May 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Iewers in die 90’s was ek by ‘n koerantekonferensie in Nieu-Orleans. Ek onthou veral twee dinge: die magtige Mississippi wat voor die hotel verbyvloei, en een van die sessies waarin die spreker wou weet: Hoeveel van julle het e-pos-adresse? Ek was een van die sowat 50% wat nie kon hand opsteek nie.
Hy vra toe: Hoeveel van julle het meer as een e-pos-adres? Waaragtig, 25% of wat se hande was weer in die lug. Maar dt was ‘n gehoor van alle ouderdomme. Vir oumense was digitale avonture in die algemeen toe nog ietwat ongehoord.
Enkele jare later luister ek na ‘n inbelprogram op RSG. Freek Robsinson was toe nog nie by Kyknet nie (dalk was daar nog nie eens ‘n Kyknet nie) Freek is die programleier en die vraag handel oor seniors se vernuf met die groeiende nuwe medium.
‘n Man bel van iewers inNatal; Ladysmith, meen ek. Hy vertel hy sit nou hier in sy motor op sy vrou en wag en handel vinnig ‘n klompie besigheid op sy drarekenaar (leptoppie) af. Watse besigheid? Veral banksake. Hy skuif geld van sy tjekrekening na ‘n spaarrekening, kontroleer fakture, betaal rekenings … daardie klas ding.
Hoe oud is u?
Vyf-en-sewentig.
Bliksem, Oom! Voordat Freek hom kon keer, was die woorde oor sy lippe en oor die eter.
In my vorige blog vertel van die 80-plussers met wie ek en Tokkie in die laaste weke skouer geskuur het. Agterna wil ek vir hulle inlig oor die blog waarin hul name vermeld word. Toe tref dit my: ek kan vir die leste een sommer ‘n e-possie stuur.
Ek noem liewer nie die adresse nie – net twee is ongetroud. Name noem ek graag: Wiets Beukes(links bo) , Danie Grundlingh (links onder), Ronnie de Bruin (middel) , Ben van Rensburg (regs bo) en Jan Venter. (regs onder). Ouderdomme wissel tussen 86 en amper 80.
Bliksem, ooms! (hvd)
May 16, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ons leef maar 70 jaar, en as ons baie sterk is, tagtig, skryf Moses in sy bekende gebed in Psalm 90:10. As jy ‘n hoë en rype ouderdom begeer, kan jy, volgens Moses, dus jou teiken op 70-80 stel – en dan is jy blykbaar bevoorreg.
Ouma van Wyk het die Bybelwoord graag profeties aangehaal. Tokkie se antwoord was klokslag: Ja, maar waar lees ma in die Bybel van bloeddruk-pille? Ouma het op drie weke na 99 geword (Moses het self 120 bereik, maar dit was natuurlik ander tye!)
Met die al hoe gesofistikeerder medisyne en tegnologie styg die lewensverwagting inderdaad oral.Om tot 70-80 te leef, word deesdae as normaal geag. Eintlik sterf jy “vroeg” as jy nie so oud word nie. Of nie?
Wil nie vandag filosofies oor die ouderdom raak nie. Skielik tref dit egter – te midde van ‘n seisoen van sware siektes en sterfgevalle in die nabye kring – met hoeveel springlewendige 80-jariges of amper 80-jariges ek en Tokkie bevoorreg was om net in die laaste week of drie sosiaal skouer te kon skuur.
Ons Bloubergse vriendin Molly Loubser (op die ankerfoto regs) word op 24 Junie 80. Omdat ons dan in Sabiepark is, het sy en Danie Grundlingh (net links van haar, bo) ‘n Sondag of twee gelede by ons kom eet. Danie trek by 85. Wie sou kon raai Molly is op die drumpel van 80 en Danie is ‘n halwe dekade al by die 80-kerf verby?
