SNIPPER, SNIPPER, KNIPPER, KNIPPER …

Neville, Daan en HvD met ons parlementere krieketkepse

More uit Melkbos

Dink aan ‘n mens se lewe as raampies op ‘n film. Namate jy ouer word, steek die hand van die Groot Redigeerder die skêr al hoe dieper in. Snipper, snipper val die raampies stukkie vir stukkie op die grond. Dan word die geknipte raampies met ‘n breë besem uit jou lewe gevee. Maar nie uit jou herinneringe nie.

Vanoggend lees ek in Die Burger van die musiekgees Johan Stemmet (80) se dood. Vir Johan het ek in 1964 ontmoet toe ek vir Die Volksblad na die Volksraad se Persgalery gekom het. So ‘n klipgooi bokant Seepunt se High Level Road het hy, Stoffel Prinsloo, Daan Eksteen en André (Bakkies) Rossouw in drie los wooneenhede gewoon. Laasgenoemde twee was kamermaats in ‘n donkerige huisie met ‘n palmboom voor.

Stoffel en Johan Stemmet was omoepers. Daan was politieke joernalis by die SAUK. Bakkies was by Die Burger waar hy later Van Alle Kante geskryf het. Daan het altyd van die stemmige Johan Stemmet gesê: “As ek so ‘n stem het, sou ek ook omroeper geword het.”

Ek het in die vriendekring beland via Ben van Rensburg, in die vroeë 60’s kollega en woonstelmaat in Boemfontein, en Neville Krige, getroud met my mooie kollega Dorothea (de Buys). Ben was voorheen ook in die nuusafdeling van die SAUK; Neville, soos Daan lid van die persgalery, was die SAUK se man in Bloemfontein (later ook Londen).

HvD. Daan en Georjane Groenewald (later Oberholzer) drink saam tee in Bloemfontein

Ek, Daan en Neville het saam vir die parlementêre krieketspan gespeel. Ons was die eerste drie persgalerymanne wat met die groen petjies van die parlementêre span vereer is – maar sonder die goue Republiekwapentjie voorop. Sir Div Graaff. Ossie Thompson en John Wiley was spanmaats. Hulle wal al drie Oxford Blues (of was John Wiley op Cambridge?).

Stoffel is vroeg-vroeg in ‘n motorongeluk dood. Bakkies is later aan kanker oorlede. Hy was toe redakteur van Sarie. Daan het ‘n jaar of wat gelede weggeval. Nou is Johan Stemmet, laaste oorlewende, van daardie intieme buregemeenskappie ook weg.

Neville, die wellewende Swartlander met die kenmerkende brei, is uit Londen deur John Vorster by die SAUK weggerokkel. Toe kom die Inligtingskandaal. John Vorster se sterretjie het verduister. Neville was ‘n ruk by Chris Heunis. Toe kom die nuwe bedeling. Hy het by Joe Slovo beland. Een oggend het hy, oënskynlik ‘n gesonde man in die fleur van sy lewe, op kantoor aan ‘n hartaanval beswyk. Miskien het die Van Rijns hom gevang. Ons was maar almal in daardie greep.

Ek het Ben gister gebel om hom op sy 82ste geluk te wens. Vanoggend het het ek weer gebel: om ‘n paar dinge oor daardie dae te kontroleer.

Hy kon o.m. die interessantheid meedeel dat Johan Stemmet voor sy verhuising na ‘n oumens-eenheid Vredehoek in Schalk Pienaar se ou huis in Oranjezicht gewoon het. Dit roep ook ‘n filmraampie. By daardie huis het ek die gedugte Schalk in 1964 een Saterdagoggend dou voor dag moes gaan oppik vir ‘n NP-die op Albertinia. Ek het die Pers se Zephyr gelooi deur Sir Lowryspas se draaie, terwyl Pienaar aanhoudend aanpor: “Ons sal moet aanstoot”. In digte, digte mis. Maar dis ‘n ander storie.

Ben vertel hy Pieter Spaarwater (later motorredakteur van Die Burger en ook skrywer van Van Alle Kante) en Johan Stemmet was dieselfde jaar se SAUK-kalwers; het Januarie 1960 ingeval. Ben en Piet het op 4 Januarie begin. Toe was Johan al ‘n “veteraan” van drie dae. Hy kon daardie ekstra naweek wat hulle gehad het, nooit kleinkry nie. Hoekom moes hy dan al op 1 Januarie begin?

