Apr 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Binne ‘n week het twee Tukkiespanne byna 100 punte teen die roemryke Maties opgestapel. Dis mos ongehoord.
My Tukkietone krul, maar ‘n mens voel half verleë, selfs half hartseer, dat ‘n universiteit met so ‘n ryke rugbytradisie so verneder moes word.
Wat skort op Coetzenburg?
Dok Craven sou nie verleë of hartseer gewees het nie. Ek reken hy sou sy hond se naam ingewees het.
En Oubaas Mark? Hy sou waarskynlik iets gedoen het wat met die eerste lettergreep van sy van in verband gebring kan word. (hvd)
Apr 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Om op ou voetspoore terug te loop, is vir my ‘n hartsaak.
Ek is ‘n reünie-man en gaan loer graag op Volkies en Tukkies by my ou klas- en koshuiskamers in. Ek gaan soek my geboortewêreld in Kwazulu-Natal op en trotseer dongas om op die werf van ons plaashuis naby Babanango te kom. Ek gaan kyk hoe lyk die Diagonalstraat 10, Kimberley, Botanic Grove 9, Berea, Durban, en Neeltjiestraat 20, Meiringspark, Klerksdorp van my kinderdae.
As ek in Bloemfontein kom, sal ek nie die geleentheid laat verbygaan om weer by Kmdt. Senekalstraat 33 en Van Schoorstraat 1 in Dan Pienaar ‘n draai te maak nie. As ek op die N1 verby Johannesburg ry, draai ek af Maroelastraat 3 (eers 936), Randparkrif 3 toe.
Sou wat wou gee om verlede week saam met tydgenote Sarel Venter en Piet Theron by Volksblad ‘n vleisie te gaan braai ter ere van ons kollega Nols Nieman wat jonk-jonk op 60 oorlede is. Die twee het nie net lekker saam met die jongklomp gekuier nie; hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die gebou geneem. Dit was klaarblyklik ‘n openbaring.
Sarel skryf: “‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek by die motorhek van die parkeerterrein oos van die gebou inry. ‘n Veiligheidswag, duiwelsvurkheinings, parkering waarvan die meeste onderdak is, netjiese plaveisel en beheerde toegang na die gebou. Ek was meer as twaalf jaar laas daar waar ek 36 jaar gewerk het.
“Dadelik het my gedagtes teruggegaan na my eie parkeeromstandighede van lank gelede: eers oorkant die straat (waar ons gewedywer het vir die skaduwee van die Monte Carlo-teater), toe iewers langs strate sonder parkeermeters, toe op Ramblers se terrein onder ‘n afdakkie (waar my motor eendag oopgebreek is), later aan die oostekant van Ramblers onder nette, ‘n paar maande tussen die redakteur en die bestuurder se motors onder die afdak by die Volksblad-gebou, en toe tot my aftrede weer onder die Ramblers se nette, aan die einde van ‘n donker paadjie langs Wes-Burgerstraat.
“”Dit lyk vir my of die meeste van die mense wat vandag by Volksblad werk, op hierdie betreklik nuwe, veilige en gerieflike terrein parkeer wat van straat tot straat strek. Die ingang van die parkeergebied na die gebou is aan die oostekant van die ou binnehof met sy groot boom (karee?) en ‘n grasdaklapa.
“Die rede vir my (en Piet) se besoek na so baie jare was ‘n uitnodiging deur Gert Coetzee om wyle Nols se lewe te kom gedenk met ‘n braai. Dankie aan Gert, Dirk Kok en Pieter Steyn.
“‘n Klompie jong Volksblad-werkers van die vroulike geslag was ook dadelik by om te hoor wie is ons. Die ‘aangename kennis, Sarel!’ en ‘bly te kenne, Piet!’ uit vrolike kele wat al ‘n bier of wat geniet het, het later darem ‘oom Sarel’ en ‘oom Piet’ geword. Meen, hulle is mos maar eintlik kinders teen ons! Een het vertel dat sy by die ontvangstoonbank werk, ‘n ander een kom van sirkulasie af en nog een van advertensies.
“Bekendes daar was ook die tegniese manne Kobus (of Torie) en Jackie – al sterk middeljarig.
“Toe ons later die aand groet was genoemde dametjies en ‘n paar ander nog gesellig aan die kuier in die opleidingslokaal langs die binnehof. En toe een sê sy wil ‘n drukkie hê, het die ander ook ewe vrypostig daarvoor nader gestaan. ‘n Vreemde wêreld, inderdaad!