Wiets Beukes (net links van Molly, onder), oud-redakteur van Die Burger en ‘n assistent-redakteur by Die Volksblad toe ek in 1958 as studentewerker die eerste keer by Voortrekkerstaat 79 (nou Nelson Mandelarylaan 79) ingestap het, is, wat ouderdom betref, Danie se karperd. Hierdie skerp, joviale en gesonde 85-jarige was verlede Saterdag ‘n gewilde gas by die bekendstelling van Johan van Wyk se boek, So was dit, in die Strand. Wiets pendel omtrent tussen Franskraal en Kaapstad.
Ook by daardie geleentheid was Ben van Rensburg (heel links, onder) my ou woonstelmaat in Bloemfontein in 1965, wat later ‘n bekroonde motorredakteur van verskeie publikasies geword het. Ek kon Ben enkele dae gelede met sy 82ste gelukwens. Hy woon nou op Stellenbosch.
’n Flinke Melkbosse egpaar van 80 plus is Ronnie en Anita de Bruin (heel links, bo). Ronnie was skoolhoof van Mikro op Kuilsrivier “lank-lank gelede”. Tennis het sekerlik ‘n bydrae gelewer om hom so jonk te hou. Anita is vir my die toonbeeld van ‘n elegante dame … en ek bedoel DAME. Hulle het verlede Maandag aan ons tafel gesit.
Aan dieselfde tafel was ds. Jan Venter (net bo Wiets Beukes) en sy vrou, Marthie (in die middel, onder), wat aan die vooraand van ‘n dubbele 80-herdenking in die volgende maand is. HUlle is ook van Melkbos. Ds. Jan. oud-kapelaan, preek nog ‘n hond uit ‘n bos. Die twee toer graag die wêreld vol.
Die oudste aan daardie tafel was ds. Ockie Raubenheimer (heel links, bo), op sy dag groot gees in die NG Kerk en ‘n baanbreker in die Londense gemeente van die kerk. Hy is al 88. Hy woon in Parklands maar kom gereeld Melkbos se kerk toe.

Maar selfs 88 is ook maar nog net 88. Gert Terblanche, aktiewe 90-jarige oud-politikus en oud-Volksbladman, het in hierdie dae op die Volksblad-familieblad op Facebook opgeduik. Hy was my generasie se eerste nuusredakteur. Hy was later senator,LV en ambassadeur. Oom Gert (op die foto op sy plaas, Rooikraal, by Bloemfontein) het pas ‘n boek oor sy grootwordjare in die Steynspruit-omgewing geskryf. Die finale uitleg word nou gedoen. Hy vier op 4 Oktober sy 91ste.
Hoop maar almal se pensioene hou! (hvd)
May 15, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Wie is die “sagmoediges” oor wie in die Bergpredikasie ‘n saligspreking (seën) uitgespreek word? Is hulle ekskuus-dat-ek-leef-mense, papperds? Dr. Hennie Swanepoel van die NGK Melkbos meen dat so ‘n persepsie van ‘n “sagmoedige” nogal wyd bestaan. Hy preek oor Matteus 5 in sy Pinkster-reeks.
Die begrip “sagmoedig” interesseer my uitermate. C.J. Langenhoven, een van die grootste geeste in Afrikaans en bekendste Afrikaanse rubriekskrywer van sy tyd, het meer 80 jaar gelede in Die Burger onder die skuilnaam “Sagmoedige Neelsie” geskryf.
Kannemeyer wys in sy Langenhoven-biografie daarop dat “Sagmoedige Neelsie” ‘n ietwat misleidende naam was – net soos die naam van sy rubriek “Aan stille waters”. Neelsie kon skerp, kwaai en strydvaardig wees – veral oor taal en politiek. Hy het die waters geroer. Van hom sou jy ook amper kon sê (soos van ‘n latere kollega, Willem Wepener) dat die sagste deel van sy lyf sy tande was!