In ‘n stadium het omtrent almal hierbo genoem by verskillende adresse in Seepunt saamgewoon (in die goeie sin van die woord). Hulle was onafskeibare vriende. Toe Bakkies begrawe is, het Daan Eksteen die begrafnisgangers ‘n “gathering of the clans” genoem. Dit was inderdaad die geval.

Die kleiner “clan” binne die groter “clan” is nou volledig uitgewis. Van die groter “clan” is net Ben en Piet Spaarwater oor. Die twee, op hul dag albei van die voorste motorskrywers in die land, sal seker albei vanaand op Johan Stemmet se lewe ‘n glasie goeie rooi klink, Ben op Stellenbosch en Piet Spaarwater op Onrus. Ek skakel graag per g-pos (geestespos) hier op Melkbos by hulle in.
(hvd)

FEES VAN KARRE

Ons drie Dodges

Middag uit Melkbos

In die rolprent Hitchkock is die “master of suspense”, wat my betref, ietwat karikatuuragtig uitgebeeld – selfs as ‘n pervert wat die mooi jong aktrises afloer. Eerste keer dat ek daardie nare suspisie teëkom.

Maar die wonderlike karre! Ek glo vas my era se karre, meisies en musiek was die mooiste. In die laat 50’s is op elkeen van hierdie drie terreine weergalose hoogtepunte aangeteken.

Veral die karre. Die 1958 Cadillac Series 62 waarmee Hitchkock en sy vrou, Alma, in die rolprent ry, is ‘n Meneer. Soveel styl en elegansie voortgetower uit staal, chroom en glas! Daardie vinne is onvergeetlik (Foto hieronder).

Vreemd genoeg, is my persoonlike ervaring van Amerikaanse karre beperk. In my lewe was darem drie Dodges. Op die saamgestelde foto is die 1972 Dodge SE – so ‘n maroene met ‘n ligbruin vinieldak – wat ek in ‘n kompetisie van die NP gewen het. Beste limerick ingeskryf. My wenkar het petrol gesuip maar wyd bewondering uitgelok as jy iewers parkeer waar mense sy skoonheid kon bewonder.

Die swart Dodge Kingsway is ‘n 52-model. Pa Malan het my Durbanstasie toe gevat in die nuwe kar vir ons skoolgroep se vertrek Kaap toe vir die Van Riebeeckfees. Soos ons deur die stad ry, het ek groots agterin gesit en meerderwaardig geglo almal in Durban is jantjie oor die blinknuwe swart gevaarte.

Die ou Dodge is ‘n 38-model, meen ek. My Van Deventer-pa het so ‘n kar gehad. Ons het in 1944 daarmee van Babanango Kimberley toe getrek toe my pa se grondjie moes verkoop oor sy seuntjie se swak bors. Hy het hom gou vir ‘n Hillman Minx verruil; hy was nie meer ‘n boer wat so ‘n swaar kar kon bekostig nie. Die Minx was skaars in ons motorhuis in Diagonalstraat toe my pa ‘n noodlottige hartaanval kry.

Toe ek in 57 in matriek was, was die motors voor Volkies se koshuise ‘n fees as ‘n koshuisnaweek aanbreek. O die Chevs, Fords, Chryslers, Studebakers en nog wat van die ryk Wes-Transvaalse boere. My meisie se pa, eienaar van ‘n motorhawe, had so ‘n blou plat Studebaker – begeerliker as sy dogter (amper).

Ons 47 Fleetmaster

Ons 47 Fleetmaster

Ons het daardie tyd met ‘n 47 Chev Fleetmaster gery (foto). ‘n Ramkat-kar op sy dag gewees. Tien jaar later het hy egter ietwat afgesteek by die nuwe modelle.

Maar dit was die laaste Amerikaanse kar in my lewe. Moes hom meer gewaardeer het. (hvd)

KLAPSOEN VIR KLEINNIG CHARLIZE

Met komplimente van Theo Verwey

More uit Melkbos

G’n wonder ons Afrikaners is so gek na die uitlê van familie nie. Ons is amper almal verlangs aan mekaar verwant.

