INK IN DIE ARE VIR ALTYD

More uit Melkbos

Die rolpers is in Bloemfontein in een gekonsolideerde koerantegebou. Die redaksie kan daardie magtige masjien hoor dreun as hy spoed optel. Die trillinge laat die ink in ‘n koerantman (of –vrou) se are bruis.

Vername besoekers is in my tyd dikwels getrakteer met ‘n besoek aan die rolpers – die ongetwyfelde hoogtepunt van hul kennismaking met die binnekamers van ‘n koerant. As die gevlegte papier so vinnig koerantbladsye word en ‘n oondvars uitgawe so klaar gevou uitgespoeg raak, is uitroepe van verwondering dikwels gehoor.

Vir die meeste was die omvang van alles ‘n verstommende ontdekking.

Vir ‘n redakteur is dit ‘n voorreg om sy koerant by die rolpers te gaan haal. Jy vou hom net daar en dan oop en jou oë gly oor die bladsye. Jou reaksie is meesal een van vervulling. Soms voel jy om moord te pleeg as jou oog op ‘n fout val, of as met ‘n groot storie misgevat is.

Hoe groter die nuus, des te meer die sensasie (en ek gebuik die oorwerkte, misbruikte woord doelbewus hier in ‘n breër sin as sommige lesers wat dit so met stywe lippe kan uitsis ). In my albums is hope foto’s wat daar langs die rolpers geneem is met HvD, koerant in die hand. Talle scoops lewe voort agter die sellofaanbladsye .

Ook loopbaanbakens: die eerste Volksblad in kleur, die eerste Volksblad as oggendkoerant, die eerste Saterdagponie …

Volksblad (nie meer Die Volksblad nie) se redakteur het nou nog die vooreg van die rolpers byderhand. Min ander redakteurs het. Sommige koerantfabrieke is ver-ver van die redaksies en die bestuur in nywerheidsgebiede versteek. Daardie redaksies mis baie.

My intense genot aan ‘n publikasie warm van die pers is lankal verby. In 1992 is ek al Kaap toe – afgesonder in ‘n kantoor op die 18de verdieping, darem met ‘n mooi uitsig op Tafelberg.

Onlangs het ek ná lang wik en weeg die redakteurskap van ons beskeie kerkblaadjie. Visnet, op my skouers geneem – ek weet hoe ‘n irritasie puntenerige professionele koerantmense vir leraars, kerkrade en medewerkers kan word.

Mag ek nou maar, ná die tweede uitgawe, verklap dat die bloed steeds tintel as “my koerant” by Melkbos se Postnet van sy drukpersie kom? Kan nie ophou van voor tot agter blaai nie (net 12 bladsye A5).

Die nuwe uitgawe word Sondag by die kerk se deure uitgedeel en kom a.s. week op die gemeente se webblad. Sy voorblad (en agterblad) is geheel gewy aan volkleur- dekking van ‘n ambisieuse blommefees in die Pase.

”Kerk blom in Pase,” berig Visnet op die voorblad – met boonop blommefeesberigte op bladsye 4, 5, 6 en 12 – en die nuus dat nog ‘n groter blommefees in 2014 op pad is.

Glo my: Elke storie in Visnet bied ‘n element van dieselfde satisfaksie wat ‘n goeie storie in die dagblad gebied het – oor die kerkklokke wat weer beier 30 jaar nadat bureklagtes dit stil laat word het; oor die avonture van lidmate; oor die netjiese nissies wat nog teen ‘n winskoop op te raap is, die kopie van ‘n leeftyd as’t ware.

Een van die emeritusleraars wat in ons wyke kom nesskop het, ds. Jan Venter, was die eerste kapelaan wat verlof gekry het om saam met die troepe valskerm te spring. Hy vertel by sy 80ste verjaardag van Kasspirs en kerkwees.

Die hoofouderling, Danie Malan, is self iemand met ‘n onblusbare avontuurgees. Hy het al ‘n statiese lynvalskermsprong van 3 000 m gedoen. Hy is lief vir “white water rafting” op die Zambezi. Die hoogste wat hy ge-abseil het, is 40 meter.

Die gemeente se baas-rangskikker, Elna Smit, verklap hoe sy kleintyd tot aller-ontsteltenis nie die versoeking kon weerstaan nie om ‘n koningsprotea te gaps.

Mev. Skoon Melkbos, Blanché de Kock (met goeie rede so genoem), onderneem op Visnet se versoek ‘n inspieksietog deur die dorp en op sy uitgestrekte strande.