”Sagmoedig” is klaarblyklik deur Langenhoven speels of satiries bedoel. Maar vergeet dit dat Neelsie se alter-ego in sy eie oë ‘n ruggraatlose papperd sou wees. Eerder is die denkbeeldige Neelsie ‘n minsame kêrel, iemand van wie jy nie kan help om te hou nie, ‘n ”teddiebeer”. Dit sou klop met die oorspronklike betekenis van die woord in Afrikaans, soos o.m. in die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeteken is: “Sag van inbors, saggeaard, minsaam”.
Wanneer in die Bybelvertaling van 1933 verwys word na die “sagmoediges” wat salig is en die aarde sal beërwe, is dit – na my insigte – ook met so ‘n positiewe betekenis daaraan geheg. Dit is eers daarna dat “sagmoedigheid” in die volksmond algaande ‘n negatiewe konnotasie begin kry het. Sulke wanpersepsies het ontstaan soos dat ‘n “sagmoedige” iemand is wat nie murg in sy pype het nie, wat nie sy man kan staan nie, wat ander op hom laat trap, ens.
Miskien moes die Bybelvertalers van 1983 sensitiewer gewees het vir hierdie geleidelike betekenisverandering van die woord, en liefs ‘n alternatief bedink het, soos Jan van der Watt en Stephan Joubert wel doen in Die Boodskap – die Bybel in Hedendaagse Afrikaans. Hulle vertaal Matteus 5:5 soos volg: “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie.” ”Sagmoedigheid” kry by hulle die betekenis van nie-hoogmoedig, nie-verwaand, nie-hovaardig, nie die kat se snor of onaantasbaar in eie oë nie.
Persoonlik hou ek baie van die boodskap van Die Boodskap. Gelukkig is die mens wel wat sy eie beperkinge besef – wat, soos dit in Matteus 5:3 so mooi gestel word: ”….. weet hoe afhanklik hulle van God is.” As jy “sagmoedigheid” in hierdie positiewe sin verstaan, vorm verse 3 en 5 ‘n kosbare eenheid soos twee skakels van ‘n ketting, en verstaan ‘n mens sommer die betekenis van die hele Bergpredikasie ook beter: Dat in al die verse eintlik maar van dieselfde soort regskape mense gepraat word, dink ek. (hvd)
May 13, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Saam met Johan op die foto’s is Hennie van Deventer, Tobie Wiese, Wiets Beukes en Annie Olivier, uitgewer. Die Volksblad-”veterane” is Wiets, Rina (Koen) van Rensburg, Nancy Oosthuysen en Ben van Rensburg.
More uit Melkbos
Ons sou ‘n skaflike koerantjie kon aanmekaartimmer, die 20-stuks oud-Volksbladders van alle generasies wat Johan van Wyk se debuut-blitsverkoper, “So was dit”, Saterdag formeel te water gelaat het.
Die geleentheid was by die klubhuis van die gholflandgoed Greenway in die Strand, met sy lekker kuierstoep en prag-uitsig op ‘n strepie blou see teen die agtergrond. Jy kon jou verbeel jy is op ‘n skip se dek. Op daardie einste stoep/dek het in heerlike windstil herfsweer ‘n hele feestelikheid hom afgespeel: koue wyn, keurige eethappies en tydoorbruggende samesyn met kollegas wat kuier-kuier rondbeweeg, gretig om met almal ‘n geselsie in te kry.
Die veterane was Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, en Nancy Oosthuysen. Hulle kom uit die geslag van 50. Wiets was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 vir vakansiewerk in Bloemfontein opdaag. Ons het albei in Sewende Laan (regtig) geloseer. Hy het my lief gemaak vir Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie.
Wiets en Johan se Volksblad-kameraderie strek uit die 60′s, toe ook my en Johan se paaie gekruis het. En my en Ben van Rensburg s’n. Ek en Ben was woonstelmaats in La Gratitude in 1965. Hy het my lief gemaak vir portwyn en Edith Piaf. Ook Ben en Rina (Koen) s’e paaie – as kollegas. Amper 50 jaar later het hulle mekaar aansienlik beter leer – as huweliksmaats.
