Apr 15, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
In die lig van al die vleis-opskuddings oor waterbuffel, donkie, perd en wat nog herhaal ek graag ‘n stukkie van vier gelede jaar oor suspisieuse spyskaarte in die Ooste. Vir my spel “koddige kos” daardie wereld, reg of verkeerd.
Vreemde vleise is egter nou hier ook sterk ter sprake. Lees maar gerus die oulike vleisversie op die Internet: Ienkie, pienkie, ponkie, Suid-Afrika eet nou donkie. Die outeur is ‘n pastoor uit die Soutpansbergkontrei, as ek reg onthou.
Ekskuus dan dat ek sommer weens die aktualiteit ‘n stukkie uit my humor-reisboek van 1998, “Oos, Wes- Reismoles!” aanhaal. My stukkie vir die dag kom uit die hoofstuk met die titel “Reis en vleis”.
Hier volg dit:
Van Oosterlinge het iemand gesê dat hulle enigiets eet wat bek of pote het, buiten miskien die tafel en die stoele. As dit ‘n oordrywing is, is dit nie ‘n yslike een nie.
In die agterstrate van Chinese stede neem hulle jou na hokke waar jy jou eie slang of lewende hondjie vir aandete kan uitkies. Die Chinese glo albei is fynkos, wat, as bonus, ook ‘n seksopkikker is (Viagra in onverwerkte vorm – HvD!)
In Japan word n hartlike “itadakimass” (smaaklike ete) dikwels gevolg deur n waarskuwing dat die “o-naba” (‘n geheimsinnige maar heel lekker visgereg) jou dalk kan vergiftig. Terwyl jy nog steier van die skok, kom ‘n tweede onheilspellende mededeling. Moenie groot happe vat van die “o-mochi” ( ‘n taaierige ryskoek) nie; elke jaar sterf ‘n klomp mense wat daaraan verstik het.
In Australië was tot onlangs rou kreef en garnale (o grillerigheid op note, die sushi loop op pote, HvD!) op sekere spyskaarte. Dit is op wreedheidsgronde verbied.
In Abuja, Nigerië, is weer vasgestel dat aasvoëls op groot skaal doodgemaak, geslag, verpak en as hoender verkoop word op een van die groot markte in die stad Vermoedelik het sommige restaurante aasvoëlvleis in sop voortgesit.
Grieselige ervarings soos die skep by die besoeker ‘n knaende suspisie oor enigiets wat in sommige gewestes uit die kombuis kom.
Voor ‘n besoek aan een van Taipei se talle straatmarkte wat saans soos plakkerskampe verrys, was ek maar wantrouig. Ek sou die kat (of is dit in hierdie geval die hond?) goed uit die boom kyk voordat ek iets te ete aanskaf.
Uiteindelik gewaar ek ‘n gereg wat lyk of dit met ‘n Vrystaatse spysverteringstelsel sou akkordeer: ‘n hoendersosatie.
No,” sê ‘n hulpvaardige gidsie, “you won’t like.”
“Hoekom nie? Ons eet ook hoender; trouens, ek hou nogal daarvan.”
“No,” hou die gids vol. “ Not light for you.”
Na ‘n hele diskoers, uiteindelik die verklaring vir sy teenkanting: “It’s chicken’s behinds.”
So ingeryg aan ‘n stokkie, verbeel jou – en dit deur gaatjies wat gerieflik deur die natuur voorsien is! (Kry ek nou skielik ‘n hol kol op my maag!)
(hvd)
Apr 13, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Van tyd tot tyd kom van veral nuwe Sabieparkers navrae oor my Sabieparkboeke. Geeneen is meer in druk nie – kan dus nie help nie.
Van verskeie bestaan wel pdf-weergawes. Dit sluit in Buurman van die Wildtuin (2005), Duisend dae langs die Sabie (2011) en Olifante Onbeperk (2007). Het ook pdf’s beskikbaar van die vertaalde weergawes van Buurman en Mayafudi, die olifant. Die vertaalwerk is deur ‘n Melkbos-vriend gedoen.
In my besit is ook ‘n pdf van die gewilde Foto-album van Sabiepark, wat steeds in gedrukte vorm by Sabiepark beskikbaar is.
Met die opkoms van kindles, kobo’s en nog wat kan die pdf’s dalk vir sekere mense van waarde wees. Ek bied hulle aan teen R40 elk of R150 vir die pakkie. Stuur net ‘n e-pos-adres na hvandeventer@mweb.co.za as u belang stel.
(hvd)
Apr 12, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Splinternuut. HvD in sy baadjie om oor huis toe te skryf. Die VanD-gesin in 1976.
More uit Melkbos
Toe ek in die herfs van 1976 by ‘n manswinkel in Johannesburg instap om vir my ‘n Harris Tweed te koop, was Tokkie aanvanklik ongemaklik dat die baadjie wat my geval het, te los sit.
“Toemaar. Mevrou, hy sal hom ingroei,” het die verkoopman ‘n profetiese insig openbaar. Sy het haar eers opgeruk, maar haar tog teensinnig laat ompraat.