So lyk dit altans as jy saam met Theo Verwey van Port Alfred in die stambome van bekendes en bemindes (soos hy dit stel) begin rondklouter.

Theo is ‘n kliniese sielkundige en amateur-genealoog van die eerste water. Hy het ‘n databasis van 700 000 name, en kan met ‘n slim program in ‘n japtrap opspoor watter bloed in watter are vloei.

Nadat ons paaie op Facebook gekruis het, kon ek tong-uitstekerig vir my kollegas en familie laat weet: Julle het nie geweet watter vername politieke konneksies die uwe het nie!

Met die komplimente van Theo kon ek spog dat ek ‘n vyfde neef van F.W. de Klerk is en ‘n sesde neef van P.W. Botha en Pik Botha. My en P.W. se gemeenskaplike voorouers is my stamouers, Gerrit-Jansz van Deventer en Ariaenje Abrahamse.

Dink net P.W. kon ‘n Van Deventer gewees het …. Of HvD ‘n Botha! Die “daaise” moes net anders geval het.

Nadat allerlei bewonderende blikke en buiginge oor my onbeskeie mededelings rakende die blouvbloed in my are van oral na my kant gekom het, het ek nog groter roem begin nastreef. Dis mos maar menslik.

Weet julle, kon (weer met die komplimente van Theo) ek wyd en syd uit die hoogte verneem: Ek en die grote Frik du Preez is ook sesde neefs (hy weliswaar Springbokslot en ek net derdeliga-vleuel, maar darem in Pretoria)? Die smeulende Charlize Theron is ‘n sewende niggie. As ek haar in Hollywood of Benoni raakloop, groet ek hierdie klein-klein-klein-nig wraggies met ‘n klapsoen!

Familie

Toe Herman le Roux laasgenoemde hoor, het hy (jantjierig, vermoed ek) my vermaan om nou liewer op te hou. Netnou word ‘n bloedverwantskap met Saartjie Baartman ontdek! Herman, ek is dadelik spieël toe.

Maar jy kan maar sinies wees, kollega. Onder my verlangse familie tel ook die nimlike Neelsie, Cornelis Jacob Langenhoven, en dr. Chris Barnard, die hartdokter. Ek en Chris en P.W. kom al drie via oubaas Gerrit-Jansz en sy jong bruid Arienje se nalentskap.

Ek glo Jakob Hendrik Pierneef moet sommer nabyfamilie wees. Ek is dan selwers ‘n Jakob Hendrik. Kon egter nooit juis teken nie – nie eens ‘n boom nie! (hvd)

KOUE KERKE EN KITARE

Clive en Heletia Oosthuizen

Middag uit Melkbos

Het ons smaak opgeraak of ons geld? Het moderne kerkargitekte die kluts kwytgeraak? Is dit maar net ek wat ‘n ongeeslike tradisionalis is wat nuwer kerke hoofsaaklik as klinies, koud en gestroop van atmosfeer beskou?

Met sulke vrae het ek gister uit die Anglikaanse kerk St. Oswalds in Milnerton gestap ná die begrafnis van die Probus-veteraan Clive Oosthuizen wat op 79 oorlede is. Dit was in my 72 jaar net my tweede Anglikaanse begrafnis. Die eerste was 20 jaar gelede in Bloemfontein. Albei het tot my gemoed gespreek.

Natuurlik is die gewydheid van die seremonie ‘n sterk atmosfeerskepper: die kerse, die priester se kleed, die prosessie, die besprinkeling van die kis in ‘n nuwe doop tot ‘n ewigheidsverbond, die keuse van liedere en musiek, die algemene waardigheid en stemmigheid.

Ook tref die rye, rye Bybels in die kerkbanke – vele as geskenke van naasbestaandes ter ere van hul geliefdes wat gesterf het; die veelkleurige bidkussinkies in stapeltjies op die punt van die ry, die muurbehangsels. Alles in liefde deur die gemeente bygedra.

Maar dit is die kerk, die argitektuur, die struktuur, wat in die eerste en finale instansie die kerk-ervaring vir jou meer as gewoonweg betekenisvol maak. Die liturgiese ruimte met sy subtiele natuurlike lig, die halfmaan-koepel agter die kansel, die loodglasvensters, die swaar houtbalke, die hoë plafon, die donker blokkiesvloere. As jy instap, voel jy dis kerk; die Here is hier – popsangers of raserige kitare sal hier onvanpas wees.