“Nog voordat ons tjops en wors, broodrolletjies en aartappelslaai – wyn en bier was op die huis, lyk dit vir my – gereed was, het Gert vir my en Piet op ‘n toertjie deur die gebou geneem. Werklik nóg ‘n vreemde wêreld. As ons destyds gedink het die vernuwings en herindeling van ruimtes onder leiding van argitek Fanie van Jaarsveld jare der jare gelede was iets groot, het ons nie kon droom oor wat later en herhaaldelik weer in die gebou gedoen is nie.
“Ek kon min dinge sien wat bekend lyk, en sou heeltemal verdwaal het as Gert nie saam met ons was nie. Die brandkamer se deur is nuut geverf, maar is nog dieselfde. Die traprelings is nog goed versorgde hout; weet nie of dit al vervang is nie. Die ou ‘stuurkas’ wat later die konferensiekamer geword het, met die lang tafel wat destyds in administrasie vir sortering van pos gebruik is, staan nog daar, maar die mure is vol moderne skilderye en selfs ‘n reuse-platskerm waarop foto’s vir keuring tydens nuuskonferensies vertoon word.
“Die redakteursfoto’s wat in ‘n stadium uit die redakteur se kantoor verwyder is omdat dit kwansuis ‘spoke uit die verlede is’ , het teen die straatkantmuur van die konferensiekamer gehang. In Ainsley Moos se tyd is daardie hele muur met glas vervang en is die foto’s na die gang verskuif. Daar, regoor die deur na die redakteur se sekretaresse, is dit myns insiens meer prominent en ‘n waardige galery van foto’s.
“Ook goed om te sien: die talle uitstalkaste met memorabilia. ‘n Blye weersiens vir my was die klein ossewaentjie wat in 1988 deur die FAK aan Die Volksblad toegeken is vir die beste beriggewing oor die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Nog in sy glaskas met ‘n geraamde hoofartikel, ‘Ons hartklop’ , daarop aangebring. Die waentjie was glo lank iewers weggebêre nadat dit dalk om politiek korrek te wees, van ‘n prominente staanplek by die trappe verwyder is.
“Oral is groot oopplanruimtes. In die nagkantoor waar Nelia Grobbelaar steeds hoofsub is, is net ‘n paar vroue saam met haar. Ek verneem die dagsubs onder leiding van Adele Dempers is ook hoofsaaklik vroue.
“Daar is ‘n hele paar klein kombuise. Lank, baie lank nie meer iemand soos ou Grace (tee-vrou) wat swaar skinkborde ronddra nie. (Ek wonder of sy nog leef).
“In die stuurkas sit toe die aand net Annelize Doubell en Mauritz van Wyk. Dit klink vir my of Mauritz elke aand daar werk. Ander stuurmanne is Constant Steyn en soms Christo van Staden.
“Die kantoor wat ek van Herman le Roux ‘geërf’ het (langs die trappies na waar die skakelbord eers was en Charl Marais ‘n tyd lank gewerk het) is nou Van Staden se kantoor. Die kantoor waar Paul Marais gewerk het en toe Jonathan Crowther en daarna ek tot my aftrede (langs die sekretaresse se kantoor), is nou Mauritz se kantoor.
“Dit is byna hartverskeurend om al die moderne geriewe en die gerieflike kantooromgewing, meesal oopplan, maar tog afgeskort, te sien en te hoor daar is net ‘n Gideonsbendetjie oor wat die koerant moet uitgee. Hierdie spannetjie moet te midde van al die gerief en tegnologiese wonderwerke onder groot druk werk om elke dag se koerant die lig te laat sien. Ook ‘n wonderwerk.
“Ons het die nuwe redakteur, Johanna van Eeden, ontmoet en sy het my botteltjie Chateau Libertas met my gedeel. Ons het lekker gesels. Die feit dat sy haar huistoegaantyd uitgestel het om ons ou veterane (‘has beens’) te ontmoet en ‘n rukkie saam te kuier, tel vir punte.
“Vir haar en haar redaksie kan ‘n mens maar net die beste toewens. Mag die magshebbers ons Volksblad – steeds fokuspunt van ons lojaliteit – steeds die son gun wat op hom skyn. Mag ons koerant lank lewe!”