Dis alles in Visnet, en heelwat meer. Kry hom, lees hom – so wil ek die gemeente aanpor. Om ‘n redakteur te wees – dis mos Lewe.
(hvd)

SOOS MOEDERSMELK …

Trotse eksklusiewe borg van die woord "koerant" by die WAT

Trotse eksklusiewe borg van die woord “koerant” by die WAT

More uit Melkbos

O droewige Donderdag! Het pas ‘n ontleding van die die jongste sirkulasiesyfers onder oë gehad. Dit is nie opbeurende leesstof nie. Koerante (en tydskrifte) bly helaas gly.

Dagblaaie is op ‘n jaar-tot-jaar-grondslag af tot 1,541,488 van 1,672,658.

Naweekblaaie (Saterdag- en Sondagkoerante) is af tot 2,292,053 van 2,443,855. Weekblaaie is af tot 630,268 van 697,254.

Tydskrifte het geval tot 6,207,891 van 7,004,714.

Die stukkie statistieke wat hierdie waarnemer die meeste interesseer, is die vertoning van die sogenaamde digitale koerante . Van die 1,256,023 dagblaaie wat in SA verkoop word , is slegs 2,894 digtitale kopieë. Dit is skaars ’n druppeltjie aan die emmer.

Die uwe het op 15 Desember 1997 sy kantoordeur op die 18de verdieping van die Perssentrum aan die Heerengracht finaal agter hom toegetrek. In die gange van Naspers was al in daardie stadium ‘n onstuitbare nuwe entoesiasme vir die digitale era, ook aan die koerantefront.

Die gees wat vaardig was, het my spottende die ou Naspers-leuse “Het daghet overal” laat herforumuleer tot “Digitaal overal”.

Helaas, niemand het eintlik geweet hoe om daardie entoesiasme, wat koerante betref, tot ‘n realiteit om te bou nie. Die kernvraag was: Hoe gaan jy geld maak met ‘n digitale koerant? Die skouers is opgetrek. “Sorg julle maar dat dit gebeur!”

My afskeidsrede op 19 Februarie 1998 in die Mount Nelson het ek soos volg afgesluit:

“Oor die wêreld het opgewondenheid die laaste paar jare begin tintel oor die nuwe horisonne in kommunikasie wat die internet en verwante ontwikkelinge in die visier bring. Plek-plek het mense hulle deur dié nuwe golf laat verblind vir die krag van die gedrukte woord.

“Mag ek as laaste basuin – dalk voorbarig en waarskynlik onnodig – die wens uitspreek dat Naspers se leiers nooit dieselfde fout sal maak nie.

“Mag die Liewe Vader – die Gewer van alle goeie gawes – vir u die wysheid gee om altyd die goue ewewig te kan handhaaf tussen die uitstrek na wat nuut is en die verankerdheid aan die bekende en die vertroude.

“Ek sal nie onthou wil word as een van daardie klassieke mistasters, wat vir onder meer die telefoon, klankrolprente en televisie nie juis ʼn toekoms gesien het nie. Daarom is ek versigtig om, ondanks my eie voorbehoude, oor die internet niks kwyt te raak wat my in daardie klas plaas nie.

“Maar hoe magtig die internet ook alkanof gaan word, is daar by my min twyfel dat dit langs die koerant, en versterkend van die koerant gaan wees – nie as ondersteboloper van die koerant nie.

“Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.”

Ons praat van 15 jaar wat verloop het. Tog lyk daardie woorde steeds op ‘n onheilspellende manier vir die ou man relevant. I have not always been wrong.

Die vraag bly: Hoe gaan julle met die digitale koerant geld maak?

Daaruit spruit ‘n selfs nog belangriker vraag: Is nie hopeloos prematuur begin om die gedrukte koerant te verwaarloos om voor ‘n nuwe god te buig wat (tot dusver) ook maar voete van klei het nie? (hvd)

GETROUD MET ‘N GESINA

More uit Melkbos

Tokkie, my eggenote vir 46 jaar, se doopname is Gesina Susara. Geen kommentaar daarop nie. Moet dit egter noem om iets te verduidelik.

Oud-minister en voormalige speaker Eli Louw is ook met ‘n Gezina getroud (z of s maak nie juis verskil nie). Vir hom lig ek my hoed hoog oor wat ek gister in ‘n rondlê-Burger raaklees: dat hy en sy Gezina 60 jaar getroud is.

Sit nie in elke man se broek met ‘n Gesina/Gezina nie!

Maar Eli Louw is nie sommer elke man nie. Nog iets waarvoor hierdie gewilde Namakwalander spesiale vermelding verdien, is sy dapper rol in die pynlike, stormagtige kabinetsvergadering van 14 Augustus 1989 waar pres. P.W. Botha oortuig is om teen sy sin die tuig neer te lê.

