Apr 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Van koerante gepraat: Uit Volksblad-oord is die nuus dat die fotogalery van oud-redakteurs deur die nuwe redakteur, Jo van Eeden, in ere herstel is nadat hulle in ‘n vorige era as “spoke teen die muur” bestempel en onseremonieel verwyder is.
Vir hierdie ou gryse met ‘n gevoel vir tradisie is dit ‘n heuglike dag. Die gedagte aan daardie foto’s met hul kollektiewe geskiedenis van langer as ‘n eeu wat iewers lê en stof vergaar, was nogal steurend, indien nie pynlik nie.
Toe ek in 1980 as redakteur by Die Volksblad instap, het al die oud-redakteurs se foto’s in die redakteur se kantoor gehang. Toe die gebou in enkele jare later gemoderniseer word en die redakteur na ‘n deftiger kantoor verhuis, is hulle saam. My onmiddellike voorganger, SF. (Oom Bart) Zaaiman, se foto is dadelik vir die doel geraam.
Iewers, Kroniek van ‘n Koerantman of in Kamera, het ek opgeteken watter betekenis daardie foto’s vir my gehad het. Hulle het my laat voel ek behoort; is ‘n skakel in ‘n ketting. Elke oggend as ek daardie mooi kantoor oopsluit en verby my ry voorgangers stap na die groot lessenaar van Birmaanse kiaat waar ook mense soos dr. A.J.R. van Rhyn gesit het, was dit ‘n oomblik van besieling vir die eise van die dag.
In 2004 het Die Volksblad sy eeufees gevier – hy is inderdaad heelwat ouer as Die Burger en die Nasionale Pers. Vyf jaar vroeër was daar ‘n redakteursverwisseling wat in ‘n sekere sin ook ‘n generasieverwisseling was. Die “spoke teen die muur” is afgehaal en na ‘n minder prominente, agter-die-skerms-bestemming verskuif.
Om sout in die wonde te vryf, was dit glo die destydse redakteur se vrou wat hieroor die laaste woord had. Sy wou opsluit iets mooi en moderns – Frans Claerhouts, meen ek – teen haar man se muur hê en biedêm die geskiedenis. Dit is nou “Adding insult to injury”, soos die Engelse op hul raak manier sê.
Skynbaar het daardie eerste verwydering ‘n swerftog ingelui. Sarel Venter, lid van die hoofredaksie in die HvD-era, onthou net die redakteursfoto’s het in die ‘raadskamer’ (pretensieuse beskrywing) gehang nadat dit uit die redakteurskantoor verwyder is. Skybaar is dit later na die gang verskuif, waar dit nou weer hang.
Jo van Eeden rapporteer toe sy enkele maande gelede in Bloemfontein aangekom het, het sy op daardie plek ‘n gróót aansteekbord aangetref. Toe hulle dié oplig, lê die stofmerke nog een-een daar teen die muur waar die vorige redakteursfoto’s gehang het!
Waar die “spoker” in die tussentyd ‘n heenkome gevind het, wil ek liewer nie weet nie. Waarskynlik iewers in ‘n ou weggooi-boks (Party sal seker dink : maar dis mos die regte plek vir sulke klomp oude-doos-bokkers!) .
Nietemin, Jo, wat haarself as “seker outyds” bestempel, het die eervolle ding gedoen om die foto’s na die gangmuur terug te bring – ‘n prominente tuiste. Persoonlik sou ek hulle in die redakteurskantoor verkies, maar nou-ja, ek was maar altyd ietwat ambisieus. Desondanks: Van hierdie ou-redakteur aan die huidige: Baie dankie, kollega. Ek glo ons almal sal die dag ‘n spesiale glimlaggie opsit wanneer dit jou beurt is om jou by ons aan te sluit.
Op die foto hierbo hang hulle nou voltallig. In die boonste ry: Hendrik de Graaf, stigter wat die “koerant”op ‘n ossewa van Potchefstroom af Vrystaat toe gebring het, die legendariese A.J.R, van Rhyn, Otto du Plessis, latere Administrateur van Kaapland, Hubert Coetzee, latere besturende direkteur van die Pers, H.H. Dreyer, S.F. Zaaiman en J.H. van Deventer. In die onderste ry: Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther en Ainsley Moos.