Die kollegiale koppelings was velerlei en pikant. Wiets het byvoorbeeld vir Tobie Wiese, samesteller van die boek, by Die Volksblad aangestel. (Tobie en Johan is, soos sommige weet, biker-bloedbroers, ‘n stukkie kennis wat Wiets Saterdag eers hande-saamslanend te wete gekom het.)
Die Volksblad (nou net Volksblad) het die onderskeiding dat 60 van sy redaksielede iets soos 600 boeke gepubliseer het. Van daardie 60 was minstens ‘n halfdosyn teenwoordig. Onder hulle was Wiets die baanbreker met “En kyk ‘n wit perd” in die 60′s. Daardie boek was waarlik politiek profeties! Die veel bekroonde Deon Meyer (nou ook gedugte fliekmaker) is verreweg die vrugbaarste. In Johan se sleurstroom kom nog ‘n debutant, Rudie van Rensburg met ‘n spanningsroman, “Slagyster”.
Hy sit nogal ‘n soort Volksblad-tradisie voort. Hy volg in die voetspore van voorste spanningskrywers soos die nimlike Deon, asook Chris Karsten en Chris Moolman (wat nie teenwoordig was nie). Weet nie of dit die Volksblad-ervaring is wat hulle in daardie rigting geslyp het nie!
Buiten Ben was ‘n derde Van Rensburg by die okkasie, Philip. Vir hom het ek by Die Volksblad as verslaggewer aanbeveel terwyl ek in die jare 70 by Beeld was. Later, toe ek redakteur was, het ek hom as nuusredakteur aangestel. Hy boer nou in Afrika as advertensie-ghoeroe. Ons is Sabiepark-vriende.
Johan het my in sy toesprakie sy “mentor en tormentor” genoem. Maar vinnig (en tereg) bygevoeg dat hy myne ook was. Wens iemand kon die voortspruitende spontane omhelsing van die twee ou maters afneem. Dit was nogal ‘n dag van “mentors en tormentors”. Toe ek die altyd-glimlaggende Tom Ferreira so aan sy wyntjie sien teug, moes ek ook glimlag. Kon nie help om te onthou nie hoe hy in ‘n kostelike TV-rubriek destyds die arme Edwill van Aarde se siel versondig het. Tom, knap nuusredakteur en top-humorskrywer, moes nooit vir die joernalistiek verlore geraak het nie.
Maar die arme joernalistiek is maar gedurig die slagoffer van pynlike verliese. Soos ook Pieter Cronjé, Kaapstad se “Mnr. Wêreldbeker” van 2010. Pieter was op krukke weens ‘n enkelbesering, maar dis darem nie sokker se skuld nie!
Op die gevaar af dat ek iemand se naam uitlos (op 72 raak die kop soms maar suf) rapporteer ek graag dat die Volksbladspan van Saterdag ook nog ingesluit het: Emile Terblanche, JP Nel, Mariëtte Immelman, Gert Myburgh, Sakkie Malherbe, Jan Bezuidenhout en Nissa Voloo. Toekie Oberholzer was weens bronchitis afwesig. Van hulle is nou nog joernaliste. Verskeie by Landbouweekblad. Mooi so, julle vasbyters!
Johan se ander gaste, familie, vriende, bikermaats en wat nog, het van oral gekom: per vliegtuig, op hul ysterperde, party selfs te voet. Laasgenoemde is diegene wat, soos Johan en Zandra, ‘n Greenway-adres het. Calvinia was, soos te wagte kon wees, goed verteenwoordig. Dan was daar Annie Olivier, die uitgewer – deur Johan op sy sjarmante, romantiese manier Mooi Annie gedoop, en nie onverdiend nie, hoor. Annie het haar ma, Hettie, saamgebring. Ek dag dis haar suster.