Elke kabinetslid het die kans gekry om sy saak te stel. Eli Louw, goeie vriend van die president, het opgemerk dat die P.W. Botha van voor sy beroerte en ná sy beroerte nie dieselfde man was nie. Dit het vir hom heelwat wrewel van die gekweste president op die hals gehaal. Hy het gevoel hy is in die rug gesteek.

Maar dit was raak woorde – direk tot by die kern van die saak.

In ligter luim haal ek by die Louws se diamantbruilof graag ook ‘n storie op wat in my laaste humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel 2010), verskyn.

Dit is die storie van twee oujongkêrel-broers van Namakwaland wat hul vingers sleg verbrand het – die jaar toe hul beeste so moddervet was. Hulle kon sommer sien hier is hul kans om ’n groot slag te slaan, en hulle sit toe hoog in met die prys.

Kopers kom, kopers gaan, maar hulle hou vas. Toe, op ’n dag, kom klop ’n Johannesburger met ’n dik tjekboek aan hul voordeur. Die prys is reg, honderd persent.

Die koper skryf sommer dadelik die fris tjek uit. Maar nie lank nadat die vent met die beeste vort is nie, hier is sy tjek terug – VNT, verwys na trekker. Daardie ding ken die broers nie. Hulle sal moet in Loeriesfontein toe om die prokureur te gaan vra.

“Manne dis slegte nuus,” verduidelik hy. “Daai skarminkel het julle verneuk. Hy’t nie geld nie. Al wat julle kan doen, is om ’n saak te maak. Anders gaan julle kaal uitkom.”

Maar nee, vir ’n saak sien hulle nie kans nie. Bedroë ry hulle toe maar terug plaas toe, en steek op die werf vir hulle ’n vuurtjie aan. Hulle tuur in stilte in die dansende vlamme, en bepeins sugtend hul sware lot.

“Ou broer,” verbreek een oplaas die broeiende stilte en sak behaaglik op sy kampstoeltjie agteroor. “Daardie tjek het nou wel gehop, en dis verskriklik jammer en als, maar ons het darem wragtig ’n goeie prys gekry vir ons beeste!”

Die bron van daardie storie was die prokureur by wie die twee broers op Loeriesfontein gaan aanklop het. Sy naam is Eli Louw.

Het nie ‘n idée hoekom ek dit nie in “Tamatiestraat” vermeld het nie. Maar stel graag daar ommissie nou hier reg. (hvd)

ALMAL SE OUPA

More uit Melkbos

Ek is almal se oupa, ek is almal se pêl. ‘n Mens hoor mos daardie rooi konsertina so huil, huil, huil, as jy kyk na daardie mooi foto op die omslag van Johan van Wyk se trefferboek, So was dit.

Die oom met die kruisbande, hoed, velskoene en toegeknoopte hemp kon regtig almal se oupa gewees het …. dis te sê as jy ‘n Weskus-oupa gehad het wat hoed gedra het en kon konsertina speel.

Ene Elaine het dadelik in ‘n e-pos gewonder of dit nie dalk HAAR oupa op die omslag is nie. Hy het hoed gedra en konsertina gespeel.

Ek het terug ge-e-pos: “Op die omslag is Oom Theunis van Zyl, tuie-en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus. As hy jou oupa was, laat weet asseblief. Johan van Wyk sal graag daarvan hoor.”

Maar nee dit is toe ongelukkig nie Elaine se oupa nie, selfs al lyk dit so baie na hom, al was hy ook ‘n Weskusser en al het hy ook swepe gevleg. Haar oupa was Piet Brand van die plaas Brakkuil, net duskant Dwarskersbos.

Maar die ou wêreld is klein, Toe Elaine rondvra, kom sy agter haar ma weet van Oom Theunis. Sy het self ‘n paar goedjies te vertel gehad oor “Vloorvlei” soos hulle Verlorenvlei glo genoem het – soos dat Oupa Brand gewoonlik sy tome na ‘n Oom Van Zyl van “Vloorvlei” gebring het vir herstelwerk.

Elaine het ‘n fototjie van haarself (toe 5 jaar oud) en Oupa Piet tussen haar foto’s gekry en aangestuur. Oupa Piet is links, en Oupa Theunis, soos hy op die boek verskyn, regs.

Elaine sal bly soek en stuur as sy een van hom kry met sy hoed en sy konsertina, belowe sy.

Dit sal egter ‘n rukkie moet wag, want Elaine se ma is pas Australië toe. Haar goedjies word geberg totdat sy oor drie maande terugkom.
Hou dus hierdie ruimte geduldig dop.