Oor elkeen sou jy heelwat kon skryf: vleiend en onvleiend (hierby sluit ek myself in). Wyk, Satan!
Vir my nogal insiggewend is dat my eie skof van 1980 tot 1992 geduur het: 12 jaar. In die 20 jaar daarna is die huidige redakteur egter reeds die vyfde bekleder. Die onderste ry het in hierdie opsig sy eie dinamiek!
Van geen historiese betekenis nie, maar dalk tog vermeldenswaardig is dat ek met Otto du Plessisrylaan huis toe ry op Melkbos, en dat oral nog die tekens is van die oorheersing van die Dreyer-clan in hierdie geweste in die vorige eeu. Melkbos is ver van Bloemfontein– maar die ketting strek waaragtig tot hier!
(hvd)
Apr 2, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

BO: Volksblad-era, 1980’s. ONDER: My hemp!
More uit Melkbos
Ontmoet HvD – “koerant-baas”.
As dit alte vernaam klink, lees liewer verder. Die waarheid is dat ek nie Media24 oorgeneem het of een van die paddastoel-ponies in daardie stal aangeskaf het nie. Nie eens Melkbos se Easi-Ads nie.
Ek borg net voortaan die woord “koerant” in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op permanente grondslag. “Koerant” is nou my woord, net my woord, vir altyd en altyd. Onomkeerbaar. Eksklusief.
Oud-kollega Ollie Olwagen meen dit maak my ‘n volwaardige koerant-baas, of nee, eintlik die enigste koerant-baas op aarde. Die woord “koerant”, presies so gespel, kom immers net in Afrikaans voor. Die naaste eweknie is die Engelse “courant”.
Tot op hede het ek die woorde “koerant” en “joernalis” by die WAT geborg – maar nie so waterdig nie. Ander borge kon na willekeur bykom. Iemand kon die woorde selfs wegraap deur meer te betaal.
Gister het ek (met my vrou duisend se aanmoediging) besluit om die bul by die horings te pak. Ek sou opgradeer.

Koerante was immers my lewe. Ek het 36 jaar vir koerante gewerk: eers by Die Volksblad, toe by Beeld (eerste nuusredakteur), toe weer Volksblad (redakteur vir 12 jaar) en daarna Naspers (uitvoerende hoof: koerante). Media24 is eers later gestig. Eintlik langer as 36 jaar. Van 1958 tot 1962 het ek vyf jaar as beurshouer vakansiewerk by Die Volksblad gedoen. Op Tukkies was ek in 1961 al redakteur van Die Perdeby.
Ek stuur terstond my geldjies per internet na die WAT se rekening op Stellenbosch, en maak doodseker dat die alleen-borgskap in beton gegiet is.
Die heuglike sensasie daarna kan ek kwalik beskryf. Ten minste voel ek ek het iets betekenisvols gedoen. Iets blywends. Iets wat ‘n mens dalk kon verwag het deur ‘n groot koerante-konglomeraat soos Media24 gedoen kon gewees het, Gedoen behoort te gewees het.
Maar ek is dankbaar vir die gaping om dit namens hulle te kan doen – vir plus-minus die prys van ‘n bootvaart na Walvisbaai en Lüderitz. Dié genotvolle ervaring had ek pas. Maar die onbetwiste baas van ‘n woord was ek nog nooit. Boonop so ‘n dierbare woord.
Kyk, die dag as ek begrawe word, wil ek graag in die eerste instansie as trotse koerantman begrawe word. As koerantman in hart en niere wat sy loopbaanboek, “Kroniek van Koerantman”, afgesluit het met die woorde uit die hart: “Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie”.
As eksklusiewe borg van die woord “koerant” hys ek daardie vlag. Hier staan ek. By die koerant, soos ek dit ken. Laat “Het daghet digitaal” maar sy vlerke sprei. Laat allerlei “apps” aangelap word. Laat die sosiale media maar al hoe dieper op die tradisionele koerant se lewensruimte invreet. Aan HvD en sy woord in die WAT sal dit niks doen nie.
Selfs as die dag sou aanbreek dat die woord “koerant” net in die verlede tyd geskryf word – wanneer eendag in die verre verskiet, wonder ek – sal MY woord in die WAT bly. Dit sal MYNE bly.