Sarel, dankie vir die herinneringsreis. Die nostalgie het dik geloop by die lees hiervan. Ek sekondeer graag uit Melkbos: Mag ons koerant lank lewe!
(hvd)
Apr 6, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
’n Klub vir afgetredenes se gemiddelde ouderdom kruip stelselmatig boontoe … van 60 tot 65 tot 70 … Die lede raak broser. Die tydjie vir “lief en leed” wat by elke byeenkoms ingeruim word, begin al hoe swaarder na die verkeerde kant kantel.
Hierdie ou is terug in die hospitaal, daardie ou kom aanstaande week onder die mes, hierdie ou sukkel maar nog met die nagevolge van ‘n groot operasie, daardie ou verwerk nog moeilik die verlies van ‘n lewensmaat vir 50 jaar. So stapel die getuienis van die ouer word in eie geledere op.
Nee aarde, stop die bus, roep een van die flinker 76-jariges by ‘n onlangse ete uit. Moet ons onsself so in ‘n put inpraat met al die negatiewe nuus oor ons makkers? Wat kan ons doen om te keer dat elke geleentheid sommer by die afskop in ‘n treurmare ontaard en die hele luim versomber?
‘n Gewigtige debat volg. Uiteinde is: die saak word – soos altyd wanneer ‘n oplossing nie voor die hand is nie – na die komitee verwys om ‘n plan te maak. Arme komitee – dit gaan voorwaar kopkrap verg, vrees hierdie 72-jarige wat self met ‘n semi-permanente kierie in die hand loop weens ‘n afgeleefde heup wat dringend om vervanging roep.
Ophou kennis neem van makkers se kwinte en kwale kan ons tog nie. Ondersteuning, meelewing en saamdra aan mekaar se laste is immers ‘n kern-strewe van die klub. Ons moet tog weet en wil tog weet as een (of meer) van ons dit aan die bas voel dat die ouderdom, soos hulle sê, nie vir sissies is nie.
Maar net slegte nuus is inderdaad ongesond vir die kollektiewe moreel. Dis soos die Engelse spreekwoord beduie: All work and no play, makes Jack a dull boy.
Wat nodig is, lyk vir hierdie waarnemer, is groter ewewig tussen lief en die leed. Laat ons waak teen oorbeklemtoning. Laat ons, as ‘t ware, die een doen en die ander nie nalaat nie.
Die nimklike 76-jarige met die kommer oor te veel somberheid, het immers met sy Honda Gold Wing, ‘n pragstuk van ‘n ysterperd, opgedaag. Daaroor is net privaat allerlei wyshede kwytgeraak.
‘n Tweede lid het twee dae tevore sy 80ste gevier. Hy het vonkelwyn saamgebring, en is op pad Mauritius toe vir ‘n welverdiende wegbreek- vakansie met sy gade – ‘n jaar ná hul goue bruilof.
‘n Derde – 76 of 77, ek is nie seker nie – se oë vonkel oor die vooruitsig van ‘n nuwe, groter, in elke opsig beter ryhuis vir sy gereelde toere oweral – in die laaste jaar of twee selfs na Kroasië, ‘n avontuur waaroor ‘n artikel in die tydskrif Wegsleep was.
Vele ander lede doen dinge wat hulle nog nooit gedoen het nie, pak nuwe projekte aan of behaal kortdaatstukke wat stil-stil verbygaan.
Dis mos maar soos dit is, nie net in ons klub nie. Ook my leefwêreld vir meer as 40 jaar, die koerantwese, struikel in daardie opsig dikwels dat koerante die positiewe nuus onderspeel.
Wil nie die komitee se werk vir hom probeer doen nie. ‘n Mens sou egter kon begin deur by elke byeenkoms vir elke lid kans te gee om mee te deel wat in sy huis gebeur het wat vreugde en blydskap bring. Die resultaat kan verbasend wees, glo ek. Die slegte nuus sal wel vir sigself sorg! (hvd)
Apr 4, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
HvD in sy koeranthemp uit Honolululu met die voorblad van Die Volksblad wat met sy bevordering Kaap toe in 1992 aan hom oorhandig is. Rede vir die ongewone foto is my “kaart en transport” van die WAT vir die woord “koerant”. Marisa Fockema berig hieroor:
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Oudredakteur-nou-koerant-baas-20130403
(Mooi berig, ek is dankbaar … maar die woorde Jan Rap en sy maat is darem nie myne nie! HvD)