlaat nie. Hy los ook ingewikkelde probleme op, soos met testamente. Hy sal berge versit om vriende te help. In geldelike verknorsings huiwer hy nie om sy hand in sy eie sak te steek nie.

Fanie was Karooboer wat staatsamptenaar geword het. By die Landboukredietraad was hy ‘in die 80s ‘n sleutelspeler. Van die taai tameletjies waarmee hy opgesaal was, was onekonomiese boerderye. Boere was soms teë op sy padlangse advies, maar hulle moes gou leer: As Fanie sy tande in ‘n ding geslaan het, gee hy nie bes nie.

By hoevele kerkraadsvergaderings het ek nie sy boerewysheid in aksie gesien nie? Sit eers en luister, sny dan na die hart van die saak met diagnoses wat nie versigtig-versigtig met fluweelhandskoene aangebied word nie.

As storieverteller is hy beroemd/berug. Gee hom ‘n gaping en hy “sny” vir jou ‘n storie, dikwels uit sy eie jeug onder ‘n streng pa wat nie nonsies of ‘n “attitude” verdra het nie. Van sy stories leer ‘n mens mettertyd ken asof dit jou eie is, maar toegegee: dis altyd relevant.

Fanie is Mnr. Positief; hy sien altyd die lig in die tonnel. Baie van sy positiwiteit en sy klem op gesonde verhoudings put hy uit die leerskool waardeur hy is.

Ek het altyd gewonder oor die aristokratiese Maria-Anne – hoe het Fanie ander vryers se hand by hierdie mooi, talentvolle, spitsvondige nooi Louw van Niewoudtville se kontrei in die hand geslaan? Totdat ek agtergekom het hoe hy sy sjarme by die meisies in snelrat kan sit. Fanie is gewoonlik eerste by ‘n verjaardag of ‘n siekbed met ‘n bossie blomme uit sy tuin.

In vele Melkboshuise staan reuse-amarillas wat Fanie gekweek het. Deesdae is ‘n “double delicious”-rosie (nog vars met moredou) sy handelsmerk. Die meisies dink: Fanie is tog te oulik!

Fanie spits sy sjarme nie net op die meisies na aan hom toe nie – ook op winkelmeisies, kelnerinne en wat nog. Knoop altyd ‘n geselsie aan. In alle billikheid: hy doen dit ook met (manlike) petroljoggies. Die ou vriend boer met welwillendheid.

Fanie het ook ‘n oog vir gapings om dinge soms vir homself ietwat makliker te maak. Hy sal byvoorbeeld ‘n braai vir ‘n tehuis reël. Nie lank nie, of hy kom flikflooi by Melkbos se Mnr. Braai, Sakkie Bruwer, vir raad oor hoeveel wors, hoeveel broodjies, hoeveel dit en hoeveel dat. As Sakkie hom kom kry, is hy die braaier. Fanie loop rond en gesels!

Melkbos gaan die Van der Merwes se warme vriendskap en omgeeharte mis. Ons gaan sy optimisme mis as die rand al hoe verder terugsak en die toi-toiers opstandiger raak. Ons gaan sy gebede uit die hart uit mis as hy die Here so mooi vertel wat hy alles gesien en gedink het toe hy die oggend oor die see uitkyk. Ons gaan sy helpende hand mis aan almal wat in nood is, tot vir ‘n weggooi-hondjie of ‘n ou wat naby die drankwinkel rondhang met ‘n hand uitgestrek vir ‘n kado’tjie.

Tot siens, “maatjies”.
(hvd)

LASLAPPIES OOR LAPPIES

Lappies en Gretchen op die plaas in 2010 – fotograaf John Kolbe.

More uit Melkbos

Dis omtrent ‘n LAPPIES-kombers op die Volksblad-familieblad. Almal las net lappies aan oor Lappies, hooffotograaf van Die Volksblad van die 50’s tot diep in die 80’s – ‘n ware karakter.