Selfs as ek al lank in my nis ge-kis is langs die NGK Melkbos (dis nis nommer 11, vir dié wat wil weet), sal dit leef en oorleef.
Koerant. HvD. Ons hoort mos saam. Ek en my passie. Nou is ons. Vir altyd.
(hvd)
Apr 1, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Al Debbo was vir jou oulik en snaaks of onuitstaanbaar (na persoonlike smaak), maar vir ons generasie was hy ‘n huishoudelike naam. As komediant, akteur en sanger kon jy oral in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld sy voetspore vind – diep spore.
Hoe treurig dat so ‘n ster twee jaar gelede op 87 as ‘n brandarm man graf toe is.
Oor ou Al met sy rol-oë en bossie-wimpers is ek aan die dink gesit deur Herman Lategan se lekker artikel in Sondag se Rapport oor die weghôl-treffer “Hasie” van Anton de Waal en Nico Carstens. Dit het een van Al Debbo se handelsmerke geword.
Dankie, Herman – dis die eerste keer dat ek daardie lirieke van voor tot agter te lese gekry het – en pertinent gewys is op al die verrassende, wulpse “double entendres”: “my pannekoek, my heuningnes….”
Van Hasie is in ‘n japtrap 50 000 plate verkoop in die dae toe 50 000 nog amper so onbereikbaar soos die maan was. In Amerika sou net een so ‘n voltreffer soos “Hasie” Debbo ‘n ryk man gemaak het – onthou watter goudmyn was die blondine Farah Fawcett-Majors se “sexy” plakkaat.
Dan was daar nog Debbo-uitskieters soos “Sonbrilletjies” wat die rande (of destyds nog die ponde) moes laat inrol het. En sy rol in lekkerlag-flieks soos “Fratse in die Vloot” saam met Frederik Burgers.
Maar toe eindig hy as ‘n motorwag by ‘n Bloemfonteinse inkoopsentrum – afhanklik van fooitjies. Goeie genade!
Debbo se storie was bepaald ene met ‘n stertjie, soos Rapport se opskrif gelui het. Maar ‘n ander soort stertjie – een waaroor hy graag teenoor wie ook al wou luister, sy hart uitgestort het.
Reg of verkeerd, het Al Debbo geglo hy is “ingeloop”, “verneuk”, “vir ‘n raaid gevat”. Ander het die geld uit sy sukses gemaak, nie hyself nie, het hy herhaaldelik by jou gekla. Miskien het hy maar net te veel en te maklik geld uitgegee – hoe sou ‘n mens nou weet?
In daardie inkoopsentrum had Tokkie ‘n rukkie lank – voor ons verhuising Kaap toe – ‘n geskenkewinkeltjie. As ek by haar gaan inloer, kon ek nie anders nie as om die toenmalige bekoorder van skares hangskouers tussen die motors te sien rondloop vir ‘n genadebroodjie.
En te wonder …
Later het hy tog weer voor klein gehoortjies opgetree. Ek was nie lank in die Kaap nie (vroeg in die 90’s) toe die Pers se veiligheidsmense inBloemfonteinkonferensie hou. Die uwe is genooi om ‘n toespraak te kom lewer. Ons het die aand gekuier soos tradisioneel by Die Volksblad gekuier is: met braaivleis en pap in die binnehof by Voortrekkerstraat 79 (nou Nelson Mandelarylaan).
Debbo het “Hasie” gesing, en “Sonbrilletjies” en ander bekendes uit die jare her. Hy het sy oë gerol en sy tandeborsel te voorskyn gebring om sy wimpers te “kam”. Applous het weer opgeklink, en weer. HvD het laat aan die woord gekom. Hy moes kort praat sodat die vleis nie te koud raak en die bier te warm nie.
Ek was oorweldig met ‘n diepe jammerte vir die man. Die Al Debbo-era was toe al so tasbaar verby dat dit die hart week gemaak het: sy weerloosheid en sy hard probeer om die ou glorie te laat herleef. Dit was die laaste keer dat ons paaie gekruis het. In 2011 (as ek reg onthou) was die berig nogal op die voorblaaie van hierdie “ikoon” se dood.
‘n Storie met ‘n stertjie, ja. Die “heuningnes” het vir Al persoonlik ook ‘n “suurlemoen” geword – ‘n “spinnekop”, ‘n “skerpioen”.
(hvd)