Boeke is inderdaad opgeraap soos vars, warm plaasbrood met dik botter en vyjêm by ‘n boerebasaar – die lekkerste jêm. Party “groot kopers” is met stapels daar uit. Skitterende geskenke vir dese en gene! Ek het die beskeie Johan vooraf gewaarsku hy wil te min boeke saambring. Hy was skepties. I have not always been wrong. Gelukkig het hy in ‘n ander opsig tog vir my geluister en ‘n klompie klaar geteken. Anders het sy vingers sweerlik skrywerskramp gekry!
Sowieso: Só was dit dan Saterdag by die buiging van “So was dit”. (hvd)
(HvD se “feesrede” by die okkasie verskyn volledig in die vorige blog.)
May 12, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese gister by die formele lansering van Johan se blitsverkoper “So was dit” in die Strand. ‘n 20-stuks Volksbladmense van verskillende generasies was onder die 100 gaste – die oudste Wiets Beukes, wat later redakteur van Die Burger was. Ek moes die woord voer – wat ek graag gedoen het. Hier is my teks – vir diegene wat die tyd, krag en inklinasie het.
TWEE debute geskied vandag hier: JvW ná die pleeg van vyf miljoen joernalistieke woorde (aldus Tobie Wiese, gewoonlik betroubare bron) oplaas as outeur van ‘n boek, en HvD as spreker by die loodsing van ‘n boek van betekenis, boonop ‘n blitsverkoper. Die tradisie is mos dat net hoog aangeskrewe literatore, uitgewers, ander boek-geleerdes (soms ‘n edele of wat) by sulke deurlugtige okkasies slimmighede kwytraak.
Die begrip blitsverkoper is eintlik te konserwatief. Dis ‘n bielieboek. ‘n Onstuitbare stormram soos die Cheetah-stut Coenie Oosthuysen. Dit word opgeraap nes vars, warm plaasbrood en vyejêm by ‘n boerebasaar. (Vyejêm want dit is die lekkerste jêm!)
As ek so oor die gesigte hier heen heen kyk, tref dit my: “So was dit” is boonop waarskynlik die grootste verenigende faktor sedert die Gupta-debakel.
Dit geval my werklik dat ek, sommer net koerantman, die “biezondere” eer te beurt val om hier die wierook te brand. Skrywer en spreker kom ‘n langerige pad saam. ‘n Halfeeu verby. ‘n Veelbewoë halfeeu – veral soms! Jy onthou seker ook hoe die kiaatdeur van die redakteur se kantoor soms in die kosyne gerittel het, Johan?
Desondanks en nieteenstaande: ‘n Feesrede is ver verkieslik bo ‘n lyksrede. Van laasgenoemde het die uwe tot dusver in 2013 ietwat van ‘n oordosis had. Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Vandag is genadiglik geen memorial service nie. Ek sien oral wyn, nie macaroni nie.
Niks saai, vervelig of treurig hier nie. Net plesierigheid. Hoop ek kan plesier toevoeg deur ‘n stukkie te lees uit my eie beskeie debuutboekie, “Scoops en Skandes”, wat in 1993 ook by Tafelberg gepubliseer is. Ek lees uit die hoofstuk “Stop van Syne” – natuurlik n.a.v. die rubriek wat kollega Johan 25 jaar lank by Die Volksblad so weergaloos behartig het.
As iemand meen ek raak te voor op die wa, het ek my verweer gereed. Oor Johan se eerste roemryke era – noem dit kortweg sy humor-era – is dié hoofstuk na my oordeel steeds ‘n geldige bron as jy die fenomeen Johan van Wyk wil probeer ontrafel. (Lees uit “Stop van Syne”.)
In Scoops is ‘n tweede JvW- hoofstuk, “Hef ‘n bedpan”. Toemaar, ek gaan nie daaruit lees nie, al is dit, na my oordeel, nogal orraaiterig.