Naskrif: Raai wat was in Elainse ma se handbagasie. ‘n Eksemplaar van So was dit, natuurlik. Elaine het dit gou op die lughawe vir haar gekoop vir leesstof op die lang vlug. Sommer op die vierde blad sou sy kon lees van Oom Theunis, wat in 1960 deur Johan self afgeneem is op besoek aan sy lappie grond, Muishoek.

Oom Theunis het sy eenvoudige maar onafhanklike boereleefwyse soos volg aan Johan beskryf:

“As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit die in die vlei waar die springers en harders boer; as ek wil vleis hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant. Daar is my trapvloer en perdemeul, hier is my melkstal. My meubels maak ek met ‘n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self. In my voorhuis staan ‘n wireless en hier onder is ‘n phone. In my tuiekasmer staan my houtbaadjie (doodkis) en daar onder die bome lê my kerkhof. Ek skuld niemand niks.” (hvd)

NOEM MY DOKTOR, KAMMA-KAMMA

Middag uit Melkbos

Hope mense wêreldwyd – beslis ook in Suid-Afrika – vaar onder valse vlae met titels, grade, kwalifikasies, eretoekennings en vergulde sertifikate wat hulle nie in die sweet van hul aanskyn of uit voortreflikheid verwerf het nie. Hulle het, om dit brutaal te stel, in harde kontant daarvoor betaal.

Rapport se onthulling van sukkelaar-munisipaliteite se duur buitelandse bekronings (Sondag 18 Mei) is inderdaad maar die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. Krap gerus dieper aan die verskynsel; dit kan ‘n vrugbare oefening word.

‘n Goeie beginpunt sou wees om ‘n lys te maak van elkeen wat deur die sogenaamde “American Biographical Institute” in Raleigh, Noord-Carolina en die “Cambridge Ministry Church Institute”, ook van Amerika, “vereer” is. Sulke “institutes” en “associations” en is soos hare op ‘n hond se rug. Hierdie twee is van die aktiefste entrepreneurs in hierdie veld, albei met ‘n sorgvuldig vertroetelde skyn van geloofwaardigheid.

Wees veral suspisieus oor vererings soos die volgende: “International Men of the Year,” “Most Admired Men of the Decade” of “Outstanding Men of the 21st Century”.

Van tyd tot tyd word skandale oopgevlek van mense wat via hul beursies vir hul CV’s (en hul openbare beeld) meer lyf “verwerf” het. In China is die president van Microsoft so uitgevang. Hy het vir hom ‘n Ph.D aangeskaf. In Amerika en elders word valse “professore” meermale deur verleë inrigtings oneervol van hul status gestroop.

Name sal nie uit my gewurg word nie, maar ek ken persoonlik Suid-Afrikaners wat voorgee om te wees wat hulle nie is nie. Dit sluit top-sakelui in … en selfs akademici. Ek het al in ‘n universiteitsblad gelees hoe tamboer geslaan word oor ‘n jong geleerde se insluiting op die lys van die “Honderd voortreflikste jong wetenskaplikes” ter wêreld. Die naam “Biographical Association” het verklap dat dit ‘n slenterslag is.

Jy kom sulke bekronings op die vreemdste plekke teë – tot in pretensieuse biografieë uit die pen van geleerdes van wie jy beter insig verwag as om aansprake te sluk dat die betrokkene een van die “Five hundred most influential persons on earth” sou wees.

In sommige gevalle laat mense hul dalk uit naïwiteit mislei dat hulle vir sulke buitengewone hoë erkenning raakgesien is. In die meeste gevalle is dit egter sterk ego-verwant. Dis lekker om ‘n deftige sertifikaat teen jou kantoor se muur op te hang en so ‘n “gesogte” inskrywing op jou CV by te voeg.

Ek gryp hierdie bewerings nie uit die lug nie. Dit het ‘n soort stokperdjie geword om vererings met ‘n reukie uit te snuffel en in die mou daaroor te lag nadat ekself in die jare 80 uit die bloute genooi is om teen die betaling van ‘n “registrasiefooi” as “uitstaande bedryfsleier” van die eeu erken te word. Hoe meer ek sou opdok, des te deftiger sou my sertifikaat en des te omvattender my pakket van eergewyse wees.

My naam sou selfs vir ‘n “small extra fee” vermeld kon word in ‘n boek met die titel, as ek reg onthou, “World Book of Knowledge”, leergebonde nogal. Gelukkig het my aanvanklike (jeugdige) gevleidheid vinnig voor verstandiger insigte verdamp.

Het iewers gelees op die internet is oor die 200 vals “universiteite” waar jy jou inkoop-“mandjie” met grade na smaak en behoefte kan gaan vul … en daarvoor met jou kredietkaart betaal. Met R10 00 kan jy onder die grade kies en keur. Vertroulikheid word streng gewaarborg!
(hvd)