Nuwer kerke laat jou (vir my altans) soms voel jy stap sommer by ‘n doodgewone sekulêre bousel in – dalk ‘n skoolsaal of duiweklub, waar popsangers of raserige kitare ook gemaklik tuis sal wees. En soms wel hul buiging kom maak. Daaraan sluk ek maar moeilik.

Naskrif: Met Ouma se dood het vriende ter nagedagtenis by die Gideons ‘n Bybel in haar naam gekoop. Daardie Bybel bring dalk iewers vir ‘n vreemdeling troos of hoop iewers op ‘n onbekende plek. Tog iets van groter waarde as ‘n verwelklike bossie blomme of nie?
(hvd)

STUDENTIKOSE GRAPJASTERY

Middag uit Melkbos

Op die verhoë van beroemde teaters soos Milan se La Scala, die Londense Palladium en New York se Radio Music Hall het net uitsonderlike kunstenaars ‘n voet gesit. Ek is nie een van hulle nie.

Op een verhoog was ek wel. Dit het behoort aan die skouburg in Bellville se Burgersentrum. Aan die einde van die ASB-kongres op Stellenbosch in 1961 is daar ‘n pryswennerskonsert aangebied. Die uwe, pas ook onder ‘n gejil en geproes aangewys as “direkteur van huweliksaangeleenthede” van die ASB (hoekom kan ek nie onthou nie), was seremoniemeester.

Niemand minder nie as Gladstone Louw (die befaamde W.E.G.) het vir Die Burger ‘n resensie kom skryf. Die uwe is (nie onvleiend nie) vermeld vir sy “studentikose grapjastery”. Maggies, was ek ingenome!

Van die inhoud van my “grapjastery” onthou ek min. Ek en Paul de Beer (in die middel in die voorste ry van die Tukkie-afvaardiging op die foto hierbo) was in ‘n stadium in ‘n langerige tweegesprek waarin die een die ander probeer uitstof het in elementêre spitsvondigheid.

Ek het Paul in ‘n stadium gevra of hy hom gate uit geniet (natuurlik ‘n taalkundige abominasie). Toe hy bevestigend antwoord, was my reaksie: “O dis hoekom jy soos ‘n sif lyk”. Paul het later prominensie verwerf as een van die sogenaamde “smeerbriefskrywers” teen John Vorster. Op politieke gebied het ons paaie ver uiteengeloop.

Ek het daardie aand ook die Pukke getart oor hul universiteit se naam, die PU vir CHO. KWV was in ‘n stadium ter sprake, onthou ek. Met die NKP (Normaalkollege Pretoria) het ek geskoor oor hul leuse wat my nou ontglip. Ek weet ek het daaromheen ‘n parodie gebou op die model van 1 Kor. 13 se geloof, hoop en liefde.

As ek terugdink, was my “grapjastery” erg “studentikoos”. Eintlik bra simpel. Ek en ‘n Klerksdorpse buurmeisie Annette van Wyk (‘n Matie wat nou mev. Anette Visser van Worcester is) het egter geruime tyd gedink ek is oulik. My ego was gestreel. W.E.G. Louw se resensie het natuurlik ook gestreel. Dink net: HvD se naam op die beroemde bladsy twee (kunsblad van destyds) van Die Burger!

Wat my nou beweeg om daardie ou koeie uit die sloot te grawe? ‘n Berig vandeesweek op die nimlike Die Burger se kunsblad (lank nie meer bladsy twee nie) oor ‘n nuwe lewe vir daardie Belville-skouburg. Dit het ‘n vreemde trots by my gewek dat ek daar my buiging (sommer ook my slotbuiging) as openbare “grapjaster” gehad het.

NASKRIF: Op die foto is agter Klasie van Vuuren, HvD, Wollie Wolmarans, Christine Basson en Leon van Rensburg. Voor is Piet Giliomee, Paul de Beer en … Wie nou weer? Kyk die asbakkie. En het Klasie nie ‘n sigaret in die hand nie?

(hvd)