Weens die historiese belang rapporteer ek darem net, en wel met ‘n sekere mate van pyn en onbehae, hoe ek doer in ’82 rond moes voetwerk doen om ‘n dorre, droë regter’ – baie Ingels – met hoogdrawende argumente te prober oortuig: Om vir ‘n dokter “hef ‘n bedpan” toe te voeg, beteken nie jy stuur hom om te gaan “dinges” nie. Nie noodwendig nie, altans.
My argument was in die volgende trant: Dat “hef ‘n bedpan” in die konteks van Johan se eiesoortige interpolasies (onthou bekendes soos “hef ‘n siegret” en “hef ‘n mietpaai”) nie ongewoon of neerhalend bedoel is nie. ‘n Bedpan was bloot ‘n hospitaal-simbool. Johan kon vir dieselfde prys geskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of: “hef ‘n stetoskoop.”
Huh? Vir sy edele regter Oscar Galgut, voorsitter van die Persraad, was die “Oom” van Stop se humor Grieks, en die jong redakteur se betoog totaal onindrukwekkend. Twee maande later het die geaffronteerde dr. Pauw, in opdrag van die regter, sy apologie gekry, wat hy, by nadenke, dalk tog wel verdien het.
Daardie jare al het kollegas begin praat van ‘n Johan van Wyk-boek. Herman le Roux het gemeen dit sou ‘n “moerse” boek wees. “Moerse” is ‘n geliefkoosde Herman-woord wat hy selfs in ‘n hoofartikel sou wou gebruik as daar nie ‘n redakteursveto was nie.
Ek het so ‘n boek by Tafelberg aanbeveel. Danie van Niekerk was te vinde. Maar iemand moes sif. Johan self was min lus. Wat van sy melkbeeste? Iemand anders het na vore gekom nie. Hoekom nie ek self nie? Het nie juis ‘n waterdigte saak nie. Ek het immers nie melkbeeste gehad nie.
‘n Boek in die 80’s, 90’s sou waarskynlik sterk na die humor-genre oorgehel het. Mettertyd het in Johan se styl van skryf en vertel groter beleënheid ingetree. (“Beleënheid” is, terloops, ‘n woord wat ek neergepen het voordat ek Johan se Skrywersnota gelees het. Daarin lees ek toe hy beskou goeie skryfwerk self ook as ‘n “beleë kuns”, soos – in sy woorde – “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur jare se ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”.)
Met die groter beleënheid, het die tintelende Van Wyk-humor (stoutheid?) nie verdof nie. ‘n Nuwe dimensie het egter sy skryfwerk verdiep en verryk. Die meer beleë Johan van Wyk is een wat steeds met humor, ja, maar ook met deernis en meesleurende nostalgie allerlei hartsverlanges uitstort.
Ons vind ‘n aansteeklike hunkering na die dae van windpompe en skuurdanse, na Calvinia en die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate … Ek leen van hierdie woorde op die agterplat.
Hierdie “vreemde hunkering” – sy eie beskrywing van sy emosies toe hy sy baba die eerste keer vashou – het hom nog by meer lesers aanklank laat vind. Sy bydraes in Landbouweekblad, Weg en Die Burger word gretig deur ‘n nuwe lojale gevolg verslind. Op Melkbos ruil ons dit onder mekaar uit.
Vroeg in 2011 maak Herman le Roux se indrukwekkende lys van Volksblad-skrywers sy buiging. Hy bevind 60 Volksbladmense het saam 600 boeke geskryf. Van hulle is hier teenwoordig. (Noem Deon Meyer, wat teenwoordig is. Noem ook C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Chris Karsten, Dot Serfontein, Wille Martin …….. Verder: Rudie van Rensburg (debuteer binnekort met “Slagyster”). Johan van Wyk se naam skitter in sy afwesigheid.
“Dit is mos absurd,” het ons garde opnuut onder mekaar gesels. Ons het half verleë gevoel dat van ons name op ‘n lys is waar ons “enigmatiese” kollega (ek leen ook hierdie nommerpas-woord op die agterplat) so skreiend kortkom.