Daardie baadjie is saam Amerika toe vir die Niemanjaar aan Harvard. Baie nagte as die sneeu neerswiep, het ek my gestopte sneeubaadjie bo-oor my Harris Tweed gewikkel wanneer ons gesinnetjie iewers in ‘n “trailer camp” snags agter in my Corona-stasiewa (1972-model) opkrul.
‘n Jaar of drie gelede is die baadjie George toe. Die verkoopsman had dit helaas nie mis nie. Ek het die Harris Tweed in- en uitgegroei. Die algemene oordeel was dat Johan, my seun, beter in hom sou pas.
Sowat ‘n jaar gelede het egter in pa en seun se lywe omgekeerde groei plaasgevind. Ons het geoordeel die baadjie sou dalk meer funksioneel wees terug in HvD se kas.
Nou hang hy hier, 37 jaar nadat ek hom gekoop het, in my hangkas in die hoek. My baadjie met die drie etikette:
Hand woven – Pure Scottish wool. The Harris Tweed Association Limited. Registered trade mark no. 319214.
Elegante herrenkleidung. Frankfurt. Modèle W. Deutschland.
Suiwer nuutwol. Pure new wool.
Het hom gisteraand aangepas, hierdie stamboekbaadjie van my. As ek net ‘n dun slaaphempie aan het, knoop hy amper toe.
Miskien moet ek nog ‘n bietjie vasbyt. Dis ‘n dekselse mooi baadjie. Waar kry jy boonop weer een met so ‘n geskiedenis, karakter en tradisie? Belangriker: sal ek dit kan bekostig?
(hvd)
Apr 10, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
GENOT in hoofletters. My eksemplaar van Die (100) gewildste Afrikaanse gedigte het van Leserskring opgedaag, en ek verlustig my behoorlik daarin.
Amper van blad tot blad duik ou gunstelinge op: baie wat ek op skool in die hart leer liefkry en uit die kop leer ken het. Eugène Marais, A.G. Visser, Jan F. Celliers, Totius , C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers – almal wat die skoonheid van poësie in die jare 50 van die vorige eeu by hierdie seuntjie tuisgebring het.
Die ouer digters oorheers, wat seker te verstane is as ‘n mens na die metodiek kyk. Die koerantbylaag By, Leserskring en RSG het saamgespan om die gewildste gedigte in Afrikaans deur die publiek te laat kies – dit is dus deur en deur demokraties en Opperman se Verseboeke speel waarskynlik geen geringe rol in die samstelling van die erelys nie.
Sowat 1 300 gedigte is benoem, lees ek. Die 100 wat die paal gehaal het, verteenwoordig ‘n klein groepie van 35 digters. Al 35 is darem nie mense van my generasie nie. Ingrid Jonker, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en andere maak deeglike buigings.
Geluk, oud-kollega J.C. (Jaap) Steyn, met die insluiting van jou Woord en sin. Ander oud-kollega Pirow Bekker (wat saam met Jaap aan Die Volksblad se subtafel gesit het) ontbreek verrassend.
HvD se persoonlike gunsteling Die dans van die reën van Marais het sewende plek behaal. Toe dit gisteraand voor slapenstyd weer lees … en weer … kon ek nie begryp hoekom slegs sewende nie. Marais se ander juweel Winternag (wat 108 jaar oud is) is darem bo-aan die lys. Sy Sneeuwitjie is ook daar – al is die Racheltjie de Beer-storie volgens oortuigende nuwe getuienis apokrief.
Maria van Elisabeth Eybers is nommer twee; Ma van Antjie Krog nommer drie. Maar wag, ek gaan darem nie al die geheimpies verklap nie!
Arm aan natuurgedigte is die bundel nie. Na my smaak móés o.a. die volgende treffende natuurverse egter beslis ook in die net opgeskep te gewees het: Theo Wassenaar se See-sonnet; Toon van den Heever se Haelwit getapelde wolke, W.E.G. Louw se Vaalvalk (wat sing soos hy draai, soos hy draai) en Leipoldt se Koperkapel.
Waar is hulle? Hoe op aarde het party wat ingesluit is, hulle dan uitgestof?
Maar die keuse was demokraties. En demokrasie is nie perfek nie. Benjamin Disraeli het dit mos al meer as ‘n eeu gelede as ‘n “dodelike lawwigheid” bestempel.
NASKRIF: Moet darem meld dat hierdie my blog nommer 996 is sedert ek in September 2006 met die tydverdryf begin het. Tyd om te besin? (hvd)
Apr 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
In sy gewraakte “wens-hy-sterf”-toespraak het Jonathan Jansen ook ander merkwaardige uitsprake gelewer.
Oor die kawolt op die Ikey-kampus oor die peiling rakende die aantreklikheid van rasse laat hy hom, volgens berigte, soos volg uit: “Wat de f*k het die student gedink? Oh my God! As sy een van my studente was, het sy baie groot moeilikheid gehad.” Daar word nie ontken dat dit sy presiese woorde was nie.
‘n Rektor wat so padlangs met ‘n gehoor van 250 jeugleiers van oral praat? Ek vind dit heel vreemd, en nie juis op peil vir ‘n meningvormende akademikus nie.
Volksblad se spotprent is in die kol. (HvD)