Apr 20, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nogal ‘n vreemde gedagte: Terwyl jy op ‘n teerpad in die Wildtuin in ‘n dig gegrendelde motor ‘n trop leeus bewonder wat om julle maal, is ander natuurliefhebbers op ongebaande weë met dapper en stapper iewers in die bos op pad.
Op so n staptog is jy darem nie op eie houtjie nie, wel in die geselskap van gewapende veldwagters. Nogtans sal die ervaring seker baie mense broos en weerloos laat voel. Vir ander is dit die ware Jakob, ‘n ware wildernis-ervaring waar jy “werklik leer leer luister, kyk, ruik, tas en proe”.
Hierdie is die woorde van Rian Swiegers, ‘n stap-entoesias, wat sedert 1990 reeds al die KNP se staproetes snuifgetrap het. Sy stap-ervarings het hy nou uitvoerig opgeteken in ‘n selfgepubliseerde boekie, “Kronkelpaadjies (en kronkelpraatjies) deur die Krugerwildtuin”.
Ander ervare stappers sal hul eie belewenisse waarskynlik graag teen syne wil opweeg. Die boek is, na my oordeel, egter veral aan te beveel vir mense vir wie stap in die Wildtuin nog ‘n vonkel in die oog is – dié wat droom maar dalk nog huiwer.
‘n Beter “handleiding”, gids en groter ongekunstelde liefde vir stap en die natuur sal hulle nêrens kry nie. Al die avontuur en bekoring is in Swiegers se stap-memoires vasgevang. Hy skryf prakties en filosofies, en laat ‘n mens wens jy kan saam met hom en ‘n kundige veldwagter onder die sterre ‘n vuurtjie sit en stook. Soos jou voete die dag, sal jou gedagtes op so ‘n aand jou op verre paaie vat.
Vir navrae: rian.swieg@gmail.com (hvd)
Apr 19, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Mieliestronk is ‘n bekende naam in Afrikaanse huise. Vir tienduisende ouers en skoolkinders beteken dit: ‘n goudmyn van inligting vir elke denkbare skoolprojek.
Nogal ingenome om te kan meld ‘n foto van ‘n bontkuifvisvanger wat die uwe by Lake Panic naby Skukuza in die Wildtuin geneem het, kry jy ook daar.
Vir my kollega Ollie Olwagen was dié webwerf lank ‘n (veeleisende) troetelkind. Toe verkoop hy dit aan Media24 se tydskrifte. Maar daarna raak die leënes-sindroom vir die gesoute joernalis eens te erg.
Nou bedryf hy die nuwe werf Mieliepit, wat ek van harte wil aanbeveel by enigeen wat letterlik enige taalnavraag het. Die adres is http://mieliepit.net16.net Stel dit gerus op die proef.
Skoliere, leerkragte en enige belangstellendes word spesiaal genooi om deur middel van die nodige e-vorm met mieliepitnet in aanraking te kom met vrae oor die grammatika, idiome, korrekte woorde of wat ook al in en rondom Afrikaans.
Wens tog so die argeloses en kan-nie-worrie-opmorsers van ons taal wil ook kennis neem dat hulp net ‘n klik ver is. Slordige Afrikaans groei, helaas, soos onkruid.
(hvd)
Apr 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Korreksie, korreksie! Die toring links is Boston se Prudential Tower. Die slanke ene middel regs is die ware Jakob, die John Hancock; van Copley Square en van die Boston Common af. Op laasgenoemde is een van Boston se beroemde swanebote. Wonder of hulle nog bestaan.
Apr 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die marathonbom bring vele ou herinneringe terug. Die salige jaar aan Harvard (1976-77) het ons lief gemaak vir Boston, wat ek en Tokkie daarna amper as deel van ons herkoms ag.
Ek het in my albums gaan blaai. Hierby ‘n saamgestelde foto van die John Hancock-sentrum – Boston se glaskas. Links is Copley Square met die Hancock agter. Regs is die voorblad van ‘n Boston-brosjure van 1976/77. Oud en nuut so langs mekaar. Dis Boston.
In Boylston, die mooi rivierstraat waar die bomme geplant is, het ek meermale self met my roomkleurige Toyota Corona van 1972 gery.
Die brosjurevoorblad wys die toneel wat ons elke keer gesien het as ons met die moltrein van Harvard Square, Cambridge, na Boston gery het om na die Boston Pops (Arthur Fiedler) te gaan luister, by die reusagtige afdelingswinkel Filenes te koop of sommer tussen al die historiese bakens rond te loop.
Die Boston Common met sy swaanbote was ‘n heerlike kuierplek oor middagetes – meesal doughnuts of ‘n McDonalds (Big Mac vir my).
Die trein het die Charlesrivier met ‘n hoe brug oorgesteek. Daar was altyd wit seilbootjies op die blou water. Ek onthou ‘n keer toe ons in die aand oor die Charles is. Marisa het verruk uitgeroep: ”New York, New York!” (waar sy kort tevore was). Die Bostoniete het lekker gelag.Boston se liggies en New York s’n was kwalik vergelykbaar.