Ons het opnuut begin rondkyk na daardie ontwykende “iemand” vir die “jop”. Tobie se naam het sterk opgeduik – ‘n jonger, flukser, skrander oud-kollega (ek wil darem nie sê skranderder nie) met ‘n reputasie van byna oordrewe deeglikheid. Ons het saamgestem: Tobie is die man. ‘n Bonus: Die twee is “biker”-bloedbroers.
In die winter van 2011, as ek reg onthou, het die boek begin spoed optel. Hoera vir Herman se lysie!
Maar jakkals moet ook sy eie stert prys. Nog ‘n skakel in die ketting, so vlei ek graag myself, was toe ek in daardie tyd Johan se roerende Stop oor ‘n plaasbegrafnis raak-Google. Ek het daardie Stop – op bl. 126 van die boek – vir hom gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?”
Ek het dit onder kollegas rondgeblits – ook vir Tobie. My kommentaar was dat hierdie hartseer-mooi-rubriek in ‘n kompetisie vir sy mooiste skryfwerk voor sal hardloop, met in die pylvak aan sy skouer die stuk oor sy 85-jarige pa se afskeid van sy geboortgerond Dit was in Landbouweekblad en is nou die treffende slothoofstuk op bl. 233.
Herman (of dalk Sarel Venter) onthou toe die elegante Zandra het ‘n plakboek van Stop-juwele gemaak, onder meer van briewe aan sy kinders. “Pappa” gee aan “my liefste Boetie” vaderlike advies: ‘n Deugsame vrou is die sout van die aarde …. “veral as haar pa groot grond sonder Landbankverbande het.” “Liefste Boetie” (Kedousie) is deesdae vlieënier in Hongkong. Sy pa se nuwe bekommernis is dat hy sal vergeet om die Airbus 340 se wiele uit te te laat voordat hy die gevaarte neersit!
“Sussie” word vermaan teen te veel in kuierplekke en op dansbane rinkink, al is “Pappa” nie “danig daarteen nie, want ek het dit self gedoen”. “Sussie” , Anna-Mart, is nou ma van twee op ‘n wynplaas by die Paarl. Die “ietwat onwillige oupa” (sy woorde) bars van die trots, o.m. oor die babakamer wat “soos die opslagplek van die leër se kwartiermeester-generaal lyk”.
‘n Wenk oor die plakboek se bestaan is na Tobie gestuur, wat van toe af maar geduldig moes kennis neem van ‘n duisternis ander wenke, wense en advies – voorskrifte? – oor wat moet in en wat nie. Tydgenote het gunstelinge opgediep en aangestuur. Tobie is met ‘n raamwerk na Tafelberg. “So was dit” was oplaas onstuitbaar op pad – soos die Oranje-Snel op ‘n epiese nagtelike jaagtog deur die Karoo met ‘n John Waynerige treindrywer wat die pap dik aanmaak agter die deadman’s handle. Lees als daarvan op bl. 59.
Van die kantlyn af had ek net ‘n vae idée hoe ontsaglik hard Johan en Tobie gewerk het aan hierdie broodnodige boek waarin soveel liefde gestort is, wat so ‘n groot leemte in Afrikaans vul, en wat soveel vreugde in die harte van soveel van Johan se ou en nuwe “fêns” bring.
‘n Stuk loutere leesplesier. ‘n “Fantastiese, wonderlike boek”, soos Nicol Stassen van Protea Boekhuis dit noem. ‘n “Moerse boek” in Herman le Roux se idioom.
Geluk, Johan, geluk, Tobie (ook vader van die vaardige en waardige Voorwoord), geluk Annie Olivier van Tafelberg. Dis hartskos dié. In die kloeke Tobie se woorde: Dis “onnabootsbaar”. Tobie is eenvoudig te puntenerig om die woord uniek te gebruik.