Ou Lappies was kleurryk op sy eie unieke manier. Skynbaar ‘n ware ou grompot agter die baard. Maar ‘n hart van goud; ‘n “heerlike mens”, soos een van die jonger redaksielede hom beskryf het. Hulpvaardig ook as die jongetjies kleitrap. Meer as een onthou soos Ollie Olwagen:

“As Volksblad-beurshouer laat in die jare vyftig het ek as Kovsie-student vakansies by die blad gewerk. Vir my heel eerste onderhoud het Lappies as fotograaf saamgegaan. Tipies die grasgroen snotkop was ek hopeloos te onervare om te weet hoe ek die vrae moes stel. Lappies het maar ingegryp en uitgevra, en ek het die skryfwerk gedoen. Baie dankie, Lappies …”

Een van my eie “jeugherinneringe” aan Lappies was toe ons op ‘n sending saam was Golden Gate toe. My oé het amper uit my kop geval toe die Administrateur, Oom Sand du Plessis, Lappies vra wat hy wil drink, en self vir hom sy brandewyn en Coke by die kroegie gaan haal. Hoeveel fotograwe is deur ‘n administrateur bedien? Maar dit sê iets van Lapppies … natuurlik ook van Oom Sand.

Dat Lappies ooit sou trou, het ek nooit vermoed nie. Hy was die klassieke vrygesel. Deernis en teerheid sou min mense by daardie woeste baard, forse stem, knoetsige lyf en nog knoetsiger geaardheid antisipeer.

Toe gaan hy en kollega Sarel Venter in 1972 op een van daardie Volksblad-toere Europa toe onder die vaandel van Rontoer van Piet Kruger. Sarel vertel op die familieblad:

“Lappies en ek was kamermaats. In die toergroep was Gretchen Dohrman. Die twee het verlief geraak en op die SAL-vlug huis toe het die kaptein hul verlowing oor die luidspreker aangekondig. Byna almal in die toergroep van 50 het agter in die vliegtuig gaan saamdrom om die tweetjies geluk te wens, maar die kaptein het versoek: ‘Passasiers moet asseblief hul sitplekke inneem want die vliegtuig raak uit balans.’

“Toe het Lappies uit die stuurkajuit aangekondig dat hulle nié verloof is nie. Ses maande later is hulle wel getroud. (Die verlowingsaankondiging is bewimpel deur ‘n reisgenoot, Jakkie Versluis, ontslape pa van Jeanne-Marie Versluis, ‘n gewese Volksbladder).

Amper turbulent geraak op daarde vlug! ‘n Eie turbulensie rondom Lappies onthou ek uit die jare 60. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur, en is – nodeloos om te probeer ontken – erg bewus van die belangrikheid van die amp en die tydelike bekleder.

Lappies word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem en die voorblad -onthou, Die Volksblad was nog ‘n middagblad, word ‘n rukkie vir die Lappiesfoto vertraag. Die onderwerp is drie mooi onderwyseressies wat nog by die skool met die punte en dinge doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.

Lappies sit die foto voor my neer, – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant moet versier het (ook baie spesiale rugbyfoto’s wat hy met sy lomp Speed Graphic in die hand op en af langs die veld geneem het).

My hart sink egter deur die vloer. In die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my pasgewonne verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie. Dit was nie ‘n mooi toneel wat gevolg het nie: die waarnemende nuusredakteur, klaar ietwat oorspanne, wat geheel sy selfbeheersing kwytraak en wild op die ouer man begin skree; Lappies wat voet by stuk hou en verergd terugknor: “Biedêm jou, Hendrik. Jy is mos nou skoon bedonnerd, man.”

Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meiksies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Moet seker een van die onnuuswaardigste foto’s wees wat ooit op ‘n dagblad se voorblad verskyn het. Die baas was nie geamuseer nie.

Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend.

Agtrna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksbladfoto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies!
(hvd)