Die Hancock se ruite is een aand in n frasstorm uitgeruk. Groot drama gewees, het die taximan ons vertel wat ons die aand met ons aankoms na ure se wag by die Logan-lughawe opgetel het. Ons het met uitstekende tydsberekening in Boston geland te midde van ‘n taxi-staking.
Omtrent enigste keer gewees wat ons huis toe verlang het!
(hvd)
Apr 17, 2013 | Hennie van Deventer se Blog


HEELBO: Oupa en die tweeling, Jacob en Thomas, saam in Sabiepark se swembad (Januarie 2013).
BO: Oupa en die tweeling saam op Melkbos by die blog van 27 September 2006.
More uit Melkbos
’n Ligte flirtasie het ‘n ernstige verhouding geword. Op 27 September 2006 het ek stamelend die onbekende betree met ‘n eerste blog op my nuwe webblad www.hennievandeventer.com – wie het kom kuier, wie is siek, sulke koeitjies en kalfies. Vandag 2 365 dae later – presies 6 jaar, 6 maande en 23 dae later – skryf ek my 1000ste blog.
Dis seker maar nog koeitjies en kalfies waaroor ek skryf – net uit ‘n ander stoetery. Mense figureer steeds sterk. Kort persoonlike mededelings is vervang met bv. omvattende huldeblyke aan heengegane vriende. Dit het ‘n HvD-handelsmerk geword. Natuurlik ook blogs oor Sabiepark! Die lewe in daardie salige bosoord lewer ryke stof.
Van die menseblogs het die grondslag gevorm vir boeke soos “Byl in my bos” en “Lewensgroot en groter”. Blogs oor Sabiepark (en sy buurman, die Kruger-wildtuin) is opgeneem in “Duisend dae langs die Sabie”. Blogs is in koerante en tydskrifte en op ander webblaaie gepubliseer.
In Huisgenoot se “Blaaskans”-rubriek was humorblogs bv. my en Tokkie se bad-eskapades toe die buurtwag se ligte skielik op ons kaal lywe skyn. Ook ‘n blog oor Witnek, ons gryse Sabiepark-duikertjie. In koerante is huldeblyke aan dierbare vriende soos Wynand en Daleen Mouton, Swanie Human en andere opgeneem. Blogs het resensies geword of andersom. Van my natuurblogs kom op die Wild-tydskrif se webblad.
As omstredenheid die maatstaf moet wees, kom dadelik die blog op oor ’n jeugwerker in die NGK Melkbos se Mxit-verslawing. My kritiek op haar brabbelkommunikasies met die jeug had die gemeente in beroering. ‘n Jong heethoof wou ‘n petisie begin om die uwe “onder sensuur” te plaas. My somber “Scenario vir Belhar” het tot ‘n intensiewe, soms skerpe, debat met kerkleiers gelei – agter die skerms. ’n Kritiese skrywe oor me Lisa Albrecht se stil-stil afskeid van Naspers onder ‘n swaar wolk het ‘n stortvloed uitgelok. “Uit Melkbos” was skielik nommer-een op die ranglys van Litnet, waar dit mettertyd ook sy buiging gemaak het.
Nooit is ek só sleggesê nie as ná ‘n stuk galgehumor oor Schabir Shaik wat ” in staatsie rondloop”. Jy maak my skaam dat ek wit en Afrikaans is,“ het Dorethea Herbst van Pretoria getier. Schabir-tjie se mediese parool duur al langer as drie jaar, Dorothea!
‘n Humoristiese oopvlekking van Carel Niehaus se liegstorie oor sy skool se waatklemoenfees – in die hartjie van die winter! – het, daarteenoor, wyd pret veroorsaak. Beeld het dit as nuusberig gepubliseer. Blogs wat wye draaie geloop het, sluit in die eerste versigtige vrae of Racheltjie de Beer regtig bestaan het, en oor die Amerikaanse oorsprong van Afrikaanse liedjies soos Ou Ryperd. Oor Racheltjie sê ek liefs niks meer nie. Ou Ryperd is inderdaad so Amerikaans soos Sarie Marais!
Deur die jare was hunkerende vertellings oor als onder die son, van my kleinste kinderdae af, sterk op die voorgrond. Oor Kimberley. Oor Volkies, Oor Tukkies. Oor Die Volskblad. Oor my loopbaan by die Pers. Ook nostalgie oor ander dinge van my era – die flieks, die musiek, die skoonhede …. ai, Sophia Loren! Vir allerlei lysies het ek diep in die onthoukis gegrawe: van treffendste fliektonele tot Tukkies se mooiste joolkoninginne (Anneline Kriel, Helga van Wyk e.a.).
’n Slegte ervaring was die rukkerige oorskakeling van Litnetblogs tot WordPress, of ”WordStress”, soos ‘n blogmaat dit noem. Louter aangenaam is vriendskappe wat gesluit is, en positiewe reaksies op die bevordering van goeie sake, bv. Die Vriende van Voortrekkermonument-projek. Die eerste publikasie van die omslag van my kollega Johan van Wyk se potensiële trefferboek, “So was dit” was ‘n gawe resente “scoop” in my boekie.
Oor die nuwe tydvak – van blog 1001 af – gesels ek later.
(hvd)